Proteas, Paasfees en gentleman-wees

Steve Smith, voormalige krieketkaptein van Australië, in trane tydens ʼn mediakonferensie in Sydney. Agter hom staan sy pa, Peter. Foto: AP Photo/Steve Christo

Deur Andries Brink

Ek is versot op krieket, vyfdagtoetskrieket in die besonder. Daar is nie ’n spel wat soveel dinge op een slag ondersoek nie, onder meer:

  • Die rol van die speler as individu en sy bydrae tot spanspel;
  • die waarde van vasbyt en deurdruk, onder alle omstandighede;
  • die bewys dat toewyding en fokus natuurlike talent kan troef (dink, byvoorbeeld, aan Dean Elgar en Gary Kirsten);
  • die verstaan en optrede na aanleiding van klein veranderinge in die omgewing of die wedstrydkonteks; en
  • die goeie gedrag (soos dié van ’n gentleman) wat van alle opgevoede spelers en toeskouers verwag word – wen of verloor.

Krieket is, sonder enige twyfel, ’n uitbeelding van my en jou lewe, saamgevat in vyf dae.

Ek was, soos die res van die krieketwêreld en ondersteuners, besonder boos oor die optrede van die Aussies in die Kaap. Die gehuil ná die gejok en die gekonkel, wat kwansuis als deel van ’n verskoning was, het my diep ontstel. In my onderbewussyn worstel ek al heel week met die gemors en hou die nuus dop vir die nuutste gebeure. Ek is nie, net soos meeste ander krieketliefhebbers, agter die bloed van die skuldiges aan is nie. Nee, hier is ’n groter krapperigheid aan die gang, en ek gaan dit nou probeer uitlê na aanleiding van die kernvraag: Gegewe die gedrag van spelers en ondersteuners oor die afgelope paar dekades, hoe is dit dan dat die Steve Smith-sage ons so ontstel? Is dit nie wat ons behoort te verwag nie?

Krieket is deur die Engelse geformaliseer uit ‘n spel wat sedert die 14de eeu op skaapplase gespeel is. Volgens Jack Williams is die sport deur die Victoriaanse Engeland en Anglikaanse kerk beskou as: ”an expression of a distinctly English form of Christian morality and character”.

Dié sport se ontwikkeling voor die Eerste Wêreldoorlog vind hoofsaaklik in die Middel en Noorde van Engeland plaas en word deur die kerk gedryf, met ongeveer een derde van alle Victoriaanse Oxbridge-krieketspelers wat predikante in dié kerk word.

Williams gaan voort: “By 1914 most towns and large industrialised villages in the north of England had church or Sunday school cricket leagues and in this region the number of teams based upon churches and the men’s sections of Sunday schools far exceeded those based upon other social institutions. By the end of the Victorian period, is was most unusual in the North for cricket clubs to be openly associated with pubs…”

Dis baie duidelik hieruit dat krieket deur die kerk as ’n Sondagaktiwiteit ontwikkel is om jong mense voor te berei tot die lewe. Natuurlik is hierdie historiese realiteit ook die rede vir die algemene beskrywing van die sport as The Gentlemen’s Game.

Daar is weinig beter voorbeelde van direkte instruksie aan jong mense soos geskryf in 1 Tim. 4:11-12 waar Paulus aan Timoteus sê: “Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer. Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ʼn voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.” Kortom, ’n Gentleman behoort die voorbeeld te stel in woord, gedrag, in liefde, geloof en reinheid. En Sondagkrieket is ontwikkel om daardie waardes ten toon te stel.

Ek onthou hoe ek as kind moes knaag aan die besluit van Sir Michael Jones, aangewys as die 3de beste All Black van die 20ste eeu, om uit die 1995 Wêreldbekertoernooi in Suid Afrika weggelaat te word. Jones is uit die groep gelaat omdat hy, vanweë sy Christelike oortuiging, nie op Sondae rugby gespeel het nie. Die kwart- en halfeindstryd van die toernooi was op Sondae, en die besluit oor Jones is geneem as gevolg daarvan.

Die vraag oor die beoefening van aktiwiteite op ’n rusdag is, teologies gesproke, natuurlik ʼn bietjie moeiliker om te beantwoord as om duidelik te wees oor die feit dat mens geen valse getuienis mag lewer nie.

Tog vind ek dit ironies dat die vierde en laaste toets teen die Aussies op Goeie Vrydag begin, ’n dag wat tradisioneel vir Christene ’n rusdag was. Dit is asof hierdie laaste toets moet dien as ’n geleentheid waar die sport hom kan reinig, maar die futiliteit van hierdie aktiwiteit word nie ingesien nie.

Hoe kan mens iets herstel tot sy essensie, sonder ’n bewustheid van daardie essensie, sonder selfs ’n tradisionele respek vir daardie essensie? Anders gestel, kan ’n Gentlemen’s Game gespeel word deur jong mans wie se eerste doelstellings nie is om te ontwikkel tot gentlemen nie, maar eerder om te wen en sodoende ’n lang en suksesvolle loopbaan te hê?

Is hierdie uitstroping van gentlemen uit krieket ’n onlangse verskynsel? In die 1970’s en ’80’s was krieket, saam met boomrook en raggaemusiek, simbole van weerstand van die Wes-Indiërs teen die Engelse. Die optrede wat hiermee gepaardgegaan het, was allermins gentlemanly.

Ek het onlangs ’n dokumentêre program gekyk oor die reeks om die As. Hierin is vertel dat sommige van die Australiese krieketspelers laat in die 1980’s en vroeg in die 1990’s tot 48 biere op die vlug van Sydney na Londen kon drink en dan steeds by Heathrow kon loop.

