Probleme en oplossings vir Afrikaans

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, neem deel aan die gesprekreeks, Probleme en Oplossings vir Afrikaans.

Solank as wat mense Afrikaans praat, sal die taal nie tot niet gaan nie.” Hierdie is ’n gewilde stelling wat gereeld in die media deur oningeligte en naïewe persone gemaak word.

Afrikaans het die trotse prestasie dat dit in ’n baie kort tyd tot ’n volwaardige akademiese en owerheidstaal ontwikkel het as die jongste taal van die Germaanse taalfamilie. Uit die oorspronklike Germaans het 22 ander Germaanse tale die lig gesien. Maar – van die 22 Germaanse tale het 10 reeds verdwyn en Jiddisj is besig om vinnig uit te sterf. Tale kan en gaan dus tot niet.

Hoekom het hierdie tale tot niet gegaan?

As daar nie meer boeke en koerante in die taal verskyn nie, en ‘n taal nie meer in die hof, in die parlement, in die skool, in die universiteite en in die ekonomie gepraat word nie, verloor dit status en is daar min aansporing vir ouers om hul kinders daarin groot te maak. “My kind moet nie soos ek sukkel om in my tweede taal met die regeringsdepartemente te kommunikeer nie. My kind moet nie soos ek sukkel om werk te kry omdat hy nie die amptelike tale goed ken nie.” Hierdie is van die ouers se redes om hulle kinders in ’n ander taal as hulle moedertaal groot te maak.

’n Taal begin dus tot niet gaan as hy sy amptelike of hoë taalfunksies verloor.

Die probleem:

Die taalsosioloë onderskei breedweg vyf verskillende vlakke van taalgebruik:

1) ‘n Taal moet by die huis gepraat word waar ouers dit aan hulle kinders as die volgende geslag oordra;
2) ‘n Taal moet ‘n literêre funksie hê deurdat dit in koerante, tydskrifte, boeke en in die media gebruik word;
3) ‘n Taal moet wetenskaplike en akademiese funksies hê en moet op skool, kollege en universiteit as onderrigmedium gebruik kan word;
4) ’n Taal moet ekonomiese nut hê deurdat dit jou byvoorbeeld help om sake te doen of werk te kry;
5) ‘n Taal moet ‘n owerheidstaal wees wat deur die regering erken en gebruik word.

Wat (1) en (2) betref gaan dit nog goed met Afrikaans terwyl (3) ernstig bedreig word en (4) en (5) sedert 1994 baie agteruit gegaan het.

Is die grondwet nie veronderstel om alle tale in Suid-Afrika gelyke erkenning te gee nie?

Ja en nee. By 1994 se grondwetlike onderhandelinge het mnr. Moorcroft van die Demokratiese Party voorgestel dat Engels die amptelike voertaal of lingua franca van Suid-Afrika moet word (vgl. Die Burger 2 Augustus 1995). Danksy die VF Plus en ander se weerstand in die grondwetkomitee waar dit voorgestel was, en waarvan ek lid was, is hierdie voorstel gestuit. Gelyke erkenning is aan al elf tale gegee.

As vandag na Suid-Afrika gekyk word, lyk dit egter of die Demokratiese party se voorstel wel geseëvier het. Engels het die afgelope agtien jaar geleidelik die amptelike owerheidsvoertaal in Suid-Afrika geword. Afrikaans verloor deurlopend owerheidsfunksies en die ander nege “amptelike” tale moet met enkele flou simboliese gebare vanaf die regering tevrede wees.

Hoe het dit gebeur? Dit het gebeur omdat die ANC nog nooit ernstig oor veeltaligheid was nie. Die taalartikels is in die 1996 grondwet afgewater en nie met taalwetgewing opgevolg wat veeltaligheid sou afdwing nie.

Skryf nie net oor Afrikaans se probleme nie maar ook oor wat die VF Plus se oplossings is, het Maroela Media aan my gevra.

Oplossings:

Ons moet leer uit die ervaring van ander. Die belangrikste les van ander suksesvolle taalbewegings in die wêreld is dat jy nie kan slaag as die stryd nie aan alle fronte gevoer word nie. Dit behels die politieke, die ekonomiese en kulturele “fronte” sodat Afrikaans op al vyf vlakke wat hierbo genoem is, bevorder en beveilig moet word.

