Populiste stoomroller deur demokratiese wêreld

eff 27

‘n EFF optog in 2015. Argieffoto.

Oor die hele demokratiese wêreld is populiste aan die opruk. Wat beteken dit vir die demokrasie? En vir Suid-Afrika?

In Amerika is Donald Trump soos ’n stoomroller op pad na die Republikeinse Party se presidentskandidatuur. Die gematigde establishment van die party is doodsbenoud oor dié dreigende oorname van ’n man wat nooit in woord en daad ’n Republikein was nie.

In Nederland is die Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders luidens peilings die grootste enkele party. In Frankryk kan Martine le Pen van die Front National die volgende president wees. In Brittanje lei die gewilde burgemeester van Londen, Boris Johnson, ’n opstand teen premier David Cameron se pro-Europese koers. In Hongarye en Pole is populiste reeds aan die bewind.

Die jongste hamerslag is die uitslag van drie Duitse deelstaatverkiesings die afgelope Sondag, in Baden-Württemberg, Rynland-Palts en Sakse-Anhalt. Die uitslae vertoon streeksverskille, maar die algemene tendens is dat die regerende koalisie van die Christen-Demokrate (bondskanselier Angela Merkel se party) en Sosiaal-Demokrate ’n taamlike klap gekry het. Die party wat baie tevrede met sy vertoning kan wees, is die regs-populistiese Alternativ für Deutschland (AfD) van die vurige Frauke Petry.

In Spanje is dit daarenteen linkse populiste van Podemos wat in die laaste verkiesing groot vordering gemaak het. En in Griekeland regeer die linkse populiste reeds.

Die gemeenskaplike faktor in al dié (en ander) voorbeelde is dat die politieke sentrum stadig maar seker aan die verbrokkel is. Hoofsaaklik regs-populisties vorder, maar ook linkse populiste vind baat by die proses.

Dis nie te sê dat die populiste oral die bewind spoedig kan oorneem nie. Voordat Frauke Petry haar intrek in die Bundeskanzleramt in die hartjie van Berlyn kan inneem, sal Duitsland eers tot op sy grondveste geskud moet word. In die magstryd tussen Boris Johnson en David Cameron is enigiets moontlik. Geert Wilders word só deur die ander partye geminag dat niemand ’n koalisie met hom wil smee nie, en die kans is goed dat links en die sentrum in Frankryk hul kragte bymekaar sal snoer om Le Pen uit die Elysée-paleis weg te hou.

En in Amerika beledig Donald Trump waarskynlik te veel mense te gruwelik – swartes, Latyns-Amerikaners, vroue, gestremdes – dat hy ’n verkiesing kan wen. Maar ’n mens weet nooit.

Die groot vraag is wáárom die politieke sentrum aan die verbrokkel is. Oor die antwoord sal ’n mens ’n dik boek kan skryf, maar in enkele woorde saamgevat, kom dit eenvoudig daarop neer dat die afstand tussen die politieke establishment en die stemvee daar buite te groot geword het.

Oor die hele demokratiese wêreld daag die politici in die aanloop tot verkiesings op in hul blink Mercedesse, klim uit met opgerolde moue om sogenaamd te wys hoe hard hulle vir die mense werk, skud hande, soen babas, hou toesprake met allerlei mooi maar onhaalbare beloftes, en ry weer verder. Sodra hulle buite sig is, vergeet hulle van die gesiglose massa wat hulle net toegespreek het.

Deur die jare heen het ’n gevaarteken stadig maar seker aan die horison begin opdoem, een wat die establishment met groot vasberadenheid geïgnoreer het: Die stempersentasie het stelselmatig steeds verder afgeneem – in die een land meer as in ’n ander, maar dit gebeur byna oral.

Dis mense, oorwegend armer, swakker opgeleides, wat nie meer die sin van ’n stemmery insien nie. Die politici is tog maar almal dieselfde, is hul ervaring. Jy kan net so min op die een as op die ander vertrou. Hulle is nie daar vir óns nie, maar vir hulself.

Wat nou in Duitsland gebeur het, is veral dat die AfD daarin geslaag het om juis dié mense vir ’n verandering by die stembus te kry. Mense is ook uit ander partye afgerokkel, maar peilings wys dat nuwe stemmers die deurslag vir die AfD se goeie resultaat gegee het.

