President Ramaphosa se boomparadoks

Pres. Cyril Ramaphosa spreek ‘n gehoor in Stellenbosch toe, in aanloop tot die nasionale verkiesing. (Foto: MYANC via Twitter)mpah

Deur Paul Maritz

Op Dinsdag 9 April het pres. Cyril Ramaphosa, as deel van sy verkiesingsveldtog, ʼn besoek aan die Wes-Kaap afgelê. Na afloop van sy aanduiding dat hy sal toesien dat die treine betyds en volgens ʼn tydrooster sal loop, en dat meer treine na die Wes-Kaap sal kom ná die verkiesing, het hy na die Beyerskloof-wynlandgoed vertrek. Een van die opmerkings wat die president daar gemaak het, naamlik, “Ek wil nie hê jong wit mense moet weggaan nie, en ek sou hulle aan bome vasbind as ek kon,” het redelik opspraak verwek, en sedertdien het almal ʼn stuiwer in die armbeurs te gooi daaroor.

Hoewel die meeste mense dit as ʼn tong-in-die-kies-opmerking beskou het, steek daar baie meer agter Ramaphosa se opmerking, wat nie so eenvoudig is soos ontlontende humor in ʼn skare van opponente nie – opponente juis omdat die Beyerskloof-omgewing tradisioneel ʼn sterk DA-omgewing was, en volgens tussenverkiesings se resultate, dit steeds in die toekoms sal wees.

Ramaphosa se opmerking toon die hartseer realiteit aan dat jong wit mense in hul massas op pad is na die buiteland, en hul skaars vaardighede met hulle saamneem. Hy is deeglik daarvan bewus dat hierdie uitsonderlike vaardighede, soos mediese- en onderwyskwalifikasies, finansiële bestuursvermoëns, konstruksie-, beplanning-, en bestuursvaardighede reeds ’n tekort is, maar ook dat hierdie vaardighede selfs meer waardevol sal word in die toekoms, soos wat Suid-Afrika se bevolking, en die behoefte aan dienslewering, teen ʼn eksponensiële snelheid groei. Eenvoudig gestel, hy wil graag hê dat hierdie jongmense moet bly, en Suid-Afrika moet opbou – hy stel dit ook in daardie presiese woorde.

Die paradoksale gedeelte van Ramaphosa se opmerking is egter dat hy heel moontlik wit jongmense letterlik aan bome sal moet vasbind as hy wil keer dat hulle weggaan. Swart Ekonomiese Bemagtigingswette straf pasafgestudeerde studente, wat van apartheid niks geweet het nie, en veroorsaak vir hulle ʼn dilemma: Óf om in Suid-Afrika te werk en onder jou potensiaal te funksioneer en só jou toekomstige bevordering en inkomstepotensiaal kelder óf jou tassies pak en elders gaan verdien wat jy werd is in een van die vele lande wat die waarde van jou vermoëns meer waardeer as jou eie regering. Statistieke sal aantoon watter keuse jongmense maak wanneer die realistiese kans op werk in ʼn ander land te voorskyn kom.

Ramaphosa hoef maar net een ding te doen om jong wit Suid-Afrikaners te kry om in Suid-Afrika te bly – hy moet die deure na die werkplek vir hulle ten volle oopmaak. (Beter dienslewering sal natuurlik ook help, maar laat ons een probleem op ʼn slag takel). As daar gelyke kanse op bevordering is, as meriete nie net die eerste oorweging vir ʼn aanstelling is nie, maar die enigste oorweging word (soos wat dit behoort te wees), dan sal dit nie nodig wees om enigiemand aan enige bome vas te bind nie.

Pres. Ramaphosa, jong Suid-Afrikaners, veral jong wit Suid-Afrikaners, na wie daar spesifiek verwys is, gaan soek nie na groener weivelde uit arrogansie of gierigheid nie. Nee, hulle gaan omdat hulle nie op die plaaslike weiveld toegelaat word nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frik Lotz ·

Regstellende aksie diskrimineer teen minderhede soos witmense en bruinmense en veroorsaak dat daar nie werkgeleenthede in Suid Afrika vir hulle is nie. Hoe verwag president Ramaphosa van witmense om dan in die land te bly as daar teen hul diskrimineer word? Regstellende aksie en SEB, wat deur ANC en DA ondersteun word, moet afgeskaf word.

