Progressiewe vs. konserwatiewe geskiedenisbeskouing: Die pyl of die pendel

Staatspresident Paul Kruger

Paul Kruger

Onderliggend tot bykans alle politieke debatte, en ook die huidige amper histeriese bewondering of afkeur van Donald Trump, lê die onderskeie sienings van die geskiedenis deur linkses (of progressiewe) en regses (of konserwatiewes).

Die progressiewe siening van die geskiedenis kan gesimboliseer word deur ʼn pyl, wat steeds vorentoe spoed tot by die eindbestemming. Die konserwatiewe siening kan gesimboliseer word deur ʼn pendel, wat altyd swaai tussen twee uiterstes.

Charles Darwin se evolusieteorie en Karl Marx se historiese materialisme is twee van die hoekstene van die progressiewe geloof. Die evolusieteorie voer kortliks aan dat laer vorme van lewe mettertyd en deur invloede van buite in hoër vorme ontwikkel. Toegespits kom dit daarop neer dat die mens as hoogste lewende wese uit ʼn sel ontstaan het, met derduisende tussenstappe. Hoewel daar talle gate in die biologiese evolusieteorie is, is die oortuiging dat alles mettertyd verbeter baie sterk geanker in die progressiewe wêreldbeeld. Die tegnologiese evolusie wat vir almal daar is om te aanskou, word as sterk argument gebruik dat alles wel vorentoe beweeg en beter word en dat die spoed selfs toeneem.

Die historiese materialisme is in ʼn sekere sin die politieke weergawe van die evolusieteorie. Dit is deur die filosoof Karl Marx, grondlegger van die kommunisme, ontwikkel, in navolging van die historiese determinisme van die filosoof Friedrich Hegel. Volgens Marx beweeg die menslike ontwikkeling deur sekere historiese fases (waarbinne die stryd tussen onderdrukkers en onderdruktes, ʼn kerntema van Marxistiese denke, sentraal staan), en elke fase is meer gevorderd as die vorige een. Die geskiedenis het begin met ʼn primitiewe oer-samelewing (Steentydperk, primitiewe stamme) en ontwikkel tot ʼn samelewing waarin slawe gebruik is (antieke tydperk), tot ʼn feodale samelewing met adellikes en knegte (Middeleeue tot die 18de eeu), daarna tot die moderne era van kapitalisme (19de eeu en daarna) en uiteindelik tot die sosialistiese samelewing van die heerskappy van die proletariaat (wat in Marx se tyd, die 19de eeu, net ʼn ideaal was). Vandaar sou dit dan ontwikkel tot die ideale samelewing waarin almal vry en gelyk is, dié van die kommunisme.

Die Britse filosoof Richard Dawkin is ʼn hedendaagse pleitbesorger van die teorie van evolusie en vooruitgang van die mens en sien “irrasionele” goed soos godsdiens as ʼn struikelblok wat verwyder moet word.

Marx was geen historikus nie (en ook nie Hegel nie) en het die geskiedkundige ontwikkelingsproses grof vereenvoudig om by sy denke te pas. Dit is wel waar dat sekere tydperke nie meer terugkeer nie en sekere verkeerde praktyke oorkom is, soos slawerny, maar dat die mensdom beter en die wêreld meer vreedsaam word, is te betwyfel en sal in elk geval eers terugskouend beoordeel kan word. Die voorspoedgeloof van die Westerse deel van die mensdom wat in die laat 19de en vroeë 20ste eeu hoogty gevier het, is erg ontnugter deur die twee Wêreldoorloë.

