Raisi kan Iran verder isoleer

Ebrahim Raisi. (Foto: Mohsen ESMAEILZADEH/ISNA NEWS AGENCY/AFP)

Minder as die helfte van kiesers in Iran het verlede week besluit om hul kruisies in die mees ongeloofwaardige presidentsverkiesing in byna drie dekades in Iran te gaan trek. Terwyl slegs 48,8% van kiesers gaan stem het, kon Ebrahim Raisi daarin slaag om 18 van die 29 miljoen stemme wat uitgebring is, op hom te verenig. Raisi is tans Iran se hoofregter en ’n vertroueling van die opperleier Ajatolla Ali Khamenei. Raisi het ook ’n uiters bedenklike menseregte geskiedenis en verteenwoordig die ultra-konserwatiewe Islamitiese beweging in Iran.

Die verkiesing van Raisi volg op die Opperraad (ook bekend as die Raad van Hoeders) van Iran se besluit om gewilde gematigde kandidate wat ten gunste van politieke hervorming in Iran is, as kandidate te diskwalifiseer. Die Opperraad is ná die Islamitiese Revolusie wat in 1979 in Iran plaasgevind het, ingestel om die revolusie se gevolge in stand te hou. Helfte van die lede van die raad word deur die Opperleier, vanuit senior geestelike leiers, en die ander helfte deur Iran se parlement aangewys.

Die afgelope jaar of twee word die Opperraad deur streng Islamitiese konserwatiewe figure gedomineer en word gematigde kandidate, ten gunste van politieke hervorming, in parlementêre, en nou ook presidensiële, verkiesings verhoed om as kandidate te staan. Die Opperraad moet alle kandidate vir politieke posisies vooraf goedkeur.

Raisi se verkiesing was dus ’n uitgemaakte saak nadat gewilde gemagtigde leiers verhoed is om as kandidate te staan en baie kiesers eenvoudig besluit het om nie aan die verkiesing deel te neem nie. Daar word reeds beweer dat Raisi deur die Opperraad geoormerk word om Khamenei ná sy dood as opperleier op te volg.

Iran is sedert die revolusie in 1979 ’n Islamitiese teokrasie. Hoewel demokratiese verkiesings gehou word, behou die geestelike leiers die reg om kandidate goed of af te keur. Die afgelope agt jaar was Hassan Rouhani die president van Iran en hy het ná die rampspoedige termyn van die Islamitiese ekstremis, Mahmoud Ahmadinejad, hoop onder ’n groot deel van die Irannese bevolking gebring dat politieke liberalisering sou plaasvind. Een gevolg daarvan was die kernooreenkoms wat Iran in 2015 met Westerse lande, China en Rusland gesluit het.

Nadat die VSA egter in 2018 uit die ooreenkoms onttrek het en weer streng sanksies teen die land ingestel het, het Iran se ekonomie enorme skade gelei. Dit, gepaardgaande met korrupsie, ’n voortdurende verlies aan vaardighede na die buiteland en die impak van die Covid-19-pandemie, het Iran die afgelope drie jaar in die een krisis ná die ander gedompel.

Die gevolg hiervan was dat die opperleier en Opperraad hul greep op die politieke setels van mag in Iran versterk het. In Februarie verlede jaar is die meeste gematigde kandidate in ’’n parlementsverkiesing verhoed om te staan en het aards-konserwatiewe lede ’n groot meerderheid in die parlement gekry. Met verlede week se presidentsverkiesing is bevestig dat Khamenei nou ook die demokratiese politieke instellings in Iran gekaap het.

Hier is dit belangrik om die geskiedenis van Iran te verstaan. Gedurende die 1940’s en vroeë 1950’s was Iran een van die mees demokratiese en pro-Westerse lande in die Midde-Ooste. Onder leiding van die dinastie van Koning Reza Shah is grootskaalse ekonomiese hervormings in werking gestel en skoolonderrig drasties uitgebrei. Groot dele van Iran is gedurende die Tweede Wêreldoorlog beset.

