PW Botha was nie ál Krokodil nie

Toekomsberaad-Flip-Buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

Die DA se hantering van een van sy senior leiers, Dianne Kohler-Barnard, laat opnuut vrae ontstaan oor die land se vertolking van die verlede. Die NP van oudpres. PW Botha word deesdae alleen verantwoordelik gehou vir die politieke doodloopstraat van die tagtigerjare. Daarteenoor word die ANC se rol in die destydse vertraging van ’n grondwetlike skikking totaal onderspeel. Die ANC se uitgesproke strategie was om nie aan politieke onderhandelinge deel te neem voordat die regering só verswak was dat die gesprekke net oor die oorhandiging van mag sou gaan nie. Die party het destyds nog grootskaalse steun van die Sowjetunie geniet en is eers tot onderhandelinge gedwing toe kommunisme in duie gestort het.

Die beste bewys van die ANC se aandeel in die politieke stagnasie was die ontmoeting van dr. Van Zyl Slabbert met die ANC in 1985. Daar het die ANC bevestig dat die gewapende stryd steeds sy amptelike beleid was. Onderhandeling is gesien as ’n proses waartydens die (verslane) regering die mag aan die seëvierende “demokratiese magte” sou moes oorhandig. Die ANC het ook nie destyds geveg vir ’n grondwetlike demokrasie en ’n vrye ekonomie nie. Die doel was om met ’n rewolusionêre oorname ’n “Oos-Duitsland in Afrika” te vestig. Mens kan maar net kyk wat van menseregte, burgerlike vryhede, en ’n moderne ekonomie in al die ander “demokratiese volksrepublieke” geword het waar die ANC se medebevryders hul sin gekry het. Die laaste uitgawe van die ANC-blad Sechaba in Desember 1990, gedruk deur die Erich Welnert-pers van die Oos-Duitse geheime polisie, die Stasi, het ’n foto van hul onversetlike kommunistiese president, Erich Honecker, op sy voorblad gehad. Die redaksionele kommentaar oor die goeie ANC-Oos-Duitse verhoudings betreur die verlies wat die bevrydingsbeweging ly met die verdwyning van die kommunistiese regime in Oos-Duitsland.

Botha-strategie

Die Botha-regering het geen sin daarin gesien om in sulke omstandighede te onderhandel nie. Daarom het hulle ’n vierbeen-strategie gevolg om die dooiepunt te verbreek. Die eerste been was die stelselmatige aftakeling en hervorming van die Apartheidsbestel. Die tweede stap was die begin van ’n proses van onderhandeling om gematigde swart mense in die regering te begin betrek. Die derde stap was om met grootskaalse swart ontwikkelingsprojekte en ekonomiese opheffing swart mense se lewe te verbeter. Die vierde been was om met die afkondiging van ’n noodtoestand die rewolusionêre toestand wat in dele van die land geheers het te onderdruk, in ’n poging om ’n klimaat te skep vir die hervormings om te werk. Hierdie strategie van die NP is bemoeilik deur die verskerping van die ANC se “People’s War”, wat op ’n gewelddadige oorname en die sabotering van vreedsame hervorming gerig was. Die Botha-regering se strategie om demokratiese swart plaaslike regering in te stel, het bykans totaal misluk deur ANC-gesinde ontwrigting en selfs aanvalle op die raadslede. Jare lange belastingboikotte het ook die beskikbare geld vir die ontwikkeling van hierdie gebiede gekortwiek, om nie van die skoolboikotte te praat nie. Die IVP-leier, mnr. Buthelezi, het die ANC vergeefs gewaarsku: Die strategie om die land onregeerbaar te maak, gaan veroorsaak dat die land ná sy oorname steeds onregeerbaar gaan wees.

Vanuit die Botha-regering se gesigspunt, het die ANC se weiering om te onderhandel voordat die magsbalans in sy guns was; die party se geweld en terreur; kommunistiese beleid, alliansie met die Kommunisteparty en noue verbintenis met die Sowjetunie, onderhandelinge wensdenkery gemaak. In die tagtigerjare was sowat driekwart van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee lede van die SAKP.

