President Ramaphosa se kommissie-strategie

Pres. Cyril Ramaphosa. Argieffoto

Deur Theuns Eloff

’n Mens hoor baie maal in die gewone omgang dat “Cyril nie vinnig genoeg beweeg om korrupsie en staatskaping te beveg en te beëindig nie”. Hy moes só en só al “lankal in die tronk gesit het…”

Maar is dit so maklik? En wat is regtig aan die gebeur?

’n Mens kan president Ramaphosa se bona fides dat korrupsie en staatskaping gestop moet word, aanvaar. Hy was en is op rekord dat hy ernstig is daaroor. Sy eie aksies en dié van sy naaste adjudante (soos Pravin Gordhan met die leefstyloudits vir staatsbeheerde instellings) getuig daarvan.

’n Senior sakeleier vertel my anderdag op ’n vliegtuig dat die president beraam dat daar 700 sleutelposte in die staatsdiens is wat deur Zuma-vertrouelinge beset word. Tot sover hierdie jaar is 150 beter mense al aangestel, maar die getal wat oorbly, is nog enorm.

Hoe raak mens van die Zuma-aanstellings in die staatsdiens ontslae? Dis nie maklik nie, want die meerderheid van hulle is nie direk deur Zuma aangestel nie, maar deur van sy vertrouelinge en “broers/susters in die kwaad”. As gevolg van die oppergesag van die reg (ja, selfs skurke het basiese regte) en arbeidswetgewing kan mens nie links en regs ontslaan nie; jy moet prosesse volg. Van hierdie persone voldoen (dalk selfs) aan die minimum vereistes vir hul aanstellings, en vir elkeen is ’n goeie rede en proses vir ontslag nodig. ’n Mens moet op ’n manier “iets” kry om teen hulle as individue op te tree.

Dis natuurlik relatief makliker om teen hoë profiel-persone op te tree, soos die Moyanes en die Abrahamse van die wêreld. Maar wat van die talle onbekendes, die molle, wat êrens ’n sleutelpos beklee en nog aan Zuma of sy saak lojaal is? Of dalk net aan hul eie sakke dink?

Daar is nog ’n ander faktor: al mag die president en sy binnekring weet wie hierdie Zuma-aanstellings is, is dit moeilik om gelyk teen hulle op te tree en “skoon te maak”. Dit sal die delikate magsbalans in die ANC omverwerp. Wat nodig is, is om ’n manier te vind wat hulle deur “normale prosesse” uitwys en dan deur regsprosesse uit die stelsel haal.

Teen hierdie agtergrond, kan mens sekere presidensiële strategieë herken. Die eerste en basiese een is om die reg of partyprosesse hulle gang te laat gaan – soos wat met Supra Muhamapelo gebeur het (en nog met Ace Magashule moontlik is). Die probleem hiermee is dat die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) nog nie aangestel is nie, en dat daar daarom (nog) nie die politieke wil by die Nasionale Vervolgingsgesag is om dit op groot skaal te doen nie. Maar met die aanstelling van die NDOV wat binnekort gaan gebeur, kan hierdie strategie in die nuwe jaar momentum begin kry. En die voordeel is dat met hierdie strategie niemand die president van ’n heksejag teen Zuma-vertrouelinge kan beskuldig nie.

’n Tweede strategie om korrupsie en staatskaping uit te snuffel en aan die kaak te stel (wat reeds in volle swang is), is wat al die kommissie- en paneelstrategie genoem is. Dit behels die aanstel van ’n kommissie of adviespaneel van ondersoek oor ’n spesifieke saak. En al is die Zondo-kommissie van ondersoek oor staatskaping (ironies genoeg) ’n Zuma-aanstelling, pas dit perfek in president Ramaphosa se strategie. Die Nugentkommissie na die sake van die SA Inkomstediens is ook ’n voorbeeld hiervan. ’n Ander voorbeeld is die aanstelling van die hoë vlak-hersieningspaneel vir die staatveiligheidsagentskap (SVA), ’n staatsdepartement wat intensief deur Zuma in staatskaping gebruik is – veral om op sy vyande (ook binne sy eie party) te spioeneer).

