Raak die platteland weer in die mode?

platteland-reenboog-landskap

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Een van die megatemas wat nooit uitgeput raak nie is die verhouding tussen stad en platteland, asook die migrasietendense daartussen. Elke land het in mindere of meerdere mate die verdeling tussen stad en platteland (behalwe Singapoer en ander stadstate, wat 100% verstedelik is).

Dit is interessant om na die golwe wat mense óf na die stede óf weer meer na die platteland dryf, te kyk en te ontleed.

As ʼn mens na die Westerse samelewings kyk (byvoorbeeld ontwikkelde state soos die VSA, Brittanje, Frankryk, Duitsland en Nederland), kan die volgende tendense wat die voorkeur tussen stad en land betref, gesien word (en hier word breed veralgemeen): Ná die Tweede Wêreldoorlog het verstedeliking, wat kortliks onderbreek was weens die groter gevaar vir lewe en besittings asook hongersnood in die stede, weer volstoom voortgegaan. Verstedeliking het reeds in die 19de eeu in die meer gevorderde lande begin, maar ná die Tweede Wêreldoorlog het dit eintlik orals in die wêreld gebeur.

Die hoofrede om stede toe te trek was natuurlik die werksgeleenthede, in daardie tyd (1950’s, 1960’s) veral in fabrieke. Dit was ook die tyd waarin talle nuwe groot arbeidervoorstede ontstaan het. In die VSA, wat voor was met die verstedelikingstendens, het egter ook die voorstede vir die middelklas ontstaan wat uiting gegee het aan die Amerikaanse lewensideaal van ruimte, gemak en goeie buurmanskap met ʼn heining tussenin. Dit het veral in die 1950’s begin.

Dit was ook die tyd waarin brandstof goedkoop en paaie nog redelik oop was. Dit was algemeen om in die middestad te werk, in die voorstad te woon en naweke ʼn uitstappie na die platteland te onderneem. Die eintlike stad (city center) was nie meer die ideaal om in te woon nie. Veral die arm mense uit die sogenaamde minderheidsgroepe (swart mense, mense van Latyns-Amerikaanse afkoms) het die middestede in die VSA oorgeneem omdat blyplek goedkoop was en hulle nie eie motors gehad het nie. Dit het dikwels tot agteruitgang van die middestede en die vorming van krotbuurte gelei.

Die Europese stede het die tendens van die trek na die voorstede met ʼn sekere tydvertraging nagevolg. In die 1970’s en 1980’s het, in sekere sin beïnvloed deur die opkoms van die omgewingsbeweging, ʼn tendens na die egte platteland ontstaan en talle boeredorpe het stedelike idealiste as nuwe inwoners bygekry. Lewensgehalte was gelykstaande aan die plattelandse idille met eie groente en diere, vars lug, min verkeer en daarvoor is selfs nog langer ritte na die stede aanvaar.  Die opsie om per internet van die huis af te werk het nog nie bestaan nie.

In die 1990’s het die tendens begin draai en veral ná 2000 volstoom gevorder. Die nuwe geur was die versugting na urbaniteit (stedelikheid). Dit het veral daarmee te doene gehad dat die stadsbeplanners hulle huiswerk gedoen en stede meer leefbaar gemaak het: daar is parke en lanings aangelê, stedelike verkeer is ingeperk, huise meer gesinsvriendelik gemaak, openbare vervoer is verbeter, besoedeling was minder erg ná die de-industrialisering van talle stede en veral was daar die groot trekkrag van kultuur in die wydste sin, wat vir die opkomende “hipsters” allerbelangrik was (stylvolle eetplekke, teaters, kunsgalerye, uitstallings, en so meer). Fabrieke het toenemend gesluit of is uit die sentrale stede verskuif, maar universiteite het al meer mense stad toe getrek omdat akademiese opleiding al belangriker geword het. Gevolglik het in sekere gewilde stede die behoefte aan behuising, veral vir jong enkelinge, die hoogte ingeskiet.

Die stormloop na die “hip” stede het egter weer ʼn negatiewe impak gehad wat toenemend voelbaar word: ʼn al groter deel van die inkomste gaan vir huur, as plekke hoegenaamd beskikbaar is, te veel mense en te min parkeermoontlikhede het die lewe in die stede minder aantreklik gemaak. Veral in Europa het nog ʼn wesenlike faktor bygekom wat om redes van politieke korrektheid nie dikwels genoem word nie, of eufemisties omskryf word: die massas arm mense uit ontwikkelende lande oftewel derdewêreldlande het hulle feitlik uitsluitlik in stede gevestig. Dit wat die VSA reeds in die 1960 getref het, het Europa, veral Duitsland, meer onlangs getref, naamlik die vorming van krotbuurte.

