President Hillary en die toekoms van die Republikeinse Party

Hillary Clinton

Hillary Clinton

Donald Trump en Hillary Clinton het pas gemaklik hul onderskeie partye se voorverkiesings in New York gewen. Die kanse dat hierdie twee kandidate in November teen mekaar te staan gaan kom, word al hoe sterker.

Die moontlikheid dat Clinton die Demokrate se kandidaat én die volgende Amerikaanse president gaan wees word daarmee saam ook al sterker.

Behalwe as die Republikeine se partyleierskap en ander kandidate ’n aantal vuil en ongewilde taktieke tydens die benoemingskongres in Julie in Cleveland uithaal, sal Trump dié party se kandidaat word. In só ’n geval sal Trump dalk gekeer word, maar sal die party sodanig verdeel word dat hulle nie teen November nie agter een kandidaat sal kan verenig nie.

Daar was lanklaas ’n presidentsverkiesing in die VSA met twee sulke ongewilde kandidate. Trump sowel as Clinton het ’n klomp bagasie. Trump is besonder ongewild onder vroue (70% beoordeel hom negatief), ryker hoofstroomlede van die Republikeinse Party en onder minderhede, veral mense van Latyns-Amerikaanse afkoms van wie 80% ’n negatiewe beeld van hom het. In ’n onlangse peiling het 63% van Amerikaanse kiesers aangedui dat hulle nooit vir Trump sal stem nie.

Volgens die jongste NBC News-peiling het 56% van Amerikaners ’n negatiewe beeld van Hillary Clinton.

Ná agt jaar van ’n Obama-presidentskap was die Republikeine veronderstel om vanjaar ’n goeie kans te staan om die Withuis oor te neem. Dit gebeur baie min dat een party vir meer as twee termyne die Withuis beheer en met ’n relatiewe swak kandidaat soos Hillary Clinton was die Republikeine veronderstel om teen hierdie tyd reeds voor te kon loop.

Clinton is vanjaar selfs ’n swakker kandidaat as agt jaar gelede toe Barack Obama haar in die Demokrate se benoeming uitgestof het. Sedert haar vorige poging agt jaar gelede het twee groot skandale om haar begin woed. Die eerste is haar swak hantering van die sogenaamde Benghazi-krisis waar die Amerikaanse ambassadeur in Libië en drie personeellede op 11 September 2011 deur terroriste vermoor is. Dit het ná die aanval aan die lig gekom dat die ambassadeur kort voor die aanval ’n direkte versoek aan Clinton, toe die Amerikaanse minister van buitelandse sake, vir ’n sekuriteitsopgradering gerig het. Clinton het niks aan die saak gedoen nie.

Die tweede belangrike klad op haar rekord is die sogenaamde e-posskandaal. Clinton het gedurende die tyd wat sy minister van buitelandse sake was ’n private e-posbediener by haar huis in New York laat installeer en het groot hoeveelhede regeringskommunikasie, insluitende vertroulike e-posboodskappe, deur haar private bediener versend. Dit is teen die federale regering se reëls oor geklassifiseerde kommunikasie en rekordhouding.

Soos wat Amerikaners genoeg van die Bush-familie gehad het, is daar ook ’n groot mate van Clinton-uitputting. Ná Bill Clinton se twee termyne as president, Hillary se twee termyne in die senaat en daarna haar een termyn as minister van buitelandse sake het baie Amerikaners genoeg van die Clintons gehad. ’n Vars, dinamiese Republikein sou teoreties dus ’n goeie kans teen Clinton, wat soms moeg, oorafgerond en oorafgerig voorkom, staan om op 8 November die presidentskap te wen.

Die Republikeinse Party het egter sy kanse verspeel. Die party is geweldig verdeeld en die rede daarvoor het minder met Trump te make as wat baie mense dalk dink. Die rede vir die groot verdeelheid binne dié party het te make met die oorname van die party deur sogenaamde nieu-konserwatiewes in die laat 1990’s. Die talle oorloë, vryehandelsooreenkomste en uitbreiding van die federale staat wat hieruit voortgespruit het, het ’n wesenlike deel van die party se ondersteuners, in besonder landelike, armer persone, maar ook mense wat juis teen sentralisme en die uitbreiding van die sentrale staat gekant is, van die party vervreem.

Die Trump-populisme binne die Republikeinse Party is niks nuuts nie. Pat Buchanan het in 2000, en ook Mike Huckabee in 2008 en Rick Santorum in 2012, teen die gevestigde belange binne die Republikeinse Party in opstand gekom. Elke keer het hulle teen ’n nieu-konserwatiewe kandidaat verloor. Tydens die 2010- en 2012-middeltermynverkiesings is talle Teeparty- en ander populistiese kandidate in die senaat en huis van verteenwoordigers verkies.

