Praat van turbulensie

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Die datum 7 April is deur baie as ʼn waterskeidingsoomblik beskryf toe duisende Suid-Afrikaners regoor die land hul ontevredenheid met die status quo gedemonstreer het. Dit is interessant hoe Suid-Afrika verenig was in en te midde van grootskaalse diversiteit.

Die impak van die dag kon myns insiens egter veel groter gewees het sou meer burgers ernstig wees oor verandering in Suid-Afrika.

Ek weet dat ek myself vatbaar maak vir kritiek, maar dis mos waarom ʼn mens dit waag om jou gedagtes neer te pen.

Hoewel die media gewag gemaak het van nagenoeg 60 000 mense wat aan optogte deelgeneem het, verteenwoordig dié getal ʼn fraksie van die ongeveer 55 miljoen mense in Suid Afrika en is verreweg nie genoeg om die persoon oor wie die ontsteltenis in besonder gaan, indien hoegenaamd, tot beter insigte te bring nie.

Toegegee, sommige moes noodgedwonge werk en kon nie verlof kry om deel te neem nie. Dis verstaanbaar. Sommige was siek, was besig met ander belangrike afsprake, het nie vervoer gehad nie, en so kan ʼn mens aangaan.

Dat ons egter meermale gevra gaan word om ons gemaksone te verlaat en deel word van sigbare protes is ʼn saak wat deur mense baie belangriker as ek geëggo word.

Die moderatuur van die NGK as deel van ʼn verteenwoordigde ekumeniese stem het gelowiges daartoe opgeroep: “As moderatuur wil ons graag alle lidmate aanmoedig om alle moontlike demokratiese maatreëls saam met ander landsburgers in te span in verset teen die misbruik van mag deur die politieke leiers van ons land. Ons wil egter ook Christene oproep om hulle waardigheid te behou en veral só op te tree dat dit steeds Christus se liefde en vrede waardig sal wees. Dit is nou die tyd vir gelowiges om met ons optrede van die lewende hoop in Christus te getuig”.

Die Suid Afrikaanse Raad van Kerke skryf: “We would encourage all our member churches and all people of goodwill and various faiths to find the most suitable way to enable their people to feel heard and participate in the actions of their choice around the country – be it a day of lament and prayer in the many places of worship; or through the public show of solidarity where other South Africans are gathered to register their voice. With peaceful intentions, let all South Africans exercise their right to speak and be heard, without fear of intimidation and violence”.

Dr. Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf onder die opskrif “Die tyd vir heilige woede het aangebreek”: “Ek dink aan die massa-gebedsbyeenkomste en optogte in Duitsland voor die val van die muur en die rol wat kerke in ons anti-apartheidstryd gespeel het. Christene mag en moet soms ’n heilige woede ontwikkel oor dit wat verkeerd is. Christene mag en moet opstaan. Ek glo die uur is hier.”

Hy gaan voort: “Ons moet ook slim wees. Ek is onseker of optogte alleen die slag gaan slaan. Geloof en goeie strategie en beplanning staan nie teenoor mekaar nie. Die kerk werk ook nooit met verkleinering nie, maar met geloof, hoop en liefde”.

In ʼn insiggewende boodskap wat op internet beskikbaar is wys hy op onrusbarende ooreenkomste tussen Suid-Afrika vandag en Zimbabwe jare gelede.

Ilse Bigalke skryf in Die Burger dat verset ons heilige plig is. “In die woorde van Mohandas Gandhi word burgerlike verset ’n heilige plig wanneer die staat wetteloos of korrup is. Die groot meerderheid Suid-Afrikaners durf nie Zuma se oorlogsverklaring met apatie begroet nie.”

Op 10 April was Beeld se kommentaar: “Die omvang van deelname aan die landswye protes was groter as verwag en dit is nou in die hande van Jan en Alleman, burgerlike organisasies, nieregeringsorganisasies, opposisiepartye en ANC lede wat nog ruggraat oor het om die druk vol te hou. Anders gaan Zuma en Kie eenvoudig hul vooruitsig op ’n volhoubare lewenstandaard stroop – hulle het pensioenfondse reeds in die visier. Die Zuma-krisis is nie ’n interne ANC-geskil nie, maar ’n kwessie wat almal raak.”

“Dis nie ons styl nie” sê sommige. Wel wat is ons styl dan?

Stilswye of mekaar warm om die boordjie praat rondom die braaivleisvuur?

Die toekoms gaan meer van ons vra.

Dawie Roodt, bekende ekonoom, maan Suid-Afrikaners om ʼn groot deel van hul portefeuljes in die buiteland te belê.

Portefeuljes van dié aard is die meeste van ons nie beskore nie. Soveel as 17 miljoen mense is afhanklik van staatsubsidies soos onlangs oor en oor gehoor is, en ʼn beduidende persentasie mense in Suid-Afrika is werkloos. Dit beteken dat indien hoegenaamd, geld ons nie gaan help nie.

Meeste van ons het lankal die idee dat ons na elders kan verplant as onrealisties en nie vir ons bedoel nie uit ons gedagtes weggevee. Daarbenewens is ons oortuiging (dit behoort so te wees, dit is immers waarom ons voorouers Afrika toe gekom het) om hier ter plaatse roeping te kom vervul net te sterk. Ons neem aanstoot wanneer die koms van Jan van Riebeeck sonder meer verdag gemaak word of soos in die onlangse verlede alles as kolonialisme afgemaak word.

