Ramaphosa en vorentoe

Bennie van Zyl. Foto: Reint Dykema

TLU SA neem met dank kennis dat president Cyril Ramaphosa dag zero aangekondig het vir onder andere korrupsie, ondoeltreffende staatsdiens, onsekerheid in die mynbou-omgewing en ʼn onveilige Suid- Afrika.

Die opmerking dat grond onteien moet word sonder vergoeding het egter veroorsaak dat die aftel na dag zero vir verskeie ander aspekte ook begin het. Daar moet besef word dat, as daar van onteiening van grond gepraat word, dit nie staatsgrond of trustgronde kan wees nie, want hulle besit dit reeds. Die huidige proses is in elk geval ʼn proses van nasionalisering wat uitloop op mislukkings. Met hierdie aftel word gedink aan aspekte soos die volgende:

  • voedselsekerheid kom in gedrang;
  • verdere beleidsonsekerheid met die gepaardgaande gebrek aan broodnodige beleggings;
  • 35 000 boere wat sorg vir voedselsekerheid onseker die toekoms ingaan en wat alles kan verloor en dan op straat gaan sit;
  • totale mislukking van die ekonomie;
  • buitelandse beleggings; en
  • ineenstorting van die bankwese.

Die ANC het oor die tydperk heen ʼn regeringstyl ontwikkel wat projekteer dat die ANC belangriker vir hulself is as wat Suid-Afrika is. In hul eie Vryheidsmanifes sowel as die Grondwet word verklaar dat almal gelyk is, maar in praktyk word ervaar dat sommige mense meer gelyk is as ander. Mnr Ramaposa het telkens verwys na “our people” Hy moet verduidelik wie is die “our people”.

Die weersprekende standpunte wat gestel is, bring onsekerheid wat noodwendig vrae na vore bring waaroor daar duidelikheid moet kom.

Solank daar volhard word met radikale transformasie, soos uiteengesit in die ANC se beleidsdokumente, stuur Suid Afrika steeds af op totale ekonomiese verval desondanks mnr Ramaphosa se mooi praatjies.

  • Daar word verwys na transformasie en daarteenoor word genoem dat daar voortaan kundige mense aangestel gaan word. Wat is mnr Ramaphosa se definisie van transformasie? Sal wit mense voortaan op meriete hanteer word en ook die hoop kan hê dat die beleid van “affirmative action” nou ʼn sonsaktydperk bereik het? Gaan daar dus vir almal in die land ʼn gelyke geleentheid gegee word om saam by die wegspringplek te mag wegspring en sal elkeen voortaan op meriete gekies word?
  • Die onsekerheid van bates wegneem sonder vergoeding sal duidelik uitgeklaar moet word op watter basis dit gaan geskied. Mnr Ramaphosa het gepoog om verantwoordelikheid vir die pad vorentoe te projekteer. Indien hy erns het met sy opmerking dat voedselsekerheid en die ekonomie nie geskaad mag word nie, sou sy eerste verantwoordelikheid wees om met die georganiseerde landbou wat die produserende boere verteenwoordig, in gesprek te tree. TLU SA het reeds in 2005 praktiese voorstelle aan die regering oorgedra wat van die tafel gevee was waarin nuwe toetreders op so wyse gehelp sou kon word dat hulle wel ʼn kans op sukses kon hê. Dis natuurlik heel anders as wat die regering nou doen met ʼn selferkende 90%-mislukkingsyfer. Die regering moet besef dat al die mooi beloftes eensklaps onaanvaarbaar sal word vir beleggers indien hier enige eensydige onteiening sonder vergoeding sal plaasvind. Kapitaal volg nie onsekerheid nie.
  • Die belangrikheid van voedselproduksie in ons land met die geskiedenis van die regering se betrokkenheid tot nou toe om nuwe toetreders in die landbou-omgewing in te bring, verg dat daar nuut gedink moet word. Soos genoem is positiewe voorstelle oor tyd gemaak deur verskeie rolspelers om wel die landbou-omgewing gestabiliseer te hou en ʼn geleentheid te kan skep vir sukses. Die regering se inmenging het grootliks uitgeloop op mislukkings. Dit sou meer gepas wees om die privaat sektor en spesifiek die kommersiële landbou eerder hierdie planne te laat maak, maar dit die betrokke idee word nie verwelkom nie en derhalwe is daar steeds kommer oor die volgende grondoordragpogings.
  • Duidelik word uitgestippel dat daar ʼn samestelling van uiteenlopende volkere in Suid-Afrika saamgevoeg is. Word hierdie verskeidenheid voortaan erken en gerespekteer? Tans word daar ervaar dat die waardes en kulturele regte van die Afrikaner misken word in byvoorbeeld skole waar moedertaalonderwys nie gegun word nie. Sal elke bevolkingsgroep voortaan hulself kan uitleef in hul kulturele omgewing soos die Grondwet wel erken?
  • Die uitgangspunt dat mense entrepreneurs moet word en dat hulle in die hoofstroom ekonomie ingetrek moet word verg ook dieper ontleding. Enige persoon bemagtig hom- of haarself deur die regte eienskappe hul eie te maak. Hulle sal sukses bereik indien hulle die verantwoordelikheid vir hul toekoms aanvaar. Die staat kan nie die sukses al dan nie van entrepreneurs reguleer nie, maar kan dit met die markkragte doen. Te veel inmenging deur die staat word ervaar wat telkens uitloop op herkapitalisasie met weinig suksesverhale.

