Pretoria-straatnaamdebakel ontbloot ANC se gebrek aan respek vir verskeidenheid

kerkstraat-afriforum-jeug

Die nuwe naamborde wat aangebring is. Foto: AfriForum Jeug

Die burgemeester van die Tshwane Metroraad, Kgosientso Ramokgopa, het die afgelope week probeer voorgee AfriForum Jeug se vreedsame oprigting van Kerkstraat-naamborde toon ʼn gebrek aan respek teenoor swartmense se erfenis. Ramokgopa se beskuldiging is ironies, aangesien die verloop van die straatnaamveranderingsproses in Pretoria die afgelope paar jaar die teendeel bewys: dit is eerder die ANC en Ramokgopa wat ʼn gebrek aan respek teenoor die land se kulturele verskeidenheid en erfenis toon.

Dié stelling kan gestaaf word deur die wyse waarop AfriForum die afgelope paar jaar die straatnaamkwessie hanteer het, te vergelyk met Ramokgopa en die ANC se optrede oor die kwessie.

AfriForum Jeug het die Kerkstraat-naamborde opgerig sonder om enige skade aan die bestaande naamborde aan te rig of die “nuwe” straatname toe te verf. Die simboliek hiervan is juis dat daar ruimte vir almal se erfenisse in die land moet wees. Daar behoort byvoorbeeld plek te wees vir sowel kultuurhistoriese straatname (soos Kerkstraat), as strate wat vernoem is na mense aan wie die ANC erkenning wil gee. In teenstelling hiermee het Ramokgopa se hantering van die straatnaamveranderingsproses eerder op ʼn daad van oneerbiedigheid en kulturele vandalisme neergekom, omdat ʼn  streep – letterlik en figuurlik – deur tientalle name getrek is wat van besondere kultuurhistoriese waarde vir ʼn groot deel van die stad se inwoners is.

Die Kerkstraat-naamborde wat deur AfriForum opgerig is, dui die Sepedi-, Afrikaanse en Engelse weergawes van die woord “kerk” aan. Die simboliek hiervan toon ʼn naam soos Kerkstraat is nie net vir die Afrikaners en ander minderhede van belang nie – die Kerkstraat-naamborde het immers op sosiale media ook groot steun vanuit die swart gemeenskap ontvang. Ramokgopa se pogings om AfriForum Jeug se optrede as “rassisties” te brandmerk, is misplaas en waarskynlik meer ʼn aanduiding van Ramokgopa en sy party se eie rassisme en onverdraagsaamheid.

AfriForum het die afgelope paar jaar hard probeer om ʼn wen-wen oplossing vir die straatnaamkwessie te vind wat aan almal se erfenisse erkenning gee. Ek het tydens die naamveranderingsproses self met Ramokgopa vergader en omvattende voorstelle gemaak oor hoe almal se erfenisse in die straatnaamlandskap weerspieël kan word, sonder dat spesifieke straatname van besondere kultuurhistoriese waarde in die slag hoef te bly. Ramokgopa het persoonlik teenoor my onderneem om ʼn breë gespreksforum te reël waarheen verskeie rolspelers genooi sou word om oplossings te probeer vind. Hy het hierdie onderneming egter eensydig verbreek en die proses gestoomroller. Dié optrede kan beskou word as ʼn daad van minagting wat nie wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe bevorder nie.

Hierdie minagting van die sienings van Pretoria se onderskeie gemeenskappe was egter nie onverwags nie. Die gebrekkige raadplegingsproses in aanloop tot die naamveranderingsproses het dit reeds voorspel. Die Metroraad het onder Ramokgopa se leierskap hul eie riglyne vir openbare deelname geminag om die proses te stoomroller.

Die verbreking van Ramokgopa se onderneming tot ʼn gesprek, het AfriForum uiteindelik met geen ander keuse gelaat as om die saak hof toe te neem nie. AfriForum het reeds drie keer sukses in die hof behaal. Eers het AfriForum ʼn interdik van die hooggeregshof bekom om die Metroraad te verhoed om die “ou” straatname (wat vir ʼn wyle saam met die “nuwe” straatname vertoon is) te verwyder en die naamborde terug te plaas wat reeds verwyder is.

