Prioriteite vir president Jacob Zuma se 2015-staatsrede

Die bydrae is geskryf deur Johan Nortjé, ‘n navorser by die burgerregte-organisasie AfriForum.

Inleiding

Pres. Jacob Zuma berei sy staatsredetoespraak voor vir 12 Februarie 2015 Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Pres. Jacob Zuma berei sy staatsredetoespraak voor vir 12 Februarie 2015 Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Die staatsrede, ʼn toespraak deur die president van die Republiek van Suid-Afrika, vorm deel van die jaarlikse opening van die Parlement. Hierdie staatsrede sal president Zuma se agste een wees en streng veiligheidsmaatreëls kan verwag word nadat die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) gedreig het om die president se staatsrede te ontwrig. Die EFF vereis ʼn spesiale sitting van die Nasionale Vergadering sodat Zuma vrae oor die terugbetaling van Nkandla-geld kan beantwoord.

Die Suid-Afrikaanse Versoeningsbarometer (Instituut vir Geregtigheid en Versoening) se peiling in 2013 het aangetoon dat slegs 54,5% van alle Suid-Afrikaners vertroue in die parlement as instelling het. President Zuma se lewering van die staatsrede sal ʼn maatstaf wees om te bepaal of die parlement homself van die huidige waarneembare operasionele disfunksionaliteit kan losmaak. Die burgerregte-organisasie AfriForum, is van mening dat die volgende sleutelpunte aandag in die staatsrede moet geniet.

Prioriteite

  • Water

Suid-Afrika is ‘n semi-droë land met waterskaarste en die bestuur van die infrastruktuur vir watervoorsiening, tesame met die waterskaarste moet dringend aangespreek word. Volgens die Nasionale Waterhulpbronstrategie 2 van 2013, is ons waterbronne van buitengewone swak gehalte. Van die 223 rivier-ekosisteme word 60% bedreig, en 25% van hierdie bronne verkeer in kritieke gevaar. Meer as 60% van die 792 vleiland-ekosisteme word as bedreig beskou, waarvan 48% as kritiek geklassifiseer word. ʼn Tienjaarstudie deur die Universiteit van Kaapstad het aan die lig gebring dat skadelike sianobakterieë wydverspreid in die land is en 50 van die grootste damme hou ʼn ernstige risiko vir die gesondheid van ons mense in.

Daar moet ook in ag geneem word dat ʼn politieke krisis in Lesotho, soos in 1998 en 2014, bydra tot Suid-Afrika se watertekort. Ongeveer ʼn kwart van Suid-Afrika se  natuurlike water kom van Lesotho af. Die water word in Suid-Afrika deur ‘n stelsel van watertenks, damme en vervoertonnels aan die bevolking en die mynbedryf voorsien. Die land sal waarskynlik in die nabye toekoms genoop word om waterbeperkings in te stel om die gebrek aan doeltreffende infrastruktuur die hoof te bied.

  • Elektrisiteit

Die waterkrisis loop ongelukkig hand aan hand met die elektrisiteitsvoorsieningskrisis en die probleme by Eskom het ‘n groot impak op die nasionale psige. Die elektrisiteitskrisis is sedert 2008 welbekend en die president het by implikasie in die 2010-staatsrede erken dat Suid Afrika ʼn tekort aan elektrisiteit het. In dieselfde staatsrede het hy verklaar dat “tot die Medupi- en Kusile-kragstasies in werking kom, die kragnetwerk onder druk sal wees”, en derhalwe kan Zuma nie die kragkrisis op apartheid blameer nie.

Munisipaliteite se skuld aan Eskom het die laaste jaar met meer as R2 miljard toegeneem. In Januarie 2014 het dié skuld R2,3 miljard beloop en teen die einde van 2014 het dit gegroei tot meer as R4,6 miljard.

Volgens die Instituut vir Sekerheidstudies is koperdiefstal ‘n groot uitdaging vir Eskom se kragnetwerk, wat bestaan uit 395 419 km oorhoofse lyne, 11 018 km se ondergrondse kabels en 351 297 geïnstalleerde transformators. Volgens die voormalige minister van polisie, Nathi Mthethwa, kos kabeldiefstal Suid-Afrika ongeveer R5 miljard per jaar. ʼn Onafhanklike stelsel en mark-operateur mag moontlik in die toekoms verligting bring vir die nasionale netwerk en elektrisiteitsverspreidingsprobleme.

