Ramaphosa stel voorwaardes vir versoening

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Daar is die beeld dat versoening soos ’n brug is. ’n Suksesvolle brug verbind twee kante (of mense), wat eers ver van mekaar af was, met mekaar.

Maar daar is voorwaardes vir ’n suksesvolle brug: ’n Mens bou gewoonlik ’n brug nie van die middel af nie, maar van die kante af. ’n Mens bou ook gelyktydig van twee kante af – nie net van die een kant af nie. Maar dit is nie wat president Cyril Ramaphosa en die ANC doen nie.

Op Versoeningsdag praat president Ramaphosa oor versoening. Hy stel egter allerlei voorwaardes vir versoening. In sy toespraak sê hy:

“Ons kan die proses van betekenisvolle versoening nie vorentoe neem terwyl daar teenkanting is teen beleid oor ekonomiese transformasie, regstellende aksie en grondhervorming nie.”

In gewone Afrikaans beteken dit dat die ANC net met mense sal versoen wat ANC-beleid aanvaar. As jy krities teen grondhervorming sonder vergoeding is, as jy teen rassistiese regstellende aksie is en nie ANC swart ekonomiese bevoorregting deur swart bemagtiging aanvaar nie, is jy teen goeie verhoudinge en teen versoening.

Dit is nie brugbou van twee kante om mekaar in die middel te vind nie.

Waar president Nelson Mandela met kompromieë probeer het om almal te akkommodeer, is hierdie die teenoorgestelde.

In die Mandela-wittebroodstyd na 1994 is probleme wat opgeduik het met kompromieë opgelos ten einde versoening tussen groepe te kry. Die nasionale lied was so ’n kompromie deurdat dit in die Ngunitale (Xhosa en Zoeloe), die Sothotale asook Afrikaans en Engels is. So is probeer om 93% van Suid-Afrika se taalgroepe te akkommodeer.

Daardie tydsgees is in die 1994 interim grondwet se slot soos volg opgesom:

dat “daar ’n behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie,

’n behoefte aan herstel en nie vergelding nie,

’n behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie.”

In dieselfde tydsgees was daar na 1994 debatte oor die name van lughawens en damme. Jan Smuts-lughawe in Johannesburg het erkenning aan Smuts as internasionale figuur en JBM Hertzog-lughawe in Bloemfontein aan genl. Hertzog as voormalige eerste minister gegee. Die Verwoerd-dam het erkenning aan dr. Verwoerd gegee. Verwoerd as onder andere die vader van die idee om die Oranjerivier met damme en tonnels as ’n nuwe ontwikkelingsas, naas die Vaalrivier, te ontwikkel. Die ANC het voorgestel dat al hierdie plekke na ANC-helde vernoem word.

Die kompromie wat bereik is, was om nie verder persone te vernoem nie. Jan Smuts het Johannesburg Internasionaal geword; JBM-Hertzog-lughawe was Bloemfontein Lughawe en Verwoerddam het Gariepdam geword.

Wat vakansiedae betref was die voorstel dat die dae breedweg vir almal aanvaarbaar moet wees. Van Riebeeck- en Krugerdag moes plek maak vir, volgens die ANC, “neutrale” dae soos Vrouedag, Jeugdag en Menseregtedag.

Die wittebroodstyd het nie lank geduur nie. Mandela se “versoening” is met “ANC-transformasie” vervang. ANC-transformasie beteken dat die ANC se siening op alle ander politieke partye en mense afgedwing word. In toesprake het ek daarna verwys as: “Be reasonable, see it our ANC way!” Ramaphosa illustreer dit op Versoeningsdag met sy ANC-voorwaardes vir versoening.

Die kompromie dat persone nie vernoem gaan word nie, is gou by die venster uitgegooi. Johannesburg-Internasionale Lughawe het OR Tambo-lughawe geword. Bloemfontein-lughawe het Bram Fisher Internasionale- Lughawe geword. Vernoem na ANC-helde. Dieselfde het met die vakansiedae gebeur.

In die transformasieklimaat het die ANC hierdie dae geskaak vir hulle eie ANC-partypolitieke doeleindes. Vandag is dit ANC-byeenkomste wat op staatskoste met belastingbetalersgeld gereël en betaal word. Die gevolg is dat slegs ANC-ondersteuners dit bywoon.

’n Vakansiedag soos Jeugdag was aanvanklik bedoel om almal die geleentheid te gee om die belangrike rol van die jeug in Suid-Afrika te vier en te bespreek. Daarenteen het Jeugdag slegs ’n jaarlike ANC-herdenking van die 1976-opstande geword. Deel van die dag se viering is gewoonlik dat die Afrikaanse taal en Afrikaners bygekom word. Dit word ook hoofsaaklik vir die ANC-jeug gereël.

