Privaat skole moet regte skole wees

onderwys

Foto: pixabay.com

Deur Leonard van der Dussen

Die opsie van privaat skole is met nuwe momentum in mense se gedagtes ná die konstitusionele hofuitspraak van 20 Mei 2016 wat die magte van beheerrade effektief wegneem en die onderwysdepartement en die Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir onderwys in beheer stel van toelating van leerlinge en besluite oor openbare skole se aanwending. Daar word in kommentaarkolomme op die internet verskeie uitroepe vir Afrikaanse privaat skole gemaak.

Dit is veral die (gegronde) vrees dat Afrikaanse skole na ver-Engelsing en weg van die tipiese Christelike karakter gedwing gaan word, wat ‘n nuwe bewustheid laat opvlam dat eie besit eie beheer van skole beteken en nodiger geword het: daarom die oproep vir privaat skole. Selfs uit Fedsasgeledere word nou erken dat die huidige werkswyse met bykans selfbestuurde openbare skole nie veilig is nie, waar Melanie Buys in haar artikel, “Die pad na finansiële selfstandigheid vir skole” (Maroela Media) nuttige aanwysers gee hoe fondse en bates vanuit die gemeenskap by staatskole van die regering weggehou kan word ter voorbereiding van privatisering.

Daar is bestaande gelukkig al heelwat ervaring van Afrikaanse privaat skole, onafhanklik soos byvoorbeeld in Centurion en Sandton voorkom, en binne sambreelorganisasies, soos die CVO-skole in die Beweging vir Christelik-volkseie Onderwys (BCVO) en die Instituut vir Christelike Onderwys (ICO). Hierdie ervaring wys dat daar perke is met wat vermag kan word op kerkterreine vir skoolwees, en dat semi-vrywilliger onderwyserskorps wat dikwels met goeie maar verouderde vaardighede kom en nie die volle tempo van moderne skoolwees kan aandryf vir die kind van vandag  en sy toekoms nie, nie volhoubare oplossings bied nie.

Daar moet op hierdie goedbedoelde maar verswakkende faktore verwys word omdat daar spesifiek in byvoorbeeld kommentare op artikels op Maroela Media emosionele oproepe is om sodanige fasiliteite en benaderings in te span om vir Afrikaanse kinders privaat onderwys te kan gee.

Dis tyd om standpunt in te neem oor wat ‘n skool in die 21ste eeu is en te keer dat sentiment en vryheidsdrang nie ‘n soort Afrikaanse weergawe van “no education before liberation” meebring nie. Ons het reeds gedeeltes van twee geslagte verloor deur aan die humanistiese staatsonderwys toegewings te maak, en kan nie bekostig om nog ‘n geslag akademies te verloor nie. Ons moet geestelik, kultureel én akademies sterk wees; en voeg daarby dat die vermoë vir openbare kommunikasie en bemeestering van die inligtingsvloede ‘n kind se selfvertroue en uiteindelik sy vermoë om in die werksplek regop te staan, kan maak of breek. Hy het ‘n voller skoolomgewing nodig as wat in vorige eeue nodig was.

Die vorige bestel (voor 1994) se onderwysbedeling het sterk skole en stewige onderwys opgebou, en dit is in heelwat van die skole later deur ouergemeenskappe saam met bekwame onderwysers en hoofde en beheerrade verder uitgebou. Die eerste stap om by ‘n gesonde privaatskoolbegrip uit te kom, is om te erken dat ten spyte van besware teen openbare skole van regeringskurrikulum departementele inmenging, van hierdie skole tot nou toe binne daardie beperkinge ‘n hoë standaard gestel en goeie diens gelewer het.

Aan die ander kant moet besef word dat ‘n groot skool met volle fasiliteite oor baie jare opgebou word, en ‘n privaat skool wat in sy beginjare is, op beide bestaande fasiliteite én potensiaal beoordeel moet word. Die skole kan nie ontwikkel sonder leerlinge, personeel en ‘n ouerkorps nie en moet in werking kom en uitgebou word. Daar moet egter ‘n plan vir die uitvoering van die potensiaal wees, en ‘n minimumvlak van fasiliteite en aanbieding wees.

