President Ramaphosa se pandemie-poppekas

Deur Monica Mynhardt

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand die nasie vir die eerste keer in byna ’n maand oor Covid-19 toegespreek. Vir enigeen wat die toespraak misgeloop het, hiermee ’n samevatting.

President Ramaphosa het aangekondig dat ons, op aanbeveling van die nasionale Covid-19-bevelsraad, amptelik op vlak 3 A gaan bly. Hierdie aanbeveling kom ná die beheerraad gemeen het dat ’n terugskuif na vlak 4 of 5 nie net ondoeltreffend sou wees nie, maar ook skadelik vir die samelewing en ekonomie.

Daarom het die regering eerder besluit om bykomende streng maatreëls by vlak 3 A te voeg sonder om dit iets anders as vlak 3 A te noem, ten einde bogenoemde probleme te voorkom. ’n Baie rasionele besluit, aangesien mense geneë is om te reageer op die benamings van vlakke, eerder as die regulasies wat dit inhou.

Minibustaxi’s mag weer op 100%-kapasiteit funksioneer. Dit is egter onduidelik of hierdie 100% verwys na die werklike kapasiteit van 10 tot 14 passasiers of na die taxi-industrie se 10 tot ’n-onbepaalbare-hoeveelheid-passasiers-afhangende-van-hul-grootte-en-gewilligheid. (Die Suid-Afrikaanse taxi-vereniging het reeds twee weke gelede in ’n amptelike mediaverklaring uitdruklik bevestig dat alle taxi’s in direkte verontagsaming van die regering se regulasies op 100%-kapasiteit sou begin funksioneer. So asof meeste van hulle nie reeds besig was om dit stilweg te doen nie. Dit is dus moontlik dat die regering weer hul regulasies sal aanpas indien jy as landsburger militant genoeg in ’n mediakonferensie verklaar dat jy ’n provinsiale grens gaan oorsteek vir nienoodsaaklike doeleindes soos om by jou familie binne-in hul huise te gaan kuier.)

Familiebyeenkomste word steeds nie toegelaat nie, tensy dit natuurlik in ’n minibustaxi gehou word. So ’n byeenkoms is net onderworpe aan die voorwaarde dat die vensters ten alle tye oop is en almal serpe om hul koppe het vir Covid-19 en die koue. Mense mag dus in vol taxi’s saam met vriende en familie tot by restaurante ry, daar sonder maskers eet en kuier en saam in die vol taxi’s terug tot by hul onderskeie huise ry. Geen sosiale aktiwiteite mag egter by mense se huise self plaasvind nie, maar slegs in openbare spasies soos restaurante – om veiligheidsredes.

Hoewel mense nie by vriende of familie mag kuier nie, word samekomste wel toegelaat, mits iemand sterf. Tot en met 50 familielede – die afgestorwene uitgesluit – mag by ’n begrafnis bymekaarkom. Die samekoms is egter net beperk tot om die graf. Daar bestaan dus ’n moontlike skuiwergat vir versnapering en tee om die graf, aangesien versnapering en tee ná die begrafnis nie toegelaat word nie. Alternatiewelik is daar altyd die opsie om die begrafnis naby ’n restaurant te hou en met ’n vol taxi tot by die restaurant te ry en daar versnapering en tee te geniet sonder maskers.

Dit is nou ook genadiglik veilig om in parke te gaan stap. Voortaan sal die virus nie meer ’n onderskeid tref tussen mense wat in die opelug op paaie stap en diegene wat in parke stap nie.

Diegene wat wel in die openbaar verskyn, moet om veiligheidsdoeleindes aan minister Ebrahim Patel se vroeëre moderegulasies voldoen. Siende dat sekere klerekombinasies volgens die regulasies eens gevaarlik was om in winkels te verkoop, is die logiese gevolgtrekking sekerlik dat dit ook gevaarlik is om aan te trek. Onthou dus om slegs ’n kortmouhemp aan te trek indien jy ’n truitjie daarby dra – weereens vir Covid-19 en die koue. Dit is ook moontlik om die gevaar van oop sandale vry te spring deur kouse – spesifiek winterkouse – daarmee saam aan te trek.

Mense word nou aangeraai om roekelose optrede – veral dit wat verband hou met alkohol – te beoefen tussen 04:00 die oggend en 21:00 die aand. Die nuut ingestelde aandklokreël sal enige sulke of ander optrede buite hierdie tye verbied. Diegene wat daarop uit is om ons gesondheidstelsel te oorweldig, moet daarom asseblief so maak tussen die voorgeskrewe tye.

