Puk-krisis: Taal moenie hoër funksies verloor

Dit sal tragies wees as die kunsmatig geskepte krisis oor ’n studentelied die instrument word om Afrikaans en die voortbestaan van die Puk, soos ons hom ken, in die gedrang te bring.

Is dit werklik so ernstig?

Ja. Daar is ’n groter en ’n kleiner prentjie.

As oud-Puk student en professor, tans parlementslid en adjunkminister beweeg ek tussen die twee wêrelde en die twee prente wat hier ter sake is. Dat hier met vuur gespeel word, is duidelik.

Die kleiner prentjie is die giftige mengsel van enkele gegriefde Puk personeellede met kontakte by die media in botsing met die universiteitsowerhede. Voeg hierby naïewe studente wat in die hande van moedswillige joernaliste speel en jy eindig by feite wat buite konteks aangebied word om só die prentjie te voltooi.

Die foto’s wat gebruik word om die krisis te skep, kom uit ’n greep van ’n 108-sekonde video waarin wit en swart studente vir hul primaria ’n groetlied sing. Die sogenaamde “saluut” is twee sekondes van die lied met al sy verskillende dansbewegings.

Boonop het die universiteitsowerhede die sensitiwiteit daarvan uit hul eie raakgesien en HK-lede en studenteleiers reeds in Januarie vanjaar opdrag gegee om die groet te staak. Daarna is dit nie weer gebruik nie.

Die feit dat ou nuus deur die media as nuwe nuus maande later voorgehou word, bevestig die kunsmatigheid van die krisis wat geskep is. Die feite mag nog een berig geregverdig het, maar nie agt berigte en ’n spotprent nie.

Die groter prentjie is ’n berekende aanslag van regeringskant teen Afrikaans op alle vlakke.

Van die 23 Suid-Afrikaanse universiteite is daar slegs twee wat tans nog as oorwegend Afrikaans beskryf kan word. Dit terwyl Afrikaanssprekendes se getalle in Suid-Afrika baie meer universiteite regverdig. In die verlede was daar sewe sulke universiteite.

Volgens die Wysigingswet van die Wet op Hoër Onderwys van 1997 kan Minister Nzimande op verskillende wyses by die NWU ingryp as sekere opdragte nie uitgevoer is nie of foute gemaak is. Dit kan selfs behels dat hy ’n administrateur kan aanstel om die funksies van die raad oor te neem of ’n assessor aanstel wat klagtes kan ondersoek.

Wat hoop ek gebeur?

Ek hoop kleinlikheid maak plek vir wysheid sover dit die kleiner prentjie betref.

Wat die groter prentjie betref sien die ANC hier ’n geleentheid om in te gryp. Die minister het ’n verslag vanaf die universiteit aangevra. Ek het daarna ’n ernstige gesprek met die minister gehad waarin ek die konteks aan hom uitgewys het. Ons wag nou op sy verdere reaksies en hoop dit sal gebalanseerd wees.

Afrikaans kan nie sy hoop op oorlewing en groei net op kultuurgeleenthede en kunstefeeste plaas nie. Internasionale voorbeelde van tale wat tot niet gegaan het, bewys dat ’n taal nie sy hoë taalfunksies moet verloor nie. Daarvoor het ons ’n oorwegend Afrikaanse kampusse soos Potchefstroom nodig.

Kom ons hoop dat die ergste vure, wat deur kleinlike geskille aangesteek is, geblus kan word in belang van ons kinders en kleinkinders wat nog eendag Pukke wil word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frik Lotz ·

Stem saam met alles wat dr. Mulder sê. Daar is n aanslag op Afrikaans op alle vlakke en die ANC-regering sal enige manier vind om die Afrikaner en Afrikaans mee by te kom. Minderhede se regte word vertrap en hul word soos 2de klas burgers behandel in hul eie land. Dit moet end kry en daar kan begin word deur te gaan stem en VF Plus te stem. Staan op,die tyd is nou!

Frik Lotz ·

Stem saam met alles wat dr. Mulder sê. Daar is n aanslag op Afrikaans op alle vlakke en die ANC-regering sal enige manier vind om die Afrikaner en Afrikaans mee by te kom. Minderhede se regte word vertrap en hul word soos 2de klas burgers behandel in hul eie land. Dit moet end kry en daar kan begin word deur te gaan stem en VF Plus te stem. Staan op,die tyd is nou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.