Die VF plus as politieke party in die parlement kan ’n belangrike politieke en kulturele rol op veral die laaste paar vlakke speel. Reeds by die grondwetlike onderhandelinge het ons veeltaligheid voorgestel teenoor die “Engels-alleen-voorstel”.

Veeltaligheid prakties toegepas
Dit is moeilik om in die praktyk al elf tale op nasionale en provinsiale vlak amptelike owerheidstale te maak. Ons voorstel was dat vier tale op nasionale vlak en vier in elke provinsie afgedwing word deur wetgewing. So sou alle tale tot hulle reg kom. Met Afrikaans, Engels, ’n Nguni taal en ’n Sotho taal op nasionale vlak, bereik jy 98% van alle Suid-Afrikaners. Dit is so omdat Nguni taalsprekers (bv. isiZulu, isiXhosa) en so ook die Sotho taalsprekers (bv. Setswana, Sesotho) mekaar verstaan. Tale soos Venda en Xitsonga is dan wel uitgesluit. Omdat hulle sprekers grootliks in sekere provinsies gekonsentreerd is, bereik jy hulle deur die provinsies se vier keuses van tale.

Die ANC se huidige voorstel van drie amptelike tale op provinsiale vlak, beweeg in die regte rigting. Ons het die voorstel egter in die parlementêre portefeuljekomitee gekeer met prosedure- en grondwetdreigemente omdat die ANC die kwalifikasie bygevoeg het dat twee van hierdie tale inheems en nie voorheen benadeel mag wees nie. Daarmee knikker hulle effektief Afrikaans permanent uit. Die VF plus propageer steeds ons vier tale voorstel.

Taalraad
Tydens die 1994-grondwetonderhandelinge het die VF Plus sterk geargumenteer vir taal, kultuur en selfbeskikking. Dit het uitgeloop op artikels 6, 30, 31, 185 en 235 in die grondwet. Artikel 185 skep taalrade wat spesifiek na die belange van elke taal moet omsien. Die VF Plus was dan ook van die begin af regstreeks betrokke by die proses om ’n Afrikaanse Taalraad te skep. Hierdie Taalraad, saam met Cerneels Lourens se suksesvolle aksies, het ’n baie belangrike rol gespeel om van buite druk op die Parlementêre proses rondom die talewet te plaas. Dit maak dit binne die parlement makliker vir die VF Plus om sukses te behaal. Dit bly jammer dat die ander tale nog nie taalrade gestig het nie.

Parlement:
Toe die parlement na die 1994 verkiesing bymekaar gekom het, was daar geen vertaaldiens vir al elf tale beskikbaar nie. Die VF Plus het deurlopend spesiale debatte hieroor aangevra (Vgl. my toespraak Hansard 12 Maart 1998.). Na baie VF Plus druk en stoei agter die skerms is daar eers onlangs ’n vertaaldiens ingestel. Vandag kan ’n parlementslid in enige van die elf tale praat en word dit dadelik vertaal. ’n Oorwinning vir veeltaligheid. Die VF Plus kan daarmee spog dat ons die enigste politieke party is wat ’n amptelike toekenning van PANSAT gekry het juis vir die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika.

Persepsies

Bogenoemde gevegte wat op politieke vlak geveg word, is deel van die oplossing. ’n Ander belangrike deel is dat die talle verkeerde persepsies oor Afrikaans en oor veeltaligheid in Suid-Afrika afgebreek moet word. Die VF Plus is aktief, saam met ander buite parlementere organisasies, hiermee besig. ’n Paar voorbeelde:

Moedertaalonderrig
Alle navorsing bevestig hoe belangrik moedertaalonderrig vir kinders is. Hierdie is nie ’n politieke argument nie maar ’n eenvoudige onderwysbeginsel. Na lang gesprekke stem sommige ANC ministers uiteindelik nou ook hiermee saam. Hulle skuil egter agter die feit dat die meeste ouers van Afrikataal-kinders Engels as onderrigtaal vir hulle kinders verkies. Verdere oorredingswerk moet nog hier gedoen word.

