Populisme teenoor realisme

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa, wat nou ook die leier van die ANC is. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die wyse waarop die ANC steeds vasgevang is in hul “struggle”-mentaliteit se prys is besig om te duur te word vir Suid-Afrika. Dit bly ’n ope vraag of hulle ooit in staat sal wees om die verantwoordelikheid van hul taak om te regeer, sal kan uitvoer. In ’n demokrasie het hul primêr twee verantwoordelikhede; naamlik om na die veiligheid van die land se inwoners om te sien en om die regte klimaat te skep waarbinne beleggers en entrepreneurs graag besigheid sal wil doen met die doel om wins te maak. In beide gevalle faal die huidige regering jammerlik.

Armoede en werkloosheid is daagliks besig om toe te neem. Daar is net een volhoubare oplossing om dit teë te werk en dit is dat die ekonomie moet groei. Dit begin by beleggersvertroue. Almal het aanvaar dat mnr. Ramaphosa met sy agtergrond positief sou wees om toe te sien dat alles moontlik gedoen sal word om dit te laat gebeur.

Mnr. Ramaphosa se huidige uitsprake openbaar egter duidelik dat die ANC (en ook hyself) vasgevang is binne die ANC-ideologie en dat die Nasionaal Demokratiese Rewolusie, die Vryheidsmanifes en hul Strategy and Tactics-dokument die rigting gaan aandui. Met die verloop van tyd het die ANC se onvermoë om na behore te regeer, die party nou ingehaal. Dit bring mee dat daar in die volgende tyd baie klem gelê gaan word op ’n paar aspekte (ná alles moet hul die stemvee “terugwen”):

  • Sterk fokus gaan geplaas word op eenheid in hul geledere met die besef dat hul kanse in die 2019-verkiesing daarsonder net nog kleiner gaan wees;
  • Die belofte van grond is nog deurentyd gemaak en vir hoe lank sal die massas maar tevrede wees met net die beloftes? Die dringendheid wat mnr. Ramaphosa openbaar rondom onteiening sonder vergoeding kan nie ligtelik opgeneem word nie;
  • Daar sal voorts gefokus word op radikale ekonomiese hervorming. ’n Mens sou verwag dat mnr. Ramaphosa behoort te weet dat rykdom geskep word deur harde werk;
  • Heelparty aksies sal van stapel gestuur word rondom die jeug om hul steun te verkry. Gratis tersiêre opleiding was dalk die begin daarvan; en
  • Die moontlikheid bestaan ook dat die ANC sosiale toelae en HOP-huise, wat in werklikheid staatsgeld is, tot eie voordeel kan gebruik met die bedekte dreigement van die verlies daarvan indien daar nie vir die ANC gestem gaan word nie.

Daar bestaan baie meningsverskille oor die inhoud van die Grondwet met betrekking tot die beskerming van eiendomsreg al dan nie. Die argumente word hoofsaaklik beperk tot artikel 25, maar ander artikels in die Grondwet verg ook oorweging. Artikel 9 wat handel oor die gelykheid van die burgers van Suid-Afrika bring baie vrae na vore. Dit wil al hoe meer voorkom of party mense meer gelyk is as ander indien na sekere wetgewing sowel as die toepassing daarvan gekyk word. Artikel 18 wat handel oor die reg van vryheid van assosiasie raak eintlik ’n klug indien daar gelet word op hoe daar bv. met die SEB-kodes dwang toegepas word vir die afstaan van eiendomsreg. Dit het al hoe meer duidelik begin raak dat dit wat in die Grondwet staan, nie noodwendig is wat saak maak nie, maar wel deur wie en hoe dit geïnterpreteer word.

Tydens die Desember 2017 ANC-kongres is aanvaar dat hul beleid voortaan sal wees dat grond onteien kan word sonder vergoeding. Daarmee saam is gesê dat die ekonomie nie daardeur skade berokken mag word nie en voedselsekerheid mag nie in gedrang gebring word nie. Mnr. Ramaphosa moet asseblief hierdie wysheid van hoe hy hierdie twee uiteenlopende aspekte bymekaar uitbring, aan Suid-Afrikaners verduidelik. Indien dit wel reggekry sal word om die Grondwet te wysig soos hulle beoog, sal enige regdenkende mens baie mooi moet besin om kapitaal vas te belê in Suid-Afrika welwetende dat die risiko bestaan dat dit sonder vergoeding onteien kan word.

