Polsende hoop tussen vuurpyle in Oekraïne

Deur dr. Yevgeny Ustinovich vanuit Lvov, Oekraïne

(Vertaal deur professor Kobus Kok, Leuven)

Yevgeny Ustinovich

Stel jou voor jy woon in ʼn land wat deur oorlog in flarde geskeur is. Stel jou voor jy is in die kerk en daar sit mense voor jou wat ʼn paar dae gelede vlugtelinge geword het. Hul buurt is met vuurpyle en bomme getref; hulle moes dae lank reis om na veiligheid te probeer kom. Hulle weet nie wanneer hulle sal kan terugkeer huis toe en óf daar ʼn huis sal wees om na terug te keer nie. En nou die moeilikste deel vir jou: verbeel jou jy is ʼn prediker in ʼn kerk waar sulke vlugtelinge bymekaargekom het. Wat sê ʼn mens in so ʼn angsvolle situasie van disoriëntasie? Kan ʼn mens vir hulle enige woorde van vertroosting gee? Waar begin ʼn mens?

In my desperaatheid gryp ek na mense wat soortgelyke afgryse beleef het én suksesvol daar deurgekom het. Daar is natuurlik geen maklike oplossings nie, geen vinnige antwoorde nie. Maar watter metode ʼn mens ook al in pastorale werk van hierdie soort gebruik, moet “hoop” ʼn integrale deel daarvan wees.

Viktor Frankl, ʼn Oostenrykse psigiater wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in ʼn konsentrasiekamp gevangene was, het ʼn vreemde verskil tussen die gevangenes waargeneem. Sommige het vinnig gebreek en alle wil om te leef verloor; ander het merkwaardige veerkragtigheid getoon. Verbasend genoeg was fisiese krag en gesondheid nie die hooffaktor nie. Die belangrikste verskil tussen diegene wat aangehou het om te veg en diegene wat opgegee en vergaan het, was hoop. Wanneer ʼn mens iets het om voor te hoop, is dit makliker om selfs die ergste nagmerrie van die konsentrasiekamp te verduur.

In sy boek, Man’s Search for Meaning, beskryf Frankl sy eie ervaring om hoop te vind te midde van sy reuseverlies en pyn. Toe hy deur intense fisieke en emosionele lyding gegaan het, het hy hom verbeel hy “staan op die platform van ʼn goedbeligte, warm en aangename lesingslokaal. Voor my het ʼn aandagtige gehoor op gemaklike gestoffeerde sitplekke gesit,” beskryf hy. “Ek het ʼn lesing gehou oor die sielkunde van die konsentrasiekamp,” vertel Frankl. Deur hierdie metode het hy op een of ander manier daarin geslaag om bo die situasie uit te styg, bo die lyding van die oomblik, en het hy dit waargeneem asof dit reeds iets van die verlede was. Vir Frankl is dit ʼn belangrike komponent van hoop in so ʼn konteks van vernietiging: Om die huidige lyding te sien “asof [dit] reeds deel van die verlede is”.

Frankl se metode is kragtig, baie kragtig. Maar kan dit verder versterk word? Ek dink so. Wanneer ons Frankl se insigte in ʼn Christelike konteks oordra, is een van die terme wat uitgeklaar moet word “hoop”. Wanneer Frankl oor hoop praat, praat hy oor die produk van menslike verbeelding en begeerte. Met al die wye verskeidenheid betekenisse wat die woord “hoop” in hedendaagse gebruik het, is “waarborg” gewoonlik nie een daarvan nie.

Frankl se hoop is nie wensdenkery nie, maar dit is ook nie ʼn geseënde versekering van die gewenste uitkoms nie. Wanneer die Nuwe-Testamentiese skrywers die woord “hoop” gebruik, beklemtoon hulle dikwels dat hierdie hoop op God se belofte gebaseer is – ʼn belofte wat nie verbreek kan word nie (Romeine 5:5).

Wanneer die apostel Paulus oor hoop praat, praat hy nie oor dinge wat ons graag in die toekoms wil sien gebeur nie, maar oor dinge wat beslis sál gebeur (alhoewel dit natuurlik lekker is as die twee saamval).

In die Evangelie van Johannes word die dissipels dikwels getoon as vreesbevange, onseker, nie in staat om Jesus en die betekenis van hul eie lewens wat aan hom toegewy is te verstaan nie. Maar wanneer Hy uit die dood opgewek word, kry hulle ʼn nuwe begrip (Johannes 2:22; 20:27-28).

Wanneer ons die teenwoordigheid van die verrese Here binnegaan, sal baie dinge baie anders lyk. Johannes deel hierdie na-opstandingsperspektief met sy lesers wat hulle in ʼn bevoorregte posisie plaas (Johannes 7:39).

Ignatius Loyola, stigter van die Jesuïete-orde, het sy volgelinge geleer om ʼn eenvoudige dissipline te beoefen: Om na te dink oor die gebeure van die dag deur die vraag te vra: “Hoe sal dit lyk as ek op my sterfbed lê?”

Hierdie perspektief is ook baie kragtig; dit kan tot ʼn paar werklike veranderinge in die lewe lei (min mense is in hul laaste uur spyt dat hulle te veel tyd saam met hul geliefdes spandeer het of goed na hul gesondheid omgesien het). Maar Johannes bied ʼn selfs hoër uitkykpunt – anderkant hierdie lewe. Hy leer ons om te vra: “Hoe sal hierdie gebeurtenis lyk wanneer ek die teenwoordigheid van die opgestane Christus binnegaan?”

Met ander woorde: “Watter betekenis sal dit hê as ek sterf en weer opgewek word tot die nuwe lewe op die nuwe aarde?” Ek is vandag (Sondag) op die punt om ʼn Sondagskoolklas te begin gee.

Die jongmense sit en kyk met brose oë aandagtig na my en teug versigtig en onseker aan die koffie in hul plastiekbekers. Baie van hierdie lewens is deur die oorlog en die pandemie verpletter. So was myne. Ons is op die punt om die Evangelie van Johannes te begin lees – ʼn boek oor die ewige hoop; hoop wat onherkenbaar gebreek en ontsier is. Hoe gaan die les verloop? Het my pogings enige waarde? Ek weet nog nie. Ek vra myself af: “Hoe sal dit lyk as ek weggaan om by Christus te wees?” Maar as ek vandag ten minste een persoon leer om hierdie vraag te vra, sou dit nie verniet en sinloos gewees het nie.

Nes Frankl is ons mense op soek na betekenis en sin in die konteks van vernietiging en seer. Maar anders as Frankl vind ons ons hoop in Christus.

  • Dr Ustinovich is ‘n Bybelwetenskaplike navorser, vryskutvertaler en enkelpa. Hy het sy doktorale proefskrif aan die ETF in Leuven, België voltooi onderleiding van Prof Kobus Kok.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.