Afrikatale kan nooit tot op Universiteitsvlak ontwikkel nie
In die begin van die vorige eeu was dit die hoofargument teen Afrikaans en ten gunste van Engels en Nederlands as onderwys- en universiteitstaal. Binne ’n paar dekades is Afrikaans ontwikkel tot op die vlak waar ek trots my doktorsgraad in Afrikaans kon kry. Daar is meer as 450 vakwoordeboeke en terminologielyste asook ’n gerekenariseerde taaldatabank en speltoetsers in Afrikaans. Sewe universiteite en talle ander tersiêre instellings het op ’n tydstip Afrikaans as onderrigtaal gebruik. As die wil daar is, kan enige taal tot op hierdie vlak ontwikkel word – ook isiZulu en Sesotho. Hebreeus was vir 2000 jaar ’n dooie historiese taal. Omdat die wil daar was, is Hebreeus in die twintigste eeu tot ’n moderne taal vernuwe waarin vandag rekenaars en waarskynlik atoombomme gebou word!

Afrikaans is nie ’n inheemse taal nie
Afrikaans se wortels is Westers maar met sterk invloede van Asië (Maleisië) en Afrika. Dit is die derde grootste taal na isiZulu en isiXhosa in Suid-Afrika. Behalwe dat Afrikaans na die Afrika kontinent vernoem is, word dit nêrens anders in die wêreld gepraat nie. Hoe kan dit dan nie ’n inheemse taal wees nie?

Afrikaans moet as taal van die onderdrukker gestraf word
Engels was die taal waarin die wreedste slawehandel en koloniale uitbuiting in Afrika plaasgevind het. Die Nazi-geskiedenis was in Duits gepleeg. Tog word Engels en Duits as tale nie vir hierdie verlede gestraf nie. Waarom dan Afrikaans? Die feit dat die meerderheid Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika nie wit is nie, behoort hierdie persepsie nog verder te weerlê. Bemagtiging vir die meeste van hierdie Afrikaanssprekendes moet juis deur Afrikaans plaasvind.

Die huidige taalstryd is anti-Engels
Die huidige taalstryd is pro-veeltaligheid en pro Afrikaans en nie anti-Engels nie. Engels is ’n universele taal wat ons toegang gee tot die wêreld, tot rekenaars, ens. Die VF Plus het voorgestel dat Engels daarom ’n verpligte vak op skool en op Universiteit behoort te wees. Daar is egter ’n groot verskil tussen Engels as enigste amptelike taal van die regering, skole en universiteite teenoor die aanleer van Engels as ’n tweede of derde taal. Afrikaanssprekende studente werk suksesvol in die buiteland in Engels juis omdat hulle moedertaalfondament stewig in Afrikaans gelê is.

Solank die Afrikaanse letterkunde en Kunstefeeste daar is, is niks meer nodig nie
Oksitaans is ‘n taal wat baie gewild was en deur meer as 14 miljoen mense in die Suide van Frankryk gepraat is. Frédéric Mistral, wat in Oksitaans geskryf het, het in 1904 nog die Nobelprys vir Letterkunde gewen. Nadat die Franse regering besluit het om Frans en nie Oksitaans die enigste amptelike taal te maak, het Oksitaans vinnig agteruit gegaan. Vandag is daar slegs ’n klein groepie (minder as 700 000) ouer mense wat nog die taal praat. Skots, Gaelies en Wallies het dieselfde ervaar nadat hulle amptelike erkenning verloor het. Die taalsosioloë se vlakke een en twee is nie genoeg nie, drie, vier en vyf is ook nodig vir oorlewing.

Slot

Tans kry Afrikaans min hulp van die ander Suid-Afrikaanse taalsprekers in ons geveg om langtermyn oorlewing. Tog is dit in die belang van al Suid-Afrika se tale dat Afrikaans die stryd voortsit. Die bekende Afrikaanse skrywer Chris Barnard het gesê: “As Engels die oorhand (in Suid-Afrika) kry, is dit meer as net Afrikaans wat in die slag gaan bly. Tien inheemse tale gaan verdwyn. Die enigste uitheemse taal (Engels) gaan bly en al elf dele van die koek kry, miskien ‘n hoflike windjie breek en verder stap Afrika in.”

Lees gerus ook dr. WF Botha van die WAT en prof. Wannie Carstens van die NWU se bydraes tot dié gesprekreeks.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae