Quo vadis, demokrasie?

demokrasie

Argieffoto.

Deur Alec Basson

In 1994 het Suid-Afrikaners demokrasie met oop arms verwelkom. Maar vandag blyk die omhelsing nie so styf te wees soos ons dit graag sou wou hê nie.

“Dit wil voorkom asof ons nie heeltemal seker is hoe ons oor ons demokrasie moet dink nie,” sê dr. Cindy Steenekamp, ​​ʼn senior lektor in die departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Steenekamp het in ʼn onlangse studie vir die eerste keer die kenmerke van ʼn demokratiese samelewing in Suid-Afrika beskryf deur te kyk na mense se verbintenis tot demokratiese waardes, en hul ondersteuning vir die land se demokratiese bestel en politieke owerhede. Haar navorsingsvraag het spesifiek verband gehou met die voortbestaan van demokrasie en hoe dit sedert 1994 deur Suid-Afrikaners se politieke houdings en gedrag beïnvloed is.

Die bevindinge van Steenekamp se studie is in die Taiwan Journal of Democracy gepubliseer.

Sy het data van die afgelope vier periodes van die World Values ​​Survey (WVS) wat tussen 1995 en 2013 in Suid-Afrika gedoen is, ontleed. Dié opnames het die vlak van politieke kultuur, die steun vir die demokratiese bestel en die politieke proses, asook die vlak van vertroue in politieke partye, die regering en die parlement gemeet. Die WVS is ʼn waardevolle wêreldwye netwerk van sosiale wetenskaplikes wat kyk hoe waardes verander en wat hul impak op die sosiale en politieke lewe oor tyd heen is. Gedurende elk van die vier periodes is persoonlike onderhoude met volwasse stedelike en landelike Suid-Afrikaners uit verteenwoordigende steekproewe in hul voorkeurtaal gevoer.

Steenekamp sê die ontleding van die WVS-data het getoon dat hoewel daar steun is vir die demokratiese regering en die huidige politieke stelsel, steun vir outoritarisme toegeneem en vertroue in regeringsinstellings afgeneem het.

“Enersyds is die steun vir die demokratiese regering redelik hoog, ondanks ʼn skerp daling tussen 2006 en 2013, en hoër as die steun vir ʼn outoritêre regering. Steun vir die huidige politieke stelsel styg steeds.

“Terselfdertyd het ondersteuning vir outoritarisme egter meer as verdubbel sedert 1995 en is dit nader aan die drempel van 50%. Vertroue in regeringsinstellings neem af en in 2013 was dit vir die eerste keer sedert die oorgang onder 50%.

“Die feit dat die gaping tussen steun vir demokratiese regering en outokratiese regering van 71,3% in 1995 tot 25,2% in 2013 verklein het, hou niks goeds vir die voortbestaan van ʼn demokratiese samelewing in Suid-Afrika in nie.”

Steenekamp voeg by dat vertroue in verskeie regeringsinstellings, soos politieke partye, die parlement en die regerings met meer as 20% tussen 1995 en 2013 afgeneem het.

Sy wys daarop dat die data ʼn afname in Suid-Afrikaners se positiewe houding teenoor wetsgehoorsaamheid toon, ondanks die feit dat hulle oor die algemeen onkonvensionele politieke gedrag, soos protesaksie en die gebruik van geweld vir politieke gewin, veroordeel.

Steenekamp sê daar kan verskillende redes vir hierdie teenstrydige resultate wees.

“ʼn Mens kan argumenteer dat die verbintenis tot demokrasie weens die sosio-ekonomiese realiteit van die meerderheid nie ten volle deel van ons waardesisteem geword het nie.  Hoewel die swart middelklas sedert 1994 gegroei het, is daar nog steeds die uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid.

“Ten spyte van die voorsiening van basiese infrastruktuur en maatskaplike welsyn, moet die meerderheid Suid Afrikaners nog hul lewenstandaarde aansienlik verbeter.

“Ook die veranderende aard van partypolitiek, veral binne die ANC, en onstuimige politieke korrupsie is waarskynlik daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrikaners hul vertroue in die staat en politieke leiers verloor het. Die toename in onkonvensionele politieke gedrag  (protesoptrede in reaksie op swak dienslewering) is ʼn direkte resultaat van burgers se ontevredenheid met die staat.”

Steenekamp meen die vlakke van ontevredenheid en burgerlike ongehoorsaamheid kan die dominante politieke instrument word wat mense gebruik om die openbare mening te mobiliseer en beleidmakers te beïnvloed.

“Sodra protesoptrede gewelddadig geraak het, het dit ʼn negatiewe uitwerking op die voortbestaan van ʼn demokratiese samelewing en kultuur.”

Ons moet egter nie vergeet nie dat, in teenstelling met ʼn outoritêre regering, ʼn demokratiese regering soos ons s’n die ondersteuning van sy burgers nodig het om sy legitimiteit te handhaaf.

Steenekamp beklemtoon die belangrikheid van ʼn politieke kultuur wat demokrasie bevorder en sê “demokratiese instellings alleen sal nie ons demokrasie stabiel en doeltreffend laat funksioneer nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Elke byeenkoms van die ANC word gekenmerk deur dreunsang, magsvuiste en ‘n getoi-toi wat woede, haat en onvergenoegdheid uitbeeld; ‘n aanduiding dat daar steeds verbete teen ‘n vyand geveg word wat tot oorgawe gedwing moet word. Die vyand word elders gesoek en gesien. Die ‘ons’ fouteer nooit. Alle drastiese aksies is bloot omdat ‘ons’ te magteloos gehou word om ‘onsself’ te verwesenlik en ‘ons’ mense se situasie te verbeter. So word geglo. Die probleem le elders… ‘Ons’ moet ‘ons’ demokratiese regte gebruik, meer en meer word, ‘n sterker impi-kader opbou, en met magsvertoon die demokrasie van oorwinning vier want alles is eintlik ‘ons’ s’n. Dit is hoe demokrasie in Afrika werk en lyk. ‘n Woord het vele interpretasies. Ons weet reeds hoe Afrika lyk en werk… en wat SA se uitkoms sal wees…

Eish ·

Die steun vir groter outokrasie hou seker verband met die regering se vertolking daarvan dmv staatskaping. Dit maak nie sin nie. Outokrasie beteken ons gaan meer daarvan ervaar. Wat wel sin maak is die voorspel tot die verrotting wat reeds in n gevorderde stadium is. Die navorsing bevestig dat die eskalasie daarvan n sekere uitkoms is. Die stille gematigde meerderheid is ook n hersenskim wat die intelligentsia uitgedroom het. Die blankes is in vir n ongelooflike stamperige aanslag op hul bates.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.