Probleme met betrekking tot ʼn gebalanseerde skoolleerplan

geskiedenis-ou-kamera-retro

Foto: Pixabay.com

Deur Prof. Fransjohan Pretorius

ʼn Onderwyskundige is ek nie. Ek kan slegs praat oor dit wat die geskiedenis as vakdissipline my geleer het. En dit is dat ons almal die gevaar loop om maar in mindere of meerdere mate in ons eensydige siening van die geskiedenis te dwaal, as ons nie daarop bedag is nie. Noem dit halwe kennis of gewoon onkunde. Of erger nog, subjektiewe ideologiese oorwegings.

In die lig van die regering se plan om geskiedenis as vak tot matriek verpligtend te maak, is dit belangrik om hierdie gevaar van eensydigheid by die kurrikulum-skrywers tuis te bring. Ek wil dus enkele opmerkings maak oor die probleme met betrekking tot ʼn gebalanseerde skoolleerplan, in die hoop dat die departement van onderwys bewustelik hierdie slaggate probeer vermy.

Vir ʼn kort tydjie het ek gedien op ʼn komitee van Freedom Park wat moes besluit oor watter oorloë aanvaar moet word vir die aanbring van die name van gesneuweldes op mure van herinnering. Toe ek die Eerste Anglo-Boereoorlog van 1880-1881 voorstel, vee ʼn nuwe generaal my idee van die tafel af. Nee wat, nie nodig nie, hy het nog nooit van daardie oorlog gehoor nie. En so is dit aanvaar. Met die besluit dat die name van gesneuweldes van die Suid-Afrikaanse magte in die Bosoorlog nie op die gedenkmure aangebring sal word nie, was ek nie meer komiteelid nie. Die les: ideologie kan subjektiwiteit meebring.

Maar ek het ook al self gedwaal. In 1973, tydens my studies vir die doktorale eksamenkursus aan die Universiteit van Leiden, sien ek twee Nederlandse studente in die geskiedenisleeskamer bekyk N.J. van der Merwe se werk oor president Steyn. Hulle vertel my hulle is besig met ʼn skripsie oor “De zwarten in de Boerenoorlog.” “Maar zij waren niet betrokken”, kom my verbaasde opmerking.

Hoe verkeerd was ek nie! Opgelei in ʼn Afrikaner-nasionale paradigma waar die Afrikaner sentraal in die geskiedenis staan, en sy vyand die Brit is, is ons nooit geleer watter rol swart mense in die Anglo-Boereoorlog gespeel het nie.

Dan Sleigh het pas in ʼn artikel op LitNet gewaarsku oor die gevare van ongebalanseerde ideologiese standpunte, of die skep van nuwe mites in die geskiedenis. Hy wys op die politieke versinsels rakende die amandelheining in die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin wat as Jan van Riebeeck se heining voorgehou word. Hy lê klem op die valse beskuldiging dat die heining ʼn poging van Van Riebeeck was om “die eerste apartheidsdaad op Suid-Afrikaanse grond” te pleeg, en in die woorde van president Thabo Mbeki die wit setlaars apart te hou van die “menacing black African hordes of pagan primitives”.

Sleigh dui aan dat dit geensins die bedoeling was nie. Trouens, in 1661 het die inheemse Cochoqua-groep se vee aan weerskante van die embrio-heining gewei. En die Goringhaicona-groep (of Strandlopers) het permanent binne die heining gewoon. Sleigh bewys met argivale dokumente dat die doel van die heining slegs was om veediefstal en die beweiding en vertrapping van gesaaides te voorkom. Die Khoekhoen (ou benaming: Hottentotte) kon volgens Sleigh na goeddunke daaroor gaan, en het ook. Wilde amandelbome het teen die hange van die bergreeks gegroei, en talle wit vee-eienaars het daarvan gebruik gemaak om hul vee te beskerm en die beweiding en vertrapping van gesaaides te voorkom. Sleigh wys daarop dat nie net Mbeki hiermee dwaal nie, maar ook die Standard Encyclopaedia of Southern Africa en die ou Suid-Afrikaanse Historiese Monumentekommissie en sy opvolger, die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA). Gaan die kurrikulumskrywers hulle aan Sleigh se bevinding steur?

Hoe objektief gaan die geskiedenisleerplan wees? Heeltemal korrek, ons moet die geskiedenis regstel, want swart aspirasies is in die 20ste eeu-kurrikulums oor die hoof gesien. Maar die regstelling moet nie sodanig wees dat wit mense se geskiedenis in slegs ʼn negatiewe lig gestel word nie.

Die Groot Trek het die binneland oopgestel vir die wit man. Die Voortrekkers se aspirasies moet objektief deurgegee word. Terselfdertyd moet daarop gewys word dat die Groot Trek wit baasskap na die binneland gebring het met oneindige negatiewe gevolg vir swart mense – veral ten opsigte van hul sosiale ontwrigting en menswaardigheid wat aangetas is en die (let wel:) ingewikkelde tameletjie van grondbesit. Terselfdertyd kan wit prestasies nie geïgnoreer word nie – hoe Afrikanerleiers die Afrikaner ná die Anglo-Boereoorlog opgehef het met die Reddingsdaadbond, en opheffingstrukture daargestel het met Sanlam, Santam, Volkskas, en later Yskor, Sasol en Krygkor.

