Rampe het politieke gevolge

Die verwoestende aardbewing wat die suide van Turkye en die noordweste van Sirië onlangs getref het, het reeds tot die dood van meer as 35 000 mense gelei met nog duisende mense wat vermis word.

Hierdie lugfoto wat op 14 Februarie 2023 geneem is, wys ‘n Turkse vlag wat oor die puin van vernietigde geboue in Antakya, Hatay waai, ‘n week nadat ‘n dodelike aardbewing dele van Turkye en Sirië getref het. Meer as 35 000 mense is dood toe die aardbewing op 6 Februarie dele van Sirië en naburige Turkye verwoes het (Foto: Hassan AYADI / AFP)

Dit is duidelik die ergste ramp in meer as ʼn eeu wat die gebied getref het, met die dodetal wat nou reeds die vorige mees verwoestende aardbewing van Desember 1939, toe 33 000 mense dood is, verbygesteek het.

Net meer as ʼn week ná die aardbewing is woede egter besig om in Turkye op te bou met ernstige vrae oor die toepassing van bouregulasies die afgelope twee dekades, die regering se reddingsoperasies in die eerste ure na die ramp en die mate waartoe korrupsie in die konstruksiesektor en die regering se betrokkenheid by hierdie korrupsie tot die hoë dodetal bygedra het.

Ernstige en verwoestende aardbewings is nie ongewoon in Turkye nie. Die land is geleë by die kruispunt waar drie van die tektoniese plate waaruit die aardkors bestaan, by mekaar aansluit. Die gevolg hiervan is ernstige aardbewings wat van tyd tot tyd regoor Turkye voorkom.

In 1999 is meer as 17 000 mense dood toe ʼn aardbewing die noordwestelike stad Izmit, net oos van Istanboel, getref het. Die aardbewing in 1999 het een van die mees geïndustrialiseerde dele van Turkye getref en het duisende geboue, insluitende die hoofkantoor van die Turkse vloot, verwoes.

Die aardbewing van 1999 het egter ook politieke gevolge gehad. Die koalisieregering wat in 1999 in Turkye aan bewind was, het swaar deurgeloop onder kritiek oor sy hantering van die reddingsoperasie ná die aardbewing, maar ook oor die regering se onvermoë om bouregulasies toe te pas. Die huidige Turkse president, Recep Erdogan, en sy Regs- en Ontwikkelingsparty het as ʼn direkte gevolg van die 1999-aardbewing in 2002 die verkiesing gewen.

Die afgelope twee dekades het Erdogan en sy regering egter talle van dieselfde foute as sy voorgangers begaan. Hoewel streng nuwe bouregulasies en wette deurgevoer is wat die gevolge van aardbewings moes beperk en tot beter reddingsoperasies ná aardbewings moes lei, het ʼn ander werklikheid op grondvlak afgespeel.

Sedert 2011 het meer as vier miljoen vlugtelinge uit Sirië na Turkye gevlug en die meeste het hulle in die provinsie Gaziantep gevestig. Die provinsie se hoofstad, met dieselfde naam, het dus ʼn bevolkingsontploffing ervaar wat deur verstedeliking uit arm, landelike dele van die suidooste van Turkye vererger is.

Daar is dus die afgelope paar jaar teen ʼn verbysterende tempo groot woonstelgeboue in die gebied opgerig. Die kombinasie van regeringskorrupsie, ʼn konstruksiemafia met noue bande met die Erdogan-regering en burokrate wat om verskeie redes, maar veral tot voordeel van hulle eie beursies, weggekyk het wanneer bouregulasies nagekom moes word, het daartoe bygedra dat duisende geboue opgerig is wat nie ʼn hewige aardbewing sou kon weerstaan nie.

In Mei vanjaar sal kiesers in Turkye na die stembus gaan om te besluit of Erdogan tot nog ʼn termyn verkies moet word. Oor baie jare het verskeie rampe soos aardbewings, vloede, tsunami’s, pandemies en oorloë tot politieke verandering regoor die wêreld gelei.

Selfs mensgemaakte rampe, soos Suid-Afrika se elektrisiteitskrisis, lei dikwels tot politieke veranderinge, hetsy revolusionêre of bloot net sinvolle hervormings. Die Turke verdien na hierdie aardbewing, net soos Suid-Afrika, ʼn beter regering.

Die vraag is of genoeg kiesers dit sal insien.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos 100 ·

Politieke gevolge veroorsaak rampe, is meer die waarheid. Ook hier in SA.

Danie ·

In Turkye, heelwaarskynlik ja.
In Suid-Afrika, heelwaarskynlik nee.

Treurwilger ·

Hierdie artikel in ag genome, maak die EU se migrante ooreenkoms met Turkye nog méér onverstaanbaar en dwaas.
Angela Merkel se reëling met Erdogan is destyds geprys as puik staatsmanskap.
Turkye, met sy groot dosis plaaslike rampe, en swak regering volgens die skrywer, is die mees ongeskikte land om Europa se vlugteling-tsunami namens hulle op te vang.
Die EU behoort hul te skaam om ‘n land soos Turkye op te saal met nog méér ontheemdes, groot bedrae geld sal nie die probleem laat verdwyn nie.
Hopelik is die dwaasheid intussen beëindig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.