Pretoria-betogings: Drie belangrike lesse

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die huidige betogings in Pretoria is groot nuus, behalwe natuurlik vir die SAUK. Die opstande belig tereg die ANC se ewigdurende faksionalisering en hoe dit nou tot op die spits gedryf is deur Thoko Didiza as ’n soort “kompromiskandidaat” vorentoe te stoot om juis die faksievetes stil te maak. Hoe ironies dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) juis faksies probeer verenig deur “faksionalisme” te pleeg!

Ewenwel, hier is ’n paar dieperliggende lesse of neigings wat nes die motorbande in Mamelodi en Soshanguve smeul en dit kan nie sonder meer deur ’n summiere NUK-besluit reggestel word nie:

  1. Die ANC se etniese gevegte is as faksies vermom

Die voormalige Mosambiekse leier Samora Machel het eenkeer roemryk opgemerk dat “for the nation to live, the tribe must die”. Dit is nie noodwendig wyse woorde nie en oplossings vir Afrika se probleme is glad nie so eenvoudig soos hierdie aforisme dit voorstel nie, maar hy het waarskynlik edele bedoelings daarmee gehad in die konteks van post-koloniale Afrika.

Sedert die vasteland se onafhanklikheidstelling sedert die laat 1950’s het sterkmanne soos Idi Amin, Mobutu Sese Seko, Haile Selassie, Mengistu Haile Mariam, Robert Mugabe, Siad Barre en verskeie Nigeriese leiers hul eie etniese groepe (en veral diegene wat uit sekere streke afkomstig is) met regeringsposte en ander korrupte gunste beloon terwyl hulle skynheilig ’n burgerlike nasionalisme en eenheid binne hul eie partye bepleit het. Die wêreld en ook Afrika se jongste staat, Suid-Soedan, is vandag ’n warboel van etniese versplintering en vyandigheid wat lank voor dié land se onafhanklikheid van Soedan in Junie 2011 gewoed het. Kortom, Afrika voldoen nie naastenby aan Machel se spreuk nie.

Natuurlik het die ANC en Suid-Afrika nie hierdie vloek vrygespring nie al het heelwat kenners aanvanklik geglo dit sou anders as ander bevrydingsbewegings wees. Onder oudpress. Nelson Mandela en Thabo Mbeki is Xhosas uit die Oos-Kaap disproporsioneel in kabinetsposte en ander magsposisies aangestel. Daar is selfs naderhand neerhalend deur Zoeloes en ander etniese swart groepe daarna as “Xhosa Nostra” verwys – met verwysing na die Siciliaanse mafia wat as Cosa Nostra bekendstaan.

Jacob Zuma se magsoorname het ook met ’n radikale wysiging aan hierdie etniese struktuur gepaardgegaan ofskoon die struktuur steeds op etniese lojaliteite en bevoordeling berus het. Xhosas en Sotho’s het mettertyd begin plek maak vir Zoeloes en ook Vendas uit Limpopo. Zoeloes maak vandag sowat 45% van die kabinet uit terwyl hulle slegs 22% van die bevolking uitmaak. Die prentjie was min of meer omgekeerd onder Mbeki en Mandela. Zoeloes is ook nou in beheer op ander plekke in die staat en die drieparty-alliansie. Sbu Dlamini slaan die kitaar in Cosatu nadat Zwelinzima Vavi (’n Xhosa) uitgewerk is; Bathabile Dlamini is hoof van die ANC-vroueliga; dr. Blade Nzimande is hoof van die SAKP; Baleka Mbete is speaker van die parlement; Jeff Radebe is minister in die presidensie. Hierdie gegewens werp hopelik heelwat lig op die jongste skuif om Didiza, ’n Zoeloe van Durban, in plek van Kgosientso Ramokgopa, wat in Pretoria gebore en getoë is, as burgemeesterskandidaat in ’n grootliks Tswana-sprekende stad te verkies. Etniese gevegte in die ANC is eintlik as faksiegevegte vermom.

