Private Afrikaanse universiteite: Wat lê voor?

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Deur dr. Morné Diedericks

Visioenêr is daar in die land ʼn paar jaar gelede nuwe Afrikaanse hoëronderwysinstellings tot stand gebring. Ons verwys spesifiek na Aros, Akademia en die AP Akademie. Vinnig het hierdie instellings besef dat universiteite nie in ʼn dag opgebou word nie, tog het hul aanbod oor die afgelope paar jaar stadig maar seker gegroei. Dalk te stadig as ons dit vergelyk met die spoed waarteen die ou Afrikaanse universiteite hul aanbod vir Afrikaanse opleiding verloor het.

Die groot groei in studentegetalle wat die onderskeie private Afrikaanse universiteite asook die NWU die afgelope paar jaar beleef het, dui daarop dat die vraag na Afrikaanse hoëronderwys steeds groot is. Die gevaar is natuurlik dat die vraag groot is, maar die aanbod klein. Met ander woorde dat studente graag in Afrikaans wil studeer, maar dat daar nie genoeg programme in Afrikaans is om in te studeer nie.

Die vraag na Afrikaanse hoëronderwys is groot, ten spyte van al die argumente dat studente eerder in Engels moet studeer, omdat die werkplek in sommige gevalle Engels is. Die waarde van moedertaalonderrig en die voordele daarvan is al in talle gesprekke en artikels deurgetrap. ʼn Baie groot groep Afrikaanssprekendes besef die waarde van moedertaalonderrig, maar daarmee saam ook die waarde van ʼn Afrikaanse universiteit, met sy veilige omgewing, goed georganiseerde administrasie asook so ʼn Afrikaanse universiteit se invloed in die uitbouing van die Afrikaanse taal en kultuur.

Die Afrikaanse gemeenskap het nie ʼn tekort in kennis aangaande universiteitswese nie. Dwarsdeur die land is daar kundige Afrikaanse akademici wat ʼn liefde het vir Afrikaans en die behoud van Afrikaans op tersiêre vlak. Kennis aangaande die stigting van ʼn universiteit en die opbou van ʼn universiteit vanaf die eerste baksteen, was egter gebrekkig en hierdie kennis het gelê in die argiewe. Hierdie kennis moes eers weer opgediep, afgestof en herverpak word vir die 21ste eeu. Ek is van mening dat die fondasie vir die uitbouing van die onderskeie private hoëronderwysinstellings nou eers gelê is en dat vinnige groei verder moontlik is.

Wat lê voor die vir huidige Afrikaanse universiteite? Ek lig die volgende sewe punte uit:

  1. Behou soveel as moontlik die aanbod van die huidige Afrikaanse programme by die ou Afrikaanse universiteite.
  2. Private Afrikaanse universiteite moet met hulp vanuit die Afrikaanse gemeenskap so spoedig moontlik die aanbod vir Afrikaanse programme verhoog.
  3. Afrikaanse akademici sal moet inklim en help, hetsy advies, kritiese insette of selfs aanklop vir poste by die onderskeie instellings.
  4. Kampusontwikkeling is ʼn groot uitdaging vir al hierdie private instellings. Staatsfondse is nie ʼn opsie nie en gevolglik sal hierdie instellings met gemeenskapsgeld gebou moet word.
  5. Internasionale kontakte sal opgebou moet word sodat die instellings werklik wêreldklas kan wees.
  6. Samewerking tussen die onderskeie Afrikaanse private instellings is van kardinale belang.
  7. Ondersteuning deur Afrikaanse ouers. Ouers moet dus hulle kinders aanmoedig om in Afrikaans te studeer.

Daar kom ʼn punt dat ons die dinge moet agterlaat wat ons verloor het en moet let op dít wat ons het. Die Afrikaanse gemeenskap het nog so baie kennis en hulpbronne. Goeie samewerking en ondersteuning kan bydra tot die uitbouing van nuwe universiteite wat vergelyk met wêreldklas universiteite.