Wat hieruit voortvloei, is dat ek pleit vir ʼn genuanseerde geskiedenis. Die “Ja, maar…” moet in die kurrikulum ingebou wees. Wat bedoel ek daarmee?

Ja, die Voortrekkers het die binneland ingetrek om hul eie regerings daar te stel, met die voorneme – soos Piet Retief dit in sy manifes stel – om goeie betrekkinge met die swart groepe in die binneland te handhaaf, maar dit het tot wit oorheersing oor die swart groepe in die binneland gelei wat polities eers in 1994 reggestel is. Ja, die Anglo-Boereoorlog was ʼn politieke stryd tussen Britse imperialisme en ʼn ontwakende Afrikaner-nasionalisme, maar swart mense is direk deur die oorlog geraak en sommige het direk daarby betrokke geraak.

Tans is die wekroep dekolonisasie. Ek dink nie ons wit mense verstaan mooi hóé gekoloniseerd ons samelewing werklik nog is nie. Maar hoe ver moet daar gedekoloniseer word sonder om terug te val tot karosse, kraletjies en vee-oppas? En dan is die vraag: Hoe gaan dekolonisasie in die kurrikulum beslag kry?

Die taakgroep doen sy werk presies in ’n tydperk van bittere onverdraagsaamheid tussen wit en swart, en waar swart bemagtiging gedy. Versoening tussen wit en swart word deur wedersydse onverdraagsaamheid bemoeilik. Hoe gaan die taakgroep dit hanteer? Kan hy?

Hierdie vrae bied nie ʼn oplossing vir die probleme ten opsigte van ʼn gebalanseerde skoolkurrikulum nie. Maar dit bepleit ʼn ernstige strewe na balans en objektiwiteit. ʼn Gebrek aan balans sluip maklik in. Ek het my al self onbedoeld aan ʼn gebrek aan balans skuldig gemaak.

  • Die FAK en die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het tydens ’n onlangse oggendsimposium die tema “Die toekoms van skoolgeskiedenis” onder die loep geneem. Dit is gedoen in die lig van die departement van basiese onderwys se voorneme om ’n nuwe geskiedenisleerplan vir skole daar te stel en ook teen 2023 geskiedenis as skoolvak verpligtend tot graad 12 te maak.

Maroela Media het oor die verskeie kundiges se menings berig. Die doel is om die uitkoms van hierdie simposium aan die departement voor te lê as inset van Afrikaanse kant met die verwagting dat geen deel van die Suid-Afrikaanse bevolking se geskiedenis in die nuwe kurrikulum gemarginaliseerd of vanuit ’n ideologies-subjektiewe hoek aan leerders aangebied sal word nie.

In sy aanbieding wys Pretorius op probleme met betrekking tot ’n gebalanseerde skool-kurrikulum. Pretorius is ’n emeritusprofessor van die fakulteit historiese- en erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria en ook voorsitter van die Akademie se geskiedeniskomitee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

julius ·

Die regering sal sorg dat die geskiedenis volgens hulle denke geskryf word ongeag al die leuns wat ingevoeg gaan word. Dis ons plug om ons kinders die waarheid te leer.

Arak ·

As die afgelope 24 jaar ons enige iets geleer het, is dit dat die geskiedenis so verdraai sal word, dat die blankes net verder in die grond in vertrap kan word. Ons sit reeds met ‘n generasie kinders wat geen selfrespek/selfbeeld oor het na die geskiedenis wat tans aan hulle opgedis word nie.

martin cilliers ·

geskiedenis is onsettend belangrik bvb. ek lees verlede jaar in die you tydskrif dit is die engelse se huisgenoot van suiker en watter lande en watter soort mee geboer word.nie n woord van suid afrika nie seker omdat ons die indiers gebruik het vir arbeid.

Eish ·

Baie goeie artikel dankie.
Mens kan voel hoe die skrywer trippe, trappe trone oor die uiters emosionele kwessies. Baie goed daarin geslaag om n genuanseerde balans te bewerk!

Skyn ·

Die SA geskiedenis wat 40 jaar terug aan ons oorgedra was, was nie altyd feitelik korrek nie, hoofsaaklik omdat sekere dele weggelat is; bv AH Potgieter wat stamme uitgewis het en dan hul kinders as slawe gebruik het en die swart konsentrasiekampe gedurende 1900-1902.
maar…
Hoekom moet matriekleerlinge geskiedenis as vak hê as die behoefte in die ekonomie opgeleide vaardige mense is. In matriek het ek klaar besluit oor my lewensuitkyk en geskiedenis klasse sou dit beslis nie verander nie. As geskiedenis wel opgedis word, doen dit by jonger kinders waar dit dalk ‘n impak kan hê.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.