Radikale ekonomiese transformasie

pieter mulder

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deur dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die Vryheidsfront Plus

Wat presies beteken die begrip radikale ekonomiese transformasie?

Die begrip word vandag in bykans elke ANC-toespraak gebruik.

Toe aan pres. Zuma gevra is wat hy met radikale ekonomiese transformasie bedoel, het hy ʼn baie vae verduideliking gegee – gevolg deur sy gewone senuweeagtige laggie.

Ná 23 jaar van ANC-regering is armoede en werkloosheid meer en nie minder nie. Van die ANC se beloftes van ekonomiese groei en werk vir almal het niks gekom nie. Verkiesingsuitslae wys dat ANC-kiesers al meer ekonomies ontnugter raak.

Julius Malema het hierdie gaping raakgesien. Dit skep vir hom ʼn geleentheid waarmee hy pres. Zuma en die ANC kan vernietig. Ja, hulle wat hom as ANC-jeugleier geskors het. Daarom kies Malema “EFF” as sy politieke party se naam – Economic Freedom Fighters – Ekonomiese Vryheidsvegters. Die begrip radikale ekonomiese transformasie dwing hy so op die politieke agenda af.

Skielik, ná die ANC se terugslae by die stembus, begin pres. Zuma ook praat van radikale ekonomiese transformasie. In sy jaarlikse verklaring op 8 Januarie – ter viering van die ANC se stigtersdag – is radikale ekonomiese transformasie ʼn belangrike tema.

Hy herhaal dit weer in vanjaar se staatsrede in die parlement. Blatant steel Zuma so sekere EFF-beleidstandpunte. Hierdeur probeer Zuma keer dat die EFF die ontnugterde ANC-kiesers daarmee aan hulle kant kry.

Binne-in die ANC het die begrip radikale ekonomiese transformasie die afgelope paar maande die kodewoorde geword om te identifiseer watter ANC-leiers in die Zuma-kamp is.

Verlede week het mev. Dlamini Zuma by ʼn byeenkoms in Sasolburg al die onrealistiese standpunte van haar eksman, pres. Zuma, herhaal en natuurlik na “radikale ekonomiese transformasie” verwys. Daarmee stuur sy die sein uit dat sy die Zuma-groep se kandidaat in die ANC-presidentsverkiesing in Desember is.

ANC-leiers wat hierdie woorde vermy en eerder van “inklusiewe ekonomiese groei” praat, was tot onlangs nog duidelik nie in die Zuma-kamp nie maar wel in die Ramaphosa- en Gordhan-faksie in die ANC.

Wat die ANC-debat en leierskapstryd skielik meer verwarrend maak, is dat Ramaphosa hierdie week (Woensdag 19 April) by die Black Business Council (BBC) hiervan afgewyk het. In sy toespraak verwys hy nou ook skielik na “radikale ekonomiese transformasie”.

Beteken dit dat Ramaphosa nou ook in die Zuma-kamp is?

Nee, dit beteken eenvoudig dat die ANC-leierskapresies voluit aan die gang is.

Dit beteken verder dat dit nie ʼn geveg is om Suid-Afrika se mense of die wêreld se steun te kry nie.

Hierdie kwessie is ʼn geveg om die steun van die ANC-taklede te kry. Dit is hierdie taklede wat in Desember vanjaar die nuwe ANC-president gaan aanwys.

Deurdat Ramaphosa skielik dieselfde woorde as pres. Zuma en sy eksvrou gebruik, verhoed hy dat hulle die begrip radikale ekonomiese transformasie vir hulle alleen kan opeis.

Ramaphosa se verduideliking van wat radikale ekonomiese transformasie beteken, verskil egter in verskeie opsigte van Zuma se vae verduidelikings.

Die volgende paar maande gaan die meeste Suid-Afrikaners hierdie spel met woorde as deel van ʼn vernietigende leierskapgeveg binne die ANC moet verduur.

Tans is dit propaganda-towerwoorde waaragter ANC-leiers hoop om hulle mislukkings weg steek deur die indruk te wek van groot nuwe ekonomiese planne.

Wat radikale ekonomiese transformasie werklik in die praktyk beteken, sal in die toekoms afhang van wie hierdie leierskapstryd in Desember wen.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JWM ·

So dis verkiesingstrategie? Ek is bekommerd oor hoe dit gaan realiseer. Is die doelwit nuwe teikens om te roof siende dat bestaande bronne bv staatsbates ekonomies in flarde is?

ou joe ·

Cyriltjie is ‘n uitstekende voorbeeld van “Radikale ekonomiese transformasie”. Sowat 20 jaar gelede was hy maar net ‘n ex-vakbond leier, maar kyk waar staan hy nou.

Joe Hall en Elewintie twentie ·

Sy baas het nog beter gevaar. Hy het staatshoof geword met ‘n vermeende st 3 kwalifikasie.

Te Dom ·

Pieter aangesien jy so uitgesproke is moet jy maar vertel wat die langwoord in boeretaal beteken

Oupa ·

‘n Omslagtige verduideliking van ‘n heel eenvoudige saak: dit beteken eintlik net dat die “C”-gedeelte van SACP nou ingevoer word. Dus, ‘n volwaardige kommunistiese bestel vir RSA, waar alles aan die Staat behoort, insluitende grond een ander bates. Punt.
Die sosialisme-gedeelte van oorskakeling vanaf kapitalisme is reeds afgehandel (bv toelaes aan 17 miljoen begunstigdes, maal 4 afhanklikes vir elke begunstigde = die hele swart bevolking). Dis al, plein en simpel. Die baie gepraat is om ons ‘n rat voor die oë te draai, om ons aan die slaap te hou.

Hansie slim ·

JZ stol met sy verduideliking radikale ekonomiese transformasie.. iesh, wag net tot iemand anders oorgeneem het, dan kan hy of sy verduidelik wat dit beteken..hie..hie..hie

Ou Visie Vlakvark ·

En so ploeter meeste Suid-Afrikaners voort van een slagspreuk na die volgende na die volgende. “Policies en policies en policies” net waar jy kyk. Geen visie wat my opgewonde maak nie. Min hoop vir die toekoms. Geen regerende politieke party leierskap wat my respek afdwing nie.
‘n Ongebreidelde bevolkingsgroei met ‘n gepaardgaande toenemende stryd om die beperkte hulpbronne. En meeste wil uit die krip vreet in plaas van die internasional kompeterende weivelde te betree. Meeste wil die een of ander “manager” wees.

En so ploeter meeste Suid-Afrikaners voort . . . op soek na sondebokke en nuwe slagspreuke en #WhatEvers.

Zirk ·

Zuma sal aanbly tot die 2019 verkiesing. Hy word deur die ANC leierskap beskou as die enigste persoon wat geskik is om die radikale, revolusionêre planne van die party gou en vinnig deur te voer voordat sy tyd verby is. Die party het ook geen sterk leiers meer oor nie.
Na my mening moet druk vanaf die publiek verder toeneem en volgehou word om Zuma te verwyder anders sal hy SA totaal vernietig voor 2019.!

Pietsepan ·

Ek stem saam dat ons radikale ekonomiese transformasie moet toepas na ‘n libertynse stelsel waar die sentrale regering nie met die ekonomiese sake van die land inmeng nie. Kom ons omskep die VF+ na die Libertynse VF+ en stel dit oop vir alle rasse.

Frans C ·

Vir diegene aanbewind beteken radikale ekonomiese transformasie, van minder na meer,sommer baie meer ala die mislukte Mugabe resep.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.