Ramaforie en Zumafobie

Cyril Ramaphosa (links) en Jacob Zuma tydens die 2017-begrotingsrede (Februarie 2017) Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die klassieke sondebokke waarna politici en sommige politieke kommentators instinktief gryp as hulle, of diegene wie hulle ondersteun, onder druk is, is oor die jare al behoorlik gedelegitimeer.

Jan van Riebeeck en apartheid kan allermins verantwoordelik gehou word vir onder meer die ANC se rekord van kroniese korrupsie, of vir die skouspelagtige verval van munisipaliteite en staatsondernemings. Hoewel die meeste mense nie deur hierdie drogredes wat die blaam verskuif mislei word nie, beteken dit ongelukkig nie dat almal dit dadelik besef wanneer daar nuwe sondebokke verskyn nie.

Een só ’n nuwe sondebok, blykbaar in dieselfde klas as Jan van Riebeeck wat omvattende, langdurige invloed betref, is voormalige president Jacob Zuma en sy bende “samesweerders”. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek besef Zuma se reuserol in staatskaping en die vernietigende verval wat onder sy administrasie plaasgevind het. Dit is egter nou al vier jaar sedert president Ramaphosa aan die stuur van sake staan, nadat hy Zuma se adjunkpresident was. Dit is dus verregaande om hom van aanspreeklikheid te onthef vanweë die patetiese rekord van sy voorganger. Dit is ook baie kortsigtig om alles van die parlementsgebou wat in vlamme opgegaan het – tot die petrolprys wat die hoogte ingeskiet het – op Zuma se “bose RET-faksie” te blameer. Wanneer gaan president Ramaphosa en sy administrasie aanspreeklik gehou word vir die voortdurende agteruitgang wat onder hul bewind op bykans elke gebied sedert die aanvang van die “nuwe daeraad” plaasvind?

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die president se verdedigers voer aan dat Ramaphosa ’n gematigde leier binne die ANC is en dat hy stadig besig is om die koers van die skip met sy “langtermynstrategie” te verander. Kom ons evalueer hierdie stellings teen die agtergrond van Ramaphosa se kommentaar tydens ’n 2018-onderhoud waar hy gesê het: “I’d rather be seen as a weak president than to split the ANC.”

Sedert Ramaphosa se administrasie in 2018 oorgeneem het, het ons die volgende aanskou:

Korrupsie wat deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) beskryf is as op ʼn skaal wat hulle nog nooit vantevore gesien het nie, die ergste en mees vernietigende episode van openbare plundery en onluste sedert 1994, en ʼn beurtkragrekord wat selfs die Zuma-administrasie sou laat bloos. Verder het ons gesien hoe die president se minister van gesondheid weens ernstige korrupsie-aantygings gedurende ’n pandemie bedank, en hoe die land twee keer ’n splinternuwe algehele werkloosheidskoersrekord behaal het. Ons kan verder die radikale, vernietigende beleidsrigtings hierby voeg wat onder Ramaphosa se toesig op die tafel geplaas is, soos onteiening sonder vergoeding en die nasionale gesondheidsversekering (NGV). Onthou, dit is ook Ramaphosa wat in 2018 op ’n internasionale platform die skokkende leuen versprei het dat: “There are no killings of farmers or white farmers in South Africa”. Boonop is daar ook berig dat dit Ramaphosa self was wat die groen lig gegee het vir Zuma se vrylating op parool.

Dit was Ramaphosa wat vir Bheki Cele as minister van polisie aangestel het, asook vir Fikile Mbalula as minister van vervoer. Beide beklee tans steeds hul kritieke posisies onder Ramaphosa se toesig, ten spyte van hul uiters swak prestasies.

Verder het Ramaphosa nog ʼn paar uitlatings gemaak: “If you don’t vote, the Boers will come back to control us” het hy in 2013 beweer. In 2016 het hy gesê: “South Africans should aim to have ‘principled and fearless’ leaders like Fidel Castro governing their country” en in 2019 het hy vir Robert Mugabe as ’n held geprys. In 2018 het Ramaphosa beklemtoon dat die ANC vir Julius Malema met ope arms sal terugverwelkom en in 2021 het die president die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party uitgedaag om die agenda van sosialisme in Suid-Afrika te bevorder. In 2022 kondig hy aan dat die ANC hierdie jaar volstoom met hul grondonteieningsprogram sal voortgaan.

Hierdie treurige rekord en radikale uitsprake van president Ramaphosa demonstreer nie juis gematigdheid óf ’n koersverandering nie. Van die beloofde nuwe daeraad onder president Ramaphosa het daar nog niks van gekom nie. Die enigste individue wat sovêr ’n nuwe daeraad onder Ramaphosa se toesig gesien het, is sy korrupte kaders wat toegelaat word om verder sonder gevolge te plunder, soos Helen Zille onlangs uitgewys het.

