Ramaphosa en sy wilde grondleeu

Deelnemers aan die verhoor oor grondonteiening by die Heartfelt Arena op 28 Julie in Pretoria. Foto: Reint Dykema.

Saterdag het die verhore oor die wysiging van artikel 25 van die Grondwet in Pretoria plaasgevind. Dit handel kortliks oor onteiening sonder vergoeding.

Alhoewel die beginsel wat aangeval word, veel wyer as grond is, fokus die debatte op grond. Die verhore tot dusver was emosioneel en met enkele uitsonderings sonder behoorlike inhoud. Geen rasionele temas soos die invloed van onteiening op ekonomiese groei, voedselsekerheid of die begeerte van swart Suid-Afrikaners om die grond te bewerk, is hanteer nie. Om die waarheid te sê, daar is min oor grond gepraat.

Waaroor daar wel gepraat is, is die kriminaliteit van wit Suid-Afrikaners, gevoelens van vernedering, skuld en wraak. Daar is gepraat oor ʼn begeerte aan welvaart en voorspoed. Die simboliek van grond het die simboliek van vooruitgang en erkenning geword.

Die harde ironie is dat die wysiging van artikel 25 van die Grondwet in praktyk ʼn simbool van ʼn ekonomiese ramp sal wees. Indien aan artikel 25 geraak word, word daar ook geraak aan privaat eienaarskap, iets wat veral in die Westerse wêreld ʼn logiese voorvereiste vir belegging en groei is.

Die proses wat onder leiding van president Cyril Ramaphosa begin is, het ʼn populistiese leeu ingespan wat al hoe wilder raak hoe langer die proses aangaan.

Die populiste het ’n belang daarby om nie die emosie te ontlont nie en die gevoel van verontregting in stand te hou. Hoe meer dit gevoed word, hoe beter vir die populis. Die verlede word dus al erger aangebied en wittes se skuld en bevoorregting al meer.

Die populistiese propaganda resoneer egter nie met Afrikaners nie. Hulle het self ’n geskiedenis van verontregting en die debat gee nie erkenning daaraan nie. Grond is deel van hul kollektiewe identiteit, al is Afrikaners grootliks verstedelik. Die gedagte dat grond net weggevat kan word, word onderliggend beleef as ’n aanval op hul identiteit en dit roep onbewustelik ’n historiese gevoel van oorlewingsangs op.

Die debat het dus ontwikkel in ʼn stryd oor weergawes van die geskiedenis en die prys daarvoor gaan ʼn stabiele toekoms wees wat verlore sal gaan.

Die uitdaging vir Suid-Afrika is dus om ’n hoogs emosionele debat só te bestuur dat daar ’n rasionele uitkoms is. Zimbabwe het die uitkoms van die gronddebat aan populiste se uitbuiting van emosies oorgelaat. Die werklikheid het verlore gegaan en die uitkoms was totaal irrasioneel. Die prys was gebrekkige opvoeding, werksverlies, armoede, swaarkry, onreg en vele meer.

President Ramaphosa het egter die populistiese leeu ingespan met die gedagte dat hy dit kan ry. Hy het nie in berekening gebring dat die leeu al wilder gaan word nie. Die reaksie van die markte en die buiteland het gewys dat hulle nie van die leeu hou nie. Suid-Afrika is ʼn oop ekonomie en is sensitief vir ʼn negatiewe beleggingsklimaat.

Die wysiging van artikel 25 gaan die teenoorgestelde effek hê as wat die voorstanders daarvan verlang, en hul gevoelens van emosie gaan presies dieselfde bly.

Ramaphosa sal die leeu moet tem, maar om ʼn wilde leeu uit te span, is geen grap nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Afrikaners het CR totaal oorskat. Hy is met oorgawe in direksies oogeneem waar hy ingespeel het op hogere waardes en baasskap gekombineer met ‘n aanspraak op Mandela-seenwense ingespan om te kom waar hy vandag troon. Hy was vise-president maar distansieer hom van die verlede; alle skuld rus op Zuma met CR as die redder wat nou eers kans kry ~ die ware waardes van die ANC rus in sy’ boesem. Nou sit ons in verhore van Afrikaners oor hul glo ondeugsame verlede: Mitiese leuens word uitgespin met die oe na die dak gerig om ware kleur en geur te verleen… Lees meer »

Leon Lucas

Mag ek, die woede, haat en smag na vergelding van 90% van die teenwoordig, beaam. Dus val enige rasionele debat op dowe ore. Die Zimbabwe realiteit nie eers op die radarskerm nie. Vir die meerderheid gillendes rondom my is die rede vir hul armoede, misrabele bestaan wittes se skuld, beginnende by Jan van Riebeeck. Hoe vinniger die witman wyk hoe beter. Vir my persoonlik is hierdie gebeure glashelder bevestiging dat die gronwetlike bestel van 1994 dood is. Die grondwet is maar net ‘n stuk papier. Die verwagtinge loop koorshoog en sal deur Malema en kie aangevuur word…..Welkom by die revolusie… Lees meer »

Rupert Ashford

Ek is bevrees dat as die leeu uitgespan gaan word sonder ‘n “politieke oplossing” om die witmense se goed te vat, die anargiste ( hulle is nie populiste nie) die land aan die brand sal steek.

Judge Dredd

Die besluit om grond te vat is klaar gemaak. Hierdie “grond debatte” is maar net om legimitaliteit aan ANC/EFF se beoogde kriminele aktiwiteit te gee.

Kommunisme

Wat gebeur met mense wat reeds vir hul grond betaal het en die staat reeds ingestem het om die Tax wat daarop betaal is tydens registrasie as vergoeding te neem? Was hier nie reeds n goedgekeurde transaksie tussen die partye nie? Maw as ek reg verstaan sal die eienaars nou die grond huur by die regering en weer daarvoor betaal en die geld wat reeds betaal is vir die grond asook die Tax gedeelte verloor..is dit nie korrup nie..soos ek dit sien kommunisme..ek wou graag die debat bywoon maar het liewer my veiligheid 1ste geplaas deur weg te bly aangesien… Lees meer »