Ramaforie, Ramarealiteit en Afrikaners: Ons is op ons eie

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto; David Ritchie/ANA)

Daar was koorsagtige verwagtinge dat sake in die land sou verbeter toe pres. Cyril Ramaphosa vroeër vanjaar die leisels oorgeneem het. Zumafobie het plek gemaak vir Ramaforie. Sy agtergrond as sakeman (wat natuurlik heelwat konteks verg om werklik te verstaan, maar nietemin oorvereenvoudig is in tallose oppervlakkige ontledings deur leke én kenners) en sy oënskynlike skoon hande het hom dadelik die liefling en messias van desperate mense oraloor gemaak.

Die aanvanklike aanduidings was bevestigend van hierdie euforie. Die rand het tot onder R12 teenoor die dollar verbeter. Sakevertroue-indekse het skynbaar begin klim. Die media en internasionale beleggers was optimisties dat die begin van ’n nuwe era sou wees. Hy was, om dit dalk lakonies op te som, Mandela-agtig. Dit was Suid-Afrika se kans om oor te begin ná ’n periode van agteruitgang en blote rampokkery en boewery.

Daar was heelwat behoedsaamheid wat ook hiermee saamgeval het. Dit is, per slot van sake, steeds die ANC wat die land regeer, het talle gewaarsku. Hierdie ontleder was een van hulle, hoewel ek ook ten minste in my skik was dat die Zuma-kabaal se kop afgekap is. Ek het eerlikwaar gehoop dit kan ’n soort Nuwe Sonsopkoms – soos Ramaphosa se mantra lui – wees, maar ek is bevrees Ramaforie het in Ramarealiteit verander soos die ontnugtering ingetree het.

Selftoegediende wonde

Dit sou altoos ’n ruk neem om die Zuma-gemors op te ruim, maar as jy self een arm agter jou rug vasmaak en dit probeer doen, raak dit ’n onbegonne taak. Toegegee, Ramaphosa moet gelyktydig keer dat die ANC skeur, die geswore sosialiste in sy eie party en drieparty-alliansie tevrede stel, en tewens sake- en beleggingsvriendelik voorkom. Dít blyk ’n toertjie te wees wat bo Ramaphosa (en trouens enigiemand) se vuurmaakplek is. Daarvandaan die teenstrydige dubbelhartigheid waarmee Ramaphosa nou oral pronk. Jy kan nie almal die heeltyd tevrede stel en vir die gek probeer hou nie.

Terugskouend het hy in 2010 aan Mail & Guardian homself soos volg beskryf: “Ek is ’n kapitalis met sosialistiese instinkte.” Weer eens probeer Cyril-in-die-middel twee teenstrydighede ten minste semanties en konseptueel versoen. Wat hy met sy eie geld maak en as indiwiduele sakeman oor die bestuur van ’n ekonomie dink, was egter nie toe ter sake nie. Dis sy geld en hy was net ’n sakeman. Nou is hy die president van die land en die probleem is alle sakelui dink nie so nie. Hulle is kapitaliste. Punt. En hulle soek sekerheid oor goeie beleid wat dit makliker vir hulle maak om hul geld te belê. Ek twyfel ook of hy ryk geraak het deur meer op sy sosialistiese instinkte as op sy kwansuise kapitalistiese aard te steun.

In Londen en elders in die buiteland word beleggers nou wild en wakker aangemoedig om te belê terwyl hulle ook vertel word dat onteiening sonder vergoeding nolens volens móét gebeur. Ditto met Suid-Afrikaanse sakelui en besighede.

Die aanvanklike euforie en sentiment was slegs dít gewees. Dit was ’n blydskap dat dinge beter sal raak en was op ontasbare elemente en hoop gegrond. Hoop word egter nie vanself sukses nie en dit moet met konkrete (en goeie) planne en beleide opgevolg word. Niemand gaan net op grond van hoop in ’n land belê nie – en Ramaphosa se uitlatings en besluitneming oor ’n klomp sake het selfs die aanvanklike hoop laat verdamp. Die blydskap om Zuma te sien gaan, is vinnig opgevolg deur ’n nuwe soort realisme soos beleid nie aan die hoop voldoen het nie.

Die syfers jok nie. Die prys van brandstof is die hoogste in drie jaar en styg aaneen weens die verswakkende rand. Die ekonomiese groeikoers het in vanjaar se eerste kwartaal skerp gedaal. Beleggers is steeds besig om Suid-Afrikaanse effekte te verkoop en vermy die land. Zuma sit en lag seker kliphard in Nkandla hieroor.

Daarbenewens is die korrupte en onbevoegde openbare beskermer steeds in haar pos. So ook is ’n klomp Zumaïete bloot na ander portefeuljes in die kabinet geskuif. Daar is geen aanduidings dat daar eers kosmeties aan die oorgroot staat getorring gaan word nie. Korrupsie word oënskynlik nou oral ondersoek, maar dit is onwaarskynlik dat bevindinge wat die ANC as party in die verleentheid gaan bring, kort voor die verkiesing bekend gemaak sal word – of trouens enige ander tyd. Ramaphosa se Nuwe Sonsopkoms gaan ook nie met ’n sonsondergang vir regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (waarvan hy uiteraard ’n prominente begunstigde is) gepaard nie. Belastings bly hoog en het vanjaar weer gestyg, eerder as wat hulle as aansporingsmaatreël afgebring moet word.