Die Republikeinse Party het sy vingers lelik verbrand met sy oorloë in Afganistan en Irak. Die geweldige uitbreiding van die federale regering tydens die Bush-presidentskap saam met vryehandelsooreenkomste wat met grootskaalse werkverliese in tradisionele bloukraagdorpe en -stede gepaardgegaan het, het talle tradisionele ondersteuners van die party skepties en in baie gevalle selfs kwaad vir die leierskap in die party gemaak.

Soos wat die voorverkiesings vanjaar verloop raak dit dus duideliker dat die stryd om die hart en siel van die Republikeinse Party eers voltooi sal moet word voordat die party weer die Withuis kan beheer. Die nieu-konserwatiewes en die talle gevestigde belangegroepe in die party gaan moontlik ’n laaste groot stryd in Julie by die party se kongres loods om Trump te verhoed om as kandidaat aangewys te word. Sou hulle slaag, sal dit die party in twee skeur en sal ’n groot deel van die party se tradisionele ondersteuners nie in November vir die party se kandidaat stem nie. Sou Trump nie gestuit word nie, sal hy weens sy ongewildheid ’n rampspoedige veldtog voer wat dit in elk geval vir die party onmoontlik sal maak om die Withuis oor te neem.

Wat beteken dit? Dit beteken basies dat ʼn ander ongewilde kandidaat met ’n swak rekord volgende Januarie haar intrek in die Withuis sal neem en dat Amerikaners maar reg moet maak om vir nog vier jaar, dalk selfs agt, met Bill Clinton saam te leef terwyl sy vrou die 45ste Amerikaanse president sal wees en in opvolg op die werk van Obama die skuif na links in die Amerikaanse politiek sal voltrek. Die groot trek deur die woestyn lê intussen vir konserwatiewes en die Republikeinse Party voor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

DMC de Koker ·

Ek betwis van die statistieke wat hier bo genoem word. Dit klink regtig of dit moontlik reg vanaf die demokratiese party se webwerf afgetrek is. Tweedens dink ek dis bietjie “pre-matuur” om seker te wil wees Clinton gaan wen. Ek dink mens moet nog bietjie nader aan die tyd kyk. Wat ek wel kan sê is ek lees heeltyd 2 verskillende statistieke rakende wie gaan wen. Die klink vir my baie soos ‘n herhaling van die stories voor Reagan president geword het. Donald Trump het wel bagasie wat hy saamdra maar nietemin dink ek persoonlik hy het beslis voldoende en genoegsame leiereienskappe om ‘n goeie president te maak. Met alle respek is Clinton maar in dieselfde klas as die Zuma’s, Bashirs en Mugabes van vandag as mens haar geskiedenis mooi ontleed. As Trump byvoorbeeld uitgeskakel word op ‘n manier, dink ek tog hy kan dalk die stap neem en as ‘n onafhanklike kandidaat gaan staan, wat weereens as dit sou gebeur die hele speelveld sal verander. Wat ek eintlik sê is kom ons kyk bietjie nader aan die tyd, maar hopelik (uit my beskeie mening) is daar een ding wat nie gebeur nie en dis dat Clinton president word. Dit voorspel niks goeds vir Amerika of spesifiek Christene in Amerika nie.

Jaco Kleynhans ·

Wat die peilings aanbetref kan ek jou verseker dat hierdie nie uitskieterpeilings is nie. Ek analiseer ‘n groot verskeidenheid peilings. Jou vergelyking tussen Trump en Reagan is verkeerd. Ja Reagan het ook ‘n meer populêre aanslag gehad, maar hy was baie beter begrond, met minder bagasie, ‘n goeie veldtog en sterk ondersteuning in peilings.
Die fout wat baie mense maak is om in die voorverkiesings te bly vaskyk. Dit is egter ‘n klein segment van kiesers wat in voorverkiesings deelneem – baie keer juis meer geharde ‘politieke diere’. In November stem ‘n baie groter deel van die publiek en dit is waar Trump se probleme gaan inkom.
Ek het nêrens in my artikel Trump se vermoë om te regeer bespreek nie – net sy kanse om te wen.

DMC de Koker ·

Ek het nêrens Trump en Reagan vergelyk nie maar die paralelle voor hulle veldtogte.