  • Diedericks is die akademiese operasionele bestuurder by Aros.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

25 Kommentare

John ·

Ons moet oppas vir Afrikaans as wapen want gou sal daar diegene wees wat sake wil (help) bestuur vanuit die oogpunt van eie belang wat steun op die geykte barmhartige-samaritaan-konsep. In ‘n bedreigende tydvak is mense geneig om alle hande wat vriendelik lyk aan te gryp in die geloof dat dit verligting sal bring. Afrikaans sal uitsterf as Afrikaners nie meer die kuns(mis) toedien nie. Te veel suiker, sout en peper, verniel die dis al het al drie goeie waardes. Ras en taal is nou verwant in sy suiwerste vorm of mens dit wil glo of nie. Daar is feite soos koeie of ons melk drink of nie.

Basson ·

Hoekom moet ons belasting teen ons aangewend word? (Vir befondsing van instellings waar ons nie welkom is / nie toelating kan kry)
Ek dink ons moet ‘n aksie loods om ‘n sekere % terug te kry vir spandering aan ‘eie sake’, bv vir instellings soos bo genoem.

Eish ·

Baie goeie artikel wat die skerp draaie met konkrete, werkbare voorstelle aanspreek. Om die waarheid te sê ek kan my totaal daarmee vereenselwig. Ook die naelstringsny van die agterlaat van wat ons verloor het. Goeie artikel, mensig!

Hendrik ·

Hoe kan ek help? 23 Jaar ondervinding in besigheidswêreld, twee grade, ek wil graag my mense help bemagtig.

piper ·

aandie instansies word opgebou sonder hulp van die regering. die dag wanneer hulle hoog aangespreek word en wereldwyd erken word gaan daar eise kom van mense wat gratis wil studeer en dit moet plaasvind in engels. ek daag daardie groepe om sonder staatshulp so n projek op die been te bring en dit kan maar in engels plaasvind.

Elizabeth ·

Daar is TALLE afgetrede Afrikaanse dosente wat MOET werk, omdat universiteite se pensioen sodanig is dat dit pensioenarisse armlastig laat. Neem hierdie mense in diens vir driekwart van hulle vorige salaris (selfs minder as e-onderrig ‘n opsie is) en julle het die beste kundigheid in die land in ‘n japtrap.

Loeis ·

Ek wil graag iets uitlig: Akkreditasie, dws of grade binnelands en elders erken word.

Talle kwalifikasies word by spesifieke instansies geakkrediteer. Indien daardie instansies sou belsuit dat opleidingsinstansies soos akademia te “wit en te Afrikaans is”, soos wat onlangs met koshuise by die Universiteit van Pretoria gebeur het, en hulle, gebasseer daarop besluit om nie kwalifikasies vanaf hierdie private instansies te akkrediteer nie, dan beteken jou kwalifikasie niks. Die skrywer wys in punt 5 hierbo na internasionale standaarde, maar internasionale erkenning berus op akkreditasie in die land waar mens jou graad gekry het. Ek praat hier uit persoonlike ervaring nadat ek self ‘n bitter onaangename ervaring (van absolute onbevoegdheid) met die Health Professions Council of South Africa gehad het.

Dan is daar ook die ‘National Qualifications Framework’. ‘n Goeie ding, maar kan mens waarborg dat die spulletjie nie in die gees van ‘transformation’ tene mens gaan diskrimineer nie?

Theresa ·

Behoede ons (en die mensdom) dat al die sameswering teen Afrikaans en Afrikaners nie die vooruitgang van ons in en vir ons toekoms impak MAG hê nie. Daar behoort nou al regsaspekte in plek te kom om sulke snert te voorkom.
Met al die jaloesie en nyd in hierdie land teenoor sekere groepe, behoort daar daadwerklik dinge in plek gestel te word om te keer dat mens aan bande gelê word om te vorder.