Nietemin, die kernoortuiging van die linkses, wat hulle nie verniet self as progressief beskryf nie, is dat die samelewing in elke opsig beter word en dat verandering om dié rede bespoedig moet word omdat dit wat was of wat is, slegter is as dit wat kom. Om dié rede gooi dit die progressiewes ook heeltemal omver as sienings en beleid wat hulle as oorwonne beskou het, weer terugkom. Dit word dan smalend as “reaksionêr” verdoem en kon net oorleef het om dat die progressiewes nie hard genoeg die euwels van die verlede uitgedryf het nie. Die huidige presidentskap van Donald Trump, byvoorbeeld, is vir linkses so moeilik om te aanvaar omdat dit nie as ʼn gewone wisseling tussen linkse en regse regerings, wat kenmerkend van ʼn demokrasie is, gesien word nie, maar as ʼn terugkeer van die bose wat eintlik al oorwin moes gewees het en deur ʼn nuwe, progressiewe era vervang is, waarvan Barack Obama die stralende voorbeeld was. Nader aan die huis is die ANC ook obsessief besig om rassisme (of wat hulle daarvoor aansien) te beveg, omdat dit volgens hulle ʼn voortsetting van apartheid is, wat eintlik oorwin is. Eweneens is talle (wit) progressiewes in Suid-Afrika ook erg ontnugter dat ná ʼn perfekte leier (in hulle oog) soos Nelson Mandela iemand soos Thabo Mbeki en erger nog, iemand soos Jacob Zuma kon volg met sy chauvinistiese en bygelowige uitsprake.

Konserwatiewes, daarteenoor, beskou die geskiedenis, en daarmee saam ook die politiek van die dag, as ʼn pendel, ʼn opeenvolging van tye van voorspoed en stabiliteit, afgelos deur tye van agteruitgang en wanorde, wat dan weer vervang word deur beter tye. Om dié rede het hulle ook maar net op hulle tande gekners toe ná agt konserwatiewe jare van George W Bush agt linkse jare van Obama gevolg het, wetend dat dit weer sal verander.

Onderliggend aan die konserwatiewe geskiedenisbeskouing is ook die Christelike siening van die mens as sondige wese, wat nie uit sy eie beter kan raak nie, maar wat wel deur goeie leiding en dissipline tye van morele hoogtepunte en voorspoed kan bereik, wat egter nooit blywend is nie. Daarom kyk konserwatiewes graag terug na ʼn goue era in die verlede, wat ʼn voorbeeld vir die hede moet wees (kenmerkend van dié siening is die leuse van Donald Trump, “Make America great again”, wat ʼn terugkeer na ʼn tyd van grootsheid impliseer), terwyl vir progressiewes die goue era in die toekoms lê en alles wat was, so gou as moontlik agtergelaat moet word.

Vir konserwatiewes is daar “niks nuuts onder die son” nie (en as jy die Bybel lees, dan sal jy sien dat alle laagte- en hoogtepunte van die mensdom reeds in die verre verlede gebeur het en dat dit met die mense goed of sleg gegaan het afhangende van hulle gehoorsaamheid aan God, al dan nie). Die perfekte wêreld sal egter eers (vir gelowiges) in die hiernamaals wees. Progressiewes daarteenoor strewe na ʼn perfekte wêreld hier op aarde, wat sal aanbreek as al die euwels (uit hulle hoek gesien) eers vernietig is. Enige vertroosting met die oog op die hiernamaals is, in die woorde van WIadimir Lenin, die eerste kommunistiese leier van Rusland, “opium van die volk (gewone mense)”.

Vir konserwatiewes moet, soos Paul Kruger as tipiese konserwatiewe dit gestel het, “die goeie uit die verlede gehaal en die toekoms daarop gebou word”. Hier is nog ʼn kernverskil ter sprake: Konserwatiewes fokus op die bou van ʼn beter toekoms, sonder om die verlede weg te gooi, terwyl progressiewes se fokus gerig is op die afbreek van alles wat in die pad van die toekoms, waar die perfekte wêreld sal wees, staan.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

17 Kommentare

Ampie ·

Ek hou nogal van die skrywer se benadering om die verskillende aan te dui. Hoeka vertel iemand gister Trump is ‘n wit nasionalistiese regse. Seker omdat hy aandring dat wette eerbiedig word en die VSA eerste wil stel, wat die konserwatisme bevorder. Die minagting van demokrasie deur die “progessiewes” na Trump se inhuldiging is nogal iets om te beskou, maar natuurlik nie onverwags nie.