Op navraag waarom Jeugdag so gereël word, het Fikile Mbalula ewe eerlik geantwoord: “We are having a variety of activities throughout the country. But none of them include whites. We only had black youth in mind. We did not include or think about whites. All the music bands are mainly kwaito and cultural and poetry groups are exclusively black.”

Menseregtedag het Sharpeville-dag geword. By die geleentheid word die teenwoordiges opgesweep oor die gebeure by Sharpeville met geen verwysing na presies wat met menseregte bedoel word en hoe dit veronderstel is om die individu en minderheidsgroepe teen magsmisbruik van die staat te beskerm nie.

Omdat die geleentheid in ’n ANC-rally ontaard het, woon selfs ander oorwegend swart politieke partye nie die amptelike staatsgeleentheid by nie. Partye soos die PAC reël hulle eie byeenkoms.

As die nasionale lied vandag gesing word, gaan die EFF lede uitdagend by die Afrikaanse gedeelte sit. As ek na die nuwe jong ANC-leiers soos Panyaza Lesufi luister, hoor ek geen poging tot versoening of om ander te akkommodeer nie.

Wat ek hoor is dat die interim grondwet se woorde nou omgekeer word:

dat “daar ’n behoefte bestaan aan wraaksug en nie begrip nie,

’n behoefte aan vergelding en nie herstel nie,

’n behoefte aan viktimisering en nie medemenslikheid nie.”

Die gevolg is dat ek geen behoefte het om enige van hierdie byeenkomste by te woon nie en jaarliks ’n Geloftedagbyeenkoms bywoon. Natuurlik weet ek dat dit by sommige ’n baie polities onkorrekte standpunt is.

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder. (Argieffoto: DoC)

Ek deel ook nie die siening dat jy teen goeie verhoudinge en teen versoening is as jy die gelofte van jou voorvaders nakom nie. Geloftedag word nie gevier as die triomflike gekraai van een groep na die oorwinning oor ’n ander groep nie. Geloftedag word ook nie gevier om onsself op die bors te slaan oor hoe goed ons is nie. Daar was in ons geskiedenis baie ander suksesvolle veldslae wat so gevier sou kon word. Geloftedag word gevier soos die gelofte se bewoording sê: As ’n dankdag… dat dit wat gebeur het van geslag tot geslag oorgedra kan word “sodat God se naam so verheerlik kan word.”

Nadat 70 ongewapende mans en seuns wreed deur Dingaan doodgemaak is, asook 500 mense by Bloukrans, onder wie 185 kinders, het die Voortrekkers rede gehad om te haat en kwaad te wees. Watter psalm sing hulle die aand in die laer by Bloedrivier, terwyl die Zoeloes om die laer saamtrek vir die volgende oggend se aanval? Psalm 28:4 sou gepas wees:

“Vergeld hul nou hul bose daad; die vrug van selfgebroude kwaad.”

“Beloon hul na hul werk en sin, en skink hul eie drank hul in.”

Tog sing die Voortrekkers nie dit nie. Hulle verkies om Psalm 38 te sing:

“Straf tog nie in ongenade, my misdade, Heer verdra my met geduld.

“Wil tog nie in toorn ontsteek nie en u wreek nie, op my sonde en sonde skuld.”

Dit is die gees waarmee hulle Bloedrivier tegemoet gaan en is ook die gees waarin die gelofte jaarliks herdenk word. Wat versoening en goeie verhoudinge betref het Piet Retief reeds in sy manifes, toe die trekkers uit die Kaap vertrek het, hulle benadering uitgestippel.

Hy skryf:

“Ons is van plan om in die loop van ons trek en wanneer ons in die land aankom waar ons permanent wil woon, ons bedoelings aan die swart stamme bekend te maak, asook die begeerte om in vrede en vriendskap met hulle saam te leef.”

Die Afrikaners en die Zoeloes het reeds in 1840, direk na afloop van die slag van Bloedrivier, vrede en vriendskap gesluit. Tydens hierdie geleentheid is “vredesklippe” aan mekaar oorhandig. Hierdie vredesklippe is vandag nog in die museum op Pietermaritzburg.

Daar was ook ’n goeie verhouding tussen Andries Pretorius as Voortrekkerleier en Panda as die nuwe Zoeloekoning. Paneel 24 in die Voortrekkermonument beeld dit uit.

Meningspeilings wys dat die meeste Suid-Afrikaners vrede en harmonie tussen die verskillende volke en groepe in die land soek. Die probleem blyk sekere leiers te wees wat verkies om vir korttermyn- politieke gewin groepe teen mekaar op te sweep. Maklike politiek met slegte gevolge.

Onthou ’n brug word nie net van een kant gebou nie, al dink die ANC hy kan sy voorwaardes op almal afdwing. Netso kan jy nie goeie verhoudinge en versoening met geweld op mense afdwing nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.