Radio Pretoria se uitsaairegte finaal bekragtig

willie-spies

Willie Spies. Foto: Radio Pretoria

Toe die eerste klanke van Radio Pretoria op 18 September 1993 oor die luggolwe weerklink het, het die stigters van die radiodiens deeglik besef dat die stryd om ons eie stasie op die lug te hou, nie maklik sou wees nie.

Dit was in meer as een opsig ʼn geloofsdaad. Trouens, die bestaan van Radio Pretoria was ʼn bestaan wat gekenmerk is deur stryd. Tot so ʼn mate dat sommige grappenderwys Radio Pretoria die Afrikaner se Radio Freedom gedoop het. Struggle radio in die ware sin van die woord.

In die byna 22 jaar van sy bestaan moes ons telkens veg om ons uitsaairegte te behou of te beskerm. In die beginjare is ʼn tydelike uitsaailisensie deur die destydse minister van binnelandse sake, Danie Schutte, aan ds. Mossie van den Berg en die Afrikaner Kultuurbond uitgereik.

Ná die verkiesing van 27 April 1994 moes Radio Pretoria vir ʼn volle jaar stil raak om die nuwe regering geleentheid te bied om wetgewing te aanvaar wat voorsiening sou maak vir gemeenskapsradiostasies.   ʼn Jaar later was Radio Pretoria terug en die span aan die stuur was vasbeslote om nooit weer die stem van Radio Pretoria te laat stil raak nie.

Tydelike uitsaailisensies is om die beurt deur die voormalige Onafhanklike Uitsaai-owerheid aan Radio Pretoria en sy herleistasies uitgereik, maar die groot toets sou in 2004 kom toe Radio Pretoria en sy herleistasies vir ʼn permanente uitsaailisensie moes aansoek doen.

Ná sewe hofgedinge, waarvan drie in die hooggeregshof  gedraai het, twee in die grondwetlike hof en twee in die appèlhof, sou die radiotasie uiteindelik eers in November 2010 sy uitsaailisensie vir Pretoria en omstreke ontvang.

Dit was ʼn heuglike dag en almal by Radio Pretoria was oortuig daarvan dat die stryd nou finaal gewonne was.

In Mei 2011 het die direksie van Radio Pretoria besluit om Radio Pretoria op ʼn pad van groei, ontwikkeling en professionaliteit te plaas – en so sou Radio Pretoria met ʼn proses begin om homself te herontwerp: van struggle radio in sy vestigingsjare, tot toekomsradio wat aan sy luisteraars ʼn boodskap van vryheid en hoop sou bring.

Die direksie het die ondersteuning van die Solidariteit Beweging, as gevestigde Afrikaner beweging met 300 000 ingeskrewe lede van regoor die land, vir sy ontwikkelingsplan verkry.

Die groei- en ontwikkelingspad het daartoe gelei dat ons ateljee- en uitsaai infrastruktuur in die eerste klompie maande in veral Pretoria na wêreldklastegnologie opgegradeer is.

In Junie 2013 het Radio Pretoria ook op DStv se oudiokanaal 887  begin uitsaai en is ons internetuitsendings ook opgegradeer tot volle stereoklank.

Vroeër vandeesmaand is Radio Pretoria by die MTN Radiotoekennings beloon met sy aanwysing as die radio stasie met die mees lojale luisteraars en ook die stasie wat die meeste stemme in ʼn SMS-stemming gekry het.

Radio Pretoria se dapper tree vooruit is egter nie oral met geesdrif begroet nie. In Oktober 2012 is Radio Pretoria deur die Onafhanklike Uitsaai-owerheid in kennis gestel dat die owerheid klagtes ontvang het oor Radio Pretoria se uitsendings vanaf agt herleistasies in Pietersburg, Tzaneen, Naboomspruit, Thabazimbi, Brits, Koster, Greylingstad en Newcastle. Die klagte was dat hierdie stasies, wat op daardie stadium reeds 18 jaar lank uitgesaai het, nie behoorlik gelisensieer was nie en onmiddellik moes sluit.

Radio Pretoria moes hom vir die agste keer op die howe beroep en op 11 Oktober 2013 het Regter Neil Tuchten Radio Pretoria se aansoek om ʼn verklaring van regte aangehoor.