In Amerika, lyk dit, gebeur iets soortgelyks. Peilings dui daarop dat al die miljoene mense wat ekonomies, sosiaal en kultureel uitgesak het, vir die Amerikaanse droom ’n wrange nagmerrie is – dis húlle wat vir Trump gaan stem. Vir hulle maak dit nie saak dat hy hom op die verhoog soos ’n onbeskofte ploert gedra nie.

Hulle besef nie – of gee nie om – dat sy beloftes byna deur die bank onuitvoerbaar is nie. Waarvan ons hier praat, is niks minder nie as ’n revolusie. ’n Wettige, geweldlose revolusie, dis waar, maar nietemin ’n revolusie.

Dis mense wat ’n woedende middelvinger na die establishment wys. En, al gebeur dit in Europa in mindere mate, gebeur dit daar ook.

Vir enige Suid-Afrikaanse leser moet dit alles baie bekend klink. Dieselfde is in Suid-Afrika ook aan die gang, al verloop die proses by ons op ’n eiesoortige manier.

Die ANC het in 1994 as nuwe establishment by die ou Nasionale Party-establishment oorgeneem. In die 22 jaar sedertdien het hy net so versteen en moeg soos die destydse NP geword, sy idees is net so op, sy blus is net so uit.

Die establishment rondom pres. Jacob Zuma – enkele opmerklike uitsonderings daargelaat – stel net so min as die ou NP in mense se welsyn belang, en net soveel in hul eie plekkie op die soustrein. Hulle regeer nie in belang van die mense nie, maar in hul eie belang.

In dié vakuum het Julius Malema en die EFF gespring. Nes ander populiste, kom hulle met beloftes wat óf onuitvoerbaar is óf die land in duie kan laat stort, maar op voetsoolvlak is die mense só keelvol vir die establishment dat dit nie vir hulle saak maak nie.

Dit gaan hier oor ’n revolusie. Minder geweldloos en binne die wet as elders, maar nietemin ’n revolusie in die volste sin van die woord.

In die proses is ook Afrikaans (en Afrikaners!) ’n gerieflike slaansak om ontevredenes te mobiliseer.

Wat kan gedoen word? Myns insiens is Solidariteit op die regte pad. Stáán op jou regte, ook in die hof as dit moet. Geweldloos, beleefd, ferm, beslis en binne die wet. As jy gaan lê, soos oom Max du Preez voorstel, word daar minagtend oor jou heen geloop.

En práát met jou teenstanders – in die ANC én die EFF. Die alternatief is om te skiet. En dan is ons álmal in ons maai in.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

tamboti ·

Wel ja as jy van mening is dat 1 man 1 stem demokrasie die ideale staatsbestel in enige land is, maak dit sin dat rewolusioneres veld wen want die stelsel spreek nie die vraagstukke aan wat dit self skep nie!
Daarinteen is die meerderheid nie altyd (bittermin) reg, sien hulle wil juis almal tevrede stel – wat noodwendig nie gaan gebeur nie.
Dit is soos ‘n “catch 69” situasie en bly altyd onstabiel. Die enigste plek waar ware demokrasie werk is in ‘n ontwikkelde nasie met “ontwikkelde” mense.
Die res word baie beter deur ‘n monarg, diktator, militere leier regeer, ook nie baie regverdig nie maar enigiets is beter as dit wat ons nou in SA beleef.

Cilliers ·

Vir ‘n historikus is jy nogal losbandig met feite, Leopold: Wat noem jy die feit dat Trump se stemrekord (onlangs opgediep en vrygestel maar natuurlik doodgeswyg deur die hoofstroommedia; en jou kaliber lees seker darem dieper!) uitsluitlik en gereeld Republikeins is ? Bewys van geestesversteuring?

Hier’s ‘n gedagte vir jou: Wat maak ‘n populistiese mediabril van jou anders as – ‘n populistiese kommentator?

Magriet ·

Piet Retief het ook met Dingaan gepraat. Dit lyk dus vir my ons is in elk geval in ons maai!