Nico K ·

Ek dink die stuk is ‘n veralgemening. Dit is ‘n feit dat die wêre;ld verander. Tegnologies gaan ons net vooruit. (Die stuk is immers op ‘n rekenaar geskryf op die internet.) En daarmee saam is daar sekere dinge wat mens nie kan ignoreer nie soos wêreldhandel en kommunikasie. Ek dink ook nie Karl Marx was iemand wat rewolusie bepleit het nie. Hy het bloot ‘n teorie geskep waarmee hy die toekoms probeer voorspel het. En dit is dat die armoede van die werker gaan lei tot opstand. (Werkers in Brittanje het na die Industriële Omwenteling in haglike toestande geleef.) En ons het selfs in die ou SA baie sosialistiese elemente gehad. Ek self glo dat die verskil tussen ryk en arm te groot is. Die liberales is juis daarop gemik om verkeerde praktykte uit te roei. As dit nie vir die liberalses was nie sou ons nog steeds slawerny gehad het. Die konserwatiewes het erg baklei om dit te behou. (En nee ek is nie ‘n liberalis nie. Enige iemand wat my ken beskou my politiek en godsdiens as erg konserwatief.) Ons moet nie op ‘n stadium kom waar ons sê alle verandering is noodwendig sleg nie.

Gawie ·

Daar is verskeie hoogs aanvegbare stellings in hierdie stuk. Die vernaamste hiervan, is dat Hegel “geen” historikus was nie, en dat sy sisteem “deterministies” van aard is. Sy kennis van die geskiedenis was meer omvattend as die meeste historici van vandag, terwyl baie min bronne sal saamstem oor die beweerde “determinisme”.
Dit is voorts jammer dat die outeur vir die een kant ten minste bronne bied wat verder nagevors kan word, terwyl die ander kant (wat hy probeer bevorder), deur Trump, Bush en Kruger verteenwoordig word. Laasgenoemde drie figure sal beslis nie in die geskiedenis as groot denkers bestempel word nie (historici wys daarop dat Kruger byvoorbeeld nog geglo het dat die aarde plat is!). Dit wil dus voorkom of die outeur nie die geskiedenis van sy eie ideologie ken nie… dan sou ons sekerlik die name van byvoorbeeld Burke en Scruton (sommige sou die Duitse Idealisme, dus ook Hegel) raakgelees het.

Sebastiaan ·

Die lengte van die artikel laat uit die aard van die saak geen in-diepte bespreking van filosofie en filosofiese denkers toe nie. Dalk is Gawie ‘n dosent in filosofie, dan gaan ek in elk geval tweede kom. Hegel word werklik net in ‘n sin genoem en kon net sowel weggelaat gewees het. Hy was ook nie ‘n linkse denker nie, Marx het wel die dialektiek (tese, antitese, sintese) by hom oorgeneem en verder verwerk in die historiese materialisme. Nêrens word van Bush, Trump of Paul Kruger as politieke denkers of konserwatiewe filosowe gepraat nie. Maar ek aanvaar die kritiek dat ek ook ‘n paragraaf of twee oor die grondleggers van konserwatiewe denke moes geskryf het. Burke en Scruton is goed aan my bekend en ek het onlangs boeke oor en van hulle gelees. Konserwatisme is egter eerder ‘n anti-ideologie, wat juis skepties staan teenoor uitgewerkte heilswee soos “wetenskaplike” sosialisme. Die konserwatiewe denke is egter eng verwant met die Bybelse leerstelling dat ons geen hemel op aarde kan oprig nie. Ons moet eerder moet aanknoop aan dit wat deur die tradisie as reg en as werkbaar bewys is.

John ·

Toe die eerste gloeilamp uitgevind is was mense net so beindruk soos ons nou met rekenaars. Een van die basiese verskille tussen liberales en konserwatiewes is hul godsdienstige sienings. Diegene wat nie glo in ‘n lewe na die dood nie, wil volmaakte geluk hier en nou ervaar, nie ly nie en vir ewig op aarde vertoef. Aardverwarming hang hiermee saam. Seisoenale veranderings, al strek sommige oor honderde jare, word afgeskiet deur die hemel-op-aarde-gelowers wat self iets aan hul eie heil wil doen. Ongelukkig is daar net soveel geld en kos en kennis op ‘n gegewe tydstip op aarde en kan armoede en siektes en die weer nie beheer word nie, al storm al die bevolkings op aarde na die strate en skree ten hemele. Die woede oor die mens se beperkinge word uitgebuit deur oppertunistiese en slinkse leiers veral ook die feit dat dom mense nie kan besef hoe dom hulle is nie en hul jaloesie daaroor op diegene wat meer geseend is, wil wreek. Die val van Satan was as gevolg daarvan.

