Postkoloniale debat: Brief aan ʼn koninklike pa

prinses 3 william en george

Die hertog van Cambridge en sy seun, prins George Foto: Kensington-paleis

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die volgende brief aan prins William geskryf waarin hy ‘n herbesoek aan die Anglo-Boereoorlog bepleit vir die postkoloniale debat wat tans in Suid-Afrika heers:

U koninklike hoogheid, prins William

U is die pa van ’n seun, prins George, en ’n dogter, prinses Charlotte, onderskeidelik vier en twee jaar oud. Net soos u is ek ook ’n pa. Soos u en u eggenote, Catherine, is ek en my vrou, Elsha, lief vir ons kinders, Marisha (15), Minè (13), Elzaan (10) en Hanri (7).

In die jaar 1900 was u grootouma, Victoria, ’n koningin en my grootouma, Hester, ’n doodgewone boervrou.

Ons grootjies is altwee in 1901 gedurende die laaste jaar van die Anglo-Boereoorlog, wat van 1899 tot 1902 geduur het, oorlede. Myne is dood weens die haglike toestande in ’n konsentrasiekamp en u grootjie weens haar rype ouderdom.

U grootjie skryf in haar joernaal dat die jaar 1900 vir haar ’n verskriklike jaar was. Haar lieflingkleinseun, prins Christian Victor, het tydens die Anglo-Boereoorlog aan maagkoors gesterf.

U grootouma het ’n besondere betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog gehad. Vir Kersfees 1900 het sy 100 000 blikkies met sjokolade aan haar soldate gestuur. Sy het self agt serpe gehekel wat aan die veelsydigste soldate wat aan die Suid-Afrikaanse veldtog deelgeneem het, gegee is.

Die aand voor u grootjie se dood op 21 Januarie 1901, was sy nouliks by haar bewussyn toe sy vir haar dogter, prinses Beatrice, gevra het: “Wat gaan deesdae in Suid-Afrika aan?”

My oumagrootjie Hester se storie is ’n storie oor wat toe werklik in Suid-Afrika aan die gang was – stories wat waarskynlik nie aan u grootouma vertel is nie.

My grootjie was getroud met Marthinus en sy het ook kinders gehad, van wie Petrus en Christina die jongstes was.

Die oorlog het op 11 Oktober 1899 uitgebreek en gedurende die daaropvolgende bykans drie jaar is sowat 500 000 Britse soldate vir die stryd gemobiliseer. Dit was in daardie stadium die grootste oorsese mobilisasie nóg in Engeland se geskiedenis en is gevoer teen een van die kleinste volkies ter wêreld.

Teen Junie 1900 het Engeland gemeen die oorlog was uiteindelik verby toe die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, en die hoofstad van die ZAR, Pretoria, ingeneem is. Die Boere het guerrillavegters geword.

In Europese oorlogsdenke was dit ʼn totaal onverklaarbare verskynsel. ’n Desperate Joseph Chamberlain, die destydse minister van kolonies, het verklaar: “The war office declared that the international law for European or civilised nations could not be applied to the Boers, as they were worse than inferior Africans.

Dit het gelei tot die verskroeideaardebeleid en konsentrasiekampe. Onlangse navorsing toon dat nagenoeg 34 000 Boerevroue en -kinders in en op pad na die konsentrasiekampe dood is – sowat 65% hiervan was kinders van 16 jaar en jonger. Die Havenga-verslag het die ergste vorme van verkragting en seksuele geweld teen vroue en dogters in die kampe aan die lig gebring.

My oumagrootjie en haar twee klein kindertjies, Petrus en Christina, is soos vee op oop treintrokke sonder toiletgeriewe vanaf Rustenburg na die Irene-kamp vervoer. Daar was sowat 5 600 mense in die kamp. Uiteindelik het 1 163 mense in dié kamp omgekom.

Petrus is dood in die kamp. Sy laaste woorde was: “Mamma, ek is honger.” Daar was nie ’n kissie vir klein Petrus nie en hy is in ’n kombersie begrawe.

Die oorlog het ook rasseverhoudinge in Suid-Afrika vir altyd verander. Ongeveer 120 000 swart soldate, van wie tussen 30 000 en 50 000 gewapen was, het aan Britse kant aan die oorlog deelgeneem. Later is die swart soldate ingespan om die verskroeideaardebeleid uit te voer. Dit het ’n weersin laat ontstaan. Aan die ander kant was daar lojale swart werkers wie se huise ook afgebrand is en wat ook na konsentrasiekampe gestuur is.