AFRIKANER ·

Wat ek nooit kan verstaan oor AFrikaans nie is die haat wat almal jeens AFrikaans het. Selfs Afrikaners stuur hulle kinders Engelse skole toe. AFrikaners is heeltemal genee met die feit dat AFrikaans by Universiteite en ook nou by skole weggeneem word . hier en daar hoor jy ‘n oeh en ah en dan aanvaar hulle dit maar ook gelate. TWEEDENS wat ek nooit sal verstaan nie is dat ANDERSTALIGES altyd wil inmeng waar Afrikaners iets op hulle eie doen. ALLE AFrikaanse taalfeeste is nou vernietig en geintegreer .. en moenie se dit gaan oor RAS nie, dit gaan oor kultuurerfenis en JOU TAAL en om met mense van JOU taal om te gaan. Hoekom word die AFrikaanse koshuis op TUKS so aangeval? Dit is ‘n PRIVAAT KOSHUIS wat nie deur die staat of universiteit befonds nie, hoekom wil ENGELSE kinders en ZOELOE kinders nou daar ingaan? ALLE TUKS KOSHUISE is oop vir zoeloe.sotho.xhosa.swazi en engelse kinders .. daar is EEN koshuis wat met EIE geld gekoop is, HOEKOM WIL julle wat nie daar pas nie daar ingaan? Dis nou apartheid en rassisme?? HOEKOM wil EK dan nie MY kind in ‘n ZOELOE skool sit of in ‘n ZOELOE koshuis nie? Toe kom nou asb .. hoekom wil ek hulle nie verander of my kind daar gaan inboender nie? Hoekom gaan ek nie hof toe dat hulle ook AFrikaans moet aanbied nie?? BELAGLIK man . en almal aanvaar dit maar net gelate!

JC ·

Middag Mede-Afrikaner, ek kan jou gegriefdheid en ontnugtering jeens hierdie hele jammerlike sage GOED verstaan, en verseker jou van my medelye.

Ek verseker jou ook egter; hierdie toedrag van sake SAL NIE gelate aanvaar word deur BEHOUDENDE Afrikaners nie (d.w.s. die meerderheid van ons boere-volkie) . ONS HET GENOEG GEHAD! Regoor Suid-Afrika praat ons mense en gemeenskappe hieroor, en beraam ons planne-“En hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef, die lied van ‘n volk se ontwaking, wat harte laat sidder en beef.”

Hierdie einste artikel is juis bewyse daarvan dat ons besig is om planne te smee en uit te voer, en inderdaad, jou wrintiewaar- eendrag maak mag/Eendracht maakt macht/L’union fait la force- het ons nou begin besef. Eenvoudig, ne?

Afrikaans Leef !

jaco ·

drank, pret en plesier vier hoogty by baie van hierdie Afrikaanse feeste. Daar word ook gereeld toneelstukke opgevoer vol vloekwoorde en Godslastering.
As dit is hoe Afrikaanse taalfeeste lyk, is die afskaffing daarvan nie juis ‘n kulturele verlies nie.

Leonard van der Dussen ·

Dis ‘n struikelblok dat staatsakkreditasie van opleiding so gedweë aanvaar word. Maatstawwe en beoordeling is goed en reg, maar die staat het nie die reg om akkreditasie uit te oefen nie: dit behoort ‘n markaanvaarding te wees – die industrie moet agterkom dat mense wat by XYZ Akademie gestudeer het, waardevolle werk lewer, kundig en vaardig is. Dit neem natuurlik tyd om dit te vestig: ‘n parallelle benadering is dus nodig, waar daar instansies aan die loop gehou word wat nou maar die staatsjuk vir die oomblik verdra, maar terselfdertyd moet daar NOU begin word met ware vrye universiteite en ander opleidingsinstansies.

Disselboom ·

Hoekom moet of wil ons in Afrikaans studeer? As daar eerlik ontleed word, is die vraag nog nie regtig geantwoord nie. Die moedertaal-argument word nadergehark, maar hoe gevorderder die studie, hoe minder relevant word dit. As daar nie meer in Afrikaans besigheid gedoen word en bestuur word nie, hoekom dan in Afrikaans studeer? Die emosionele argumente is baie, maar sonder ‘n volk wat volk wil wees en Afrikaans in murg en been en orals wil leef, is Afrikaanse universiteitstudie bv nie juis so logies as wat dit dalk klink nie.