Die Metroraad het egter geweier om hulle by die uitspraak te berus en het sonder sukses na ʼn volbank regters in die hooggeregshof geappelleer. Tydens die appèlsaak het regter Molefe opgemerk die haas waarmee die Metroraad die “ou” straatname verwyder het nadat hulle verneem het AfriForum beplan regstappe om die verwydering te keer, aan dwarsboming van die gereg grens.

Indien die Metroraad net so doeltreffend met dienslewering was as met die nagtelike verwydering van die “ou” straatnaamborde, sou Pretoria inderdaad ʼn baie beter plek gewees het.

Die Metro se verdere appèl tot die hoogste hof van appèl in Bloemfontein het ook misluk en die Metro beplan nou om die konstitusionele hof te nader. Hoewel die Metroraad natuurlik die volste reg het om dit te doen, is dit duidelik dat hulle die regsproses gebruik om vir tyd te speel, sodat hulle weens die hangende appèl nie die hof se beslissing hoef uit te voer om die “ou” straatname terug te plaas nie.

Dit is in almal in Pretoria se belang dat wedersydse erkenning en respek tussen alle gemeenskappe bevorder word en dat daar ruimte moet wees vir die erfenisse van al die onderskeie gemeenskappe.

AfriForum sal aanhou om hom op vreedsame wyse hiervoor te beywer. As dit tot irrasionele beskuldigings teenoor AfriForum Jeug lei, soos wat Ramokgopa en ʼn paar ander kulturele vandale in sy geledere die afgelope week gedoen het, dien dit tot aansporing dat ons almal nóg harder sal moet werk om die miskenning van verskeidenheid en ons erfenis in die land teen te werk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Chris W ·

Gee hulle al die “gas” wat julle kan!!En kla hulle sommer aan vir erge rassime oor die straat name wat goedsmoeds verander word na ‘n klomp snert toe!!Alle sterkte vir Afriforum!

Sarie ·

In Ierland word alle plekname in Galic en Engels aangedui. Dit werk baie goed en niemand kla nie. As dit in SA toegepas word kan in elke provinsie die tale wat die meeste daar gebruik word plekname aandui.

david ras ·

Dieselfde geld vir Wallis. Ek het 2 dae gelede met ‘n korrepondent in Wallis gepraat, en die volgende inligting gekry: Alle straat en ander pleknme is in beide Wallies en Engels.
Walliese skoolkinders word in beide Engels as Wallies onderrig.
Vreemd genoeg , maar die Walliese volkslied word met passie gesing by groot Rugbywedstryde sonder enige teenkanting,

Hier by ons kry sekeres die piep as ‘n Klomp Afrikaners die stem sing –hoekom ?

Dit wil dus lyk of die Groot Onderdrukker, Engeland nie naby so ‘n onderdrukker is as die ANC nie.

My siening is dat ‘n naam wat aan ‘n plek gegee is deur die skeppers van so ‘n plek, soos Kerk straat, eintlik ‘n manifestasie is van hulle kultuur., en dat , as ek die Grondwet reg verstaan, niemand ‘n ander se kultuur mag beledig nie.
Ramakgopa en kie (en dit sluit die swyende DA in) is skuldig aan belediging van die Afrikaner se kultuur.

Francois ·

Hier in Kaapstad is die DA ook aan taalimperialisme skuldig in soverre dit straatname betref. In my dorp (waarvan die meerderheid inwoners Afrikaanssprekend is) is die straatname onlangs oorgeverf (waarvoor ‘n mens seker dankbaar moet wees), maar in dié proses het, onder andere, Jakarandastraat na Jacaranda Street verander; so ook Stasiestraat na Station Street, en so meer. En dít van ‘n party wat daarop roem dat dit diversiteit akkomodeer. Net nog ‘n liberale leuen?

