Polities-korrekte-polisie gaan van krag tot krag

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. Foto: Verskaf.

Universiteite in Amerika is tans in die spervuur, of so kom dit voor – die een universiteit probeer die ander oortref as dit by politieke korrektheid kom.

Sowel onderwysers as studente lei onder die gramskap van die sogenaamde en meestal selfaangestelde denkpolisie. In my lesings (“A Political Overview of Politics since 1994” en “The Three Presidents: Mandela, Mbeki and Zuma”) aan buitelandse MBA-studente aan die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool (USB) het my Amerikaanse studente gevra of ek nie bang is om genoemde presidente te kritiseer soos in my beskrywing van hierdie drie leierskap-tydvakke nie.

Noudat ek in Kalifornië woon, verstaan ek hul besorgdheid, want die polities-korrekte-polisie gaan van krag tot krag. Nodeloos om te noem dat die tirannie van politieke korrektheid mense kan vernietig, soos by uitstek toegepas in die akademiese wêreld, maar ook in Hollywood.

Ek kan nou heeltemal insien hoekom Amerikaanse studente wat ’n vorige apartheidstaat besoek, nie kon glo dat ek vry is om te sê en skryf wat ek wil nie – soos Steve Biko gesê het. Amerikaners geniet ’n leefstyl waarvan die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners slegs van kan droom – tog gaan Amerikaanse studente uit hul pad om te beweer dat hulle onderdruk word weens wit bevoorregting. Swart studente in Suid-Afrika spoeg soortgelyke mantras uit, maar ten minste is baie van hulle wel arm en ons universiteite beslis nie behoorlik toegerus nie.

Dit is egter nie die geval in Amerika nie – mens kan maar net hul biblioteke besoek en kyk waarin alles hul kampusse voorsien om te sien hoe ver agter die Suid-Afrikaanse tersiêre inrigtings is. Dog, “wit bevoorregting” in die VSA wat ’n wit meerderheid-land is, word daagliks steeds as ’n vloekwoord teen akademici gebruik wat dit waag om met ’n diversiteit van idees en menings vorendag te kom.

Heather Mac Donald, ’n gerekende skrywer en politieke kommentator, het onlangs ’n berig vir The Wall Street Journal getiteld “Why Are College Students So Afraid of Me?” geskryf. Sy was besig om aan studente van die College of the Holy Cross, Worcester, Massachusetts die voordele van bevoorregting ten opsigte van vrye toegang tot kennis en universiteit-bronne te verduidelik, toe studente haar lesing oor Renaissance-humanisme al skreeuend kortgeknip en die ouditorium uitgestorm het. En natuurlik is sy van die gewone identiteitspolitiek beskuldig – rassisme, seksisme en homofobie – terwyl sy eintlik maar net gepoog het “om alle studente te inspireer om hul onbeperkte leergeleenthede met blydskap en dankbaarheid aan te gryp”.

Op ’n vorige besoek aan die Bucknell-Universiteit, Pennsylvania, het die denkpolisie – soos gewoonlik verteenwoordig deur die Women’s Resource Centre, die hoof van die universiteit vir diversiteit, gelykheid en insluiting en die professor vir vroue- en geslagtelikheidstudie – die studente genooi om hul “wonde” van Mac Donald se lesing op verfklippe uit te beeld. Ongelukkig dryf volwasse fakulteitslede studente daartoe om te dink dat “vrye spraak bloot haatspraak is wat versterk word”.

Ek het Heather Mac Donald gedurende ’n TV-onderhoud ontmoet. Uiters indrukwekkend en aan die voorpunt, is haar denke oor kwessies wat aanvallend op Amerika gerig is. Selfs The New Times-kritici het haar ’n “invloedryke institusionele denker” genoem. Betreffende haar boek The Burden of Bad Ideas het ’n ander gesê: “In onderlinge besprekings van stedelike agteruitgang waar niks meer nuut is nie, is hierdie boek ’n vars briesie van verandering”. Oor haar boek The Diversity Delusion skryf Steven Pinker, Harvard-professor in sielkunde heel gepas: “Deur haar driftige skrifstukke en minagting vir onsinnighede, forseer sy universiteite om hul eie beginsels gestand te doen”.

In sy artikel “There’s No Safe Space for Ideas on Campus – ‘Animal Farms’ ”, betreur redakteur Daniel Payne die afname in gesonde dialoog en debat op Amerikaanse kollege-kampusse. Stalinisme het so absurd geraak dat “selfs die meer verdraagsame tipe kampusaktivisme besig is om plaas te vind. Hierdie stygende politieke filosofie is nie slegs allergies vir andersdenkende idees nie, maar staan selfs idees oor andersdenkendheid teen,” aldus Payne.

Hy noem ’n klomp universiteite wat onder die swaard van McCarthyisme gebuk gaan – die stilmaak, op die swartlys plaas en vervolging van kommuniste onder Joseph McCarthy van 1950 tot 1954.

