Quo Vadis met ons staatkundige bestel?

Deur Fanie Cronje

Danie de Jager se beeldhouwerk “Quo Vadis?” by die Voortrekkermonument (Foto: Vryheidstigting Webblad)

As ʼn mens kyk na die oplossings op die tafel vandag en dan terugkyk op die geskiedenis, staan daar ʼn paar ooreenkomste uit waarvan die meeste misluk het.

Die voormalige staatkundige oplossing was natuurlik sogenaamde afsonderlike ontwikkeling of die tuislandbeleid. Die aanvanklike idee om staatkundig onafhanklike state per kultuurgroep daar te stel en dan samewerking binne ʼn groter konfederale stelsel te bewerkstellig – natuurlik waar onafhanklike state gesamentlik besluite neem rakende gemeenskaplike aangeleenthede. Byna soos die Afrika-Unie tans, net dan meer bindend in terme van besluite “afdwing”.

Die negatiewe uitvloeisel van die staatkundige oplossing vir die uitdaging van die ordening van ʼn verskeidenheid van kulturele en rassegroepe binne ʼn voormalige verenigde “staat” (die Unie van Suid-Afrika) was natuurlik die verskynsel van apartheid. Daarvolgens is gepoog om totale skeiding op ekonomiese en sosiale gebied te bewerkstellig. Dit was uiters diskriminerend teen van die groepe wat wel in die groter Suid-Afrika woonagtig was en ingevolge die staatkundige model, burgerskap in die nasionale of onafhanklike state sou hê.

Apartheid is derhalwe internasionaal veroordeel en basies gelykgestel aan die staatkundige model, maar ook oor die eensydig verkeerde vertolking en uitkoms van die konfederale model van onafhanklike state. Moet ook nie die ongelyke verdeling van grond uit die oog verloor nie. Die “oplossing” was onder andere, jeens die diskriminerend vertrekpunt maar ook die diskriminerende aard daarvan, gedoem tot mislukking.

In 1994 word die nuwe Suid-Afrika gebore. Die staatkundige model berus op ʼn grondwetlike demokrasie, dus alle besluite behoort ooreenkomstig met die Grondwet as die oppergesag geneem word. Die Grondwet as die oppergesag word tot ʼn mate by die Amerikaanse model geleen. Maar die vestiging van ʼn Westminster-gebaseerde stelsel van 50% + 1 word ook hierin opgeneem. Beskerming van regte geskied ingevolge die handves van menseregte en berus in hoofsaak op die beskerming van persoonlike regte.

Daar ontstaan ʼn nuwe konsep naamlik die reënboognasie. Dit is natuurlik ingevolge die handves van menseregte en sy uitgangspunt van almal is gelyk gevestig. Daar word egter voorsiening gemaak vir “regstelling” van die onregte van die verlede. Komende uit die bestaande ongelyke samelewing, heeltemal tereg. Dit gee agter aanleiding tot die beleid van regstellende aksie of “swart ekonomiese bemagtiging”. ʼn Heeltemal aanvaarde konsep binne die raamwerk van die handves van menseregte se “almal is gelyk en die skep van gelyke geleenthede”.

Indien korrek toegepas behoort dit die probleem van ongelykheid oor ʼn bepaalde, vasgestelde tydperk die hoof kon bied. Maar soos in die geval van apartheid as uitvloeisel van die staatkundige ordening, verval die beleid van regstellende aksie ook in diskriminerende besluite en die skep van ʼn ongelyke omgewing sonder dat die werklik benadeeldes enigsins daarin deel.

Dit raak ʼn volgende manier om die bevoorregtes te bevoordeel ten koste van ander. Dit lei tot ʼn beleid van skadelike kaderontplooiing en gepaardgaande korrupsie en gierigheid deur die bevoordeelde bevoorregte uitgesoektes. Maar hieruit spruit ook voort die vernietigende aanblaas van rassehaat en dat die vorige bevoordeeldes bepaald so te sê vernietig moet word. Soos met die uitvloeisel van die vorige gepoogde staatkundige bestel is hierdie uitvloeisel ook diskriminerend teenoor sekere segmente van die samelewing en sekere kultuur- en rassegroepe.

Waarheen dan nou of soos in Latyn “Quo Vadis”?