Geweld

Teen die middel van 1990 het die geweld in die land onheilspellende afmetings aangeneem. Dit het gespruit uit die ANC se veldtog om mededingende swart groepe uit te skakel om só sy bedingingsposisie by ’n onderhandelingsproses te versterk. Die ANC se aandeel in die politieke geweld word vandag totaal onderspeel. In April 1992 het regter Goldstone ’n verslag uitgereik waarin hy tot die gevolgtrekking kom dat die “primêre oorsaak” van die geweld die “politieke stryd tussen ondersteuners van die ANC en die IVP” was. Vanaf September 1984 tot April 1992 is 455 mense deur die polisie gedood, teenoor 8 825 deur die opstandelinge. Altesaam 801 mense is lewend deur rewolusionêre aan die brand gesteek en verbrand.

Daar word deesdae aanvaar dat die noodtoestand en onderdrukkende maatreëls van die tagtigerjare bedoel was om swart mense te onderdruk en ortodokse apartheid in stand te hou. Maar die werklike doel was om wet en orde te handhaaf om vreedsame onderhandelinge moontlik te maak. So teenstellend soos dit mag klink, was die doel van die noodtoestand nie om apartheid af te dwing nie, maar om die omstandighede te skep waarin apartheid afgeskaf kon word.

ANC-aandeel in probleme

Dit kan nie betwis word dat die Botha-regering belangrike foute begaan het nie, maar die ANC se aandeel in die doodloopstraat kan nie oorgesien word nie. PW Botha was beslis nie die enigste “Krokodil” nie! Die vraag kan gevra word of die land nie ’n groot deel van die konflik van die tagtigerjare gespaar kon wees, as die ANC self ’n paar hervormings aan sy beleid en strategie aangebring het nie. Hier kan gedink word aan die verbreking van sy bande met die Kommunisme en die Sowjetunie, die afswering van geweld, die aanpassing van sy beleid om vir die outonomie van kultuurgroepe voorsiening te maak, en om in goeie trou die Botha-regering se aanbod te aanvaar om te onderhandel. Die ANC het egter ’n ander pad gekies en die strategie om die land onregeerbaar te maak dra nou nog wrange vrugte soos mnr. Buthelezi gewaarsku het. Die ANC-in-regering sit inderdaad met baie van die probleme wat die ANC-in-struggle help skep het. Kyk mens na die huidige radikalisering van die ANC, kan mens nie anders nie as om te vra of mnr. PW Botha dan heeltemal verkeerd was om die ANC te wantrou.

Nee, ek verlang nie na die verlede onder PW Botha nie, maar sien ook nie uit na ’n toekoms onder die ANC nie. Dis hoekom kulturele selfbestuur nodig is om te verseker dat ons nog ’n toekoms het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alwyn Beetge

Uitstekend uit een gesit. Maak alles meer verstaanbaaar.

Winston

Pragtig. Dit is presies net so. Baie dankie dat van die oningeligtes dit ook kan lees. Vir n slag n stuk waarheid in n berig. Puik geskryf

Bruno Stef

Min of meer dieselfde paadtjie wat Abel Moserewa/Sithole/Ian Smith se regering in Rhodesia geloop het en in goederetrou n verkiesing ingegaan het wat die volle mag aan Mugabe oorhandig het.Dit het tot n Diktatorskap gelei soos die res van Afrika en dit bevestig Zuma se stelling dat die ANC die land sal regeer tot JESUS weer kom hulle gaan aan die mag vasklou ten alle koste.

Tascha

Netjies raakgevat in ‘n neutedop. Baie dankie dat geen party oorgesien word nie. Ja, ek stem saam dat die NP net soveel foute begaan het maar die ANC dryf nog altyd vorentoe om rasse haat te verskerp en hammer op die verlede instede daarvan om vorentoe te kyk. Ek was maar net ‘n dogtertjie toe al hierdie dinge gebeur het maar ek dink ook wanneer die ANC nie meer aan bewind is nie hierdie land ‘n beter kans sal hê om te oorleef en dit sluit egte kanse om oorlewing vir beide swart en wit mense in!

Stanley Robertson

Kan Afrivorum nie vir Dianne Kohler-Barnard ‘n pos bied, dat sy ophou verkleineer kan word vir eintlik net die “deel”, van die waarheid?