Pierre ·

Is Afrikaans dan nie ons moedertaal nie?
Het Indiese mense dan hulle eie taal, Swede, Japan, China ensovoorts.
Afrikaanse taal en kultuur het ons oor baie jare gebou, hoekom dit vir engels, of dit meng met enige ander taal?
Ek is trots op ons taal, ook so met my godsdiens en besigheid.
Sal ek in afrikaans onderig wil word – ja!
Engels leer as 2de taal – ja!

Leonard van der Dussen ·

Suid-Afrikaanse wetgewing en wurggreep op formele opleiding en veral uitreik van kwalifikasies soos ‘n baccalaureus-graad is drakonies sterk in staatsbeheer en selfs met ‘n vorm van erkenning van buite die land daar struikelblokke is. Tog is daar uitsonderings, soos die Cambridge-eksamens wat ‘n uitstekende alternatief vir “matriek” buite die Umalusi- en ander staatsvereistes bied, en in die formele sektor insluitende staatsuniversiteite erken word. Ten minste nie deur die staat gereguleer sodat onderwys na die laagste gemene deler moet neig nie; maar die eksamens moet in Engelse geskryf word, en dis waar Disselboom se besprekingspunt nodig is. Dit kom neer op Afrikaanse staatsmatriek onder Umalusi of vrye matriek wat akademies- en transformasie-gerig is, maar in Engels geskryf.

Marthinus Willemse ·

Dit help veel ons het die beste private Afrikaanse universiteite, maar geen skoolleerling om soontoe te stuur nie. Voor universiteit is daar skool – laer en hoër. Om daardie derde trappie – na tersiêre onderwys – te bereik, moet jy Afrikaanse skole hê. Of tuisonderrig in Afrikaans. En dit kos geld, wat baie ouers nie het nie. Banke is meer geneig om `n universiteitsstudielening toe te staan, eerder as `n lening vir skoolgelde. Dis is daarom ewe belangrik om ouers met skoolgaande kinders te help. Dalk moet daar ook gefokus word op die skepping van private Afrikaanse skole, wat bekostigbaar kan wees vir die armstes.

Leonard van der Dussen ·

Regstelling: laaste sin in vorige boodskap moet lees: “Dit kom neer op Afrikaanse staatsmatriek onder Umalusi of vrye matriek wat akademies- en NIE transformasie-gerig is nie, maar in Engels geskryf word”.

Gerad ·

Die akkreditasie kan ’n reuse probleem skep. Dit kan selfs jou geleentheid om by ’n professionele instansie te registreer belemmer.
Oosterlinge spandeer baie geld en tyd om Engels as tweede taal aan te leer. Ons het dit.
In ingenieurswese sal byvoorbeeld al die beskikbare boeke Engels wees want dit kan nie ekonomies in Afrikaan gepubliseer word nie. Die internet is Engels. Die besigheids wêreld is Engels. Ons kan dit nie verander nie.
Maar ek kan verstaan die dat die staats universiteite ontwrigtend en polities ondraaglik kan wees. En ons sou selfs kon redeneer dat ons jongmense moet leer om dit te hanteer.
In my jare het ek dit selfs in ’n mate op die grootste Afrikaanse universiteit ervaar. In ’n stadium het Registrasie enige aantekeninge van die dosent se kant verbied. Ons het ons vasgeloop in ’n oopboek eksamen eksperiment wat ’n fiasko was. ’n Prof met ’n duidelik politieke agenda het ons ondermyn. Tot so ’n mate dat ek my kursus verander het.
Met appels, waatemoene en rape kursusse: waar jy leer van appels, gevra word oor waatemoene en dit help jou rape.
Die behoefte is eerder om ’n hoogs aangeskrewe privaat Engelse universiteit met kampus en internet studie geleentheid te skep. Sonder groot en klein politieke onsin en die beste studie ondersteuning denkbaar met groot finansiële voordele vir studente wat presteer.
Konsentreer dan op skole, want dit is waar individue gemaak of gebreek word.