Natuurlik is daar baie scenario’s wat kan uitspeel. Dit kan dalk wees dat vergoeding vir verbeterings op landbougrond wel in ag geneem mag word, maar nie die grond self nie. ’n Ander moontlikheid is dat die pad van ontneming soos met water- en mineraalregte gevolg kan word waar vergoeding nie ter sprake is nie. Die probleem is dat die swaard vir die vernietiging van die ekonomie getrek word die oomblik wanneer die onsekerheid oor besitreg ter sprake kom. Die implikasie vir die banke moet ook verreken word met die dat die landbouskuld reeds bykans R160 miljard beloop met die grond as sekuriteit.

Mnr. Ramaphosa sal drasties sy deuntjie moet verander tensy hy ook in die geskiedenis onthou wil word as deel van daardie groepering mense wat toegesien het dat Suid-Afrika se ekonomie na ’n derderangse Afrika-land gedegenereer het.

Die hartseer hiervan is dat verskeie konstruktiewe insette deur verskillende rolspelers oor jare heen gemaak is om vir die regering daarop te wys hoe om nuwe toetreders op ’n volhoubare basis te laat boer op so ’n wyse dat hulle ’n groter kans op sukses sal hê. Telkens was daar anders gekies met die gevolg dat 90% van hul grondoordrag-pogings uit produksie gegaan het. Dit terwyl die steeds groeiende verstedelikte bevolking tans bykans 67% van die totale bevolking beslaan.

Mnr. Ramaphosa besef duidelik nie die realiteit dat Suid-Afrika se kommersiële boere, gedrewe deur hul grootliks Calvinistiese werks- en sake-etiek, die land se grootste bate is nie. Indien hy ’n groot leier is, sal hy hulle koester en oppas en seker maak dat daar niks in hul pad staan om voedsel te produseer nie. Hy, tesame met die ANC verkies egter om ’n swaard van onsekerheid oor hulle, maar ook oor Afrikaners in die breë, se koppe ta laat hang oor die toekoms wat hul toegelaat sal word.

Die leuen oor die geskiedenis van grondbesit is al soveel keer verkondig dat baie dit as die waarheid aanvaar. TLU SA het meegedoen om aan elke LP ’n boek waarin die opgetekende geskiedenis uiteengesit word, by die Parlement af te lewer. As hulle dit maar net wou lees, sou daar dalk ’n ander begrip ontwikkel het. Die werklikheid is dat die Grondwet bepaal dat eiendom nie tot grond alleen beperk word nie – dit sluit dus alles in. Sou ‘n polities-bankrot ANC net by plase volstaan indien hulle vanuit hul sosialistiese aanslag op die land begin met ‘n nasionaliseringsproses?

Daar kan aanvaar word dat Ramaphosa in die volgende tyd baie populistiese uitsprake sal maak a.g.v. sy posisie in die magstryd wat steeds hoogty vier. Hierdie proses sal voortduur tot en met die verkiesing in 2019. Die groot gevaar van hierdie onnadenkende benadering is dat daar onrealistiese en onhaalbare verwagtinge geskep word, terwyl beleggingsvertroue noodwendig geskaad word.

Waar staan die Christen in hierdie proses?

Dit is belangrik om nie te daal tot die vlak van hierdie aardse aanslag nie. Wysheid is nodig om die regte besluite te neem. Ons keuses en ook ons optrede moet gemeet kan word daaraan dat ons leef en werk vir ’n hoër doel. Daarom moet ons onsself voortdurend verootmoedig en wysheid by ons hemelse Vader afpleit. Dan sal ons die regte besluite neem wanneer dit saak maak. Mag ons optrede en reaksie van so aard wees dat ons vir Jesus Christus se optrede toe hulle Hom in die tuin van Getsémané in hegtenis geneem het as voorbeeld neem. Ons optrede in die moeilike tye bepaal ons werklike karakter, ook daar waar ons in bv. die sosiale netwerke reageer.

