Ramaphosa en sy wilde grondleeu

Deelnemers aan die verhoor oor grondonteiening by die Heartfelt Arena op 28 Julie in Pretoria. Foto: Reint Dykema.

Saterdag het die verhore oor die wysiging van artikel 25 van die Grondwet in Pretoria plaasgevind. Dit handel kortliks oor onteiening sonder vergoeding.

Alhoewel die beginsel wat aangeval word, veel wyer as grond is, fokus die debatte op grond. Die verhore tot dusver was emosioneel en met enkele uitsonderings sonder behoorlike inhoud. Geen rasionele temas soos die invloed van onteiening op ekonomiese groei, voedselsekerheid of die begeerte van swart Suid-Afrikaners om die grond te bewerk, is hanteer nie. Om die waarheid te sê, daar is min oor grond gepraat.

Waaroor daar wel gepraat is, is die kriminaliteit van wit Suid-Afrikaners, gevoelens van vernedering, skuld en wraak. Daar is gepraat oor ʼn begeerte aan welvaart en voorspoed. Die simboliek van grond het die simboliek van vooruitgang en erkenning geword.

Die harde ironie is dat die wysiging van artikel 25 van die Grondwet in praktyk ʼn simbool van ʼn ekonomiese ramp sal wees. Indien aan artikel 25 geraak word, word daar ook geraak aan privaat eienaarskap, iets wat veral in die Westerse wêreld ʼn logiese voorvereiste vir belegging en groei is.

Die proses wat onder leiding van president Cyril Ramaphosa begin is, het ʼn populistiese leeu ingespan wat al hoe wilder raak hoe langer die proses aangaan.

Die populiste het ’n belang daarby om nie die emosie te ontlont nie en die gevoel van verontregting in stand te hou. Hoe meer dit gevoed word, hoe beter vir die populis. Die verlede word dus al erger aangebied en wittes se skuld en bevoorregting al meer.

Die populistiese propaganda resoneer egter nie met Afrikaners nie. Hulle het self ’n geskiedenis van verontregting en die debat gee nie erkenning daaraan nie. Grond is deel van hul kollektiewe identiteit, al is Afrikaners grootliks verstedelik. Die gedagte dat grond net weggevat kan word, word onderliggend beleef as ’n aanval op hul identiteit en dit roep onbewustelik ’n historiese gevoel van oorlewingsangs op.

Die debat het dus ontwikkel in ʼn stryd oor weergawes van die geskiedenis en die prys daarvoor gaan ʼn stabiele toekoms wees wat verlore sal gaan.

Die uitdaging vir Suid-Afrika is dus om ’n hoogs emosionele debat só te bestuur dat daar ’n rasionele uitkoms is. Zimbabwe het die uitkoms van die gronddebat aan populiste se uitbuiting van emosies oorgelaat. Die werklikheid het verlore gegaan en die uitkoms was totaal irrasioneel. Die prys was gebrekkige opvoeding, werksverlies, armoede, swaarkry, onreg en vele meer.

President Ramaphosa het egter die populistiese leeu ingespan met die gedagte dat hy dit kan ry. Hy het nie in berekening gebring dat die leeu al wilder gaan word nie. Die reaksie van die markte en die buiteland het gewys dat hulle nie van die leeu hou nie. Suid-Afrika is ʼn oop ekonomie en is sensitief vir ʼn negatiewe beleggingsklimaat.

Die wysiging van artikel 25 gaan die teenoorgestelde effek hê as wat die voorstanders daarvan verlang, en hul gevoelens van emosie gaan presies dieselfde bly.

Ramaphosa sal die leeu moet tem, maar om ʼn wilde leeu uit te span, is geen grap nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

John ·

Afrikaners het CR totaal oorskat. Hy is met oorgawe in direksies oogeneem waar hy ingespeel het op hogere waardes en baasskap gekombineer met ‘n aanspraak op Mandela-seenwense ingespan om te kom waar hy vandag troon. Hy was vise-president maar distansieer hom van die verlede; alle skuld rus op Zuma met CR as die redder wat nou eers kans kry ~ die ware waardes van die ANC rus in sy’ boesem. Nou sit ons in verhore van Afrikaners oor hul glo ondeugsame verlede: Mitiese leuens word uitgespin met die oe na die dak gerig om ware kleur en geur te verleen aan sinistere fabrikate. Selfs die DA-‘Obama’ sweer dat die witman niks maar niks goeds na die swartman se land gebring het nie ~ Afrika is mos net swartes s’n. Waarom is die glo basiese riglyn van grondgrype nie 25+ jaar gelede uitgespel tydens die onderhandelinge nie ~ alhoewel regdenkende Afrikaners altyd geweet het dat gierigheid geen perke ken nie. Ons weet dat nie net ‘n paar plase die’ se oe wat groter as hul mae is se verwoede eise gaan stil nie. Swerms van enigiets wonder nie oor more nie. Elkeen wat op die byeenkomste gekerm het en die res wil ‘n plasie he en nie een 6 vt diep nie, maar ongelukkig is dit al waarmee die meeste mense op aarde uiteindelik tevrede moet wees.