Die uitslag van die hofgeding was nie in Radio Pretoria se guns nie, maar in sy uitspraak het Regter Tuchten nietemin sekere riglyne neergelê wat die grondslag sou lê vir die voortsetting van Radio Pretoria se stryd om sy uitsaairegte.

Daardie stryd het meer as 17 maande geduur tot vandag toe, waar dit nou my voorreg is om die volgende belangrike aankondiging te maak:.

Na maandelange onderhandelings, nuwe lisensie-aansoeke, mooipraat en harde werk, het die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (ICASA), Radio Pretoria gister in kennis gestel dat gemeenskapsuitsaai-lisensies vir die agt senders van Radio Pretoria in Limpopo, Noordwes, Mpumalanga en Noord-Natal toegeken is.

Die senders is onderskeidelik as Radio Wolkberg, Radio Ysterberg, Radio Naboom, Radio Kransberg, Radio Dagbreek, Radio Tafelkop, Radio Magaliesberg en Radio Drakensberg gelisensieer.

Die nuut gelisensieerde senders sal funksioneer as dogter-stasies van Radio Pretoria, wat mettertyd hulle eie identiteit as gemeenskapsuitsaaiers in eie reg, onder die leiding en stuur van Radio Pretoria as die moederstasie, sal vestig.

Radio Pretoria sal vir elke dogterstasie sy eie direksie uit die betrokke gemeenskap aanwys en die nuwe direksies van die agt dogterstasies sal die betrokke stasies lei op die pad van –

  • selfstandigheid,
  • verbetering van uitsaai-infrastruktuur,
  • ontwikkeling van inkomstestrome, en
  • die vervaardiging van plaaslike inhoud.

Radio Pretoria sal verder binne die riglyne van die uitsaai-owerhede steeds die kernprograminhoud aan die dogterstasies verskaf.

Die feit dat die agt dogterstasies van Radio Pretoria se uitsaairegte nou bestendig is en gemeenskaps-uitsaai lisensies vir vyf jaar aan hulle toegestaan is, stel Radio Pretoria en die onderskeie stasies in staat om broodnodige beleggings te maak in die uitsaai-toerusting ten einde ons sein na elk van die stasies te herstel tot ʼn hoë gehalte,  ononderbroke,  vol-stereo klank.

In die maande wat kom, sal ons op ons luisteraars se knoppie druk om ons te help om dit  moontlik te maak. Ons dank ons luisteraars en ondersteuners by voorbaat vir hul steun in die verband.

Verder kan ons bloot dankie sê aan ons luisteraars wat ons geduldig ondersteun het en ook in die tye van onsekerheid by ons gestaan en vir ons gebid het.

Bowenal dank ons ons Hemelse Vader wat vir ons, soos in die verlede, die onmoontlike moontlik gemaak het en Radio Pretoria liefdevol gelei het tot die nuwe hoogtes wat ons nogmaals danksy hierdie deurbraak bereik het.

Dit is ons visie om die nommer een landwye gemeenskapsradio vir die Afrikanergemeenskap te wees. Hierdie deurbraak is vir ons ʼn belangrike mylpaal op die pad na daardie visie.

Hartlike dank dat u hierdie goeie nuus saam met ons geniet het – ons wens elke luisteraar net die beste toe en vertrou dat ons aan u nog jare van groei en luistergenot sal bring.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is direkteur van Hurter Spies Ingelyf en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

anet ·

DIT IS WONDERLIKE NUUS !!!! Aanhouer wen. Baie geluk aan Radio Pretoria span !

Ester le Roux ·

Skote Petoors! BAIE DANKIE vir die mense agter die skerms wat die belangrike saak deurgetrek het. Groot waardering – ons Afrikaanse stem trek net sovéél verder!

Fanie ·

Rika, op die gewone Golflengte 104.6, kan effens wissel afhangende van waar jy bly. Luister ook op DSTV kanaal 887 as jy buite die opvangsgebied bly.

Anton ·

Hierdie goeie nuus is die loon van al die jare se hardewerk, moeite en vasbyt. Baie dankie, ons waardeer elkeen wat hiertoe saam gewerk het.

Martin ·

Hierdie is inderdaar goeie nuus! Baie geluk aan julle! Julle radiostasie bevorder werklik ons Afrikaners se taal en kultuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.