Skielik lyk die platteland weer aantreklik. Eiendom is volop en bekostigbaar, verkeer is min. Die “hip” faktor raak minder belangrik as ʼn gehaltelewe. Die internet bied ook werksgeleenthede op die platteland wat in die verlede nie bestaan het nie, en omdat internet-aankope en selfs aanlyn mediese konsultasies toenemend gebruik word, het die stad nie meer soseer die voordeel van onmiddellike beskikbaarheid teenoor die platteland nie.

Suid-Afrika is met sy megatendense gewoonlik omtrent 10 jaar agter die Weste en omdat hier sowel eerste- as derdewêreld-leefpatrone bymekaar is, loop die tendense minder duidelik as in die VSA of Europa. Verstedeliking duur tans onverpoos voort, veral deur swart mense wat tradisioneel plattelands was en vir wie die stad die belofte van werk, geleenthede en vermaak bied.

Wit mense het reeds grootliks verstedelik. Wittes trek gewoonlik uit sekere buurte uit wat demografies te veel verander het na “beter buurte” toe en dit jaag pryse daar op. Gewoonlik is buurte wat die verste van die swart woonbuurt of die middestad af is die gewildste, hoewel in die groot stede soos Kaapstad en Johannesburg ook weer sekere dele van die middestad herontdek en opgegradeer word wat die “hipsters” trek. Elke stad in Suid-Afrika het sulke gevalle, waar sekere buurte verval en verarm, en ander vooruitgaan en verryk. In Europa word van gentrifikasie gepraat.

Enkele middelklas-wittes het egter reeds die platteland herontdek en vestig hulle in sekere modedorpe met mooi natuur en aantreklike argitektuur, soos Clarens, Barrydale, De Rust, Dullstroom, en so meer.

Dit is alles egter net klein systrome wat na die platteland beweeg. Die trek na die stede, veral deur die armer deel van die bevolking, sal wel voortduur.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

John ·

Sou lekker wees, maar beleggings in infrastruktuur kort in SA. Water bly ‘n krisis. Die besetting van wit besighede en – plase in plaas van die ontwikkeling van plaaslike strukture is ‘n obsessie by die regering. Massas plakkerkampe wat mekaar omarm met rommelhope as die enigste skeidsmure, blyk in die vooruitsig te wees eerder as multi-Orania’s en skilderagtige dorpies.

Henry ·

Terwyl ons aan’t gorrel is…

Die skuif na “modedorpe” word hoofsaaklik deur afgetredenes/uitgetredenes gepleeg. Met-anner-woorde – siele wat nie meer aan die daaglikse bedreigings van die stedelike omgewing blootgestel HOEF te word nie. Wat nie meer deel van die produktiewe gemeenskap is nie.

Die Weskaap het in die proses ‘n nuwe uitkoms gebied. Hoe lank hierdie Nirvana staande gaan bly teen die getalle oormag van die ANC regime en hul stemvee wat eweneens hierheen verskuif word, is natuurlik ‘n ander keteltjie vrot vis. ‘n Keteltjie wat ongelukkig nie geïgnoreer kan word nie.
:-))

Om verder suidwaarts te verhuis, soos talle piete en pietinne ten noorde van ons kon doen, is ongelukkig nie ‘n opsie nie.

Jarrre gelede het my pelle en ek gewonder waarheen ons sal uitwyk, wanneer die numeriese werklikhede van hierdie agtergeblewe vasteland ons hier aan die mees suidelike punt bereik. Ons het nou daardie oomblik bereik. Veels te gou.
Snik.

Wanneer die plaaslike regime ons oor die laaste struikelblokke na ‘n volwaardige Afrikastaat stoot, moet ons maar probeer om in die ‘modedorpe’ wat hier in die Suidkaap aangetref word, te oorleef. Ons nageslag sal moet besluit of hulle hier kan bly, of om soos ons voorsate op te saal en na veiliger en meer vooruitstrewende state/vastelande en wat ookal te verhuis.

Is maar hoe dit is my tjaaina.
:-)

apie ·

plattelandse dorpe kwyn weg, mense trek weg en die agtergeblewenes is arm afhanklikes van die staat. in stede word erfbelasting en koste van dienste verhoog om die migrante te akkommodeer. jy kan nie wen nie. En dit is nie volhoubaar nie. Staatsafhanklikes raak meer en belastingbetalers gaan gaandeweg uitsterf

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.