Die ANC se beleid en ideologie soos vervat in hulle beleidsdokumente naamlik Strategy & Tactics, die Nasionale Demokratiese Rewolusie en die Vryheidsmanifes is die krag agter die wyse hoe daar geïnterpreteer en toegepas gaan word. Met ʼn naderende verkiesing in 2019 gaan mnr Ramaphosa, weens die kwynende ondersteuning wat die ANC tans ervaar, nog baie populistiese uitsprake maak om die kiesers te oortuig om terug te keer na die ANC. Die dilemma daarmee is die onhaalbare verwagtinge wat geskep word, maar nog erger is die wegdryf van kundigheid en kapitaal.

Die markte sal mnr Ramaphosa toets vir sukses. As boere wil ons nie bedreig word ten opsigte van ons eienaarskap van wettig verkreë eiendom nie. Geen boer het sy grond gesteel nie. Die geskiedenis van grondbesit soos nasionaal en internasionaal opgeteken deur al die jare, bring ʼn stel feite tafel toe wat dit uitwys dat mnr Ramaphosa en al die ander swart volkere net soos die wit mense immigrante is en beide as tweedegenerasie-inwoners hier geland het.

Suid-Afrika se boere moet ʼn duidelike boodskap uitstuur aan die regering dat, indien hulle kos wil hê om te eet, daar met groter verantwoordelikheid omgegaan moet word met wettig verkreë eiendom. Suid-Afrika se boere moet hande vat en NEE sê vir onteiening sonder vergoeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Eish ·

Die onderwerp is al nerfaf bepraat, maar luister is min.
In n artikel oor Afrikaans se behoud, sê van ons geleerde vriende dat ons meer aktivisties sal moet optree.
Julle boere moet nou maar dalk ook die weg kies om gehoor te word.

Boerseun ·

Help nie jy praat met n kommunis oor grondreg nie. Al hoe die wereld gaan regop sit is om trompomp met die ouens te bots en n krieses te bewerkstellig. As die grondwet verander word, wat dit gaan, dan is dit wettig om die grond te vat. Geen volk het onafhanklikheid gekry sonder een of ander vorm van rebelle aksies en geweld.

Jerry ·

In Zupta se tyd was die indikasie dat die ANC grond wou he om te myn vir minerale soos onder andere uraan vir die kernkrag stasies wat hulle beplan het saam met die Russe. Die kanse was goed dat SA in een groot mynhoop sou eindig. Vir die ANC onder Zupta het dit nie gegaan oor onbesoedelde water of voedselsekerheid nie, want het hulle geredeneer, kos en water kan ingevoer word met al die geld wat hulle sou maak en die myne sou ook werk verskaf het aan duisende Suid Afrikaners. CR reken ek sal voortgaan met die mynbou idee, want dit sal help met die werkloosheid probleem van 9.3 miljoen Suid Afrikaners en 5 miljoen immigrante. Hy sal egter belans inbou om boerderye te laat voortgaan want dit skep ook werk. Ten spyte van CR se goeie voornemens sal meer myne as wat ons tans het ons skoon waterbronne erg bedreig wat dan natuurlik uiteindelik ook voedselsekerheid sal bedreig. Die vraag wat gevra moet word is, wat weeg die swaarste vir politieke stabiliteit, mense wat werk het, of onbesoedelde water? Wat sal die beste wees vir SA, kapitalisme of sosialisme of n kombinasie van die twee? Ek reken dat dit nie saak maak watse duidellike boodskappe die boere gaan stuur nie, bogenoemde is onvermydelik en sal uiteindelik SA se voorland wees.

lizl ·

Tyd laat kleiner partye soos VF bevoorbeeld saamsmelt met COPE. Lekota is die enige een wat bereid is om sy nek uit te steek oor die hervorming.

Johannes ·

Watse versoening is dit as hy nog slegs een deel van die bevolking as “our people” beskou?
Jan van Riebeeck en kie was waarskynlik aan die Kaap voor sy voorouers in Venda aangekom het.