Breytie ·

Die regverdige vraag word gevra waarom MOET Afrikaans op tersiêre vlak gebruik word? Om die vraag te antwoord, behoort al die debatvoerders dieselfde waarheid te verstaan, naamlik dat dit ‘n eksistensiële saak is. Net soos elke mens sy diepste gevoelens en transendente ervarings slegs in sy moedertaal werklik kan deurgrond, is die moedertaal ook nodig vir ware begryping van die werklikheid. Om byvoorbeeld biochemie, ingenieurswese of sielkunde te ken deur middel van Engels, maak nie van jou die beste wetenskaplike nie. Dis eers as jy die begrippe kan leef vanuit jou eie eksistensie en eie verstaan van die geskape werklikheid wat jou omvou, dat jou kennis deel word van jou menswees. Eers dan kan jy die egte spesialis wees wat vanuit jou begryping ‘n unieke bydrae kan maak tot die skepping van harmonie tussen mens en skepping. Die ingenieur sal hom kan inleef in die lewe van die mense wat oor sy brug gaan ry of die dokter wat ‘n kwaal moet verstaan of die sielkundige wat vanuit sy wese ‘n hand wil uitreik. Om in ‘n ander taal te studeer, dwing jou om in ‘n kreoolse gedagtegang jou professie gestalte te gee in jou daagliks gang.

Riena ·

Kry meer kinders! Voed hulle op in Afrikaans. As die mense baie is kan hulle hul eie taal praat en uitbou. Twee kinders per gesin is `n selfmoordplan en dan kan ons vergeet van Afrikaanse universiteite.

Jerry ·

Die Afrikaner leer nie lesse nie. Vir jare het ons diep spore getrap in Suid-Afrika met bewaring van grond, minerale, seelewe, onderwys, hoer onderwys ens. net om die afgelope 9 jaar te moes toekyk hoe dit alles geplunder word deur diegene wat al die jare uitgesluit was. Nou doen ons dit weer en ons noem dit privaat. Diegene wat nou uitgesluit word van “Privaat” gaan jaloers raak en sal net wag vir die regte geleentheid om “Privaat” te plunder. Dit is ongelukkig die realiteit. Die ding sal homself bly herhaal tot in lengte van dae indien die Afrikaner nie lesse leer en aanbeweeg met beter oplossings. Ek weet dat alles word gedoen met goeie intensies deur Solidariteit, maar ongelukkig is dit in ontkenning van die situasie waarin die Afrikaner homself bevind het, tans bevind en in die toekoms gaan bevind in Suid-Afrika. Vir die volgende 10 jaar kan dit gevestig word en werk, maar wat daarna, wat gaan gebeur met “Privaat” wanneer n volgende Zupta aan bewind kom? Gaan doen die dinge in lande waar die Afrikaner welkom was, steeds is en in die toekoms sal wees. Hoekom wil julle vir die jeug n toekoms skep in n land van wie die mense jaloers is en mense wie die Afrikaner jeug niks in hierdie land gun nie. Dit is blatante malligheid om die jeug te wil blootstel aan konflik wat onvermydelik nader kom agv Solidariteit en Afri-Forum inisiatiewe wat andere uitsluit. Dit regverdig wraak volgens die jaloerses en radikales.

jaco ·

Ek wil ‘n paar goed weet:
1. Verstaan afrikaanssprekendes dan glad nie engels nie? ek was dan verplig om in die Afrikaans dominante ou SA engels tot op matriekvlak in die skool te leer. eks baie seker daarvan dat dit verpligtend was
2. Hoe gaan arm afrikaanssprekende kleurlinge vir studie by n privaat afrikaanse universiteit betaal?
3. Hoe gaan ‘n privaat afrikaanse universiteit regstellende aksie en BEE toepas? Dis wetlike vereistes waaraan enige besigheid in SA moet voldoen, of ons daarvan hou of nie. wanneer ‘n sekere getal personeellede oorskry word of wanneer ‘n besigheid se inkomste in sekere bedrag oorskry, tree regstellende aksie en BEE vereistes in werking.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.