Ramaphosa en die ANC-leiersverkiesing

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder, parlementslid en voormalige leier van die VF Plus. Foto: DoC

Wie gaan die ANC-leiersverkiesing in Desember wen – Cyril Ramaphosa of Nkosazana Dlamini-Zuma?

Om in kerksake te voorspel, is redelik maklik. Daar moet jy tussen sleg en goed kies.

Om in politiek te voorspel, is baie moeiliker. Daar moet jy meestal tussen sleg en slegter kies. Hier is dit ook die geval.

My voorspelling is dat Ramaphosa gaan wen.

Waarom gaan hy wen?

Omdat politiek oor mense gaan. Om te voorspel wat mense gaan doen, moet jy mensekennis hê en verstaan waarom mense sekere goed doen. As jy hierdie redes verstaan, kan jy reg voorspel.

Ons moet dus die mense wat in Desember by die ANC-konferensie gaan stem, probeer verstaan. Net hulle kan stem. Hulle gaan die wenner bepaal.

Wie gaan by die konferensie wees?

Vir elke 100 lede in ʼn ANC-tak kan hulle een afgevaardigde na die kongres stuur. Ongeveer 5 000 afgevaardigdes gaan dus stem.

Wie stuur so ʼn tak na die konferensie?

Die tak kies waarskynlik ʼn persoon wat ʼn plaaslike leier is, wat politiek ingelig is en daarom by die takvergadering leiding geneem het. Dit is waarskynlik ook ʼn persoon met politieke ambisie wat hoop om eendag ʼn ANC-stadsraadslid of selfs parlementslid te word.

Jacob Zuma se foto was op die verkiesingsplakkate in die 2016- plaaslike verkiesing. Meer as 800 ANC-stadsraadslede het toe hulle poste verloor omdat die ANC soveel swakker in daardie verkiesing gevaar het. Hierdie oud-raadslede het R15 000 tot R25 000 salaris maandeliks as raadslid gekry. Nou is hy of sy dit kwyt en dalk terug in ʼn shack.

Wie blameer hulle daarvoor? Vir Jacob Zuma.

Sal só ʼn persoon vir Dlamini-Zuma stem met die hoop dat die gesig van nog ʼn Zuma op die ANC-plakkate gaan verseker dat hy of sy by die volgende verkiesing weer verkies sal word? Baie onwaarskynlik. Dieselfde geld vir die 249 ANC parlementslede en 279 ANC provinsiale wetgewerlede wat benoud na die volgende verkiesing in 2019 kyk.

Wie gaan dan vir Dlamini-Zuma stem?

Hoofsaaklik sommige reeds verkose ANC-lede. Hulle wat tans uit korrupsie en met lang vingers voordele het wat hulle nie wil verloor nie. Daarom die skynheilige argumente van Ace Magashule, premier van die Vrystaat, en Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, dat dit nou tyd vir ʼn ANC-vrouepresident is en dat die adjunkpresident nie outomaties president hoef te word nie.

Suid-Afrika stem nog baie etnies – al mag ons dit nie hard sê nie. Met Ramaphosa ʼn Venda is daar ʼn etniese pro-Zoeloestem in Dlamini-Zuma se guns. Met Zweli Mkhize as Zoeloespreker en ʼn vorige KwaZulu-Natalse (KZN) premier ook in die wedloop, is hierdie stem verdeel. KZN is verder verdeel deurdat Ramaphosa op ʼn slim manier Senzo Mchunu as sekretaris-generaal op sy lys het. Zoeloesprekende Mchunu was die vorige demokraties verkose ANC-leier in KZN. Die hof het bevind dat hy op ʼn oneerlike wyse by die laaste provinsiale ANC-verkiesing vanjaar deur die Zuma-faksie in KZN uitgeknikker is.

Hoekom gaan Ramaphosa wen? Omdat daar meer ANC-kongresafgevaardigdes is wat nog politieke poste wil hê, as die wat tans reeds politieke poste het.

Gaan dit beter gaan met Suid-Afrika as Ramaphosa wen?

Nee en ja. “Nee” vir die staatsdiens en “Ja” vir die ekonomie.

Nee vir die staatsdiens. Nie Ramaphosa of selfs Superman gaan die staatsdiens weer regkry nie. Sedert Mbeki se tyd is die staatsdiens so “getransformeer” met ANC-kaders, vriende en familielede dat dit jare sal neem om weer ʼn ervare meriete staatsdiens te kry.

Ja vir die ekonomie. As Ramaphosa net enkele eenvoudige ekonomiese waarhede ná sy verkiesing sê, gaan dit hoop vir die ekonomie bring. Die huidige ANC se ekonomiese beleid skep nie werkgeleenthede nie en stimuleer ook nie ekonomiese groei nie. As Dlamini-Zuma verkies word duik die ekonomie onmiddellik en verdamp die laaste paar beleggings uit Suid-Afrika. Ramaphosa mag die moed as ryk sakeman hê om enkele bestaande ekonomiese standpunte van die ANC in belang van Suid-Afrika te verander.

Gaan Ramaphosa die ANC red?

Toe FW de Klerk, kort voor die 1989-verkiesing by PW Botha oorgeneem het, het hy die NP tydelik gered. Hy kon egter nie keer dat die NP in 2004 net sewe setels in die parlement gekry het nie. In 2005 is die party deur Marthinus van Schalkwyk ontbind.

Soos Ramaphosa by Zuma oorneem, behoort hierdie patroon hom te herhaal. In die vorige verkiesing het 3 miljoen ANC-lede nie gestem nie. Hulle het nie vir opposisiepartye gestem nie, maar uit protes net weggebly. Ramaphosa, as ʼn nuwe besem, mag 2 miljoen van daardie stemmers na die ANC terugbring. Daarmee sal die ANC die 2019-verkiesing met ʼn verkleinde meerderheid kan wen. Soos die ANC na die verkiesing steeds swak gaan regeer, sal die kiesers hulle weer begin verwerp. Dit maak ʼn opposisiekoalisie in die toekoms moontlik.

