Presidentskap nie vir onkundiges

Pres. Jacob Zuma tydens die Vryheidsdagvieringe op 27 April 2017 in KwaZulu-Natal (Foto: GCIS)

In die VSA het dit tradisie geword om 100 dae ná bewindsaanvaarding die president se vertoning te evalueer. By dié geleentheid het pres. Donald Trump laat blyk dat dit ingewikkelder is om president te wees as wat hy gemeen het dit sou wees.

Soos dit dikwels met die oorneem van Amerikaanse gebruike die geval is, het Suid-Afrikaners ook die aanbied van ’n staatsrede en die 100-dae-oorsig oorgeneem.

Trouens, die staatsrede is in behoorlike uithanggeleenthede ontwikkel, en daar is nou ook sommer provinsiale en munisipale redes – ten duurste en met glans.

Pres. Jacob Zuma is baie lank by sy eerste 100 dae as president verby. Tog, ná die jongste ruk gebeure waarby hy betrek is, kan ’n mens wonder of hy nie nou ook kopkrap en binnensmonds mompel nie: “Dit is baie moeiliker om president te wees as wat ek gedink het.”

Die Sondag voor Werkersdag spreek Zuma ’n Werkersdaggeleentheid in Mamelodi toe, wat amper ’n presiese weergawe moes wees van die hooffunksie wat die volgende dag in Bloemfontein moes plaasvind. Donker donderwolke van moeilikheid het saamgepak, maar Zuma se spreekbeurt in Mamelodi verloop glad. Trouens, hy praat dubbel so lank as wat sy amptelike spreekbeurt was. Hy kry soveel selfvertroue dat hy die skare vra om met die volgende verkiesing die ANC ’n tweederde-meerderheid te besorg, sodat die Grondwet gewysig kan word. Volgens hom verhinder beperkings in die Grondwet vooruitgang.

Net ’n dag later verhinder ’n deel van die skare in Bloemfontein nie net hom nie, maar van sy ander kornuite, om te praat. Zuma moes die verrigtinge druipstert verlaat, nadat hy aanvanklik nog lekker ontspanne gegiggel het. En nie alleen sink die Bloemfonteinse geleentheid Cosatu se hooffunksie vir Werkersdag nie, in KwaZulu-Natal word die speaker Baleka Mbethe uitgejou, en in Limpopo word Jesse Duarte verhinder om te praat. Albei is stoere Zuma-aanhangers.

Duidelik is dit wat oornag gebeur het te ingewikkeld vir Zuma en sy apparatuur, wat die intelligensiedienste insluit, om ontleed te kry.

Ná sowat ’n kwarteeu kom daar al hoe meer geluide uit die ANC dat onbevoegde ontplooide kaders op verskillende regeringsvlakke met kundiges vervang moet word. En net soos dit lyk of besef word dat regeerwerk eintlik nie so maklik is nie, en dat volop kundigheid vereis word, word weer ’n rits politieke kommissarisse ontplooi wat van die werk g’n benul het nie.

In ander lande waar politieke kommissarisse ontplooi word, word hulle gewoonlik parallel of bykomend tot die kundige amptenaar aangestel, juis omdat die ingewikkeldheidsvlak besef word.

Selfs politici word teen onkundigheid beskerm deurdat raadgewers aangestel kan word. Die ingewikkeldste aspek hiervan is om te sorg dat die kundiges inderdaad kundig is, anders gaan die staat ritse hofsake verloor, om maar een gevolg te noem.

Of ’n ekonomiese raadgewer raak erg skadelike twak kwyt en ondermyn beleggersvertroue op groot skaal. Normaalweg, as ’n minister so ’n blaps begaan, is die skokeffek kleiner omdat die belegger weet daar is kundiges agter die skerms wat sal keer dat sake ontspoor.

Pas het Zuma weer ’n hofsaak verloor, en ’n rits hofsake wag …

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Nou toe nou! Van wanneer af is dit ‘n raaisel om te wonder of presidentskap van ‘n land moeilik of maklik gaan wees. Belaglik verby – nes baie van die besluite.

John ·

Miskien moet ons weer kyk na waar waar Zuma diens gedoen het voor 1994 en wat sy take was. Wat het hy vermag om as die hoof van die militere vleuel aangestel te word? In daardie jare is sy persoonlikheid en bestuurstyl vasgele: Dit is wie hy is. En hoe meer hy in ‘n hoek gedruk word hoe meer gaan hy daardie soort president word. Die spreekwoord lui mos:
‘n Mens kan nie vir ‘n ou hond nuwe toertjies leer nie…

humor ·

n Onbegonne taak. Waar op aarde gaan kundiges uitgekrap word?

Kaaspaas ·

Mees gevaarlikste is wanneer n mens nie sy eie tekortkominge kan begryp en kan verstaan wat die gevolge van sy besluite is nie. Selfs oorseese programme dryf die spot met die president en dit pla nie die ANC se uitvoerende leierstruktuur nie??

John ·

?..en skielik word regter Vally se integriteit bevraagteken, wat ‘n bevel teen Zuma gegee het tov redes vir Gordhan se afdanking…. al daai rekenaars wat gesteel is het duidelik nie net voete gekry nie maar ook ‘n paar slinkse koppe….

Elizabeth ·

Dit is reeds die groot probleem wat die hele wêreld het, onkundige en onbevoegde staatshoofde! Om vir jare betrokke te wees by die politiek maak geensins van jou ñ goeie president nie. In Afrika is dit ñ 1000 x erger, die wat agter die skerms oorlog gevoer het word 99% van die tyd ñ land se leier en om mag te behou bly daar altyd oorlog in die land! Gebruik Zuma as voorbeeld, ons hoof nie ver te kyk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.