  • Plaaslike en provinsiale regering

Die Ouditeur-Generaal se verslag, wat op 15 Februarie 2014 bekend gestel is, het bevind nie een van die munisipaliteite in Limpopo, die Vrystaat, die Oos-Kaap, Noordwes kon daarin slaag om ‘n skoon oudit te ontvang nie.

  • Onderwys

Pres. Zuma het beoog om die aantal matriekstudente wat met universiteitstoelating hul matriek slaag, teen 2014 tot 175 000 per jaar te verhoog. Volgens ʼn berig in Business Day op 7 Januarie 2015 het slegs 150 752 (of 28,3%) van die meer as 680 000 leerlinge wat die 2014 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen afgelê het, vir universiteitstoelating gekwalifiseer. Volgens die Mail & Gaurdian het die ANC beloof om 1 000 nuwe skole te bou, maar tussen April en Desember 2014 is daar slegs 89 skole gebou.

  • Misdaad en korrupsie

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) speel ʼn belangrike rol in die bekamping van kriminele aktiwiteite en die vervolging van misdadigers. Drie aanklaer-base in ‘n ry kon nie hul termyn voltooi nie, insluitend Bulelani Ngcuka, Vusi Pikoli en Menzi Simelane. Dit wil voorkom of die ANC oorsigtelike instellings wil kaap om sy eie interne dispute te ontlont.  Die skorsing van dié hoofde impliseer die disfunksionele aard van die NVG. ʼn Totaal van 16 259 moorde in die tydperk van Maart 2012 tot April 2013, sowel as ‘n toename van 5% in moordsake in 2014, maak dat mense vertroue verloor in misdaadbekampingsinstellings.

AfriForum se voorstelle vir die 2015-staatsrede:

  • Hoewel die staat vir homself ʼn al groter rol in die samelewing toe-eien, soos blyk uit die doelwitte in die Mediumtermyn Strategiese Raamwerk (MTSR, 2009-2014), is dit in werklikheid die staat wat dikwels juis in die pad daarvan staan dat prysenswaardige doelwitte bereik word, aangesien die staat nie die ruimte of fondse laat vir andere om met beter planne dié doelwitte te bereik nie.
  • In die 2012-staatsrede het pres. Zuma beklemtoon “ons is daarop gefokus om ons land se kulturele erfenis te bewaar en te beskerm, met spesifieke klem op ons bevrydingserfenis”. Die staatsredes van 2009 tot 2014 maak egter geen sprake van minderhede nie.
  • Die staatsredes van 2009 tot 2014 verwys voortdurend na landbou en grondhervorming as middele vir werkskepping, maar versuim om landelike veiligheid sowel as ʼn realistiese strategie vir grondhervorming in ag te neem. Verskeie kenners meen gegewe die huidige hoëprofiel-debat met betrekking tot grondhervorming, ʼn legitieme en ordelike grondherstelproses moet plaasvind vir individue wat hul eiendomsreg in die verlede verloor het, maar op so ʼn wyse dat bestaande eienaars nie hul regte verloor nie.

Bronne:

  • 2013 Suid-Afrikaanse Versoeningsbarometer
  • Instituut vir Rasseverhoudinge
  • Instituut van Sekerheidstudies
  • Mediabronne
  • SAPD-jaarverslag
  • Statistiek Suid-Afrika
  • Staatsrede van 2009 tot 2014
  • Regeringswebwerwe

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Wilma Venter ·

Carel, die vraag is nie, Wat skryf hy daar nie…die vraag is OF hy kan skryf! Onthou, hy’t NET Std 5geslaag en groot getalle, veral die in die miljoene, KAN hy nie uitspreek nie! Red nou i VOLK….!!!!

Swanna ·

Het hy regtig Std 5 geslag. Het hy nie dit gekry vir goeie gedrag en 100% bywooning nie. Ek het verstaan hy het net Std 1 gehaal.

Peter ·

Wilma Venter en Swanna. Julle is die rede hoekom ons as volk so swaar kry in die land van ons. Ek as Afrikaner kry skaam.

PJ ·

Ek wil net vir Peter vertel dis oor al die onbevoegde kaders dat die land sit waar hy is.
Zuma is die hoof voorbeeld van swak bestuur ens…. Word wakker Peter en kry skaam
vir jou self omdat jy nie weet wat aangaan nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.