So was die jaar 1901 ook ’n traumajaar vir die uitgebreide Seko-familie. Ses lede van die familie, onder wie vier kinders – Andries (3), Anna (4), Groeta (3) en Raiu (2) – asook Maria (70) en Sannie (70) het in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp omgekom.

Ná die oorlog het die Boere stadigaan begin terugkeer na hul land en grond. Vroue is alleen terug plaas toe. Alles was afgebrand en karkasse het oor die plase verstrooi gelê.

Die Boere het egter op indrukwekkende wyse ná die oorlog begin opstaan.

Ek wonder hoe u grootjie, met die wysheid wat nawete bring, sou gereageer het op die tragiese gebeure van die Anglo-Boereoorlog.

U staan egter buite die konteks van u grootjie se tye. U kan sien wat met my oumagrootjie gebeur het. Al is dit net vir ’n oomblik kan u uself indink hoe dit moes voel om as banneling na Ceylon toe gestuur te word terwyl u eggenote en u kinders in ’n konsentrasiekamp moes wees waar u seuntjie, George, met die woorde, “Ek is honger”, op sy lippies sterf en die vrees bestaan dat klein Charlotte ook in die kamp kan sterf.

Die vraag is hoekom die hele debat oor die Anglo-Boereoorlog steeds relevant is vir Brittanje en Suid-Afrika.

In Suid-Afrika stoei ons steeds met die vraag oor hoe ’n postkoloniale land lyk. Hierdie debat kan egter nie gevoer word sonder ’n behoorlike begrip van die tydperk van Britse kolonialisasie en die invloed daarvan op die Afrikaner-psige nie.

Ironies genoeg was Afrikaners die stam in Afrika wat ’n antikoloniale oorlog gewen en ’n baie duur prys daarvoor in ’n tweede oorlog betaal het. As ’n direkte gevolg daarvan het ’n “nooit-weer-gevoel-sindroom” onder Afrikaners posgevat wat weer ’n invloed gehad het op die regverdiging van apartheid.

Ek en u is albei deel van postkoloniale geslagte. Ons kan terugkyk op die geskiedenis en begrip vir mekaar hê.

Ek wil nie ’n verskoning hê nie. My oumagrootjie se mense het deur innerlike krag uit die smart van die oorlog opgestaan.

Teen hierdie agtergrond wil ek u nooi om Suid-Afrika saam met u gesin te besoek. Kom ons toon onderlinge begrip vir mekaar se geskiedenis binne ’n postkoloniale konteks en debat oor dekolonisasie.

Kom besoek die graf van u grootoom, Christian Victor, en gaan lê ’n krans daar. Ek sal ook ’n krans daar lê. Kom besoek ook die graffie van my grootoom, Petrus, in die Irene-konsentrasiekamp en lê ’n krans daar. Ek sal dit ook doen. Kom ons besoek saam met die Seko-familie die grafte van hul familielede in Bloemfontein en lê ook daar kranse.

ʼn Herbesoek van die oorlog is nodig vir die postkoloniale debat in Suid-Afrika en ter wille van die gewete van Brittanje en die koningshuis. Geslagte met die voordeel van nakennis kan kragtige simboliese dade doen sodat ons nie vergeet nie; sodat ons nie herhaal nie; sodat ons kan bou aan ’n nuwe toekoms.

U kan ’n groot rol daarin speel, want u is nie net ’n toekomstige koning nie; u is ook ’n pa.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Niccy ·

DITSIM!!! Ongelooflik wat ons groot ouers moes deurmaak en vandag leef ons gemaklik saam met die Engelse en praat boonop vandag hul taal.

Mariaan ·

Vandag word dié stukkie geskiedenis ignoreer.
Min jong mense weet daarvan.
Ons het onlangs die konsentrasiekamp in Bethulie besoek. Dis droë, dorre vlaktes oortrek met vlieë, waar die son op jou neerbrand, sonder bome of water. Om self daar te loop en die honderde grafte te sien, laat mens net besef dat hierdie mense deur hel gegaan het.
Ons Afrikanervolk kon vandag soveel sterker gewees het.

