Ramaphosa is reg oor ‘Die Stem’ in SA se nasionale lied

Barend Uys. Foto: Verskaf.

Deur Barend Uys

Is pres. Cyril Ramaphosa reg as hy sê Suid-Afrika se nasionale lied verteenwoordig “wat ons as ’n nasie is”? Ek dink hy is inderdaad in die kol met hierdie opmerking, maar nie op grond van die redes wat hy sou dink nie.

Ramaphosa het gesê die woorde van Die Stem is destyds in die nasionale lied ingesluit as deel van die kompromieë wat aangegaan is “as ’n simbool wat ons in staat sou stel om die nasie te bou wat ons is”. Die bedoeling om vier tale in die nasionale lied te hê was dus, volgens Ramaphosa, om as simbool te dien van ’n diverse eenheid.

Wat is die “nasie wat ons is” wat oor die afgelope 25 jaar gebou is? Is ons ’n nasie? Die werklikheid is dat Afrikaners vandag erg vervreem van die staat van Suid-Afrika en hierdie sogenaamde “Suid-Afrikaanse nasie” voel. Ons voel vervreem omdat Afrikaans uit die universiteite, waaraan ons voorouers ook gebou het, geboelie word. Name en woorde wat vir ons belangrik is, word uit die openbare oog verwyder deur die verandering van dorp- en straatname. Ons swem stroomop in die arbeidsmark en ekonomie as gevolg van wetgewing wat gebaseer is op verteenwoordigendheid soos swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie. Deur die verskuiwing van ons monumente by openbare instellings word dit vir ons duidelik gemaak dat ons simbole, en dus onsself, nie meer hier welkom is nie. Dit is dade en werklikhede wat tel – nie woorde nie.

Waarvan is die woorde van Die Stem in die nasionale lied dan ’n teken of ’n simbool? Dit is eenvoudig blote vertoon, ’n masker, wat die nare, ware, stand van sake wegsteek. Ramaphosa is dus reg: Die lied is ’n simbool van wat “ons as ’n nasie is” – ons is ’n nasie waar verdraagsaamheid en diversiteit slegs leë woorde is. Die enigste plek waar daar ietsie van verdraagsaamheid teenoor diversiteit en idees wat strydig met dié van die regerende elite is, is in die nasionale lied. In die werklikheid waar gewone mense leef, is daar geen ruimte daarvoor nie – uitsprake daaroor is blote lippediens. Die woorde van Die Stem in die nasionale lied is niks meer as valse simboliek nie. Dit is nie woorde soos “Ons moenie wat ons verenig, verwerp nie” wat saak maak nie, maar dade.

In die gelykheidshof se uitspraak oor die ou vlag skryf regter Mojapelo: “South Africa needed to get to a place … where we are not divided but united in our diversity. It is a unity worth striving for at all costs. Hierdie ten-alle-koste-opmerking is radikaal. “Ten alle koste” kan ook goed soos die vernietiging van ’n taal en spraakvryheid insluit. Die eenheid waarvan hier gepraat word, is ’n onverdraagsame, onderdrukkende eenheid wat geen ruimte vir diversiteit het nie. Dit laat my dink aan die woorde uit Almansor wat ek, met apologie aan Heinrich Heine, aanpas: “Daar waar mens simbole verban, verban mens ook op die ou end mense.”

Die ANC is besig om sy monokulturele ideologie op hierdie multikulturele samelewing af te dwing. Hierdie onderdrukkende, totalitêre benadering hou nie tred met die werklikheid nie en is daarom nie suksesvol nie.

Ramaphosa beweer dat ons almal een nasie is en dat ons soos een nasie moet begin optree. Ons is egter ’n samelewing wat uit verskillende tale, kulture en etnisiteite bestaan en die erkenning van en respek vir hierdie werklikheid is noodsaaklik vir volhoubare voortbestaan.

Ramaphosa is reg as hy sê dat hierdie Suider-Afrikaanse grond aan ons almal behoort – natuurlik dan ook aan Afrikaners. Maar dit is ’n voldonge feit omdat dit eenvoudig so is, nie omdat die regering so sê nie. Ons ís lief vir hierdie grond, maar ons voel nie meer tuis in hierdie staat nie.

Ramaphosa kan sê hy is huiwerig om die woord minderhede te gebruik omdat mense vervreemd voel – dit verander niks aan die werklikheid van daardie minderhede wat wel so voel nie. Anders as Ramaphosa is ons nie huiwerig om die werklikheid te sien vir wat dit is en praktiese planne te maak om uitdagings uit die weg te ruim nie. Die erkenning van minderhede is ’n internasionale werklikheid en Ramaphosa se standpunt wys verder hoe uit pas hy en die owerheid met wêreldneigings is.

Ons sal graag “langs die vuur” met Ramaphosa praat omdat ons ’n benadering van wedersydse erkenning en respek volg en weet dat vreedsame naasbestaan noodsaaklik is. Uitkomste word egter nie deur praat bereik nie, maar slegs as ’n mens die verantwoordelikheid vir jou eie toekoms opneem en dan hard werk.

Krap die verbanning van die ou vlag en die moontlike verskuiwing van president Steyn se standbeeld vanaf die Kovsie-kampus aan ons? Natuurlik! Maar laat dit ons moedeloos? Nee!

Afrikaners binne die Solidariteit Beweging is al jare lank besig om werklikhede te bou sodat ons bestand kan wees teen die aanslae en onbevoegdheid van die staat. Ons vestig eenvoudig werklikhede en vra daarna erkenning daarvoor. Ons weet mos dat ons nie toestemming hoef te vra om goed te doen wat wettig is nie. Op hierdie manier is ons besig om vir ons ’n mooi toekoms hier in suidelike Afrika te bou, ten spyte van pogings van die regerende elite (wat die howe insluit) wat dit vir ons uitdagend maak.

Kom bou saam met ons!

  • Barend Uys is hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Westing

Ons moet maar net nie die huidige volkslied respekteer nie. As dit by rugby wedstryde gespeel word net eenvoudig bly sit

Hendrik ferreira

En nie gepraat van wetgewing wat diskrimineer teen wit tieners gebore na 94 wat deur wetgewing soortgelyk aan apartheid weerhou word om te studeer wat hulle wil of te werk waar hulle wil.

leser

gaan die stelling van : “kom ons bou saam” ooit ‘n werklikheid word, miskien in die volgende 9-10 dekades, ja, maar nie nou nie

Swannie

Ek is al lankal so negatief teenoor ide “Nuwe Demokratiese Suid Afrika”, dat ek binnekort gaan aansoek doen by die regering om vlugteling status.
Ek as `n wit man is lankal nie meer welkom in my eie land nie, want als wat vir my dierbaar en kosbaar is, word vernietig en my menswees word vertrap selfs deur ons sogenaamde “regstelsel”.

JoeF

Nou hoeveel van julle kan werklik Die Stem uit geheu sing. Nie net die eerste kwatryn nie, die volle ding, sonder om te gaan google.