TDW ·

Baie goeie berig, ek hou baie van die sin waar jy Paul Kruger aangehaal het.
Godsdiens is nog vir my ‘n kopkrapper. Ek glo dat daar een God is en dat Hy sy Seun gestuur het sodat ek die ewige lewe saam Hom kan deurbring. Maar ek is groot gemaak in ‘n Christelike ouerhuis. ‘n Moslem glo daar is net een God en dat hy die profeet Mohammed die woord gegee het om die bybel oor te skryf want die ander bybel het mense verdraai.
My skoonmaker glo in God en Jesus, maar ook dat die toordokter haar kan gesond maak en dat sy hulp kan kry van haar voorvader geeste.
My eerste reaksie toe my skoonmaker my vertel wat sy aangesê is om te doen deur die toordokter om gesond te word, was “hoe kan jy in sulke bog glo” toe besef ek ek glo ook in wonderbaarlike genesing van Bo deur te bid, sy glo in genesing deur reg te maak met haar Voorvader geeste. Ek weet ek is reg in my geloof en sy weet sy is reg in hare. Hoe nou? Toe besef ek God is groter as wat ons dink en Sy genade is GROOT. En ek voel God sal regverdig oordeel. Dus gaan ek my in die toekoms weerhou om mense te oordeel wat ek glo dien die verkeerde God, ek sal liewer bid dat Hy vir hulle insig sal gee.

TDW ·

My eintlike punt is, dat die ‘slim’ mense van die wêreld, die wetenskaplikes en die liberaliste vir my vra “hoe kan jy hierdie bog glo” ek glo want ek voel dit in my hart dat God en Jesus reg is, maar hulle dink ek is agterlik omdat ek in sprookstories glo. Ek glo my skoonmaker, die Moslem en die Hindu is agterlik, want hul gelowe dui vir my na sprookstories. Moet mense gedwing word om te glo soos ander glo? Sal dit help? Of sal dit beter vir my wees om ander te probeer oorreed, nie deur hul af te skrik met woorde nie, maar as voorbeeld en onbaatsugtige liefde?

Henry ·

Ek stem allie pad saam met Nico K en Gawie – vir wat dit ookal werd mag wees. :-)

Met my beperkte kennis in ag genome, wil ek graag die volgende kortliks byvoeg:
Hegeliaanse dialektiek is ‘n nimmereindigende proses – Tese – antitese – sintese – Tese – antitese – sintese – Tese – ens ens ens
Marx se materialistiese dialektiek daarenteen eindig wanneer die Kommunistiese staat vanuit die Diktatuur van die Proletariaat gevorder het en as die nuwe Tese – oftewel ‘uiteindelike, finale(?) waarheid’ tot stand gebring is.

Henry ·

‘n Paar van ons wat ander studierigtings gevolg het, het dikwels Prof Charles Nieuwoudt se interessante lesings oor die politieke filosofie bygewoon. Hy het Marx en Friedrich Engels se aanwending van die Hegeliaanse dialektiek, om by hulle dialektiese materialistisme in te pas, as tipiese kenmerke van ‘n ideologie beskryf.

Maw die volgelinge van Marx en Engels moet GLO dat die Kommunistiese staat (Tese) wat na ‘n suksesvolle Diktatuur van die Proletariaat (Tintese) die einde van die proses is.
Volgens hulle kan daar dus nie ‘n teenstellende Antitese op die Tese van ‘n Utopiese Kommiestaat wees nie.

Dit stem natuurlik nie met Hegel se filosofiese teorie ooreen nie. Syne is ‘n nimmereindigende proses.

Fanie ·

Uitstekende en diepsinnige artikel, wat legendes soos Bismarck en Kissinger instemmend sou laat knik.
Aan Nico K: Slawerny is deur die Republikeine afgeskaf, wat eers ‘n oorlog teen die Suidelike demokrate geverg het. Dieselfde met die ’60’s se toekenning van gelyke regte aan swartmense daar.