Ná die oorlog het die steun vir ’n sekulêre demokrasie in Iran toegeneem en is bande met Westerse lande versterk. Demokratiese parlementsverkiesings is gehou en in 1951 is Mohammad Mosaddegh as eerste minister van Iran aangestel nadat ’n groot meerderheid van demokraties-verkose parlementslede vir hom gestem het. Mosaddegh se groot sonde was egter sy besluit om die Anglo-Irannese oliemaatskappy te nasionaliseer.

Die Britse geheimediens, met die hulp van die Amerikaanse intelligensiediens (CIA), het onmiddellik begin om ’n staatsgreep te beplan en in 1953 is ’n staatsgreep uitgevoer. Met die hulp van die Britte en Amerikaners het demokrasie in Iran gesneuwel en is die monargie heringestel. Dit sou die teelaarde vir anti-Westerse sentiment skep wat uiteindelik tot die Islamitiese revolusie in 1979 aanleiding sou gee.

Ebrahim Raisi (Foto: KHAMENEI.IR/AFP)

Raisi, wat op 3 Augustus as die volgende president van Iran ingehuldig sal word, is ’n produk van die revolusie. Ná die revolusie is 70 jong konserwatiewe Islamitiese denkers gekies om nuwe streng ideologiese instellings oor die hele Iran op te rig waarvolgens die land voortaan regeer sou word. Raisi was een van die 70.

In 1980 is hy as die hoofstaatsaanklaer in die stad Karaj, ’n voorstad van die hoofstad Teheran, aangestel. In 1985 is hy as adjunk-hoofaanklaer van Teheran aangestel. Duisende politieke gevangenes, meestal pro-Westerse liberale politici en denkers, is sedert die revolusie in tronke aangehou.

In 1988 is ’n paneel van vier persone deur die eerste opperleier van Iran, Ruhollah Khomeini, aangewys om oor die lot van duisende politieke gevangenes te beslis. Raisi was een van die 4 paneellede wat besluit het dat tussen 5 000 en 30 000 (die presiese getal is tot vandag toe onseker) politieke gevangenes vermoor moes word.

Khomeini is in 1989 deur die huidige opperleier, Ali Khamenei, opgevolg. Raisi het voortgegaan om ’n bondgenoot van Khamenei te wees. In 2016 het Raisi die huidige president, Hassan Rouhani, in die presidentsverkiesing teengestaan en baie sleg verloor. Hy is daarna deur Khamenei as hoofregter van Iran aangestel.

Die uitslag van die 2016-verkiesing het bevestig dat ’n meerderheid van Irannese kiesers ten gunste van politieke hervormings is. Verskeie studies het reeds bewys dat ’n meerderheid van Irannese ten gunste van hervormings en nouer, beter bande tussen Iran en die Weste is. Die Opperhoof het egter die afgelope paar jaar sy magsgreep sódanig verstewig dat enige stemme ten gunste van hervorming stil gemaak word.

Terwyl die huidige sanksies, die pandemie, korrupsie en ander probleme Iran in ’n baie slegte posisie geplaas het, kan die land nie anders nie as om alles moontlik te doen om ’n nuwe kernooreenkoms met die Weste te sluit. Selfs Khamenei is ten gunste van ’n nuwe ooreenkoms.

Selfs al sou so ’n ooreenkoms bereik word en sanksies teen Iran stelselmatig uitgefaseer word, is die land se politieke situasie steeds benard en is die demokratiese aard van die land se parlement en presidensie nou ook onder verdenking en eintlik van die meeste geloofwaardigheid gestroop.

Raisi sal tussen twee opsies moet kies. Hy kan Iran verder isoleer en die opposisie met meer geweld onderdruk en daardeur Iran se ekonomiese herstel verder bemoeilik. Óf hy kan almal verras en noodsaaklike hervormings begin instel wat Iran deel van die gesprek oor die toekoms van die Midde-Ooste kan maak. Die kans dat laasgenoemde sal gebeur, blyk egter tans baie skraal te wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.