Groter as Zuma

Die uiteindelike probleem lê by die ANC en die aard van die politieke stelsel en nie by een enkele persoon of groepie mense nie. Barney Mthombothi het onlangs ’n verdoemende aanklag jeens Ramaphosa in Sunday Times gerig: “Zuma took us to the edge of the precipice. But since his departure we’ve neither reversed nor taken a detour, despite the fulsome declarations of a new beginning. We’re still charging full-steam ahead.” Tony Leon het dieselfde in Business Day gedoen.

Ramaphosa gaan desnoods op die kort termyn die EFF en sy eie party se voorliefde vir onteiening najaag – of hy persoonlik daarmee saamstem of nie. Hulle gaan die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-trom slaan en ander gratis goedjies aan die armes bied. Als behalwe werk en ware waardigheid. Hierdie stappe en simboliek trek die aandag van die ANC se mislukkings en al die groot en groeiende probleme af voor die verkiesing. Op die langer termyn – nadat die Zumafobie getaan en Ramarealiteit verder ingesink het – gaan die ANC se bondgenote, soos die SAKP en Cosatu, hul ideologiese pond vleis opeis in ruil vir hul steun aan Ramaphosa. Dit kan die ekonomie nog veel erger skaad. Kom hy hulle nie tegemoet nie, sal dieselfde lot as vir oudpres. Thabo Mbeki hom opsluit in die gesig staar.

Waar staan ons as Afrikaners dan in hierdie scenario? Kortom is ons Ramaphosa en sy party se gerieflike melkkoeie en sondebokke. En wat kry ons in ruil hiervoor? Absoluut niks. Nie eens beter ekonomiese beleid nie. Ramaphosa, wat adjunkpresident tydens Zuma se tweede termyn was, het immers onlangs die Afrikanerbond toegespreek en daar gevra dat Afrikaners grondhervorming steun. Hy het oor apartheid gepraat asof dit skaars verby is sonder om sy party se deurslaggewende rol oor die laaste kwarteeu in die huidige benarde toedrag van sake te erken. In ruil hiervoor het hy “baie dankie” in Afrikaans gesê en geglimlag. Dit is al.

Ons is op ons eie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ’n strateeg en politieke ontleder.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

44 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rudolf Raath

Dit us beter om op ons eie te wees… Of n mens dit wil weet of nie, ons was beter op ons eie met die wit regering ook, in die buiteland was ons ook beter op ons eie…

Dit spreek boekdele…

CG

Dankie tog! In my oë ‘n reuse (eeste) tree deur Soludariteit om uiteindelik by die logiese gevolgtrekking te kom: “Ons is op ons eie”. Nou vir die volgende vraag: Wat beteken dit? Hopenlik kom Solidariteit spoedig tot die volgende logiese gevolgtrekking dat voortgesette afhanklikheid soos wat Solidariteit se “Bou” (in die groter Suid-Afrika) plan noodwendig impliseer, nie volhoubaar is nie. Hopenlik kom Solidariteit gou tot die besef dat net Bou aan ons eie onafhanklike volstaat, die enigste werkbare model is. Dit is wat “Ons is op ons eie” beteken.

White Rhino

Jip ons is beter op ons eie. Stem saam – wil nie iets met die paddpot-koker iets te doen he nie. Laat hulle hulself nou maar in die voet skiet. Hulle is goed daarmee.

Thinus Erasmus

Eugene Brink dit is ‘n skitterende rubriek. Ek sal defnitief jou volg! Die algemene opvatting dat dié wat negatief voel oor die toekoms voortuisigte pessimiste is, wil ek regstel: sommige van ons is realiste. Ek sien weer optimiste as dromers. Oor die land en Afrikaners se toekoms in hierdie land kan ek voorspel: êrens tussen nou en die lang uitmergelende afgrond pad totdat SA op Afrika (sub)standaarde verval, gaan daar ‘n laerklas rewolusie wees, so tussen die Arabiese lente en Franse eweknie. Die ANC en alliansie is te lomp en bestaan uit te veel teenpole om ekonomies suksesvol te regeer… Lees meer »

Gemaskerde Sopbeen

Die ANC moet gemotiveer word om apartheid in totaliteit omgekeerd toe te pas. Sit AL die blankes in die voormalige TBVC state, waar ons eiendom mag besit. Laat blankes toe om in SA te werk met werkspermit (dom pas). Betaal elke jaar R100 miljoen aan elke TBVC land soos ons gedoen het in die vorige bedeling, en skeld AL die inwoners van die TBVC lande kwyt van enige vorm van belasting aan die staat……….behalwe PAYE as jy in SA werk!! Binne vyf jaar sal jy 4 uiters suksesvolle gebiede in SA hê……en die res sal soos ‘n squatterkamp lyk en… Lees meer »