DMC de Koker ·

En ek is bewus dis hier net ‘n geval van stem vir jou party se kandidaat. En ook na die swaai na links in Amerikaanse politiek as jy na hulle hofuitsprake kyk en die haat wat daar besig is om pos te vat vir Christene oor standpunte soos aborsie, evolusie, homoseksualiteit ens. Kyk ook hoe het Piet Croucamp daardie pastoor reguit Amerika se “Bible belt” behandel. As konserwatiewe Christen maak dit my bekommerd, maar dis immers in lyn met boeke soos Daniël en Openbaring.

Neewat ·

Nou Kleynhans, jy klink heelwat meer anti Trump as anti Clinton. Jy ‘n in-die-kas liberaal?

Jaco Kleynhans ·

Alles behalwe. Ek is trots paleo-konserwatief. Ek weet egter ook hoe die Amerikaanse politiek werk en neem baie elemente soos demografie, ‘n reeks peilings, finansiering van kandidate, ens in ag wanneer ek ‘n analise maak.

Hendrik ·

Die opmerking dat Trump “beter vir Christene sou wees, is naturlik onwaar. Die man het sy rykdom gebou op dobbelhuise en “stripclubs”. Vroeër het hy nog probeer om Christene se stemme te werf deur die Bybel rond te swaai en te sê dat dit sy gunstiling boek is. Hy kon egter nie ‘n antwoord gee toe ‘n joernalis hom vra wat sy gunsteling vers in die Bybel is nie. Hy het ook by ‘n ander geleentheid gesê dat hy nog nooit vir God om vergiffenis gevra het nie. Clinton aan die ander kant is weer sterk pro-aborsie en die algemene publiek glo nie hulle kan haar vertrou nie. Dis soos om tussen Zuma en Malema te moet kies . . .

DMC de Koker ·

Weereens, ek het nie die stelling gemaak dat Trump beter vir Christene gaan wees nie. Wat ek wel kan sê is dat Demokrate ‘n direkte beleid het teen Christendom. Gaan kyk gerus na al die hofsake wat instansies soos die ACLU teen Christene inbring, en hulle ondersteuningsbasis is vanuit die demokrate. Die Republikeinse party se partybeleid as geheel egter is meer positief vir Christene. Ek hoop net hy bly daarby as hy president word. Of Trump gered is weet ek nie Hendrik. Ek kan maar net hoop en bid hy word gered. Maar nietemin, die goddelose kan ook gebruik word om die gelowiges te beskerm.

Nic ·

Jaco, ek waardeer jou artikel en hier na die eiende van die jaar toe gaan dinge daar in die VSA seker nog heel interresant raak. Ek hou van Trump se hakhoue teen die gryn van die liberale maatskappy, maar ek vermoed die wat hom haat is te veel. Nog ñ era van Clinton skandale wek egter min entoesiasme.
Dankie vir jou antwoord op kommentare hier bo

Jaco Kleynhans ·

Nic jy is reg. Trump se aanslag teen ‘n verrotte politieke stelsel is politief, maar indien ‘n mens deeglik gaan kyk wie waarskynlik in November na die stembus sal gaan dan is sy kans om te wen baie skraal. Hy sal teen die Demokrate en ‘n segment van sy eie party moet veg en dit kan net te oorweldigend raak.

John ·

Ek hoop vir die VSA se onthalwe dat Trump op wonderbaarlike wyse wen. Al word dit nie openlik gese nie, is die Amerikaanse Jode teen Trump gekant weens sy Christelike orientasie. Daar word in Israel gespoeg op Christen-Jode. Hillary is net so opwindend en vullend soos gister se pizza wat in die somer buite die yskas gelos is en waarop die vliee reeds gehoes het. Baie antibiotika sal nodig wees om die siek land, na haar, weer op te kikker… indien ooit.

Henry ·

Praat jy wat lippe het John!

Dit is heel duidelik dat Trump se aanslag die voortbestaan van die gladde bek politici se oorheersing in Washington, ernstig bedreig. Die ouens wat vir so lank reeds perde kuttels as vye aan die kiesers smous, word algaande deur Trump se onkonvensionele en hard-op-die-oor retoriek in ‘n hoek gedryf.

Die ooms en anties is bitter ongemaklik daaroor. Nou trap die spulletjie hul slepende onderrokke flenters, want Trump is ook kliphard besig om VSA kiesers te leer om vir hulself te dink. Om nie langer die soetkoek wat reeds vir jare lank aan hulle opgedis word, sondermeer op te slurp nie.

Dit veroorsaak konsternasie onder die nasie.

Dit is eweneens duidelik dat ‘n groot persentasie van die Amerikaanse kiesers keelvol is vir die liegbek-politiek se fabels wat deur die jare heen aan hulle opgedis word. Vandaar die onverwagse en grootskaalse steun wat Trump geniet. Wat veroorsaak dat die gewone be-oefenaars van die bedrog-politiek wat jare lank deur die Washington elite bedryf word, algaande die wind van voor kry.