JC ·

Die skeptisisme en afkeur in tradisionele denke en vorme van gesag (“regs”) teweeggebring deur die verligting is behoorlik nek omgedraai deur President Donald Trump. In sy plek is ‘n nuwe geloof in religiee, en wat bekend is, en reeds was, in teenstelling met die onverdraagsaamheid van die liberaliste wat volgens ‘n artikel op hierdie selfde webwerf die nuwe “verkramptes” daarstel, en waar op ‘n ander artikel, Fukuyama inderdaad verkeerd bewys word, en waar my stelling oor Pres. Trump stawing kry in dat dit toe nie die einde van die geskiedenis is nie MAAR die einde van “die einde van geskiedenis” Ek kan maar net op nederige wyse op my kniee gaan en die besondere insig en kennis van die skrywers loof en prys, en God dank vir sulke insigte!

JC ·

Ons weet nou dat die laaste fase in Marxistiese teorie naamlik die kommunisme gefaal het. Ons weet ook nou dat die voorlaaste stap naamlik die sosialisme ‘n onwerkbare model is naamlik waar die staat poog om produksiemiddelle te beheer en waar daar ongelyke verdeling van goedere en lone is gebasseer op werk inderwaarheid gedoen. Die wat materiele besittings het en dus nog produseer is egter nou moeg om die gevolge van sosialisme te dra!! Markwaardes en ekonomie wat gebasser is op werkerskapitaal is duidelik foutief en is vraag en aanbod-kapitalisme- (die 4de stap in marx se teorie van gesk) duidelik die antwoord soos wat pres Trump propageer.

JC ·

‘n Bitter belangrike punt wat ek by julle wil tuisbring is dat die Hiper individualisme wat ons die afgelope dekades ervaar het en wat ‘n uitvloeisel was van die verligting in lande soos Duitsland waar die “Aufklarung” plaasgevind het; nou ook nek omgedraai is, omrede persone weer waarde sien in die waardes van gemeenskap, kultuur en tradisie en nou die “liberalisme” sien as bedreiging vir hul vryheid van kultuur taal ens. en ook omdat die individualisme gerealiseer en beskerm kan word binne die kokon van tradisionele waardes. Eenvoudig gestel, het die mense nou ‘n keuse geneem en die keuse is dat hul, hul rug draai op die gevolge van die denke v/d verligting, gevolglike industriele rewolusie en die marxisme wat skynbaar tot sy logiese en katastrofiese gevolgtrekking gevoer is. Wat was sal immers weer wees soos die Bybel ook se. Die nuwe “verkramptes” kan NIE hierdie nuwe wending aanvaar en verwerk nie. Die materialistiese interpretasie van historiese ontwikkeling soos deur Marx gestel IS DOOD!

JC ·

Individualisme het dus duidelik ‘n leefplek binne die konteks van konserwatisme, en gee persone nou eerder daarom hul hiper individualistiese siening op en steun hul konserwatisme, as om op die noodlottige pad van liberale demokrasie vergrys te word.

JC ·

Individualisme het dus duidelik ‘n leefplek binne die konteks van konserwatisme, en gee persone nou eerder daarom hul hiper individualistiese siening op en steun hul konserwatisme, as om op die noodlottige pad van liberale demokrasie vergrys te word. Die

JC ·

Ek wil net ten laaste noem dat die verstikkende konkoksie van de-nasionalisering, ontkenning van nasiestate en kulturele verskille en verskille in vermoe, onpatriotisme, multi-kulturalisme, oikofobie, verwronge humanisme, sosialisme, globalisasie, politiese korrektheid, internasionalisme, en sosiale demokrasie en as’t ware die nuwe skynbare geloof in die veranderbaarheid (“mutability”) van die geskiedenis ala 1984; treffend gekondenseer en saamgevat, in my opinie deur Professor Koos Malan van Tuks; as “indiversalisme”, naamlik die toekenning van “nuttelose” universele “menseregte” sonder inagneming van nasionaliteit, identiteit en kultuur en met verwerping van diversiteit, en die dodelike en onnatuurlike strewe na gelykheid teen alle wil en dank en teen alle logika in (verskille in kultuur vir een) OP ‘N EINDE IS. Ek kry die gevoel dat nasies oor die aarde nou bereid is om hul rug te keer op die sogenaamde humanisme en die menseregte beweging, in ruil vir die terugkeer van ‘n bietjie normaliteit en konserwatisme, dus die vrees vanuit sekere geledere dat President Donald Trump die menseregte beweging heeltemal gaan omverwerp.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.