RA-saak ‘n voorbeeld van uitvoerende inmenging

Die verhoor in die Wes-Kaap van Solidariteit namens sy lede teen die departement van korrektiewe dienste het heelwat debat oor die toepassing van regstellende aksie ontlok. Grondwethof

Vir diegene wat nie bekend is met die feite nie, dit hou verband met tien applikante (nege word as “bruin” en een as “wit” geklassifiseer deur die Wet op Gelyke Indiensneming) wat almal deur onderhoudspanele vir bevordering aanbeveel is, maar dit nie gekry het nie bloot omdat die posisies waarvoor hulle aansoek gedoen het, vir mense van ander rassegroepe geoormerk is. Die DKD het hul optrede verdedig deur aan te voer dat hulle ’n nasionale departement is en dat hulle derhalwe die nasionale demografie ook in die provinsies moet toepas.

Solidariteit het nie slegs die geldigheid uitgedaag van die regstellendeaksie-maatreëls wat ten opsigte van elke applikant geneem is nie, maar ook die geldigheid van die DKD se gelykeindiensnemingsplan. Die argumente deur die applikante sluit onder meer in dat die gelykeindiensnemingsplan van die DKD niks te doen het met die regstel van die verlede nie, maar eerder een of ander vorm van rasseverteenwoordiging.

Ek kan nog uitwei oor ’n aantal kwessies, maar wat vir my opvallend van die respondente se betooghoofde was, was dat hulle groot gewig aan die doktrine van die “skeiding van magte” verleen het. Dit is klaarblyklik ’n poging om te wys wanneer die howe mag inmeng in besluite wat deur die uitvoerende en wetgewende gesag geneem is.

Weens die verreikende gevolge wat hierdie argument het op minderheidsgroepe of selfs diegene wat nie politieke mag het nie, het ek dit goedgedink om hierdie argument in meer detail te ontleed om sodoende uit te vind wat hulle dink die howe se rol in ons demokratiese samelewing moet wees.

Voordat ek dit doen, gaan ek eers die doktrine van die skeiding van magte sowel as dié van “wigte en teenwigte” verduidelik. Die teorie van die skeiding van magte kan toegeskryf word aan die grondwetlike teorie van John Locke (1632-1704). In sy tweede verhandeling het hy die volgende opmerking gemaak:

“It may be too great a temptation for the humane frailty, apt to grasp at powers, for the same persons who have power of making laws, to have also in their hands the power to execute them, whereby they may exempt themselves from the law, both in its making and execution to their own private advantage.”

Die Franse juris Montesquieu (1689-1755) het die volgende oor die skeiding van magte aangevoer:

“When the legislative and executive powers are united in the same person, or in the same body of magistrates there can be no liberty; because apprehensions may arise, lest the same monarch or senate should enact tyrannical laws, to execute them in a tyrannical manner. Again, there is no liberty if the judicial power be not separated from the legislative and executive. Were it joined with the legislative, the life and liberty of the subject would be exposed to arbitrary control; for the judge would be then the legislator. Were joined to the executive power the judge might behave with violence and oppression.”

Die behoefte het daarom ontstaan dat daar ’n verdeling van staatsdepartemente moet wees en die drie pilare van staatsgesag, te wete die uitvoerende, wetgewende en regsprekende sfere, is daaruit ontwikkel. Ingevolge hierdie beginsel word die funksies van wetskepping, die uitvoer daarvan en die oplos van dispute deur die toepassing van die reg, apart gehou. Hulle moet in beginsel ook deur verskillende instellings en mense verrig word.

Ons 1996 Grondwet vereis in beginsel die skeiding van magte tussen die onderskeie sfere en het gepaste wigte en teenwigte om verantwoordbaarheid en openheid te verseker. Daar is egter nie ’n uitdruklike verwysing daarna in die Grondwet te vinde nie. Maar in South African Association of Personal Injury Lawyers v Heath het die Grondwetlike Hof bevestig dat daar geen twyfel kan wees dat ons Grondwet vir so ‘n skeiding voorsiening maak nie, en dat enige wette onbestaanbaar daarmee ongeldig is.

