Ramaphosa, Charles en transaksionele diplomasie

President Cyril Ramaphosa, Brittanje se koning Charles III, Suid-Afrika se minister van buitelandse sake Naledi Pandor en Brittanje se Camilla, die koningin-gemalin (Foto: Victoria Jones / POOL / AFP)

President Cyril Ramaphosa se twee dae lange besoek aan die Verenigde Koninkryk die afgelope week was ʼn meesterlike vertoonstuk van moderne transaksionele diplomasie.

Terwyl die omvang van Ramaphosa se ontvangs in Londen verbysterend was, is dit duidelik dat die besoek in diens gestaan het van Ramaphosa en die ANC-regering se behoefte aan buitelandse erkenning terwyl hulle binnelands faal, en die Britse monargie en regering se behoefte om te wys dat hulle ʼn hart vir ʼn voormalige kolonie op die Afrika-kontinent het.

Ramaphosa se staatsbesoek aan Brittanje was die eerste sedert 2019 toe president Donald Trump en koning Willem-Alexander van Nederland op afsonderlike geleenthede deur die Britse koningshuis en die Britse regering ontvang is. Ramaphosa se ontvangs was egter groter, meer uitspattig en indrukwekkend as selfs voorafgenoemde twee voorbeelde.

Hoewel ʼn spesiale gesamentlike sitting van die Britse parlement gehou is sodat Ramaphosa hulle kon toespreek, was dit juis die ontvangs by Buckingham Paleis wat verstom het. Meer as 1 000 soldate en 230 perde was deel van die seremonie op die paradegrond. Daar is glo vir maande lank voltyds deur ʼn groot span van die koningshuis aan die voorbereidings vir hierdie besoek gewerk.

Minder as twee maande gelede het die Britse media wyd berig oor die Phala-Phala-debakel, en die Britse Telegraph, een van die gesaghebbendste koerante in dié land, se opskrif het gelui: “Cyril Ramaphosa, Mandela se gekose opvolger wat $4 miljoen in sy sitkamerbank weggesteek het”.

Dinsdag het Ramaphosa ʼn staande ovasie voor die gesamentlike parlementêre sitting gekry met die Lord Speaker van die House of Lords, John McFall, wat sover gegaan het om aan Ramaphosa te sê:

“Dit is gerusstellend dat jy sedert jy in 2018 president geword het, die pad gelei het om die Mandela-visie vir jou land te herstel. Ek wonder of jy en die mense van Suid-Afrika die belangrikheid van die sukses van die reënboognasie vir die mense van die Verenigde Koninkryk besef?”.

Die Britte se diepliggende begeerte om ʼn Afrika-land te sien slaag, is op die gesigte van McFall en sy kollegas uitgestal soos goedkoop plastiekspeelgoed in ʼn Chinese winkel. Ramaphosa se besoek aan Brittanje het in dieselfde week geskied as wat Suid-Afrikaners met tye vlak 4-beurtkrag moes verduur en wat die minister van polisie, Bheki Cele, verdoemende nuwe misdaadstatistieke aangekondig het.

Sy besoek was skaars nege dae ná ʼn koelbloedige nasionale uitvoerende komitee-vergadering van die ANC, waartydens die verdeeldheid in die party duidelik ten toon gestel is. Slegte nuus oor ʼn langdurig stagnante ekonomie, werkloosheid, misdaad, korrupsie, vervallende infrastruktuur en ʼn regerende party wat die land sal vernietig in die stryd om toegang tot mag en hulpbronne het die somtotaal van die Ramaphosa-era geraak.

Vir McFall, ʼn anti-apartheidstryder van die 1980’s, maak niks wat in Suid-Afrika verkeerd gaan blykbaar saak nie. Apartheid is verby, Suid-Afrika is ʼn demokrasie en Ramaphosa weet hoe om al die mooi en regte goed te sê. McFall het selfs sover gegaan om die eer in te oes vir Brittanje se rol in die beëindiging van apartheid.

Vir koning Charles was Ramaphosa se besoek ʼn oefening in openbare betrekkinge soos wat daar in baie jare nie was nie. Charles is minder gewild as sy voorganger, koningin Elizabeth, en sekerlik die toonbeeld van die manlike, bejaarde wit monarg wat vir kolonialisme en al die ander sondes van die Britte verantwoordelik gehou word. Die simboliek van ʼn Britse monargie wat ʼn Afrika-land en Afrika-leier sodanig prioritiseer soos wat die afgelope week afgespeel het, is van onskatbare waarde vir koning Charles.

Ramaphosa se Britse besoek was egter ook ʼn geleentheid vir albei lande om die aandag van verdiepende krisisse af te trek en geloofwaardigheid in leierskap te probeer herbevestig. Terwyl die messe in die ANC vir Ramaphosa uit is en Phala-Phala deeglik ingespan word, was sy boodskap aan sy party duidelik: Net ek, en geen ander leier in die ANC nie, sal as president so goed in die buiteland ontvang word.

