President Hillary en die toekoms van die Republikeinse Party

Hillary Clinton

Hillary Clinton

Donald Trump en Hillary Clinton het pas gemaklik hul onderskeie partye se voorverkiesings in New York gewen. Die kanse dat hierdie twee kandidate in November teen mekaar te staan gaan kom, word al hoe sterker.

Die moontlikheid dat Clinton die Demokrate se kandidaat én die volgende Amerikaanse president gaan wees word daarmee saam ook al sterker.

Behalwe as die Republikeine se partyleierskap en ander kandidate ’n aantal vuil en ongewilde taktieke tydens die benoemingskongres in Julie in Cleveland uithaal, sal Trump dié party se kandidaat word. In só ’n geval sal Trump dalk gekeer word, maar sal die party sodanig verdeel word dat hulle nie teen November nie agter een kandidaat sal kan verenig nie.

Daar was lanklaas ’n presidentsverkiesing in die VSA met twee sulke ongewilde kandidate. Trump sowel as Clinton het ’n klomp bagasie. Trump is besonder ongewild onder vroue (70% beoordeel hom negatief), ryker hoofstroomlede van die Republikeinse Party en onder minderhede, veral mense van Latyns-Amerikaanse afkoms van wie 80% ’n negatiewe beeld van hom het. In ’n onlangse peiling het 63% van Amerikaanse kiesers aangedui dat hulle nooit vir Trump sal stem nie.

Volgens die jongste NBC News-peiling het 56% van Amerikaners ’n negatiewe beeld van Hillary Clinton.

Ná agt jaar van ’n Obama-presidentskap was die Republikeine veronderstel om vanjaar ’n goeie kans te staan om die Withuis oor te neem. Dit gebeur baie min dat een party vir meer as twee termyne die Withuis beheer en met ’n relatiewe swak kandidaat soos Hillary Clinton was die Republikeine veronderstel om teen hierdie tyd reeds voor te kon loop.

Clinton is vanjaar selfs ’n swakker kandidaat as agt jaar gelede toe Barack Obama haar in die Demokrate se benoeming uitgestof het. Sedert haar vorige poging agt jaar gelede het twee groot skandale om haar begin woed. Die eerste is haar swak hantering van die sogenaamde Benghazi-krisis waar die Amerikaanse ambassadeur in Libië en drie personeellede op 11 September 2011 deur terroriste vermoor is. Dit het ná die aanval aan die lig gekom dat die ambassadeur kort voor die aanval ’n direkte versoek aan Clinton, toe die Amerikaanse minister van buitelandse sake, vir ’n sekuriteitsopgradering gerig het. Clinton het niks aan die saak gedoen nie.

Die tweede belangrike klad op haar rekord is die sogenaamde e-posskandaal. Clinton het gedurende die tyd wat sy minister van buitelandse sake was ’n private e-posbediener by haar huis in New York laat installeer en het groot hoeveelhede regeringskommunikasie, insluitende vertroulike e-posboodskappe, deur haar private bediener versend. Dit is teen die federale regering se reëls oor geklassifiseerde kommunikasie en rekordhouding.

Soos wat Amerikaners genoeg van die Bush-familie gehad het, is daar ook ’n groot mate van Clinton-uitputting. Ná Bill Clinton se twee termyne as president, Hillary se twee termyne in die senaat en daarna haar een termyn as minister van buitelandse sake het baie Amerikaners genoeg van die Clintons gehad. ’n Vars, dinamiese Republikein sou teoreties dus ’n goeie kans teen Clinton, wat soms moeg, oorafgerond en oorafgerig voorkom, staan om op 8 November die presidentskap te wen.

Die Republikeinse Party het egter sy kanse verspeel. Die party is geweldig verdeeld en die rede daarvoor het minder met Trump te make as wat baie mense dalk dink. Die rede vir die groot verdeelheid binne dié party het te make met die oorname van die party deur sogenaamde nieu-konserwatiewes in die laat 1990’s. Die talle oorloë, vryehandelsooreenkomste en uitbreiding van die federale staat wat hieruit voortgespruit het, het ’n wesenlike deel van die party se ondersteuners, in besonder landelike, armer persone, maar ook mense wat juis teen sentralisme en die uitbreiding van die sentrale staat gekant is, van die party vervreem.