Eish ·

Is dit werklik so dat ons voorouers ander mense se grond afgeneem het sonder ordentlike vergoeding? Geannekseer met ander woorde? Die meederheid hammer darem vreeslik daarop en ons ontken dit vreeslik.
Ek onthou van standerd 5 geskiedenis in die ou bedeling dat ruilhandel wel plaasgevind het. Spieëls en krale vir skape ensovoorts.
Sou ons voorouers werklik die mense so uitgebuit het net omdat hul ander klere en kleure dra aan hul bas as ons?
Waar is die geleerde geskiedkundiges? Kan hul nie vir ons lig werp op die aangeleentheid nie?
In Jan Jan Joubert se artikel het die minster blykbaar ysingwekkende aanhalings uit Paul Kruger se dagboek oor die aangeleentheid in sy toespraak vermeld.
Die Agri SA beloning van verlede jaar het nie veel om die lyf gehad nie aangesien die bewoording van die uitdaging slegs lewende boere omskryf het en glad nie die geskiedenis in ag geneem het nie.
Sulke optrede maak my verdag oor ons weergawe oor die aangeleentheid.
Voedselsekerheid is loshande belangriker as onteiening sonder vergoeding, maar n mens wil jou darem in die skaduwee van die waarheid bevind.

Lampies ·

Daar is talle histories-korrekte feite wat die grondkwessie objektief toelig. Die ANC daarenteen we weergawe os gebaseer op wanvoorstellings en/of opportunistiese standpunte.

Eish ·

Die histories korrekte feite is wat my bangmaak.
Spesifiek die Vrystaat goed nagevors.
Dit blyk dat die grondgebied geannekseer is van Lesotho.

bgj van der westhuizen ·

wat myne is myne ek het daar voor ge werk en voor dat hy dit kan kry sal ek dit eerder stukken maak hy moet onthou krap lank genoeg en dit kan hom trug byt

Eddie de Jager ·

Ek het aandagtig na Mnr. Ramaphosa geluister toe hy juis oor hierdie onderwerp gepraat het en die volgende het my by geval. As die grondkwessie nou aangespreek is en artikel 25 is gewysig is, wat is volgende? Sal die alewige gesing van liedere wat haatspraak bevorder en uitsprake wat uitloop op haat, wraak en moord onwettig verklaar word? Daar sal nie meer “Kill the Boer, kill the Farmer” gesing kan word nie, want daar gaan niemand wees om dood te maak nie. Ek doen dus ‘n beroep op ons verteenwoordigers op politieke vlak om die mosie ter tafel te lê. Sou grond gevat word en die strydbyl met die witmens begrawe word eis die oorblywende witmens dat enige haatspraak jeens witmense tot op die hoogste gesag onwettig verklaar word. Dis mos net goeie onderhandeling.

Barry Wolmarans ·

Maw. Jy is tevrede dat hulle ons grond vat net solank hulle met jou daarna ” nice” Sal wees. Jy is duidelik nie n boer nie.

Ag asseblief ·

Ek was self al by vele organisasies betrokke en het al daar gewerk ook. Ken die landbou omgewing en my pa is ‘n boer. Word so woedend vir hierdie kamstige landbou organisasies van ons! Waarvoor betaal jul lede? Sodat jy kan sit en opinies en menings skryf vir die media en kongresse? Eet en tee drink? Genade, TLU SA! Word wakker! Bied iets meer vir jou lede! Julle sien die dinge al vir jaaare aan kom! Kon jul tot nou geen aktiewe aksies begin reël en boere mobiliseer nie? Terloops, vergaderings en skrywes is nie aktiewe aksies nie! Volg gerus AfriForum se voorbeeld – hul beveg nie net plaasmoorde en misdaad op papier nie, maar in die hof, met protesaksies en belangrikste – met gemeenskap mobilisering – hulle help gemeenskappe om bymekaar te kom en skep veiligheidsgroepe en aksies! So beveg hulle dit aktief! Wat doen TLU? Sit en wag vir die volgende bom wat gaan bars – gaan loer gerus in by hul kantoor….ure se sittery. Te bang vir te veel werk! Om jou lede aktief te help is harde werk! Julle verdien geen ledegeld nie. Word aktief betrokke by jul boere se lewens en ek bedoel met sinvolle, aktiewe aksies! Genade!

Vermeende ·

Roelf Meyer was die NP se hoofonderhandlaar teen Cyril Ramaphosa van die ANC, hierdie twee het hand aan hand die grondwet help optrek en tog het Roelf oorgeloop na die ANC toe, Nou staan die vraag, namens wie het hy onderhandel, die NP of ANC.

Die TLU praat glo namens die landbou maar tog gesels hulle soos Roelf tengunste van die ANC beleid met n enkele gul vir die landbou hier en daar soos nou.
Ek hoop net as hulle in die raadsaal van die ANC gesels oor landbou dan gesels hulle oor die aktes wat in hulle name is. Ek sien die TLU as n verlengstuk van die regeering om die boere te paai want nog nooit het hulle my inset gevra oor die akte wat in my naam is nie.

Hoe is dit moontlik dat sulke hoogs geleerde mense so blind is, landbouers waarsku al vir meer as n dekade dat hierdie dag gaan kom en julle het hulle geïgnreer.
Staan eerder eenkant toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.