Andreas ·

Cyril Ramaphosa se uitspraak was goedkoop politiek, hy het geweet dit sal onmoontlik wees om elke jong wit mens aan ‘n boom vas te maak, hy kan die maklike uitvoerbare weg volg, skrap net eenvoudig SEB en kwotas, maar dit wat hy by magte is om te doen, wil hy nie, hy bly daaroor tjoepstil. So dink hy hy betoon welwillendheid en kry ‘n klomp wat hom op die skouer klop, hy het net die teendeel bereik. Al meer neem hom al minder ernstig op.

Sonja ·

My dogter is 24, beskik oor ń BSc Graad en swat tans vir haar Meesters Graad. Sy is al die afgelope 2 jaar opsoek na werk. Huidiglik werk sy in ń skool snoepie om sakgeld te verdien. Sy ondersoek tans werksgeleenthede in Kanada en ek ondersteun haar 100% want die huidige regering verdien beslis nie haar vaardighede nie. Ramaphosa begin nou sy sterk komunistiese agenda verklap. Ons moet wakker slaap.

Veritas ·

Die diskriminasie teen die witman sal nooit ophou nie. Dit is ‘n té sterk wapen in die hande van politici en die meerderheid kiesers sal dit altyd ondersteun sodat hulle relevant kan bly in die arbeidsmag. Daar is net twee moontlike oplossings vir dié probleem en dit is emigrasie of ‘n eie soewereine grondgebied.
Jammer vir die negatiwiteit maar dit is ongelukkig ook die realiteit.

Weskusklong ·

Jy is reg Veritas!!! Ons kan bou aan ons eie republiek, sommer aan die weskus. Begin van vooraf. Die ou SA moet begrawe word.

riaan ·

Ja Cyril, hou op om teen wit kinders, wat niks met apartheid te doen gehad het nie, te diskrimineer dan is dit nie nodig om hulle aan enige iets vas te maak nie en dan kan jy en jou korrupte kollegas hulle tyd en energie spandeer of al die ander skelms, moordenaars en verkragters aan daardie bome op te hang!

Al hoekom julle nie die diskriminasie teen wit kinders stop nie is omdat julle weet dat die meeste swart kinders (met free education) nie op gelyke voed vir werk sal kan meeding nie!

Charmaine ·

Cyril Ramaphosa, nes Julius Malema koggel hulself. Hierdie is n verkiesingsfoefie waarvoor jong wit Suid-Afrikaners nie sommerso sluk nie. Hulle soek witmense om belasting te betaal wat hulle vir hulself gebruik. My kinders werk in Europa – hoogs gekwalifiseerd en waar hul vaardighede raakgesien en beloon word. Dit is hartseer vir ons as ouers om ons kleinkinders eenmaal per jaar te sien maar hulle toekoms is al wat vir ons tel. Hul is beter af daar!

Arak ·

Ek is van mening dat mens niks kan glo wat die man kwyt raak nie. Aan die een kant moet almal saam werk om die “uitdagings” van Eskom (wat hy en sy slim manne veroorsaak het) te bowe te kom, maar aan die ander kant voer hy Italianers in om te kyk wat fout is. Aan die een kant moet wit kinders bly om die land te help opbou, maar aan die ander kant wil hy hulle eiendom onteien. G’n woord van die kommunis kan geglo word nie. Dalk tyd dat ons ophou beleefd wees met kriminele, moordenaars en verraaiers.

Hans Richardt ·

?phosa is oksimoroon, want as wittes emmigreer, kan swart vs wit politiek nie voortgaan in SA nie en dan moet swartes verantwoordelikheid aanvaar.