By die Washington College in Maryland het studente, byvoorbeeld, ’n teater gesluit omdat hulle nie van die produksie gehou het nie. By die Emory-Universiteit het ’n professor die n-woord (Neger) gebruik om sy punt te staaf terwyl hy ’n regtelike beslissing in ’n hofuitspraak verduidelik het – woedende studente het beweer dat hul emosionele welstand daardeur bedreig is. By die Universiteit van Noord-Texas is ’n werknemer weer van rassisme aangekla toe sy aangevoer het dat vrye spraak dikwels woorde bevat wat aanstoot gee.

Akademici word ook gestraf as daar Donald Trump-plakkers in hul kantore is; nog ’n student beweer dat hy te na gekom is toe die professor popkultuur bespreek het en die ontbloting van Janet Jackson se bors tydens een van haar vertonings ter sprake gekom het. Die Universiteit van Iowa is ook onlangs deur die niewinsgewende organisasie Speech First voor die hof gesleep omdat die universiteit vrye spraak deur ’n verskeidenheid van bepalings, reëls en regulasies wil onderdruk. Die kampusklimaat-verslagstelsel is ook onder skoot – studente mag insidente van vooroordeel by ’n tribunaal wat uit lede van die kampuspolisie, die dekaan en universiteitsraad bestaan, aanmeld.

Payne beweer verder dat universiteitadministrateurs sommige van die blaam moet dra. Soos in Suid-Afrika, het die administrateurs ook die knie gebuig voor die #FeesMustFall-beweging en die afbreek van standbeelde wat studente beweer hulle gekrenk het.

Akademici het beslis verander sedert ek in 1978 as jong akademikus begin het. My klasse was uitdagend; studente was gestimuleer en het hul verskillende menings vrylik gelug – baie daarvan gegrond op eie ondervinding. Sosiale antropologie het gefloreer. Boonop was ons verryk deur die ervarings van studente uit vissersdorpies, voormalige tuislande, Moslem- en Christenhuise, skole en woongebiede uit die apartheidsera, ensovoorts.

Ná een grusame verkragting (van baie in Suid-Afrika) het ek my een lesing doelbewus begin met die uitdagende stelling: “Alle mans is gebore verkragters”. Dit was asof ’n bom gelos is. Ek het die klas toe uitgedaag om ’n besprekingspaneel te vorm en oor my aanname te debatteer. Die welsprekende paneel van studente het bestaan uit ’n gay persoon, ’n Moslem-feminis, ’n Marxist en ’n Christen. Hul argumente was logies, rasioneel en het my kennis behoorlik getoets. Al daardie studente het, nadat hulle gegradueer het, leiers in hul eie gemeenskappe geword. (Terloops, ek het nie die omstrede stelling wat ek gemaak het, geglo nie – my bedoeling was bloot om debat te ontlok en gelukkig het die klas dit begryp.)

Is daardie dae dan verby?

Akademici in die VSA bekommer my. Universiteitsowerhede kapituleer ongelukkig en dink niks daarvan om die akademiese prestasies van studente na so te sê niks af te bring nie, of om dosente af te dank omdat sensitiewe bloedjies gekrenk voel.

Die vraag is, watter kwalifikasies is dan nodig om die hedendaagse studente te onderrig?

Maak geen fout nie, hierdie tirannie word gevoer in aanstellingskomitees waar die hoogste akademiese kwalifikasies nie meer ’n noodsaaklike vereiste vir onderrig aan universiteite is nie.

Payne sluit sy artikel af met die volgende: “Die omgewing verskil nie veel van George Orwell se Animal Farm nie – ’n plek waar niemand dit waag om sy opinie te lug nie, waar verwoede, grommende honde orals dool en waar jy moet aanskou hoe jou makkers aan flarde geskeur word nadat hulle skokkende misdade bely het.”

Peter Woods, president van die National Association of Scholars, betreur dit dat die skrapkultuur (cancel culture) soos ’n virus hul pogings besmet om gereeld byeen te kom om fopwetenskap, mislukte wetenskap of wetenskap waar iets ontbreek, te bespreek. Die politieke korrektheid-polisie in die wetenskapgeledere het selfs bymekaargekom om die konferensie te kanselleer omdat hierdie wetenskaplikes “gevaarlik en slim is”. Nietemin is hulle gebind om ’n streng standaard van openhartigheid ten opsigte van kontroversiële wetenskapkwessies te handhaaf.

Die mees onlangse slagoffer van hierdie tirannie is die akteur Vince Vaughn wat toevallig langs president Trump by ’n sportgeleentheid op 14 Januarie gesit het. Deur die president te groet, is ’n groot teenreaksie op sosiale media en deur kommentators ontketen. Gelukkig is hy ’n topakteur en boonop skatryk en steur hy hom dus nie aan die mannetjies wat uit hul pad gaan om mense weens hul ordentlikheid te teister nie.

Gewone ordentlikheid het ’n skaars kommoditeit in die VSA geword. Die Vader alleen weet waar dit gaan eindig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Rhoda Kadalie

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

Suid Afrika is nie vêr agter Amerika nie. Die mense van kleur is vinnig op hulle besems as jy net iets polities onkorrek sê. Die blankes in Suid Afrika is besig om meer onderdruk te raak as die res van die Wereld.