Eish ·

Die skrywe het n baie, baie dieper inhoud as wat ons bloot sien as n stukkie geskiedenis. Die uitreik jare der jare na die gebeure, om wedersydse begrip te kweek in n milieu van vrede en wedersydse erkenning van die geskiedenis wat nie ongedaan gemaak kan word nie. Die uitnodiging is uitgestuur, die aanvaarding moet nog kom. Is dit dalk n subtiele verwysing na ons situasie in die land tans, waar ons worstel met verskillende waarhede soos Leopold Scholtz in sy artikel uitlig? Waarhede aan beide kante van die spektrum van belanghebbendes, waarhede wat verkloof en vervreem, waarhede wat verdeel en verwoes, waarhede van die waarheid. Qua Vadis Suid Afrika?

john samuel ·

Ek hoop nie die brief is in Afrikaans aan William gestuur nie…
Hoe volg Solidariteit op dat die brief ontvang is, en of hy enigsins antwoord?

Wim Kotze ·

John Samuel, dit sal jou dalk verbaas, maar daar is mense buite Suid Afrika wat nie net Engels praat. Met sy Koniklike beursie sal die Prins seker hulle hulp kan inroep.

Bruno Stef ·

Met n onlangse besoek aan die oorlogsmuseum in Freemantle(Perth)Australie was daar onder andere n baie klein beskrywing van die ABO waarin Australiese soldate ook deelgeneem het tesame met n paar fotos en ander artikels wat van toepassing was.Groot was my verbasing toe die toergroep aanbieder n Australiese oud weermagman en kenner n opmerking gemaak het dat die ABO in elk geval nooit moes plaasgevind het nie.My vraag aan hom daarna was dat dit gepaard gegaan het met konsentrasie kampe en die dood van duisende vroue en kinders waarop hy nie n antwoord gehad het nie maar net kon se dat dit oorlog was en dat dit onvermydelik was.

Adri ·

En wat laat jou dink dat jou brief gelees, erken of beantwoord sal word? William gaan jou ignoreer en vergeet.

Ella ·

Snaaks, niemand het gese dit het al meer as n 100 jaar terug gebeur, hoekom kom ons nie net daaroor nie? Ons is altyd vinnig om te probeer vergeet van dinge wat 30 jaar terug gebeur het.

Tinus Rautenbach ·

Dankie aan Dirk.
Al sou die prins nie reageer nie, het ons ‘n kragtige stuk werk wat baie feite beskikbaar maak om tenminste in ons eie dampkringe, dit te kan versprei.

Hierdie kan tenminste help om vir ons Afrikaners te herinner dat daar geen skuld gevoel op ons afgedwing kan word deur die Britse aggresors van die ABO nie. Sjokolade aan betaalde soldate, en kislose grafte aan ons seuns wat van honger in die konsentrasie kampe sterf.

Snaaks dat ons vandag as kolonialiste gebrandmerk word. En veral dat dit deur die engelse pers so verder verdraai word.

Dankie weereens.
Kom ons vertel hierdie verhale aan ons kinders en kleinkinders.

Doen so voort.

Tinus.

Ek volg jou graag.

Ella ·

Eers konsentrasiekampe nou plaasmoorde…kan die Britte ons nie kom help met laas genoemde

alwyn burger ·

Die volle verhaal van die ABO , en die omvang daarvan is nog nie ten volle verwerk in ons volksgemoed nie. As jy die talle verwaarloosde kindergraffies by Bethulie sien en jy weet hulle lê daar net sodat die geldsakke van die Randlords ( Duitse Jode) gevul kan word, dan kan jy iets van Hitler se haat vir die Jode verstaan.

Carien ·

Is die ANC dan nie gestig gedurende die Anglo Boere Oorlog nie? En het die Engelse dan nie juis skuiling aan die ANC gegee nie?

Etienne ·

Dit wat in die Anglo boere oorlog gebeur het is walglik, all is fair in love and war. Ons kla omdat “hulle” nie oor apartheid wil kom nie maar ons los nie die verlede uit nie.
1994 en 1899

Smith ·

Afrikaners her die onmoontlike bereik debut I’m die wereld we heel grootste mag van die the aan te durf en die regverdige deel van die oorlog te wen. Dis eers nadat die Britte die vroue en kinders gevang en bake seergemaak het dat hulle ‘gewen’ het. Ek beskou dit kwalik as n oorwinning.

Vermeende ·

Gelukkig is daai brief nie namens my gestuur nie en ook nie namens die Boervolk nie. Dit gaan as niks anders gesien word as n tee partytjie om te kesel oor die verlede, niks meer of minder nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.