’n Derde strategie is nie soseer téén korrupsie en staatskaping gemik nie, maar dien eerder om deursigtig en demokraties te wees en korrupsie sigbaar te maak. Hier is die aanstelling van die onafhanklike paneel om die kandidate vir die pos van die NDOV te hanteer en ’n aanbeveling te maak, die beste voorbeeld. Maar daar is ook die onafhanklike adviespaneel om in die sensitiewe kwessies van grondhervorming kundige en waarskynlik tegnokratiese insette te kry.

Die kommissie- en paneelstrategie van president Ramaphosa is dus ’n baie effektiewe manier om vordering te maak om die netwerke van korrupsie en staatskaping aan die kaak te stel. Maar dit bied nie kitsoplossings wat só en só vinnig in die tronk gaan laat beland nie. Dit sal egter ook nie nodig wees om te wag totdat byvoorbeeld die Zondo-kommissie uiteindelik ’n finale verslag uitbring nie. Soos wat met Tom Moyane in die Nugentkommissie gebeur het, kan die Zondo-kommissie ook tussentydse verslae uitbring, op grond waarvan kriminele vervolgings reeds kan begin. Maar dan moet die nuwe NDOV aangestel wees en hy/sy moet die politieke wil hê om effektief te vervolg – en hierdie kultuur in die hele Vervolgingsgesag vestig.

Hierdie drieledige strategie sal waarskynlik tot met die 2019 nasionale verkiesing gevolg word – stadig, maar seker. Indien president Ramaphosa as leier van die ANC dié party na ’n oorwinning van, sê 55%, kan lei, kan hy daadkragtiger optree. Hy is dan nie meer die ANC-president wat deur ’n skamele 173 stemme by Nasrec verkies is nie, maar die president van Suid-Afrika wie se party met 55% van die kiesers aan bewind gestel is.

Maar selfs al werp die kommissiestrategie vrugte af, het die president ook nog ander probleme en uitdagings: sy opmerking oor plaasmoorde in die VSA hang nog soos ’n swaard oor sy kop. Hy moet ook nog uit die dilemma van die Bosasa-skenking kom. En les bes, sal ’n bevredigende oplossing van die onteiening sonder vergoeding-tameletjie noodsaaklik wees om die ekonomie en die Grondwet van chaos en verval te red.

Maar selfs met hierdie probleme, is Cyril Ramaphosa, menslikerwys gesproke, die enigste hoop wat ons het om die staat aan die mense van Suid-Afrika terug te gee.

  • Theuns Eloff is die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

John ·

Hierdie is ‘n harde hoop op beter dae… Sulke kommissies kan tot in ewigheid aandraal en die verkeerde mense laaank in hul lekker poste laat sit tot aftreetyd en almal wat onthou, laat vergeet. Net omdat ons nou nie meer weet wie na CR sal kan oorneem nie, maak nie dat hy die droompresident vir hierdie land is nie. Waar in Afrika of elders was daar al ‘n goeie Afro-president as voorbeeld?

Jerry ·

Dr. Theuns slaan die spyker op die kop! Wat die ander dilemmas (klink so baie soos Delille en malema, die dilemmas) aanbetref behoort CR met eer uit die stryd te tree. Die politieke spel is vuil en ons moet maar duim vas hou dat CR dit gaan maak tot na die verkiesing, want as hy dit nie maak nie, sal niemand dit maak nie en kan dit nag raak in “Ons vir jou Suid Afrika”!

Sarie ·

Al maak hy dit ook kan hulle hom ook soos vir Mbeki uitgooi en Mabuza aan die bewind bring . Die president word die ANC bestuur aangestel en daar is baie slange en diewe onder hulle. Ek wens liewer die DA wil hul binnegevegte laat staan dat hulle kan regeer en die ANC uit die kussings lig.

Gert ·

Ek hoop sommige van ons onthou nog die paddapot en dat Cyril herhaaldelik hom uitgespreek het ten gunste van rassistiese gronddiefstal. Hy is alles behalwe ons redder.

Bert ·

Ja-nee, van die Dakar-safari tot dit. Gebakte pere, of hoe?

marco polo ·

Solank as wat niemand vervolg word nie, is die kommissies net geraas en n mors van geld.

Eddie ·

Ons sal graag wil sien dat die reeds skuldiges aangevat en op hul bates beslag gelê word ,ons het sekerlik nie genoeg plek in die tronke vir die wat gratis losies soejk nie !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.