Hendrik ·

Die groot verskil hier in S.A. is dat die belasting basis net 7 miljoen is van die 60 miljoen mense in S.A. Die wit minderheid is ook so min dat hulle net 2% van die stembevolking is. Wat nou gedoen? Die populistiese EFF gaan die amptelike opposisie word en self die DA se proposionele stempresentasie gaan daal. Soos jy noem is dat ons uitweg is om die instansies hof toe te neem. Dit is alles goed en wel. Jy sit in die buiteland en ons hier in Suid-Afrika. Dit is tyd dat jy vanaf die buiteland mobiliseer en ons help. Dit sal vir ons baie werd wees. Ons sal die ding doen hier in Suid-Afrika. Mobiliseer al die Suid-Afrikaners oorsee om geweldige druk toe te pas vanuit die buiteland teen die menseregtevergrype in Suid-Afrika soos die verslag laasweek aangetoon het.

Trolle ·

Die probleem is die wereld is moeg vir lamsakkige leiers wat net belowe maar niks kan regkry nie,want daar is mense agter hulle wat vir hulle vertel wat hulle moet se.Gaan kyk bietjie hoe verskil hulle ogend en aand praatjies hulle verander aanmekaar hulle siening oor iets.
N land moet n sterk leier he soos Trump wat hou by wat hy gese het al word hy hoe aangeval deur die media dit is wat die mense raaksien in hom.Wens ons kan iemand soos hy he in SA.
Dankie goeie berig.

DewaldS ·

Nee-wat, Leëpot. Die ‘demokratie’s’- verkose regerings (gesteun deur die leuen-agtige media-narratiewe waarvan jy deel vorm) in al die Westerse lande het hulle eie agendas begin deurvoer en nie meer na die mense van daardie lande geluister nie – hulle het so lank daarmee weggekom dat hulle begin dink het die gewone mense is dom. Jy kan nou maar verder ‘n narratief probeer opstel van ongewenste populiste en rewolusies, maar julle speletjie is oor – die mense gaan beheer oor hulle eie lande terugvat.

DewaldS ·

En die meeste Boere en Afrikaners het ook reeds deur Solidariteit gesien – hulle bande met diegene wat die vorige werkende ordes help afbreek het, is maar net te duidelik.

Fanie ·

Lekker om sulke swaargewig artikels op Maroela te lees! Baie dankie.

Jaco Kleynhans ·

Leopold. Waar het Trump swart Amerikaners sleggesê? Kan jy dalk ‘n goeie verwysing verskaf. Ek kan dit nie vind nie.

John ·

Skynbaar glo die outeur Hillary Clinton sal die wereld se beste leier wees, Amerika is die redder van die planeet en Rusland sy grootste vyand. Sy giggel oor die dood van leiers en omarm almal … behalwe Rusland wat dan glo nog eendag die wereld wil oorvat soos in die James Bond-flieks. Die wereld het ‘n gevaarlike plek geword. Oumas wat baba-truitjies brei hoort rustig voor die tv terwyl leiers onderhandel. Bill wil so in die agtergrond deur sy tande raad gee terug in die Withuis. Amerika wil van Sirie nog ‘n Libie maak met Turkye op Israel se drempel. Auntie Hillary sal die saak oplos, moenie worry nie ??

DMC de Koker ·

Donald Trump se planne onuitvoerbaar? Haha. Doen ons almal ‘n guns en sê dit vir hom in sy gesig. In 1990/91 het almal gesê hys onderdeur (finasieël). Hyt doodeenvoudig net sterker teruggekom. Dis sy karakter, of mens van hom hou of nie. Myn insiens kan mens nie Donald Trump, die AFD en Front Nasionaal van Frankryk vergelyk met ons eie situasie hier en die EFF nie.

DewaldS ·

Vertrou maar op Leëpot Scholtz om dit te probeer. As dit nie werk nie, is sy volgende stap waarskynlik om Trump as ‘n KKK-leier voor te hou. Of as ‘n soort Hitler. Liberalisme en sosialisme is maar net ‘n meganisme wat gieriges gebruik het om ‘n maklike lewe te lei. Daar moet van die hardwerkendes en diegene wat goeie besluite neem in die lewe geneem word en aan die gegee word wat nie so is nie – met jouself as die middelman. Die liberale sal ALLES hulle vermoë doen om ‘n regverdige stelsel te verhoed…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.