Britse premier Rishi Sunak en president Cyril Ramaphosa (Foto: Wiktor Szymanowicz / ANADOLU AGENCY / Anadolu Agency via AFP)

Groot beloftes is deur die Britse premier, Rishi Sunak, oor infrastruktuurbeleggings in Suid-Afrika en verhoogde handel met ons land gemaak. Tydens besoeke deur die Franse president, Emmanuel Macron, en die Duitse kanselier, Olaf Scholz, aan Suid-Afrika vroeër vanjaar is soortgelyke beloftes gemaak. Daar het egter nog nie veel van gekom nie.

Ramaphosa se besoek aan Brittanje was presies wat hy nou nodig gehad het. Die ANC se steun sak verder en verder terug en die verdeeldheid in die ANC raak selfvernietigend. Ramaphosa en die ANC se beeld in die buiteland het die afgelope tyd drasties versleg, en ook met goeie rede.

In Brittanje strompel dié land se regering van die een krisis na die volgende. Die koningshuis staar ernstige langtermynvrae oor sy bestaansreg in die gesig, met slegs 31% van Britte tussen die ouderdom van 18 en 24 wat ten gunste van die behoud van die monargie is. Gooi daarby die voortdurende vloek van die sogenaamde nalatenskap van kolonialisme en ʼn mens verstaan waarom koning Charles hierdie besoek van Ramaphosa net so nodig gehad het.

Dit sal baie naïef wees om te verwag dat enigiets konkreet uit die besoek sal spruit. Sakelui sal steeds besluite oor investering en handel neem aan die hand van goeie risiko-ontledings en geleenthede vir opbrengs. Vir Ramaphosa, die Britse koning en Britse parlementslede, met die diepliggende hoop vir ʼn stukkie liberale demokrasiesukses in Afrika, was die seremonies, onthale, toesprake en leë beloftes vir nou genoeg. Intussen sal albei lande se probleme volgende week steeds met ons wees en selfs erger raak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

marius ·

Solank as wat hulle poffer handjies in die hool se natuurlike hulpbronne gedruk word ….ja

Treurwilger ·

‘n Vals klug van begin tot einde.
Die Britte, met geen gedagte oor die lot van SA se mense nie, die grootste huigelaars ooit.
As iemand gewonder het of die buiteland die ANC ooit sal aantree oor vergrype hoef jy nie meer nie.

Antie Sarie ·

Hulle sal noooit. Want die kaders is op hulle payroll

Watsenaam ·

Ek haal aan: “Dit is gerusstellend dat jy sedert jy in 2018 president geword het, die pad gelei het om die Mandela-visie vir jou land te herstel.” Rerig? In die land van die blindes is eenoog koning. Ek is baie seker dat wat nou gebeur nie Mandella se visie was nie. En dan is daar McFall, ʼn anti-apartheidstryder van die 1980’s. So Mnr. McFall dit was verkeerd vir die mense wat teen die Engelse stroopers geveg het, om die diversiteit van die land se bevolking te erken en hulle almal ‘n gelyke kans te gee en te befonds om hulle self te ontwikkel en hulle eie heil uit te werk. Al die lande in die wereld doen dit dan. Is daar nie n Skotland, Wallis, Ierland, Engeland ens . by julle nie?

Kobus ·

Wat sê kleinboet Malema van die Rampposa se liefde vir kolonialiste ? Is seker erg omgekrap omdat hy nie daar kon wees nie. Rampposa het maar net weereens bewys dat hy ‘n tweegesig is. Onlangs het hy tydens ‘n toespraak kolonialisme die skuld vir swak dienslewering gegee. Nou staan hy bree bors as staatshoof daar. Met hoeveel ponde se beloftes kom hy terug?

Anel ·

Hy wou maar seker net gaan kyk hoe verskil hulle “gewine en dine” van sy eie! Hy leef in weelde terwyl die res van die land vrek van elende! Nie een van hulle het enige skaamte of integriteit nie. Ek wonder hoeveel het van hier af saam gegaan?

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is duisende Britse kinders wat honger gaan slaap terwyl dié mense heerlik smul.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek sal graag hierdie McFall aan sy ore beetkry dat hy kom kyk hoe dit hier lyk.

Pieter9 ·

Kan iemand nie iets aan Naledi Pandor doen nie? Regtig, ter wille van ons land se selfbeeld, ons het hier ‘n lopende nasionale mode-ramp op hande! Dit is soos naels teen’ n swartbord, jy gril dat al die hare op jou lyf regop staan!

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Lees gerus Caroline Elkins se boek “Legacy of Violence – A History of the British Empire” wat vanjaar, 2022, verskyn het. Die Engelse volk het etlike volke en van sy kolonies meegesleur met sy immorele kolonialisme en selfverryking onder die vaendel van lojaliteit “for King and Empire”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.