Die skool in die 21ste eeu kan nie teruggryp na vorige tye nie: die 21ste eeuse skool moet leerling vir ‘n geglobaliseerde, inligtingsbarstende en voortdurend veranderende leefwêreld oplei en die werklikheid van die moderne gemeenskap bedien waar die skool dikwels ‘n sentrale rol in die gesinslewe speel, en deels as verlenging van die huishouding gebruik word waar beide ouers werk, en die harde werklikheid van groter getalle enkelouergesinne as voorheen.

Stedelike en plattelandse skole se aard, behoeftes en beklemtonings sal verskil. Daar is egter deurslaggewende kenmerke wat in die moderne skool moet wees:

  • Klaskamers met voldoende ruimte, kragpunte, witborde, skerms en internet
  • Sportgeriewe
  • Musiek-en-drama-ruimtes
  • Personeelkamer wat onderwysers erken as professionele personeel
  • Administratiewe ruimtes en dokumentasiestoorruimte
  • Inligtingstelsels
  • Waardige ablusies
  • Saal of minstens ekwivalent vir samekomste
  • Store

By al bogenoemde moet met die frase, “en die wil om dit te gebruik”, versterk word.

Vir junior grade is voldoende speelplek ook belangrik: daar is tans ‘n welkome herontdekking van die waarde van speel as deel van die leerproses en dinge soos motoriese ontwikkeling aan die gang.

Die hedendaagse skool se ingesteldheid en verstaan van tegnologie moet beoordeel word: tegnologie is vandag in die klaskamer en nie meer in ‘n “rekenaarsentrum” daar eenkant nie. Die skool se werkswyses moet tegnologie in die klaskamer as normaliteit insluit. Dit sal verskil van junior fases waar dit min aangewend word, tot in die hoërskool waar dit normale leefwyse moet wees om gereed te maak vir verdere studie en die werkplek. Tegnologie in die klaskamer is ook die rede hoekom klasse van meer elektriese punte voorsien moet wees.

Om ‘n skool te hê, wat Christelik en Afrikaans is, is goed; maar mens kan op baie plekke en maniere Christelik en Afrikaans wees: die skool moet reg wees om uitnemendheid aan te bied en relevant te wees vir sy tyd. ‘n Skool se primêre taak is onderrig en opleiding, terwyl dit ook die volle ervaring van skoolwees moet aanbied. ‘n Leerling moet nie net kan sê hy ontvang akademiese opleiding op die regte grondslag nie, maar veral dat hy uitstekende akademiese opleiding ontvang, en daarby ook trots kan wees op sy skool en in persoonlike openbare optrede en die waarde van spanwerk geskool word. Die implisiete kurrikulum moet saam met die formele kurrikulum gelewer word. Akademie, sport en kultuur moet ingesluit wees en die fasiliteite daarvoor beskikbaar wees.

‘n Skool moet sy gemeenskap en elke leerling se selfvertroue help bou. As dit ‘n Afrikanerdoelwit is om eie skole te hê, moet die skole die doel dien van opbou na ‘n toekoms toe en onderwys lewer wat uitnemendheid aanbied en dit ‘n leefwyse maak.

Dit verg kapitaal. En dis hier waar dinge vir Christelike Afrikaanse privaat skole vashaak: die gebrek aan waagmoed en vermoë om kapitaal te versamel en aan te wend om iets op te bou wat self momentum kry. Die Afrikaner sal ‘n wilsbesluit moet neem of hy ernstig oor sy skoolwese, en of hy maar voortgaan om baie te praat oor eie skole, terwyl elkeen se persoonlike finansiële sekuriteit en jaarlikse vakansie steeds gaan voorkeur kry bo die toekomsbelang. Dit gaan egter ook hier verby: die geslag wat sy opleiding en vermoë nog in die vorige bedeling  gekry het, het ‘n plig doen teenoor die toekoms en die kinders van vandag wat ‘n toekoms moet hê.