Terwyl ons onsself troos dat die internasionale gemeenskap chaos nie sal toelaat nie, dat die Grondwet ons sal beskerm, dat politieke partye genoegsame teenwigte sal verskaf, is my bekommernis dat een na die ander van hierdie teenvoeters en sekuriteite onder skoot kom. Ons mag nie aan die slaap gevind word nie.

Nou hoe wil ons dan aan hierdie roeping gestalte gee as ons, wanneer ons moet, nie luidrugtig uitroep, “so kan dit nie aangaan nie”.

Toegegee, protes straataf is nie die enigste uitweg nie. Daar is gebed as protes waar ons ons lot voor God kan bekla. Ek glo dat duisende dit gereeld doen. Eersdaags sal, na skatting, ʼn miljoen mense digby Bloemfontein vergader om te bid. Dis wonderlik en prysenswaardig. Die vraag is wat gebeur dan? Bykans konsekwent in die Bybel verwag God dat gelowiges die eerste tree sal gee in en na die beantwoording van hul gebed. Bid is nie al wat gelowiges móét doen nie.

Ander sal sê dat politiek en kerk nie bedmaats is nie. Dít is onverantwoordelik, om die minste te sê. Die Ou Testament wemel van teregwysings en veroordelings gerig aan die adres van die regeermag van die dag. Koninkryk beteken tog God se heerskappy oor alles en elke aspek van ons lewe en samelewing.

Kortom, ons sal ons gemaksones moet prysgee as ons ernstig is oor hierdie land. En uitreik na mekaar, skouer aan skouer getuig, protesteer, bid en werk ter wille ook van komende geslagte.

As Martin Luther die onreg en vergrype van die kerk van sy tyd ignoreer het, was ons nie vandag Protestante nie.

As Nelson Mandela hom nie beywer het vir ʼn beter samelewing nie….

As Martin Luther King nie gedroom het van ʼn dag waar almal gelykwaardig behandel sal word nie…

As ons voorouers nie oor berge getrek het nie……

As Jesus nie aarde toe gekom het nie….

Dit het met persoonlike ongerief en opoffering gekom.

Niks wat die moeite werd is, kom sonder ongemak nie!

*NS: Skryf solank 25 Mei, Hemelvaart, in jou dagboek. Meer inligting op Toekomsvenster se app.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

John ·

Wat baie mense dwars in die krop steek is dat die EFF ‘n voorbok is in die optogte en stryd voer teen Zuma, maar eintlik ook die val van demokrasie en wit eiendomsreg voorstaan. Malema het ambisie. Punt. Die DA se Christendominee-leier wat glo niks goeds is deur wit mense na SA gebring nie, nie eens die Bybel nie, skok. Die redes vir optogte moet duidelik uitgespel word, bv demokrasie en wat saamhang oa wysigings aan die hiper-magte van ons president. Daar is nog Zuma’s in die ry en kaders maak hul stem nie dik teen sosialisme en kommunisme nie. Die optogte moet op die toekoms gerig wees, nie net op een man se val en ‘n kans vir Malema om voor ‘n groot skare weer toespraak te hou nie. En uitlanders wag vir ‘n volgende korrupteerbare leier… Vandag loop hulle teen korrupsie… wat se so ‘n vae tema?

Boerseun ·

julle problem bly dat jy in eautopia glo en nog glo die wereld gaan chaos keer (soos wat hulle in zim, kenia, ghana, DRC ingegryp het nê). Multikultuur state is a droom idee wat keer op keer val. Op die ou end as 5 miljoen wittes, kleurlinge en indeers en die swart DA stemme “march” bly julle ma 26%. Geen president gaan loop met 26% wat teen hom is nie. Begin julle by jul eie volk se voortbestaan skaar.

MCH ·

Amen op Boerseun se logiese afleiding. Née wat dominee, bly liewer by die preekstoel. NGK het verskoning gevra vir hul aan deel in apartheid. Nou wil jul ons laat “March” in April? Nie so maklik nie. Wat van as dit weer n foutjie is want die Woord waaruit u preek se ons moet die regering eerbiedig? Die golf gaan die minderheid nie keer nie. Daar is heeltemal te min Doom beskikbaar.

Antjie ·

Nog ‘n vraag wat my deesdae na aan die hart lê: Hoeveel skade het ons bleek ou Afrikanernasie aan onsself aangerig deur telkens wanneer openbare teëstand nodig was, onder mekaar te mor en daarmee eintlik maar net die volstruis se kop in die sand gedruk het? Miskien is sommige gelowiges en mnr Pelser se insig in God se bedoeling met ons lewens heeltemal korrek. Ek glo nie hierdie is volgens die spreekwoord, net as wat verbrande hout is nie. Baie mense besef ons kruispad is naby. Ek glo Afrikaners is sulketyd steeds moontlik effektief en doeltreffend. Dit gaan nie help as niemand ons raaksien nie. Vir die liggelowiges: Ek hoop ons wys u almal Saterdag waarom u met trots kan uitsien na nuwe moontlikhede. Geen pad gaan maklik wees nie, die Bose moet nog finaal verwyder word, al het Christus dit reeds oorwin. As dít nog nie nou God se plan is nie, bid ek dat ons ná Saterdag gerespekteerd in hopelik ten minste 40 miljoen Suid-Afrikaners se huise sal wees! Mense wat saam bereid is om na God te luister oor ons land. Saam met die Christelike wêreld. Bid eerder saam, moenie net slegte dinge soek nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.