As Christen word daar kennis geneem van die top-6 van die ANC wat hulle voorvaders gaan opsoek het vir leiding vir die pad vorentoe. Dit beklemtoon die verskil tussen die twee wêrelde waarin ons leef. Nooit mag ons toelaat dat daardie soort denke enigsins vastrapplek kry in ons keuses en optrede nie. God bly in beheer, ongeag van wie wat sê of doen.

Ons moet nie op ’n hoop as gaan sit en toelaat dat hierdie diskoers van die ANC veld wen nie. Raak betrokke by daardie organisasies wat die regte waardesisteme implementeer. Staan openlik, maar met groot verantwoordelikheid, op om in die naam van Christus ’n kryger te wees om sý koninkryk reeds hier op aarde uit te bou. Dit impliseer dat ons sal vasstaan vir die waarheid en vir geregtigheid. Dit vra egter dat ons openlik ons afhanklikheid van God drie-enig sal erken en bely.

In die praktyk moet ons ook opstaan vir die beginsel van privaat besitreg en ’n vrye ekonomie. Waak teen diegene wat toelaat dat kruipende onteiening toegelaat word deur hulle ondersteuning van ’n beleid soos SEB, “affirmative action”, ens. Skryf briewe en beïnvloed mense oor wat nodig is sodat ons ekonomie na behore kan groei. Dit is die ekonomiese pad na volhoubaarheid gemeet aan realisme. Daarin kan die kapasiteit geskep word om die tydbom van armoede aan te spreek anders as die ANC wat tans a.g.v. hul onseker beleidsomgewing, die hoofrede vir die gebrek aan vaste beleggings is. Daarteenoor is die prys van mnr. Ramaphosa se populistiese invalshoek reeds bepaal – armoede vir almal.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Die Boodskapper ‘n publikasie van die AP Kerk geplaas.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Eish ·

Puik skrywe wat die realisme van die dag goed saamvat en belangriker, ons beste reaksie daarop asook die hoop vir more.

L ·

Opsomming van anc se beleid nastby korek. Maar oor optrede van christene moet ek op sekere punte verskil . Eertens ons as mens bou nie Christus se Koning kryk nie . Hy doen dit self as Hy weer kom. Tweedens ons afrikaners moet ons bekeer . Ons het God se Woord vervals met rooms arminiaanse grondteks van die 1983 vertalling .ons omhels die nuwe liedboek waarvan die digters wat christus se Godheid direk ontken(bv. Lina spies ens.) Ons gee ook aan Godlo”enaars toekennings ( dv.helppende hand aan lina spies) dink ons God gaan ons beskerm?

Cornelia ·

Baie dankie Mnr.van Zyl. U spreék met wysheid, kennis en insig. Mag ons volksgenote wat goed onderlê is in hulle taal, verstaan dat ons aller eers die “Taal van Jesus Christus” moet práát en lééf… Hand aan die ploeg hou en biddend ligdraers moet bly. Al sal ons ook met trane saai – die Belofte is dat ons ‘n vreugde oes sal maai. Hou net vas. Dan sal ons Sy Wonderdade aanskou.

Frans C ·

Die volgelinge van Christus bestaan nie net uit
Blankes nie.Daar is ook Christene wat lede van die ANC is.
Dit verhoed hul egter nie om die beleid van die
ANC te ondersteun nie omdat hul uit ‘n totaal ander agtergrond kom nie.

Cornelia ·

Dit is so dat die Here vir Hom ‘n “volk” uit elke stam, taal en nasie toeberei. Daarom mag hulle ook hul volksgenote bemoedig en vermaan om nie af te wyk van die enigste Weg en Waarheid nie. En daar is baie onder hulle wat biddende ligdraers is. Laat ons ook getrou bly aan ons Godgegewe Opdrag saam met al die ander Christene in ons Land Suid – Afrika.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.