Die Trump-populisme binne die Republikeinse Party is niks nuuts nie. Pat Buchanan het in 2000, en ook Mike Huckabee in 2008 en Rick Santorum in 2012, teen die gevestigde belange binne die Republikeinse Party in opstand gekom. Elke keer het hulle teen ’n nieu-konserwatiewe kandidaat verloor. Tydens die 2010- en 2012-middeltermynverkiesings is talle Teeparty- en ander populistiese kandidate in die senaat en huis van verteenwoordigers verkies.

Die Republikeinse Party het sy vingers lelik verbrand met sy oorloë in Afganistan en Irak. Die geweldige uitbreiding van die federale regering tydens die Bush-presidentskap saam met vryehandelsooreenkomste wat met grootskaalse werkverliese in tradisionele bloukraagdorpe en -stede gepaardgegaan het, het talle tradisionele ondersteuners van die party skepties en in baie gevalle selfs kwaad vir die leierskap in die party gemaak.

Soos wat die voorverkiesings vanjaar verloop raak dit dus duideliker dat die stryd om die hart en siel van die Republikeinse Party eers voltooi sal moet word voordat die party weer die Withuis kan beheer. Die nieu-konserwatiewes en die talle gevestigde belangegroepe in die party gaan moontlik ’n laaste groot stryd in Julie by die party se kongres loods om Trump te verhoed om as kandidaat aangewys te word. Sou hulle slaag, sal dit die party in twee skeur en sal ’n groot deel van die party se tradisionele ondersteuners nie in November vir die party se kandidaat stem nie. Sou Trump nie gestuit word nie, sal hy weens sy ongewildheid ’n rampspoedige veldtog voer wat dit in elk geval vir die party onmoontlik sal maak om die Withuis oor te neem.

Wat beteken dit? Dit beteken basies dat ʼn ander ongewilde kandidaat met ’n swak rekord volgende Januarie haar intrek in die Withuis sal neem en dat Amerikaners maar reg moet maak om vir nog vier jaar, dalk selfs agt, met Bill Clinton saam te leef terwyl sy vrou die 45ste Amerikaanse president sal wees en in opvolg op die werk van Obama die skuif na links in die Amerikaanse politiek sal voltrek. Die groot trek deur die woestyn lê intussen vir konserwatiewes en die Republikeinse Party voor.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
DMC de Koker

Ek betwis van die statistieke wat hier bo genoem word. Dit klink regtig of dit moontlik reg vanaf die demokratiese party se webwerf afgetrek is. Tweedens dink ek dis bietjie “pre-matuur” om seker te wil wees Clinton gaan wen. Ek dink mens moet nog bietjie nader aan die tyd kyk. Wat ek wel kan sê is ek lees heeltyd 2 verskillende statistieke rakende wie gaan wen. Die klink vir my baie soos ‘n herhaling van die stories voor Reagan president geword het. Donald Trump het wel bagasie wat hy saamdra maar nietemin dink ek persoonlik hy het beslis voldoende en… Lees meer »

Neewat

Nou Kleynhans, jy klink heelwat meer anti Trump as anti Clinton. Jy ‘n in-die-kas liberaal?

Hendrik

Die opmerking dat Trump “beter vir Christene sou wees, is naturlik onwaar. Die man het sy rykdom gebou op dobbelhuise en “stripclubs”. Vroeër het hy nog probeer om Christene se stemme te werf deur die Bybel rond te swaai en te sê dat dit sy gunstiling boek is. Hy kon egter nie ‘n antwoord gee toe ‘n joernalis hom vra wat sy gunsteling vers in die Bybel is nie. Hy het ook by ‘n ander geleentheid gesê dat hy nog nooit vir God om vergiffenis gevra het nie. Clinton aan die ander kant is weer sterk pro-aborsie en die algemene… Lees meer »

Nic

Jaco, ek waardeer jou artikel en hier na die eiende van die jaar toe gaan dinge daar in die VSA seker nog heel interresant raak. Ek hou van Trump se hakhoue teen die gryn van die liberale maatskappy, maar ek vermoed die wat hom haat is te veel. Nog ñ era van Clinton skandale wek egter min entoesiasme.
Dankie vir jou antwoord op kommentare hier bo

John

Ek hoop vir die VSA se onthalwe dat Trump op wonderbaarlike wyse wen. Al word dit nie openlik gese nie, is die Amerikaanse Jode teen Trump gekant weens sy Christelike orientasie. Daar word in Israel gespoeg op Christen-Jode. Hillary is net so opwindend en vullend soos gister se pizza wat in die somer buite die yskas gelos is en waarop die vliee reeds gehoes het. Baie antibiotika sal nodig wees om die siek land, na haar, weer op te kikker… indien ooit.