Potensiaal in die pandemie en geleentheid ná die staat van afsondering

Die nuwe koronavirus Covid-19. (Grafika: CDC/Alissa Eckert, MS; Dan Higgins, MAM via Wikimedia Commons)

Laat ons nou nie doekies omdraai nie, want doekies omdraai is nie ’n noodsaaklike diens nie. Die afgelope drie weke was uitdagend. Vir Suid-Afrika, vir ons besighede en vir elkeen van ons tydens hierdie inperking. Die dodelike kombinasie van ’n virus met ’n buitengewone hoë aansteeklikheid en dit in ’n land met ’n ekonomie wat reeds op sy knieë was voor Covid-19, mag dalk meeste mense neerslagtig laat voel.

Ons land sit met ’n tipiese “catch 22”-situasie soos Joseph Heller dit beskryf het. Aan die een kant is die Covid-19 siekte ’n ernstige probleem en is daar talle oorsese voorbeelde oor hoe skeef dinge weens die virus werklik kan loop. Aan die ander kant kan die Suid-Afrikaanse ekonomie eenvoudig nie enige inperkingstydperk bekostig het nie, soveel te meer kan ons land nie ’n verlenging daarvan bekostig nie. Die debat oor of die verlenging van die afsonderingstydperk die regte besluit was, sal nog finaal besluit word.

As mens so na die koerantopskrifte, radionuusprogramme en televisiekommentaar van die afgelope drie weke geluister het, was daar baie om oor neerslagtig te voel. Hierdie pandemie het die tweede eenmalige ekonomiese krisis in minder as 12 jaar gebring. Vir die meeste millenniërs en Generasie Z voel dit asof die huidige ekonomiese krisis al is wat mens ken. Maar daar is egter ’n silwer randjie om die donker kornonawolk.

Krisistye skep telkemale die ideale omstandighede met besonderse potensiaal om nuwe innovasie en vooruitgang te bewerkstellig. Kyk net na 2008. Uit die vorige resessie het wêreldbekende maatskappye soos Uber, Airbnb, Pinterest en WhatsApp Inc. ontstaan. Maatskappye wat die wêreld verander en lewens verbeter het.

Van die mees suksesvolle ondernemings van die volgende dekade sal ongetwyfeld tydens hierdie krisistyd tot stand kom. Alhoewel hierdie tyd baie lyding en swaarkry meebring, bring dit ook baie geleenthede mee. Ons het reeds gesien hoe voortreflik verskeie maatskappye en organisasies gereageer het tydens die afsondering. Die vraag in die mark het verander en die aanbod het dienooreenkomstig aangepas. Die begin van die nuwe dekade het e-handel versnel en logistiek verbeter om verbruikers tydens die krisis tegemoet te kom – verbeterings wat met ons sal bly en vir die verbruiker beskikbaar sal wees lank nadat hierdie krisis ook verby is.

Hierdie verbeterde dienste mag dalk net ’n pleister oor die ernstige gevolge van die inperking plak, maar dit het ongetwyfeld verreikende gevolge met groot geleentheid gebring.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Daniël Eloff

Daniël Eloff werk by Hurter Spies Ing., ʼn regsfirma wat spesialiseer in openbare belang-litigasie en is tans besig met sy meestersgraad in publiekreg. Hy is ook ʼn direkteur van AGENDA, ʼn nie-winsgewende organisasie wat hulself beywer vir die ontwikkeling van debat in Afrikaans in Suid-Afrikaanse skole en op ons land se tersiêre kampusse.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.