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die hele idee van ’n vrot faksie binne die ANC impliseer dat dit moontlik is om die ANC reg te ruk en te hervorm deur hierdie korrupte gewas te verwyder. Hierdie is ’n gevaarlike en naïewe uitkyk op ’n party wat al dekades sonder twyfel bewys het dat hy eenvoudig nie in staat of gewillig is om korrupsie hok te slaan deur korrupte amptenare vas te vat en uit te skop nie. Diegene wat skuldig bevind word aan korrupsie binne die ANC, word meestal op luukse, ten volle betaalde verlof geplaas. Daarna word hulle weer in ’n splinternuwe posisie aangewend ná die stof van hulle skandaal gaan lê het en die media se aandag op ’n ander kader se wandade fokus. Dit is waarskynlik net ’n kwessie van tyd voor Zweli Mkhize ’n nuwe posisie op die ANC-regering se ministeriële rondomtalie aangebied word.

Die volgende vraag wat met erns beantwoord moet word, is: Waar eindig voormalige president Zuma se nalatenskap en waar begin president Ramaphosa se verantwoordelikheid? Die krimpende kring Ramaforie-lofsangers kan nie meer vir president Ramaphosa van kritiek vrywaar nie. Hoewel onmeetbare skade onder Zuma aangerig is, kan ons nie bekostig om hom te verhef tot ’n almagtige sondebok van Jan van Riebeeck se mitiese kaliber om president Ramaphosa se sondes skoon te was nie. Die skip het lankal ’n nuwe kaptein, maar ten spyte daarvan is ons steeds besig om reguit in die rigting van die ysberg te seil, en iemand hou steeds koers en versnel die pas.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst van Zyl

Ernst van Zyl is AfriForum se hoof van openbare betrekkinge en die regisseur van die dokumentêre film Selfbestuur. Hy het ʼn meestersgraad (cum laude) in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch behaal, is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending In alle Ernst aan en het ʼn kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst publiseer gewoonlik bydraes op X (voorheen bekend as Twitter) en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SomeOne ·

kyk mooi wat wys zoempie met sy hand vir ons wat hier lees, vieslik, is nie ‘n woord daarvoor nie, dit het niks met van nature is dit so nie

Treurwilger ·

Puik artikel wat lankal geskryf moes word, in Politicsweb ook te lees.
Dis bloot stiksienig en oneerlik om al SA se treurmares aan Jacob Zuma toe te skryf.
Uit al die vorige leiers van die swart gemeenskap het Zuma trouens die meeste ‘rede’ gehad tot selfverryking, want hy is nie met miljarde ingestop deur die wit sakesektor in die naam van swartbemagtiging nie.

Groen Ghoen ·

Ja, en so word baie goedgelowiges geflous deur Paddakoker Ramaphosa wat skaamteloos vir elke gehoor vertel net dit wat hulle wil hoor. Ramaphosa, net soos Zuma, voer maar net die ANC se “Demokratiese Rewolusie” uit. Hier en daar word ‘n dom kader met die vingers in die tjekboek betrap, maar 99% van die res stoom in weelde voort op die soustrein.

Dries ·

Baie goed Ernst. Dit is so hartverskeurend dat Ramaphosa nog steeds deur heelwat Maroela lesers as n goeie Prsident beskou word. Ramaphosa is baie gevaarliiker as Zuma. Wanneer gaan ons tog gered word van hierdie gemors en hulle kaders. Gebede is al wat ons kan red

Dries ·

Terwyl korrupsie voortgaan in die regering floreer dit nog lekker in munisipaliteite en ons word onwillekeurig saamgesleep. Ek wil net afskrifte van my bouplanne by Brakpan kry. Is al maande besig om gat te kruip en omkoopgeld en KFC te koop sonder sukses

Trekarbeider ·

Uitstekend gestel, Ernst ! Dit was nog altyd duidelik (vir die wat KAN sien) dat die hele ANC totaal korrup en onbevoeg is – en dat daar geen “goeie” of “gematigde” faksie is nie. Die laaste punt wat ek wil maak is dat Ramaphosa nie die president is nie – hy is slegs die mondstuk van die ANC NEC, wat eintlik die president van SA is.

Marius ·

Ja Ernst dit is hoogtyd dat die internasionale gemeenskap, die korporatiewe media en die akademici begin aandring op prestasies by pres Ramaphosa. Ons is sielsmoeg vir sy alewige mooi beloftetjies. Hy is inderdaad ‘n baie swak president wat baie meer praat as wat hy doen.

Anoniem ·

Die enigste verskil tussen die 2 is dat Zuma dom en slinks was, maar dat Ramaphosa slim en slinks is.

Vrijburger ·

Wie is dit nou weer wat gese het ‘SA het nie ‘n Zuma probleem nie, maar ‘n ANC probleem’? Of iets in die lyn.

Strandloper ·

Naar maar waar. Ons voorvaders het dit geweet, ons beleef dit. Ons ondergang? Nee dit is tyd vir selfbehoud!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.