Post-2024-Suid-Afrika – ideologiese konkoksies en beleidsonsekerheid

Deur Lehumo Sejaphala

(Foto: Wikimedia Commons)

2024 is geprojekteer as die jaar wat ʼn “waterskeidingsoomblik” in die land se politieke landskap sal inlui. Dit is inderdaad die jaar wat opposisiepartye ʼn moontlike lewenslange geleentheid sal bied om die regering van die dag uit die amp te verdryf, as hulle hul politieke verskille opsy kan sit, organiseer, kan konsolideer en betekenisvolle alliansies in die belang van die land kan smee.

Vir die ANC-kaders is dit egter die jaar wat hulle waarskynlik wens verby kan vlieg. ʼn Mens kan nie anders as om aan te hou wonder watter politieke lokaas hulle gaan gebruik om die kiesers te lok om by die stembus vir die eeufees-party te stem nie. Ramaphosa se politieke kapitaal is immers besig om op te raak; sy presidentskap het nie noodwendig die lewens van gewone Suid-Afrikaanse burgers op enige betekenisvolle wyse verander soos wat vroeër gehoop is nie. Dit is egter nie te sê dat hy niks vir die “armes” gedoen het sedert hy die amp aanvaar het nie.

Sy simpatiseerders het erken dat hy die land suksesvol uit die Covid-19-pandemie gelei het. Ander het hom erkenning gegee omdat hy alle wetstoepassingsagentskappe versterk het, hulle met gekwalifiseerde personeel gevul het, en sodoende hulle in staat gestel het om sommige van die geld te herwin wat verlore gegaan het weens korrupsie gedurende die sogenaamde “9 vermorste jare”. (Dié nege jare waartydens Ramaphosa self as seniorkabinetsminister gedien het.) Dit is nietemin te betwyfel of die gewone man op straat van sulke suksesse kennis sou geneem het.

Die werkloosheidsyfer onder die presidensiële termyn van Ramaphosa het aansienlik toegeneem. Die ekonomie het nie die groei gesien wat hy voorgehou het om te skep toe hy die amp oorgeneem het nie. Sy ekonomiese beleid was flou in terme van die lewering van resultate. Hierdie teleurstellende opbrengs word getoon in ʼn ekonomie wat skaars werk kan skep, belastingbetalers kwyt is en taamlike hoë vlakke van inflasie sien.

Die lopende grap (“gag”) van sy presidentskap was die miljoene werksgeleenthede wat sy regering veronderstel was om te skep; ʼn onvervulde belofte wat in elke staatsrede gemaak is sedert hy die amp aanvaar het. Sy teenstanders van links sal hom kritiseer as ten gunste van private kapitaal, maar die ekonomiese beleid en algemene optrede van sy presidentskap weerspieël dit nie. In plaas daarvan lyk dit of die patronaatskap en korrupsieskandale van sy party voortduur, as die Phala Phala-aangeleentheid iets is om te oorweeg.

Dit is dus baie aanloklik om Ramaphosa bloot as ʼn “nuttelose leier” af te maak soos baie van sy teenstanders probeer doen het, maar dit sal baie simplisties wees. Wat wel moeilik is om te doen, is om sy prestasie as president te beoordeel. Die man het bewys dat hy baie stadig is om op te tree en tree nie op wanneer dit nodig is om dit te doen nie. Hy is ook deur sy teenstanders binne die regerende party daarvan beskuldig dat hy nie die party se konferensie-resolusies implementeer of ondermyn het nie.

Hy sal waarskynlik die geskiedenis ingaan as die een demokratiese president met geen noemenswaardige leierskaprekord of nalatenskap nie. Zuma is ten minste berug vir staatskaping en korrupsie – hoe minagtend dit ook al mag wees. Prins Mashele, bekende skrywer en politieke ontleder, het in ʼn onlangse onderhoud op Newzroom Afrika voorgestel dat Ramaphosa voor die einde van vanjaar sal bedank om te verhoed dat hy in die geskiedenis aangeteken word as die man onder wie se leierskap die ANC sy meerderheid in die regering verloor het.

Ek dink, selfs al sou Ramaphosa nie bedank nie, sal hy uit sy amp herroep word, en as sondebok vir die ANC se “ineptocracy” gestraf sal word. Soos in die verlede met sy voorgangers gedoen is, sal die probleem met die ANC gereduseer word tot die probleem met Ramaphosa. Paul Mashatile sal dan ontsmet, herverpak en aan die mense van Suid-Afrika voorgehou word as die nuwe verlosser. In nog ʼn onlangse SAUK-onderhoud het Mashele verder laat blyk dat daar ʼn koalisieregering op nasionale vlak onder leiding van die ANC en die EFF sal wees, met Paul Mashatile as die president en Julius Malema as sy adjunk.

Dit sou ʼn ergste scenario wees. ʼn Ongelukkige wending wat ʼn era van ideologiese konkoksies, beleidsonsekerheid en die vestiging van vernietigende beleide sal inlui. Die twee sal hul bes doen om te bewys dat hulle aan die radikale ekonomiese transformasieprojek verplig is, en dit sal uiteindelik lei tot die verskerping van pogings om beleid te implementeer soos onteiening van grond sonder vergoeding, nasionalisering van handelsbanke en myne, onder andere.

Dit dien as ʼn duidelike oproep vir alle liberale dinkskrums, soos die Vryemarkstigting en die Instituut vir Rasse en Verhoudinge (IRR), om ook hul voorspraakpogings van alternatiewe beleide op te skerp. Ons kan op hierdie stadium net hoop dat Malema se ego groot genoeg sal word om hom te weerhou om met die idee te flankeer om Mashatile se adjunk te wees. Trouens, Mashele se voorspelling van Malema wat vir Mashatile as adjunk dien, is ʼn bietjie vergesog. Alles in ag genome; Malema sien homself nie as iemand se adjunk nie. Dit is óf hy aan die stuur van mag óf niemand nie. Hy het ʼn vorige geskiedenis om nie net sy politieke prinsipale te ondermyn nie, maar hulle te oorskadu. Hy sal Mashatile weerspreek met elke kans wat hy kry, totdat die hele koalisie-reëling in duie stort. Wat Ramaphosa betref, is sy lot reeds bepaal: tree af of word herroep.

Maak jou rieme vas, my landsgenote, ons is in vir ʼn hobbelrige rit!

  • Lehumo Sejaphala is ʼn bydraende skrywer vir die Vryemarkstigting.

Hierdie artikel is met vergunning van die Vryemarkstigting gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Dit sal maar net die ou tipiese Afrika-patroon wees: sodra die liberation movement ‘n verkiesing verloor, word die uitslag onwettig verklaar en word die weermag en polisie op groot skaal ingestuur om saam met die liberation movement die land te regeer. Kyk maar nét na Zimbabwe.

groenboer ·

Hier het ons een voordeel: onder ANC-bewind is beide polisie en weermag in die grond in bestuur, en hulle sal dus nie baie goeie instrumente wees in die hande van ‘n voornemende onderdrukker nie..

Marthinus W ·

Cyril is n sakeman, wat weet as die land ineenstort, is hy platsak. Ek verkies hom as president bo Mashatile, wat nog te se Mashatile/Malema saam! Cyril se groot probleem is dat hy nie lid van n etnies oorheersende groep, soos die Xhosas en Zoeloes, is nie. Apartheid is well and alive and living onder die swartmense – teen mekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.