Die doel van wigte en teenwigte is om te verseker dat die verskillende take van regering mekaar intern beheer (wigte) en terselfdertyd as teenwigte dien vir die ander takke se mag.

Die DKD het onder meer aangevoer die hof moet nie die regering se rol oorneem om beleid te formuleer en in werking te stel nie. Volgens hulle is die politieke sterk- en swakpunte van betwiste wetgewing nie die domein van die hof nie solank ’n legitieme openbare doel gedien word.

As hierdie argumente in ag geneem word, is dit duidelik dat die DKD die siening huldig dat regstellende maatreëls ’n grondwetlike en wetgewende noodsaaklikheid is en nie die knie moet buig voor die reg tot gelykheid en waardigheid van elke individu nie. Enige sulke maatreëls wat die doelwit najaag om sulke regstelling te bewerkstellig is dadelik in pas met die grondwet en terstond ook beleid wat tot wetgewing aanleiding gee. Die formulering van ’n gelykeindiensnemingsplan word daarom gesien as ’n vorm van beleidmaking wat die uitsluitlike reg van die uitvoerende gesag is en die howe mag nie daarmee inmeng nie.

Hierdie argument is nie net ontstellend nie, maar bedreig die beginsel van die skeiding van magte en die toepassing van die grondwetlike Handves van Regte om ’n aantal redes. As hierdie argument aanvaar word, beteken dit indien enige staatsdepartement kan aandui dat sy geformuleerde beleid die doel het om een of ander grondwetlike oogmerk te verwesenlik, die howe nie hierdie beleide kan hersien nie. Dit kan gebeur ongeag of die maatreëls wat deur hierdie beleid gemagtig word, ongrondwetlik en dus ook onwettig is.

TriasDie DKD se argumente stem angswekkend baie ooreen met die apartheidsregering se strategie toe dit in die jare vyftig die “parlementêre Hooggeregshof” gevestig het. Die rol van hierdie instelling was om hofbeslissings op hersiening te neem en die howe se magte in te perk.

Die onafhanklikheid van die regbank sowel as sy funksionering binne ons grondwetlike demokrasie is ongetwyfeld onder beleg. Hierdie feit is nie slegs duidelik uit die lees van die DKD se betooghoofde nie, maar word deur verskeie opmerkings deur die regerende party oor die rol van die howe gesteun.

Die uitvoerende gesag dwing duidelik sy gesag af in die uitvoer van regstellende aksie-maatreëls en wil die howe se betrokkenheid by die beregting van dispute oor regstellende aksie beperk. Ons kan slegs hoop die howe sien hierdie argument vir die ongevraagde politieke inmenging wat dit is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dirk Groenewald

Meer oor die skrywer: Dirk Groenewald

Dirk Groenewald is sedert 2007 werksaam by Solidariteit en is tans hoof van die Solidariteit Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Ebert ·

Wat is “Plan B” indien die howe hul onafhanklikheid sou verloor?

renate barnard ·

Ons almal hoop en vertrou dat REG en GEREGTIGHEID sal seevier en dat daar nog vertroue in die regstelsel sal wees. Sterkte, Dirk, julle doen baanbrekers werk!!!

Frans Geldenhuys ·

Ek is so bly dat hierdie groot gevaar deur u raakgesien is, mnr. Groenwald.

Eintlik is die ANC deur sy kaders al ver heen om die skeiding tussen die regsprekende gesag en die ander twee regeringsfere weg te doen.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng se verkiesing was tragies in hierdie opsig. Die ergste wys van sy kleure dusver, na my beskeie mening, is aanvoorwerk wat hy begin het vir die omskepping van die howe in Bylae 9-instellings.

Is ek die enigste een wat dit raak gesien het, of verstaan ek dit sommer maar net verkeerd?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.