Emosionele oproepe vir Afrikaans en kultuureie skole, en Christelike skole, is maklik. Dit kan egter nie van die kinders verwag word om die spit te moet afbyt van swakkerige skoolgeriewe en personeel nie: die skole moet ordentlik befonds word; die geld moet gesit word waar die sentiment is en huidige geslag grootmense moet verantwoordelikheid neem en vir die kinders toekomsgedrewe fasiliteite daarstel.

Leonard van der Dussen is die besturende direkteur van Indicato Inligting (Edms.) Bpk ­ en van sy filiaal, Raslouw Onderwys (Edms.) Bpk wat Laerskool Raslouw en Hoërskool Raslouw  in Centurion bedryf. Sy gedagtes oor onderwys word op www.saonderwys.wordpress.com gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

19 Kommentare

Nico K ·

Dit is interesant die mening dat privaat skole verkieslik groot skole moet wees. En dit is so dat klein privaat skooltjies dit in baie gevalle nie maak nie. Meer mense voel blykbaar so. Getalle lok op die ou end getalle. Maar al hoe meer kinders neem tuisskool wat presies die teenoorgestelde is. Ek persoonlik sit liewers my kinders in ‘n klein privaat skool as tuisskool. En sport, musiek, ens. kan altyd op ander plekke beoefen word. Daar is genoeg sportklubs, en privaat musiek en drama skole.

Pieter ·

Die wit olifant in die kamer bly natuurlik die kwessie van die dubbele belasting wat Afrikaners in effek moet betaal. Die langtermyn feit van die saak is dat Afrikaners sal verarm indien hulle gaan aanhou om belasting te betaal aan die RSA-regering en dan hul privaatfondse wat oorbly moet gebruik vir dit waarvoor belasting eintlik aangewend moes word.

Voordat ons nie hierdie kwessie effektief kan aanspreek nie het ons nie ‘n langtermynoplossing nie. Dit gaan ons oorlewing nie help nie dat daar ‘n klein groepie “Afrikaner-Elite” is wat kan bekostig om hul kinders in privaatskole te plaas terwyl die res van ons nie kan bekostig om ons kinders ‘n Afrikaanse opvoeding te gee nie.

Verder is dit ook ‘n mors van Afrikaners se geld indien ons privaat Afrikaanse skole en universiteite oprig en dan word daar net ‘n nuwe wet goedgekeur wat die regering in staat stel om ook hierdie instellings te forseer om hul taalbeleid aan te pas. Watter waarborg het ons werklik dat die meerderheidregering nie hul tentakels ook in privaatinstansies sal inwurm nie? Solank as wat ons nie onafhanklik is nie, is ons uitgelewer aan die meerderheid wat nooit sal ophou om te vat wat ons opbou nie. Dit is die realiteit van die saak en dit is waar ons fokus behoort te wees – onafhanklikheid.

Leendert van Oostrum ·

Afrikaners wat die buitensporige skoolfondse by kwintiel 5-skole betaal word in elke geval dubbel belas.

Ouers betaal by baie van daardie skole meer as by privaatskole in dieselfde omgewing.

Basson ·

Fensie infrastuktuur waarborg NIE ‘n uitnemende onderrrig uitkoms nie. Inteendeel word baie geld hierop verspil vir die ‘image’.

Leendert van Oostrum ·

Ek sal graag die navorsing wil sien op grond waarvan die uitsprake in hierdie artikel gemaak word. Ek self kon nog nooit enige bewys vind dat, kinders meer of beter leer as hulle meer kry as ‘n minimale infrastruktuur nie (warm, droë plekke met die nodige boeke en ‘n volwassene wat goeie verhoudinge met elke leerling handhaaf). Ek sien gee gronde om te glo dat meer geld meer leer tot gevolg het nie.