Daar is besliste federale elemente in die Grondwet. Die huidige regering hou graag die stelsel as federalisties voor. Dit natuurlik aangesien daar nege provinsies met provinsiale regerings bestaan. Die provinsies se magte is absoluut onderworpe aan die sentrale regering se beleid en wetgewing. Artikel 95 van die grondwet maak voorsiening dat ʼn minister sy magte mag delegeer na ʼn tweede vlak of selfs derde vlak owerheid (provinsies en munisipaliteite).

Maar in ʼn grondwetlike federale bestel sal die bevoegdhede van beide die sentrale regering en die tweede vlak-regering duidelik omskryf moet word en sal iets soos artikel 95 dus oorbodig wees. Die regering is dus korrek as hulle sê daar sal ʼn grondwetwysiging moet wees om ʼn federale stelsel te vestig. (Natuurlik word die bepalings van artikel 95 grootliks geïgnoreer.)

Daar bestaan egter, soos ook hierbo aangetoon, verskille tussen die staatkundige model en die uitvloeisel daarvan. Dus sou ʼn mens kon redeneer dat artikel 95 ʼn uitvloeisel van die Grondwet kan wees. Dit is dus die afwenteling van mag met die goedkeuring van die sentrale regering. Daar is egter nou ʼn interessante verskynsel wat heel moontlik “die afdwing” van die afwenteling van mag moontlik maak. Dit is natuurlik binne die konsep van die mislukkende staat, waar geleenthede geskep word vir tweede en derde vlak-owerhede om oor te neem, weens verskeie redes soos onder andere kapasiteit, gebrek aan kundigheid en ook onvermoë om sekere dienste in stand te hou.

ʼn Baie goeie voorbeeld hiervan is die ineenstorting van veeartsdienste in die Wes-Kaap, wat die plaaslike lid van die uitvoerende raad, Ivan Meyer, en die plaaslike departement van landbou basies verplig om daardie dienste, wat in praktyk nie meer bestaan nie, oor te neem.

Daar word graag verwys na die privatisering van dienste en oorname deur die privaat sektor van sodanige dienste. Daar is bepaald ook plek daarvoor, maar soos hierbo aangedui kan die afwenteling van mag, juis as gevolg van die staat se mislukking op vele terreine, ook deur tweede en derde vlak-regering oorgeneem word. Dit kan derhalwe selfs afwentel na gemeenskappe wat die dienste oorneem, soos reeds op verskeie dorpe in Suid-Afrika bewys is. Dit natuurlik, onder andere, met die herstel van slaggate in paaie en verfraaiing van die omgewing.

  • Fanie Cronje is ‘n inhoudskepper vir AfriforumTV en het reeds twee reekse getiteld “Groeiende Federalisme” en “Landbou Allegaartjie” vervaardig en aangebied. Hy bied ook programme op Ramkatradio aan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

My grondwetlike voorstel is gebaseer op goed wat REEDS elders in die wêreld bestaan:
1. Die Palestyne is ‘n minderheidsgroep waarvan Israel nie baie hou nie.So toe gee Israel vir die Palestyne die Palestinian Authority, wat basies ‘n selfregerende tuisland is.Die res van die wêreld is jammer vir die Palestyne, hulle help die Palestyne en erken die Palestinian Authority. Israel laat ook buitelandse belegging in die Palestinian Authority toe.Ek gee toe, dis VER vanaf ‘n 100% onafhanklike Palestynse Staat, maar dis beter as niks. Die ANC kan mos dieselfde met die Wes-Kaap doen.
2 China, nogal groot pel van die ANC, doen iets soortgelyks met Hong Kong en Macao.

So “dump” nie-ANC-mense in ‘n tuisland in die Wes-Kaap, laat buitelandse beleggings daar toe, belas dié tuisland hoog en uiteindelik wen albei groepe: Nie-ANC-mense is dan amptelik 2de klas burgers.,maar het dan veel meer selfregering as tans en die res van SA “cash in” uit belasting op dié tuisland se florerende ekonomie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat help dit indien selfbestuur sorg dat alles goed funksioneer teen hoë koste in sekere plaaslike regerings maar in ander plaaslike owerhede en op nasionale vlak val alles uitmekaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.