Ek deel vir seker nie die skrywer se oortuiging dat Clinton die Withuiswedren sal wen nie. Sal ook nie verbaas wees indien groot getalle Demokrate vir Trump sal stem in ‘n President verkiesing nie.

Gielie ·

“President Hillary”??? Jaco Kleynhans die skrywer van die artilek het beslis tred verloor, kom op datum Jacotjie, sy is nog nie daar nie.

Jaco Kleynhans ·

Gielie. Jy het duidelik nie die artikel gelees nie. Die opskrif verwys na die mees realistiese uitkoms van vanjaar se verkiesing en die redes daarvoor. Lees asb die hele artikel voordat jy kommentaar lewer.

Marius ·

Amerika is nou ‘n meer volwaardige liberale land as ooit tevore. Die meerderheid het nie meer ‘n probleem met aborsies nie. Enige Christen waardes wat mense nie toelaat om hul keuses te maak soos wat hulle wil nie bv. selfde geslag huwelike is taboe. Trump sal vir die meeste in die pad staan van hulle liberale “ingeligtheid” . Daarom staan hy nie ‘n kans nie. Die groot stede waar liberale waardes nou meer die inding is as ooit tevore sal bepaal wie die volgende president van Anerika sal word. As ons kyk na die neiging van die tyd sal dit hoogs onwaarskynlik wees dat die deursnee Amerikaner hulle sal wil terugvat na ‘n meer konserwatiewe denkrigting.

TTh ·

Ek dink daar is klaar besluit om Clinton president te maak, soos met die vorige presidentsverkiesings, net soos hier in SA ook. Clinton sal instrumenteel wees in die finale verval van die vsa beginende met die ekonomie.

Barend ·

Goeiedag Jaco. Ek dink jy het ‘n baie deeglike en objektiewe ontleding van die huidige verloop van die Amerikaanse verkiesing gemaak. Maar, kom ons hoop Clinton haal nie die Withuis nie. Die mens wik, maar die HERE beskik, ook in Amerika, en dit is ons troos.

Bert ·

Trump is darem net te vulger en onafgerond om president te word. En wat presies is sy beleid? Maar ek stem saam dat sy grensmuur sekerlik die belangrikste kwessie behoort te wees vir die VSA. Sonder ‘n grens met Meksiko is Amerika inderdaad geen soewereine staat nie. En onwettige immigrasie, veral vanaf die suide, is besig om Amerika vir altyd te verander vanaf in wese ‘n Westerse staat tot iets anders. Wat gaan die gevolge daarvan wees vir die res van ons? Wens Ted Cruz was meer charismaties, dan sou hy dalk ‘n beter kans gestaan het. Ek dink ook dat die Demokrate ‘n problem het met toekomstige verkiesings: die meerderheid blankes stem vir die Republikeine [70 present van die bevolking] terwyl die Demokrate staat maak op minderhede; sekerlik is die gevolg hiervan dat hulle voortaan altyd ‘n ‘geskiedkundige’ kandidaat sal moet kry om verkiesings te wen. Hierdie jaar is dit ‘n vrou. Daarom is dit ook so jammer dat Rubio uit is. As ‘latino’ kon hy ongetwyfeld vir die Republikeine 8 jaar in die WIthuis gewaarborg het.

Dirk Scheepers ·

Volledige en akkurate uiteensetting.

Een ding wat dalk genoem kan word is die krag van die geleentheid vir veral jonger en vroulike Amerikaanse kiesers om nòg ‘n historiese kandidaat tot president te verkies. Ek was as student op ‘n Amerikaanse kampus in 2008 verbaas hoe 18- en 19-jarige mense nie ‘n saak gehad het wat Obama se verkiesingsbeleid was nie. Hy was ‘n persoon van kleur, welbesproke en die ‘kultus van persoonlikheid’ was ‘n kragtige emosionele element. Dit mag dalk ‘n anekdotiese voorbeeld wees maar wel iets om te herkou soos ons die res van die sirkus dophou.

Andries Erwe ·

wat op deesaarde laat so baie van die lesers glo Trump is teen aborsie en teen gays gekant? Wat laat mense glo dat een van die grootbase van n massiewe maatskappy teen groot maatskappye sal optree? Wat laat mense glo dat iemand wat direk sê dat hy nie juis godsdienstig is nie, meer van n christen is as ander wat openlik en oor baie jae, hul geloof belei? Dankie vir n goeie artikel.

Piet Snot ·

Jaco, gee ons mettertyd asb ‘n opvolg of twee: jou artikels is altyd interessant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.