Wat ek hierbo sien is maar net verbeeldingsvlugte wat niks verder kom as die negentiende-eeuse onderwysparadigmas nie.

(En, is behoorlike Afrikaans nie “privaatskool” of “private skool”i.p.v. die engelse skryfkonvensie van “privaat skool” nie? – daar is verskeie voorbeelde hiervan in die artikel ook.)

Loeis ·

Die skrywer is reg dat die houding rondom eie skole een van uitnemende onderwys moet wees.
Om uitnemende onderwys te kan bied, kos baie geld, en mens wil graag hê dat jou matriek sertifikaat aan die departement van onderwys se vereistes voldoen, maar ook internasionaal erken moet word, terwyl eie waardes gehandhaaf word.
Ekself het ‘n meestersgraad in sielkunde by UNISA verwerf en was voorheen by die HPCSA en die (On)professionale Raad vir Sielkunde geregistreer. Die Australian Psychological Association het ‘n my kwalifikasies nagegaan en bevind dat UNISA se graag nie gelykstaande aan internasionale standaarde is nie.
2) Lesufi (as ek reg onthou) het reeds gesê dat hy wil wegdoen met privaat skole. Wat hy eintlik sê is dat hy mense deur sy sisteem wil dwing – jy het geen sê daarin nie. Ons beweeg met ‘n spoed na ‘n kommunistiese stelsel waar die staat absolute mag het. En in die geval van onderwys, die staat se mag om kinders in die denkwyse (en taal) te skool waarin die regering hulle wil hê. ‘n Beheer oor mense se denke is natuurlik die hoogste vorm van regeringsmag en kom naby aan slawerny (van denke en gevolglik gedrag).

Nie ‘n mooi situasie nie, waar wat kan mens daaraan doen?

Vir die DA ondersteuners hier, met verwysing na die versoek om voorstelle: julle party het 24% setels in die parlement – van wen is daar nie sprake nie, dink tog asseblief.

Oupa ·

Te veel Christelike Afrikaanse skole het te veel geld.. Te veel beheerliggaamlede is daar net vir die besigheidsaspek van die bestuur van daardie fondse en trusts. Te veel onderwysers word dan by daardie besigheidsaspekte betrek tot nadeel van die onderwys.
Ek het baie skolein die KZN platteland gesien en in daardie arm gemeenskappe word met feitlik niks wondere verrig, maar daardie kinders gaan dit nie maak nie. Skuld gee gaan probleme nie oplos nie, dit is realiteit. Twee moet aangespreek word. Die prag en praal wat tot swak onderrig aanleiding kan gee en daardie wonderwerke wat in landelike skole kan gebeur met meer geld.
n strategie is privaatskole in die welvarende gemeenskappe wat meer ja… belastinggeld en infrastruktuur (ou afrikaanse skole) sal “losmaak” om die ander helfte van die bevolking op te hef. So help die uiteenlopende pole mekaar.
Moenie se: die regering steel en bedrieg net…ons hoor dit knaend en weet dit al. Wat aan onderwys en werkskepping gedoen moet word, word deur daardie weerlig weggelei.
Onthou ook asseblief die vlak van onregverdige mededinging in terme van bv restaurante: Daar is geen erfbelasting, btw ens nie. Beperkte aanwending van die wins ja,
Ongelukkig nie n aanduidende hoe vlak oplossing vir daardie werklike Christelike Afrikaanse skole wat nie oor die miljoene beskik nie en wat uitgelewer is aan hierdie LUR en sy opdraggewers en motiveerders. Hoplelik sal hy hulle uitlos wat daar is min wat hy kan gryp

Leeukop ·

Privaatskole hoef gladnie meer te kos as staatsskole nie. Met n matige bedrag kan wondere verrig word as daar n wil, inisiatief en goeie bestuur is.