Trots Afrikaans ·

Franscois, ek was nou Desember in Kaapstad gewees en was geskok tot in my diepste Afrikaner hart. Dis nou Cape Town, en ek bedoel Cape Town. Selfs die Afrikaners praat nou al van Cape Town. Let bietjie op hoe is alle name verengels. Muizenberg, Kalkbaai, Houtbaai om maar ‘n paar te noem het nou engelse uitsprake gekry. Ek was geskok, nie oor hoe die engelse die uitsprake verdraai nie, maar oor hoe die Afrikaners hulle eie taal uitverkoop.
Ek voek vir julle, maar julle sal moet opstaan broeder, of julle gaan ingesluk word.

Francois ·

Trots Afrikaans, jy is helaas heeltemal reg. Ek het nog ‘n mate van begrip vir die verengelsing van plekke soos Muizenberg, Houtbaai, Wynberg en dies meer, want dít is waar Engelssprekende Kaapenaars oorwegend woon. Wat my egter teen die bors stuit, is hoe dorpe soos Stellenbosch, Paarl en Franschhoek- die Afrikanerhartland in die Wes-Kaap – so vinnig verengels. En dit is inderdaad Afrikaners wat hieraan meedoen deur hul besighede Engelse name te gee, hulle kinders na Engelse skole te stuur, en nie op Afrikaans aan te dring wanneer hulle diens ontvang nie. Dit is juis hierdie lamsakkigheid wat deur die DA uitgebuit word om sy pro-Engelse agenda in die Kaap te dryf.

Sarie ·

As jy deur Swellendam ry sal jy sien dat Voortrekkerstraat het Voortrekstraat geword. Die letters is met maskeerband toegeplak.

Die DA bestuur die provinsie nie te swak nie, maar as hulle die kwotastelsel instel soos hulle leier aanbeveel en ook ras bo bekwaamheid stel, weet ek nie hoe lank dit nog goed sal gaan nie. Daar is nie nugtere denke in daardie party nie en hulle steek ook maar vas by die ou blameer speletjie.

Manie ·

Kallie, ons se hartlike dank aan mense en ‘n organisasie soos Afriforum en Solidariteit asook ATKV wat nog optree in die belang van die Afrikaans sprekende. My moedertaal sal ek nooit opgee of my kinders en of kleinkinders. Jy kan ‘n volksvreemde taal in ons keelgatte probeer afdruk, maar of ons bereid is om dit te sluk is ‘n ander geval en ook ons keuse. Ons respekteer elke taal en groep en verwag asb net dieselfde. Waarom karring aan bestaande straatname wat uit die oertyd bestaan en nou skielik ‘n problem raak. Beweeg vorentoe en benoem dan nuwe ontwikkelings gebiede met nuwe ooreengekomde gemeenskaplike name. Is daar dan soveel gelde in die Staats koffers dat plekke en strate nou skielik die hoofstroom raak en nie te praat van wat die kostes beteken aan maatskappye en instansies wat belange het in die gebiede nie, terwyl hierdie gelde aangewend kan word in verdere ontwikkelinge van die land en weg te beweeg van hierdie tipe nietighede en gemeenskaplike uitlokking in die samelewing.

DPJ ·

Net as die meerderheid hulle sin kry is dit nie rasisties nie. Alles daarteen is rasisties en word hulle voort bestaan bedryg. Waar kon die nasiebou nou in. Miskennig van ander groepe is nie Nasiebou maar afbreking.

Andrea van Vuren ·

Wat het van die hofbevel geword dat die ou straatname moet terug gesit moet word? Vra maar net?

m ·

Ek het nie probleem met name wat verander nie, maar hoekom moet alles swart name kry. Alle veranderings is net na een kant toe.

m ·

Hoekom moet net een nasie se name erkenning kry met die straatname se veranderinge?

Pieter van Niekerk ·

Wanneer gaan die beheptheid van swart mense oor rassisme eendag ent kry. Dit is in Amerika net so erg as hier en is ‘n toonbeeld van minderwaardigheidsgevoel. Die straatnaam kwessie is ‘n toonbeeld van swart ongevoeligheid en om klappe uit te deel. Maar o wee laat ‘n blanke dit doen. Met hierdie aksies maak dat swart en wit nooit versoen gaan word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.