In die 1990’s het ons in Suid Afrika bewus geword van die krag van dobbelary en wedstrydbepalings deur die Indiërs. Ons eie Hansie Cronje is hierin gekelder as ’n slegte voorbeeld vir ons jeug. En terwyl ons dan na Suid-Afrikaanse spelers verwys, moet ek byvoeg Quinton de Kock se verwysing na David Warner se vrou (wat my betref) meer afgryslik was as die Aussies se optrede in die geheel. Daar is ’n balk in ons eie oog waaroor ons klaarblyklik niks (wil) sê nie.

Dieselfde geld natuurlik vir die optrede van ondersteuners. Die gewildste drankie by enige vorm van krieket is al lankal nie meer Engelse tee nie. Die Barmy Army verpersoonlik dronkenskap en als wat daarmee op hul toere gepaardgaan. Hoe gereeld sien ons nie handgebare of plakkate van ondersteuners wat die kameraman onmiddellik moet laat wegswaai van mense nie. Ons hoor van spelers wat ongehoorde banaliteite toegesnou word by die derdemangrens.

Dié sport is duidelik al ’n geruime tyd uit die Sondagskool en terug in die kroeg.

Terug dan by die vraag: Hoekom pla dit dan so? Ek glo dat ons ontsteltenis die gevolg is van ’n verwagting wat nie kan bevredig word nie.

Ons weet wat krieket behoort te verteenwoordig en ons besef nou dat die sport dit nooit sou kon uitleef nie, gegewe die afstand tussen die moderne sport en die essensiële grondbeginsels van die sport, naamlik, die opleiding van die karakter van ons jongmense. Om dit verder te neem: ons weet die Christelike opdrag is om ons karakter te kweek na die beeld van Christus.

En dit als bring my na die Paasfees, die ware Paasfees. Nie sjokoladehase, -eiers of hot cross buns nie. Nee, die Christen se herdenking van die dood en opstanding van Jesus. Ons sê dit so maklik. Sy liggaam, gebreek vir ons skete, en sy bloed, gegiet vir ons sondes. Die Paasfees is natuurlik nie ingestel deur Christus nie. Sy instruksie was eintlik heelwat meer ingrypend: Om Nagmaal te hou ter herdenking van sy opoffering – so gereeld as wat ons, sy liggaam en kerk bymekaarkom.

In 1 Kor. 11:17 leer Paulus ons dat ons bietjie hierby moet stilstaan. Dat ons nie honger moet kom na die Nagmaal nie aangesien dit mense te lank kan neem om hulself te ondersoek en dat die ete dalk eers laat mag plaasvind. Maar ook dat hierdie selfondersoek kritiek is vir die karakterbou van die individu as bousteen van die kerk.

Kortom, ons moet die Gees terugnooi na die Paasfees en die wag terugbring by ons gereelde Nagmaal. Anders gestel: Wag gereeld vir die Gees. Dit kan ons elkeen doen, en ons kan dit gereeld doen saam met ander of alleen. As familie, as vriende, as kerk of as huisgroep.

Die antwoord vir krieket se krisis lê nie in groter straf vir die skuldiges of vir sterker riglyne deur die Internasionale Krieketraad (IKR) nie. Nee, om ’n gentleman te wees, moet van binne af buitentoe vloei. Die antwoord vir Steve Smith, David Warner, Quinton de Kock, asook vir my en vir jou, lê steeds, ná al hierdie jare, in die wag tydens die Nagmaal.

Ek glo daar is gentlemen in die sport wat saam met my wag, en dit maak my nou, ná ’n lang week, rustig.

  • Andries Brink is die uitvoerende hoof van Andile Groep en direksielid van die sakeregtewaghond, AfriSake.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Eish ·

Briljante artikel wat voorwaar met n totaal onverwagte, maar hoogs nagelate invalshoek ons afgod, sport, ontklee tot op die wit gepleisterde grafsteen waarin dit ontaard het, vol doodsbeendere en al!

Willem ·

Ja, Quinton de Kock se uitlating op die veld teenoor Warner het toe baie wyer uitgekring as wat die mense ooit kon dink. Warner se vrou het na die balpeuter toets gesê sy voel verantwoordelik vir Warner-hulle se optrede, daar dit voortspruitend was wat uit die vorige toets op die veld gebeur het. En die optrede van die toeskouers op Nuweland het ook nie gehelp nie.

Ek self was na daardie toets van mening dat Warner was na die vorige toets nog so kwaad vir De Kock en die straf wat hy gekry het, dat sy oordeel hom baie sleg in die steek gelaat het en hulle wou ten alle koste wen, al sou dit beteken dat daar met die bal gepeuter moes word.

Mens kan hom seker nie verkwalik dat hy gevoel het hy is onregverdig behandel nie, hy en De Kock is net vir die voorval op die trappe beboet en dit wat op die veld gebeur het wat aanleiding daartoe gegee het, is nie in ag geneem nie.

Kom ons hoop hulle bring die gentelman terug na die spel en los die gedurige gehap en sielkundige gebyt na mekaar.

Rupert Ashford ·

Van wat ek uit Aus hoor het Warner min of meer dieselfde oor de Kock se suster te se gehad. Probleem is net die waarheid maak seer. Warner is geen engel nie en het ‘n lys van vorige wangedrag wat skrik vir niks. Dit is goed dat ons ons eie mense egter aan hoer standaarde meet (gentlemen) maar moenie die konteks miskyk nie.

AG SHAME ·

Kry die arme uitgevangde man op die foto’s so jammer. Hy’s regtig erg jammer. Waars die dae toe sport net vir pret was.

CG ·

Op grond van wat ek hier lees was krieket van die begin af ‘n afgod- Sondagsport om die Britse meerderwaardigheid te troetel. Nee wat, hou maar verby!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.