Hiermee gaan uitermate korrupsie ook gepaard omdat die Zuma-kliek binne die ANC en NUK juis allerhande voordeel gaan trek as “hulle” kandidaat aan bewind is in ’n provinsie waar Zuma uiters ongewild is. Hulle kon juis nie vir Parks Tau, wat anti-Zuma is, weens sy gewildheid op grondvlak en in die Gautengse ANC-strukture as burgemeesterskandidaat in Johannesburg vervang nie en moes dus plan maak in ’n ander groot metro. Die Didiza-skuif is daardie plan.

Helaas gaan hulle hulself snoeker en kan dit hulle straks beheer van die Tshwane-metroraad kos. Die peilings het reeds voor hierdie debakel gewys die DA gaan meer stemme as die ANC in Tshwane op hom verenig. Ramokgopa se ondersteuners is woedend en betoog terwyl Ramokgopa self oënskynlik die kunsmatige eenheid probeer bewaar deur sy steun aan Didiza toe te sê, maar dis nie waar dit gaan eindig nie. Hierdie intra-ANC etniese geveg is ver van verby en hulle gaan beslis ’n hoë prys op 3 Augustus en vorentoe hiervoor betaal as die “verkeerde” faksie se mense net nie opdaag om te stem nie – nes die land die prys ten opsigte van geweld en betogings betaal.

  1. Die mense vertrou nog te veel op (staatlike) prinse

Sedert die ANC se bewindsoorname het hulle die swart bevolking die maan en sterre belowe, sondebokke in die wittes en ander minderhede gesoek en die wesenlike probleme soos werkloosheid met swak dienste en toelaes probeer toeplak. Die mense in die townships het mettertyd toegekyk hoe die politieke elite ryk word en die vrugte van bevryding geniet terwyl hulle steeds werkloos is (of werkloos geraak het) en geen vooruitsig op ’n beter lewe het nie.

Veral die jonger geslag swart mense het begin aanneem dat politieke mag dadelik in aansienlike ekonomiese voordele omgeskep sou word. Min teenprestasies soos harde werk en goeie onderwys is nodig want die staat sal sorg, het die nuwe mantra begin lui. Maar die pasgenoemde feite oor die etnisifisering, Zoeloefisering en patronaatskap in die ANC bewys juis dat jy hoogstens dalk ’n karige toelaag of twee van die staat kan verwag as jy nie self iets aan jou situasie doen nie of nie deel van die regte korrupte netwerk in die ANC is nie. Ons sukkelende ekonomie gee die staat ook al hoe minder mag om enigiets aan die lot van die armes te doen.

Om hul lot te verbeter, sal die swart bevolking ’n blaadjie uit die Boere se gesangeboek moet neem. As ons moes wag dat “ons” kandidaat (naamlik ’n wit Afrikaner of ’n ander Afrikaanssprekende) oor ons moes regeer vir ons om onsself op te hef en te onderhou, sou ons al ten gronde en slegs ’n historiese voetnota gewees het. Ouer swart mense het my al vertel hoe hulle in plekke soos Alexandra en Soweto onder apartheid self plan moes maak met dienslewering, sake doen en geregtigheid omdat die owerhede hulle uiteraard afgeskeep het. Hulle het ondernemend gedink en gedoen en binne hul eie gemeenskappe antwoorde gesoek. Die sleutel is om weer, nes Afrikaners vandag doen, die boeie van die staat en korrupte potentate af te werp en die krag van gemeenskap te herontdek. Anders gaan alles net aanhou brand.

  1. Dis (al weer) arm swart mense wat aan die kortste ent trek

Ons huishulp woon in Verena op die grens van Mpumalanga en Gauteng. Sy werk net twee keer per week by ons en dis die enigste werk wat sy tans het. Sy moet reeds soggens 04:00 op die bus klim om ongeveer 07:00 by ons in die noorde van Centurion te wees. Sy kan nie bekostig om met ʼn taxi te ry nie en koop ’n buskaartjie een keer per maand om by die werk te kom.