Die toerismebedryf is verlede week toegelaat om weer vir ontspanningsdoeleindes gaste binne die perke van hul provinsie te ontvang. Hierdie is egter net toegelaat vir die klompie ure wat dit president Ramaphosa se sosialemediaspan geneem het om die verkeerdelike plasing wat dit toegelaat het, van sy Twitter-rekening te verwyder. Selfs in daardie tyd is Airbnb-tipe ondernemings nie toegelaat om oop te maak nie, aangesien die onuitputbare innovasie van die privaat sektor natuurlik gevaarliker is as enige virus.

Die enigste rede waarom dit so maklik is om die spot te dryf met die regering en hul hantering van hierdie krisis, is omdat hul optrede absoluut lagwekkend is. Nes alle ander regerings wêreldwyd het hulle aan die begin met omsigtigheid en onsekerheid opgetree. Namate die krisis vererger en verleng het, het die regering se optrede al meer absurd geword. Mettertyd was baie min van dit wat hulle gedoen het, logies verklaarbaar en bykans niks prysenswaardig nie. Hulle het regeer en gereguleer soos wat die wind waai.

Monica Mynhardt.

Die een ding wat die president duidelik in sy toespraak oorgedra het, is dat die regering nie die vaagste benul het hoe om ’n moderne staat suksesvol te regeer nie. Nie eers onder die beste van omstandighede nie, laat staan nog in ’n krisis.

Waarmee die regering tans besig is, is niks meer nie as ’n klug – ’n absoluut absurde teaterstuk waardeur almal sien. Week ná week word die poppekas opgeslaan met die oogmerk om ons te oortuig dat hulle weet hoe om die land te regeer. Die waarheid is egter dat hulle geen idee het nie, maar in lewe en in letterlike dood alles in hul vermoë sal doen om ons van die teendeel te oortuig.

Die regering glo vas dat niemand deur hulle sien nie. Dit is keer op keer vir hulle vreemd dat mense hulle nie met ontsag en vrees en respek hanteer nie. Hulle is stom van verbasing wanneer landsburgers hulle hanteer soos blote karakters in ’n teaterstuk – oulik en vermaaklik om na te luister, maar met min daadwerklike mag.

Ons het in Suid-Afrika oor die afgelope 25 jaar noodgedwonge ’n fyn sin vir galgehumor ontwikkel. Ons weet presies hoe om die onaangenaamhede wat ons daagliks ervaar, ligter te spot. Ons moes gewoon – as ’n mens nie oor hierdie regering kan lag nie, sal jy sweerlik huil.

Nou sit ons in die middel van ’n krisis en lag vir nóg ’n onoortuigende poppekasvertoning. Een waarin daar sonder redelikheid of verduideliking reusebesluite namens ons geneem word. ’n Vertoning waarin ons vreeslose leiers sonder rede tussen regulasies rondspring – dit is immers maklik om sommer so van besluit te verander wanneer daar ’n marionettoutjie is waar jou ruggraat veronderstel was om te wees.

Hoewel ons vir lank reeds oor hierdie dinge lag – omdat ons maar moet – hoef ons dit nie vir ewig te verdra nie. Niemand kan dit vir ewig verdra nie. En in die naskokke van die pandemie gaan “Encore!” gewis nie die oorverdowende stilte verbreek nie.

  • Monica Mynhardt is ‘n navorser by die Solidariteit Bewegingstrust. 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gysbert

Ek sit slaggereed om aan n optog deel te neem. Ek het al 2 keer in die verlede aan Solidariteit en Afriforum se optogte deelgeneem. Hulle moet net sê waar en wanneer, en ek is daar. Mooi praatjies en hofsake beteken niks. Regerings luister baie aandagtig na optogte en oproer, nie net hier nie, maar oral op aarde.

Esta

Dit is SO waar !!!

Adam Adriaan

Goeie samevattin!! Ons moet net glo en moed hou die “Wit tente sal nog staan vanaf die Kaap tot in Windhoek en van Natal tot in Mozambiek”

Elize

Ek sou dink aan die begin van die epidemie, met die baie lae covid syfers, begin jy lockdown op sy laagste vlak en verhoog maatreels en vlakke soos wat die syfers verhoog. Hier doen hulle net mooi die teenoorgestelde. En nou sit hulle met n groot gemors. En daar is ongelukkig nie n ‘undo’ knoppie nie.

Carina

Monica, jy het nou my dag gemaak. Ek sit en lag dat die trane loop. Jy is sooo reg!! Net mooi niks van die hele inperking maak enigsins sin nie. Vol tazi’s maar ek mag nie vir my eie familie gaan kuier nie. Ek gaan beslis die taxi / restaurant / kuier probeer. Dit klink na ‘n plan.