Wat van Zuma?

Hy gaan probeer om as voorsitter van die ANC verkies te word of op ʼn ander wyse invloed te behou. Dit gaan nie slaag nie. Mbeki is eers huis toe gestuur nadat hy teen Zuma as ANC-president verloor het. As Ramaphosa wen, sal hierdie geskiedenis herhaal word. In 2018 sal hy Zuma huis toe stuur.

Gaan Zuma toelaat dat die ANC-konferensie voortgaan as dit duidelik word dat sy kandidaat, Dlamini-Zuma, gaan verloor?

Nee. Die volgende paar weke gaan rof wees soos elke moontlike metode gebruik sal word om die konferensie te kelder of uit te stel. Die sleutel is egter Gwede Mantashe. As sekretaris-generaal is hy in beheer van die administrasie van die konferensie. Hy glo dat die uitstel van die konferensie fataal vir die ANC sal wees. Na alles is hy deur Ramaphosa as voorsitter op sy lys benoem.

Waarom het Mantashe dan onlangs vir Ramaphosa berispe toe Ramaphosa sy lys aangekondig het?

Omdat Mantashe moet voorkom dat die Zuma-faksie hom uitgooi en sê hy is nie objektief nie. Hy probeer so sy geloofwaardigheid as ʼn soort skeidsregter behou, al het hy reeds in die openbaar vir Ramaphosa kant gekies.

Wie is die beste keuse uit ʼn opposisie-politieke oogpunt?

Dlamini-Zuma. Dan kry die ANC minder as 50% in 2019 se verkiesing en kan ʼn opposisiekoalisie regeer.

Is dit die beste vir SA?

Moeilik om ja of nee te sê. As die Dlamini-Zuma-ANC minder as 50% kry mag die EFF aanbied om ʼn koalisievennoot van die ANC te word. Dan is Malema dalk premier van Limpopo en hulle eis nasionalisering en grondgrype sonder vergoeding as voorwaardes om saam te werk.

Wat van ʼn opposisiekoalisie?

Meningspeilings wys dat die DA en geen opposisieparty op sy eie die verkiesing kan wen nie. ʼn Koalisie van opposisiepartye, saam met die EFF, kan dalk meer as die ANC kry. Maar – die EFF sal natuurlik dieselfde eise stel om saam met ʼn DA, VF Plus en ACDP koalisie te werk.

Interessante en gevaarlike tye lê voor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jerry ·

Ek stem saam met Dr. Mulder. Hy vat raak ten opsigte van die ANC – Leiersverkiesing. Sou graag wou weet wat sy advies aan Afri-Forum en Solidariteit is tov die interresante tye en die gevaarlike tye wat voorle

Eish ·

As blanke Afrikaner wat Afrikaans praat, hou jou grypsak gereed.

Rupert Ashford ·

Goed beredeneerde stuk deur Dr Mulder. Wonder of dinge dalk anders daaruit kon gesien het as die Mulders vroeer meer erkenning gekry het in die politiek van die land.

Oor die ANC en Cyril kan mens seker baie skryf maar “mag die Goeie Vader ons beskerm” is dalk maar die beste en enigste. Die sjef van die ANC (hy van “kook hulle stadig” faam) boesem nou nie eintlik veel vertroue by my in nie hoewel die ander kandidaat sekerlik erger sal wees.

Jerry ·

Eish, jy vat altyd raak in jou kommentaar. Ek wonder net of Afri-Forum daardie wysheid ooit aan die jeug sal oordra. Die jeug moet voortgaan met Afri-Forum inisiatiewe, maar met die grypsak gereed. Dit sal n hartseerdag word as hulle hierdie wysheid ignoreer

John ·

Cyril sal, indien hy nou goed vaar, beslis ‘geskenke’ moet uitdeel om in 2019 die paal te haal en die witmense sal in die een of ander gereg ‘n laaste kwaak moet kwaak… voor die Cyrilsousie dit stil… want die eise is baie en dr Z sal soos Hillary (en Grace) genadeloos en verwoed toeslaan en mense oprui teen die sg rassistiese #witkapitaal wat steeds alle probleme veroorsaak… en op Cyril se kop sit.

Deon Meyer ·

Behoede ons as Dlamini-Zuma ooit in so pos aangestel word.Sy het niks in die Afrika Unie uitgerig nie,behalwe as om te sit en slaap.As sy dalk die slag wakker word sal Rip van Winkel ook wakker wees.

Koos1 ·

Nog ‘n plus punt vir Ramaphosa. Hy het soos Donald in die VSA genoeg van sy eie geld. Hy het nie nodig om die staatskas te plunder (soos Zuma), om vir sy hele familie te sorg nie. Ramaphosa stel tans ‘n voorbeeld om met sy eie privaat helikopter vakansies te hou, en nie die lugmag s’n te gebruik nie.
MAAR die engels se spreekwoord is “Rather the devil you know as the devil you don’t”. Ek hoop van harte die spreekwoord kan verkeerd bewys word!

Gerhard ·

Cyril die man wat die Afrikaner al vir 23 jaar op ‘n plaat kook. Ai dis erg as hy die beste is waarvoor jy kan hoop.

Joe Hall ·

‘Gevaarlike tye’ wat voorlê, is nie ‘n nuwe verskynsel nie,
Gemiddeld 50 moorde per dag sedert ’95 is een van talle bewyse dat sulke tye lankal reeds ‘n daaglikse verskynsel is..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.