John ·

Dit is ‘n idealistiese artikel. In ‘n homogene land sou dit dalk van toepassing kon wees, maar hier sal die droom nooit werklikheid word nie. Engels, onbevoegde onderwysers, misdrywe, swak skoolgeboue en infrastruktuur, swak prestasie, stakings en beskadiging van eiendom, verwaterde leerplanne, benadeling van wit kinders op grond van die sg agtergeblewe konsep en die afdwing van liberale new age-idees sal skole in die toekoms kenmerk. Handevat en saambou is ‘n droom wat nooit op die’ planeet sal gebeur nie. Miskien die’ dat almal haastig planne maak vir ‘n nuwe bestaan op Mars.

Leendert van Oostrum ·

Skrywer verwys na:

“die moderne gemeenskap bedien waar die skool dikwels ‘n sentrale rol in die gesinslewe speel, en deels as verlenging van die huishouding gebruik word waar beide ouers werk, en die harde werklikheid van groter getalle enkelouergesinne as voorheen.”

Dit is waar dat skole in die afgelope dekades tot die punt gekom het waar hulle die gesinslewe verdring. Skole bepaal nie net hoe die gesin sy vrye tyd saans en oor naweke deurbring met skooltake nie, maar die gesin woonplek, hul vakansietyd en amper elke ander aspek van die daaglikse lewe.

Daar is egter ‘n skreinende ironie in die opmerking “…deels as verlenging van die huishouding gebruik word waar beide ouers werk, en die harde werklikheid van groter getalle enkelouergesinne as voorheen.”

Anders gestel: ‘n hooffunksie van skole is (uiters duur) dagsorgsentrums vir kinders van werkende ouers!

(Dit was inderdaad een van die oorspronklike funksies van die 19de-eeuse skool – om die kinders van fabriekswerkers van die strate af te hou. Vandaar word gepraat van die “warehousing function” van die skool – om kinders opgesluit te hou sodat hul ouers kan gaan werk.)

Die ironie lêdaarin dat ons juis in ‘n tyd leef waar al meer mense tuis werk. Die fabrieksera maak toenemend plek vir die inligtingsera. Dis net die skool wat nog nie sedert die 19de eeu beduidend verander het nie.

As Afrikaners nie die skool en sy funksies radikaal herbedink nie gaan sy plek in die 21ste eeu deur ander ingeneem word.

M A ·

Ek is Afrikaans maar is uitsluitlik in Engels opgevoed. Dit het nie my kultuur of taal skade aagedoen nie. Inteendeel, ek is uiters goed aangepas om te oorleef in die moderne wêreld. Afrikaans sal nie doodgaan as dit nie ‘n onderrigtaal is nie. Hoeveel swart kinders word in hulle moedertaal onderrig? Afrikaners moet leer om aan te pas by die omstandigehede in plaas van altyd hulle eie ou groepie te wil vorm.

Leendert van Oostrum ·

Hmmmmm…….. Ek onthou ‘n referaat wat Sue Starfield van Wits jarre gelede al gelewer het.

Daarin rapporteer sy dat sy bevind het dat die grootste enkele rede vir die swak prestasie van swart studente was dat hulle in Engels skoolgegaan het in plaas van hul moedertale. Die effek was skynbaar die sterkste in Wiskunde en Natuurwetenskappe.

Disselboom ·

Die verskyning van hierdie artikel op Republiekdag is nogal gepas. Dit was op 31 Mei 1961 wat dat Suid-Afrika ‘n republiek buite die gemenebes (los van die Statebond) geword. Vry van die Britse kroon. Iets wat deur baie as ‘n ramp in wording beskou is – ondenkbaar om jou eie pad te gaan buite die “voordele” van die Statebond. Wel, die res is geskiedenis, soos hulle sê.