In die laaste twee weke kon sy twee keer nie kom werk nie want die paaie waar sy moet reis is met brandende bande versper en busse is aan die brand gesteek. Die oggende wat sy wel opgedaag het, was dit asof sy getraumatiseerd en aangedaan was. Ons het haar begin help met die taxi-geld en ander toegewings gemaak, maar dit los nie die onderliggende probleme op nie.

Hierdie onluste is grotendeels beperk tot die townships en ander dele van die stad wat amper uitsluitlik deur swart mense bewoon word. Net soos met soveel ander betogings en onluste die afgelope paar jaar het ek weinig daarvan beleef en dit op my foon en rekenaar gevolg terwyl ons bediende en duisende swart mense elke dag die gevare moes aandurf net om hul brood te verdien.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris Lombard ·

Goeie artikel maar ek wil net die volgende byvoeg:

1. Zuma is nie n Zulu nasionalis nie, hy is by uitstek n opportunis. MAAR om soveel te kan steel soos wat wat hy doen, het hy mense om hom nodig wat hy kan vertrou. Hulle gaan uiteraard meer Zulus wees, aangesien hy Zulu Identiteit kan GEBRUIK om hulle te beheer. Die mense met wie hy die beste oor die weg kom is egter nie Zulus nie, vergelyk Shabir Shaik en die Guptas.

Wanneer hy egter in die moeilikheid is, soos met sy verkragting en ander hofsake, mobiliseer hy mense maklik deur sy Zulu identiteit te misbruik (100% Zuluboy onder meer).

2. Dieselfde is op die oomblik besig om te gebeur in Pretoria. Ramokgopa is verhoed om soveel te kan steel as wat hy wou (die Afrisake hofsaak teen die voorafbetaalde meter hofsaak verwys, sowel as die geveg tussen hom en sy adjunk). Nou misbruik hy en sy trawante etnisiteit om mense te mobiliseer.

Die belangrike punt bestaan egter nog steeds, dat etnisiteit in suid Afrika nog belangrik is, en baie belangriker is as wat die meeste analiste wil toegee en dat dit meer en meer gebruik sal word soos wat die hoeveelheid wat nog gesteel kan word krimp.

Rupert Ashford ·

Suid Afrika was nog altyd ‘n land van baie etnisiteite. Toevallig was die een klomp wit en was die golf van dekolonisering besig om oor Afrika te spoel toe daar gesoek is na ‘n oplossing wat dalk uniek kon wees en kon werk, so toe word dit ‘n rasse storie. Maar die etniese ding is nog steeds daar en sal opbloei soos die koek kleiner word en daar baklei word vir snye.

John ·

As ek reg onthou was Zuma aanvanklik nie so gewild in Natal nie en ietwat van ‘n moeilkheidmaker (steeds?). Hy het Bhutelezi teegestaan en die 2 het baie vasgesit. Nadat Zuma steun begin verwerf het as ANC-lid en die IVP verslaan is, het lg party hom begin verduur omdat dit vir hulle as mede-Zoeloes nuttig is veral omdat Zuma dit heel moontlik so aan hulle oordra. Dis ‘n heel ingewikkelde konkoksie, ‘n ‘love-hate’-verhouding. President Zuma is besig om sy eie nessie te veer, terwyl hy die Zoeloe-vlag waai. Met Engels wil hulle kamtig die speelveld in die land gelyk maak… en hier speel die infiltreerders van die gebied, die Indiers, glo ‘n baie verskuilde rol. Dan is daar die talle ander swart groeperings in die land … Zuma is die spreekwoordelike black ‘cat on a hot tin-roof’…

Hendrik ·

Goeie artikel, maar oor punt 3, die volgende: Die arm swartes kry die swaarste onder die ANC, tog stem hulle oorweldigend vir die ANC. Klink vir my asof daar ‘n doelbewuste rede is waarom die onderwys in so ‘n gemors is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.