Leon Lucas ·

Mag ek, die woede, haat en smag na vergelding van 90% van die teenwoordig, beaam.
Dus val enige rasionele debat op dowe ore. Die Zimbabwe realiteit nie eers op die radarskerm nie. Vir die meerderheid gillendes rondom my is die rede vir hul armoede, misrabele bestaan wittes se skuld, beginnende by Jan van Riebeeck. Hoe vinniger die witman wyk hoe beter.

Vir my persoonlik is hierdie gebeure glashelder bevestiging dat die gronwetlike bestel van 1994 dood is. Die grondwet is maar net ‘n stuk papier. Die verwagtinge loop koorshoog en sal deur Malema en kie aangevuur word…..Welkom by die revolusie wat vir 24 jaar uitgestel is.

Rupert Ashford ·

Ek is bevrees dat as die leeu uitgespan gaan word sonder ‘n “politieke oplossing” om die witmense se goed te vat, die anargiste ( hulle is nie populiste nie) die land aan die brand sal steek.

Judge Dredd ·

Die besluit om grond te vat is klaar gemaak. Hierdie “grond debatte” is maar net om legimitaliteit aan ANC/EFF se beoogde kriminele aktiwiteit te gee.

Kommunisme ·

Wat gebeur met mense wat reeds vir hul grond betaal het en die staat reeds ingestem het om die Tax wat daarop betaal is tydens registrasie as vergoeding te neem? Was hier nie reeds n goedgekeurde transaksie tussen die partye nie? Maw as ek reg verstaan sal die eienaars nou die grond huur by die regering en weer daarvoor betaal en die geld wat reeds betaal is vir die grond asook die Tax gedeelte verloor..is dit nie korrup nie..soos ek dit sien kommunisme..ek wou graag die debat bywoon maar het liewer my veiligheid 1ste geplaas deur weg te bly aangesien die EFF by vorige vergadering geweldadig begin optree het soos berig was en op nommer 90 die venue verander was..mens weet nie of jy veilig is om jou standpunt te plaas by n publieke saamkoms…

Eish ·

” Die wysiging van artikel 25 gaan die teenoorgestelde effek hê as wat voorstanders daarvan verlang, en hul gevoelens van emosie gaan presies dieselfde bly.”
Grondonteiening, dink ek, besef ieder en elk in mindere of meerdere mate, is oppad. Verder, dat daar niks is wat ons daaraan kan doen nie, vanweë die getalle oorwig van die meerderheid en die versplinterde weerstand van die minderheid.
Indien jou en jou gesin se lewe daarvan afhang, maak dit nie saak waar ons selfbeskikking het nie, jy sal gaan ten einde aan die lewe te bly. Die sekuriteit van die hede, salaris, bates en veiligheid, verdwyn soos mis voor die son in lewensbedreigende omstandighede. Soos die situasie vererger, dink ek tog dié kraal gaan voller loop.
(My innige dank aan genl. Constand Viljoen wat die agterdeur vir ons kon inbou na die Nobelpryswennende oorgawe.)
Interressant om daarop te let dat leiersfigure tydens die onderhandelings nooit n generaal van die magte as deel van die onderhandelingspan gehad het nie.
Juis hul wat vertroud was met die wese van die ANC. Dalk n bewys van die absolute wil om mag oor te gee. Nou pleit hul dom. Eish!

Judge Dredd ·

Nou wat as ek vir jou se Constand Viljoen is die rede hoekom die weermag destyds nie ‘n staatsgreep op die NP regering gedoen het voor oorgawe.