Disselboom hoor van oueres watter grootse oomblik dit middernag 30/31 Mei 1961 op Kerkplein was, die feesvieringe van hoë gehalte, besondere orde en staatkundige trots. En daarna die 1966 vyfjarige herdenking, toe die wêreld moes toekyk hoe moderne vegvliegtuie oorswiep, militêre presiesheid wapentuig vertoon het, en fees op fees gehou is meer eer, waardigheid en nodige volkstrots. En so kan ons aangaan oor ‘n land wat ekonomies kragtig vooruitgegaan het, buite die “magtige” Statebond. Uitnemendheid was mode.

‘n Oproep soos hierbo tot uitnemendheid en kop optel en ons trots weer te bou en nie maar net met die basiese tevrede te wees nie, kom op die regte datum daarvoor.

John ·

M A jy verdraai die spulletjie. Die ANC/EFF wil Afrikaans en witmense uitfaseer. As Afrikaanssprekende is Afrikaans in jou skooldae wel in Engelse skole as vak aangebied. Die aanval is nou teen alle blankes gerig en die oorwig gaan die skaal totaal laat swaai op alle gebiede. Die Afrikaners wil nie laer trek nie, hulle word daartoe gedwing.

vermeende ·

Die skrywer van die artiekel stel voor dat geld alleen die andwoord is tot goeie onderug, dit is beslis nie die geval nie. Top presteerders kom elke jaar uit all model skole.
Die andwoord vir my is n bekostigbare program soortgelyk aan tuis onderug via die internet maar in klas verband waar die kind deur middel van n rekenaar leer met n onderwyser wat help waar n kind nie sou verstaan nie.

So mooi soos dit ookal klink. Die Afrikaans spreukende blanke is nie meer die top verdiener in die land nie en kan dit nie bekostig om mega skole te bou nie. Daar sal na meer bekostigbare oplossings gesoek moet word om die arm blanke kind uit die wit plakkerskamp ook in tesluit.

Johan Voigt ·

My seun was nou al 4 jr in privaat skole vandat ons terugggekom het van oorsee af, ons het hom nou in gewone skool gesit want privaat skole is net daar om geld te maak en gee nie om vir wat goed is vir die leerling nie, hy was in King College in Douglasdale en hulle het nie eers IT gehad as fak vir graad 10, ons het toe aansoek gedoen by ander skool en was op waglys, toe ons einteinlik plek kry en kennis gee, penaliseer King College ons met 3 maande skoolfooi, dit is extra na die maandelikse fooi, daar is ‘n waglys by King College so dit gaan direk as wins vir die skool, ons het met hoof, Mr Pilkington gaan praat en hy wil niks weet nie, hy is so onproffesineel en is net agter sy bonus aan, moet nooit jou kind in daai skool sit nie, hulle adverteer ook hulle is ‘n Chisten skool, ya right

Hendrik ·

Op die kort termyn moet ons die huidige indringing wat deur Lusufi aangevoer word net weerstaan. Die opvoeding van ons kinders is belangrik en hulle opvoeding moet nie ontwrig word nie. Kom ons neem ‘n ander benadering en gebruik die industriee, wat so graag BEE, om nuwe skole te bou vir die swart engelse kinders. DIe industree kan dan ook sorg dat die onderwysers die regte gehalte is en dat die regte onderwysers aangestel word sonder SADOU se inmenging. Ons doen ‘n beroep aan die Sekwali’s en die ander veryktes om hulle swart kinders te help. Ons vra tot ZCC se base , wat met Rolls rondry om skole te borg en te befonds. Is dit nie nou tyd vir die swart diamante om hulle skole te befonds nie?

Patrys ·

Vir al die beswaardes wil ek net sê julle moet by die Afrikaanssprekendes in Namibië gaan kersopsteek! Hulle het ongelooflike waagmoed aan die dag gelê om Afrkaanse privaatskole te begin. Gaan kyk waar staan hulle vandag! Julle monde sal oophang. En wat meer is, hulle is steeds besig om te groei en is vry van staatsinmenging!
Gaan leer by hulle!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.