Hennie Theart ·

Mnr die President,
Hoe verwag u dat jong wit Afrikaners hier sal bly wanneer hulle moedertaal onder druk is net soos werk en ander dinge?
Hoe verwag u dat jong wit Afrikaners hier gaan bly as hulle Christenskap aangeval word, en die ANC wil nie die 10 punt plan om beter te bestuur onderteken nie.
Jesus groete aan u.

Jerry ·

“Liberation before an equal and just society”. Voordat die ANC nie SA heeltemal bevry van kolonialisme sal teenrevolusionerewitmense uitgesluit word uit deelname aan die ekonomie. CR se bedoeling mbt jongwitmense is gerig op ANC jongwitmense. Anti ANC jongwitmense tel geen punte nie, omrede ANC dade soos BEE/regstellende aksie en kwotas spreek vanself. Solank as wat witmense ekonomies en polities onafhanklik van die ANC kan oorleef en swartmense vir witmense werk, vir solank sal die ANC revolusionere stryd teen witmense voortduur. Wit teenrevolusioneres moet hulself eers in dieselfde posisie bevind as wat swartmense gedurende apartheid hulself bevind het. Die ANC se SA is nie n diverse SA nie, dit is n revolusionere SA, wat beteken dat as jy wit of swart is, is jy welkom slegs as jy gereken word n revolusioner te wees wie n lid is van die ANC. Indien nie, dan sal die hel van dubbele standaarde op jou toegepas word totdat jou weerstand in denke verkrummel. Die wittes wat by die ANC aansluit bewys dat mense se denkeweerstand besig is om te verkrummel namate die realiteite van teenrevolusionere Suid Afrikaners se gyselaar situasie, besef word. Jy is dus ANC en oorleef, of ellende is jou voorland, of jy emigreer. Elke teenrevolusionere jongwitmens het dus n keuse om te maak, omrede opposisie partye sonder byt, jou regte net tot op n punt toe sal kan beskerm. Die feit dat BEE, regstellende aksie, kwotas, isolasie, uitsluiting ens bestaan, bewys dat opposisie partye jong witmense reeds gefaal het!

Generaal (afg) Caprivi ·

Hulle gaan ons nog aan bome vasbind, glo my.

Attie. ·

My enigste kind is permanent gevestig in die buiteland en talle van my familie en vriende het kinders wat oorsee woon en werk. Hierdie regering beoefen die ergste diskriminasie praktyke maar die wereld voel tevrede want onder die vorige regering het hierin Afrika ‘n eerste wereld ontwikkel wat nie op hul beplanning was nie. Nou is almal gelukkig.

Hou U Mond ·

Mnr Ramaphosa het geen wil of lus om enige wit kind ” vas te maak ” aan ‘n boom om hulle hier te hou nie, twak. Mnr Ramaphosa ondersteun regstellende aksie en sal dit bly ondersteun in die toekoms. Die ANC se rasse beleid om ‘n minderheid te onderdruk, het ‘n geslag geskep van blankes, wat verarm het, en wat nooit die geleenthede sal kry in die werkers mark nie, net omdat hulle wit is. Die haat vir Apartheid sal altyd onder die swart populasie gebruik word, as politieke speelbal om stemme te werf. Ek voel vir die ANC regering niks nie, en wantrou my mede Suid-Afrikaner meer as in 1994. Daar is nie vir die arm blanke enige geleenthede geskep nie. Dit wat Solidariteit en helpende hand doen, is noemenswaardig, maar nie genoeg nie. Die groot internasionale maatskappye wat deur Afrikaners gestig en besit word, doen nie veel vir die arm wit Afrikaner nie. My familie oorsee se kinders word nie op hulle velkleur veroordeel nie, en hulle presteer uitstekend, met ‘n uiters hoë lewens standaard. As ek self kon, sou ek padgee, en daar is baie van ons. Noem my maar wat jy wil, maar die land, is nie meer ‘n veilige tuiste vir die Afrikaner nie. Ons wit minderheid is ‘n doring in die vlees van die swart politiek van die land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.