Paul ·

John, ek stem 100% saam met jou. Dr Hermann baie goed saamgevat, soos mens in Engels sou sê, “on the button”, net soos dit is. Jig maar waarom gebruik ek nou Engels, maar ek hoop net van harte dat dit wat jy beduie kom ook by CR uit, want as daardie geblikte leeu met die woeste donkerbruin maanare wat oor die skouers sterk, ook tussen die voorbene afhang, eers losgelaat word, mag hy dalk ongekende verwoesting aanrig.

Gerhard ·

Grondhervorming het niks te doen met arm mense help, of enige van die bog wat genoem word nie. Die Kaders wil hulle mag konsolideer en is bereid om die pyn te vat wat daarmee kom. Hulle weet wat gaan gebeur, maar nadat dit gebeur het, sit hulle met al die mag.

White Rhino ·

CR is ‘n kaptein van ‘n reeds sinkende skip.
Hy is lyk my oblivous daarvan – want hy gaan aan of niks verkeerd is nie.
Of hy keur dit stilswyend goed.

Casper Labuschagne ·

@White Rhino Verkeerd, om ‘n miljard rand aan ‘n Bolsjewis te skenk het nie van Cyril ‘n kapitalis gemaak nie maar bloot ‘n baie ryk Bolsjewis. Cyril voer eenvoudig die SAKP se langtermyn plan ten gunste van hul nasionaal demokratiese revolusie uit. Dit behels dat volkome sosialisme nie onmiddelik na ‘n ANC magsoorname geïmplementeer kan word nie, maar dat ‘n tussentydse demokratiese regering oor enkele dekades sodanig moet verswak omdat dit nie genoegsame sosiale hervorming kan lewer nie, dat die land tot op die drumpel van ‘n revolusie moet kom sodat ‘n revolusionêre regering dan die mag kan oorneem en daarna werklike sosialisme kan instel, Die redenering is dat die magte wat daadwerklik teenstand sou kan bied teen ‘n sosialistiese bestel teen daardie tyd so sou verswak en oneffektief sal wees dat ‘n teenrevolusie dus nie gevaar sal inhou nie.

Dit kom vir my voor asof Cyril en die SAKP goed vorder met hul plan.

Casper Labuschagne ·

As daardie tier (eerder ‘n tier as ‘n leeu want hierdie ondier hardloop baie vinniger en hoef nie in ‘n trop te jag nie) loskom dan is jou beste hoop om dit aan die stert te gryp en vas te klou in die hoop dat jy self die heel laaste sal wees wat verslind gaan word.

Watter ander uitkoms word van hierdie konsulterende proses verwag anders as dat die meerderheid aanspraak sal maak op die eiendom van die minderheid? En dat geen logiese of beredeneerde argument staande sal bly teen populistiese aansprake nie?

Nee hierdie tier is nou losgelaat en dit sal ons almal opvreet voordat die ANC nog self opgevreet gaan word.

Kleine Krimpvarkietjie ·

Ekke, Kleine Krimpvarkietjie sien in my geestesoog ‘n Monster uit die Ooste opkom en alleen eienaar van alle grond in hierdie suider Afrika word. En in sy regterhand hou hy ‘n sjambok waarmee hy werkdissipliene in sy fabrieke alhier toedien en in sy linkerhand het hy krummels waarmee hy die fabriekswerkers net-net aan die lewe hou. En uit sy bek kom vlamme van vuur van mag. En as hy sy stert op die grond neerslaan, dan bewe die hele land se arbeidsmag want hulle moet dan nog harder werk. En die Monster se naam is “Me Power”
Rugsteun gerus hierdie voorspelling vir jul nageslagte. Ek gaan nou al wegkruip. Amen. Sela.
Liefde groete, jul medesoogdier in hierdie sondige wêreld.

Leon Lucas ·

Korrek Casper. Die truuk is om die tier te oorleef. Ons geskiedenis is besaai met Tiere. Dit gaan egter nie maklik wees nie. Dit gaan durf, pragmatismme en geloof verg.

Wat ‘n uitdaging….sien nogal uit!

Fyntrap ·

Katvoet loop oor my eiendom, ek gaan nie my laat verwyder nie.

KLK ·

Net n handjie vol blankes wat saterdag opgedaag het, maar hul bly darm whatsapps stuur, dit help mos lol

Leon ·

Jy is reg KLK. Eff met busse aangery. Die armes is honger, kwaad en lus vir vergelding. Ons mense le lekker in Centurion en Pretoria se winkelsentrums rond. Dan ‘n lekker braai en paar biere. Die lewe is ‘n lied….vir nou…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.