Ras troef nié lewens, mnr. die president

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Geagte president Ramaphosa

U begin u “familievergaderings” met “Fellow South Africans”. Dan, soos ʼn refrein, hoor ons hoe alles moontlik gedoen moet word om lewens en lewensmiddele te beskerm.

ʼn Ramp is afgekondig en rampbestuurswetgewing is in werking gestel.

Op grond daarvan is ons regte ingeperk. Ons is in ons huise ingeperk. Ons mag nie met ons honde om die blok gestap het nie. Ons mag nie gerook het nie, mag nie drank koop nie en mag nie oor grense gereis het nie. Toeriste mag nie die land binnekom nie. Oupas en oumas mag nie hul kleinkinders sien nie en net 50 mense mag begrafnisse bywoon. Sekere klere mag ons nie gekoop het nie. Ons mag nie gaan werk het nie. Ons mag nie kerk nie. Kinders mag nie skoolgaan nie. Ons moet maskers in die openbaar dra en mag nie op die strand wees nie. Die ondenkbare het gebeur – die land het toegemaak. Alles om lewens en lewensmiddele te beskerm.

Die wêreld ontwikkel entstowwe en u sê entstowwe bied hoop vir die land se maatskaplike en ekonomiese herstel en die belangrikste, vir die gesondheid van ons mense.

U sê ʼn omvattende verspreidingstrategie word beplan. Almal moet help, en moet gehelp word; niemand gaan agtergelaat word nie.

U sê ons het ʼn reusetaak op hande, waarskynlik groter as enige taak wat ons ooit tevore onderneem het.

U sê vir u “fellow South Africans” dat entstowwe noodsaaklik is om hierdie dodelike virus te oorwin.

Dan kondig u in ʼn vergadering met die Professional Business Forum aan dat ras gebruik gaan word as maatstaf vir diegene wat die verspreiding van die entstof wil doen. Dit sal ruim geleentheid vir swart bemagtiging bied. Hierdie reusetaak word ʼn reusegeleentheid om die ANC se rasse-ideologie te ontplooi. “My fellow South Africans” word skielik “My fellow black South Africans.”

U eenheidsvisie sluit uit. Nie die beste en effektiefste maatskappye met ʼn bewese rekord nie. Nee, die swartste maatskappye. Tenderpreneurs gaan verryk word – net soos met die aankoop en verspreiding van beskermende toerusting, die ontsmetting van skole, plundering van werkloosheidsversekering en talle ander voorbeelde. Die oomblik vir kaders het aangebreek en dit ten koste van lewens en lewensmiddele.

Die ANC se rasse-ideologie het Suid-Afrika al in die verlede groot skade berokken. Dit het nie in die verlede gewerk nie, werk nie nou nie en gaan ook nie in die toekoms werk nie. Vir die ANC is dit ras, ras, alles ras. Die onlangse besluit om hulp in ʼn krisis op grond van ras te gee, was ʼn rasselaagtepunt. Die nuwe swart toerismefonds wat in die lewe geroep is, is nóg ʼn laagtepunt. ʼn Nuwe laagtepunt is bereik deur die verspreiding van entstowwe aan rassedoelwitte te onderwerp.

Dirk Hermann.

Regte word ingeperk. Ons vryheid van beweging, vryheid om te werk, vryheid om handel te dryf, vryheid om godsdiens te beoefen en kinders se reg tot onderwys is beperk. Alles om lewens en lewensmiddele te beskerm.

Maar nie ras nie. O nee, dit word nie ingeperk nie. Dit is ʼn absolute reg wat selfs lewens en lewensmiddele troef. Ras, die oortreffende reg, die raamwerk waarbinne die Grondwet funksioneer. Ons gesondheid word ondergeskik gestel aan die ANC se rasse-ideologie.

Ras hoort nie in ons brose ekonomie nie en beslis nie by die verspreiding van entstof nie. Die beste en effektiefste maatskappye moet nou die kontrakte kry. Wit of swart, dit maak nie saak nie. In hierdie ramptyd moet ons niks tussen ons gesondheid en die stryd teen die virus laat kom nie. Dit is nie nou (en eintlik nooit) tyd vir ʼn rasse-ideologie nie.

Dit sal goed wees vir almal, swart en wit, maar meeste bevoordeeldes sal swart wees. Die reg op gesondheid van die talle armes weeg veel swaarder as die belange van enkele swart verryktes en plunderaars.

U kan ras inperk. Daar is ʼn Wet op Rampbestuur. Daar is ʼn bevelsraad. Die raad is vernuftig met die inperking van regte. Hulle het al die uiterste ongemak met hul inperkings veroorsaak. Ras is nie heilig en onaantasbaar nie, dit is ondergeskik aan lewe en gesondheid.

U moet regulasies uitvaardig wat rassebeperkings opskort. Dit sal goed wees vir die herstel van ons ekonomie in die geheel, maar alle gevalle van Covid-19-aankope en die verspreiding van veral entstowwe sal daarby baat. Maak die mark oop en vry in die stryd teen die dodelike virus.

Mnr. Ramaphosa, perk ras in ter wille van die lewens en lewensmiddele van alle “fellow South Africans”.

Groete

Dirk Hermann

Bestuurshoof: Solidariteit

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tanniepetoors ·

Dirk Hermann, ek het vir jou baie respek. Mog jou pleidooi hierdie keer op horende ore val, want vir my lyk dit of die president en die hele bevelsraad horende doof en siende blind is vir enigiets wat die kwynende ekonomie kan red of die stygende werkloosheidsyfer kan beperk, nieteenstaande alle wetenskaplike bewyse tot die teendeel.

Irma ·

Tanniepetoors, volgens my ly die regering aan “tonnelvisie”.

Jessey ·

“Die ANC se rasse-ideologie het Suid-Afrika al in die verlede groot skade berokken. Dit het nie in die verlede gewerk nie, werk nie nou nie en gaan ook nie in die toekoms werk nie.”

Ek stem heelhartig hiermee saam, wil ook noem dat miskien moet Meneer die President in die verlede gaan rondkrap, dan sal hy sien dat waar ookal rasse ideologie toegepas is, het lyding saamgeloop, eers vir die onderdrukte ras en daarna vir die onderdrukkende ras. Leer ons regering nie uit Geskiedenis nie? Of glo hulle dat hulle dieselfde Geskiedenis kan herhaal en ‘n ander resultaat verkry.

Die land het leiding nodig nie ‘n klomp “Pleasers” met hulle eie ideologie nie.

P.S Oops, vergeet ek vir ‘n oomblik, die “struggle” is nog nie verby nie, hoewel daar ge struggle is om uit te kom onder onderdrukking, net om weer onderdrukking toe pas. Ek glo dat ons almal by mekaar kan leer as die land net toegelaat word om te groei sonder om vertel te word dat ons binne ‘n Drukgang moet groei. Dit laat geen ruimte.

Christo ·

Uitstekend gestel Dirk! Die skrif is al lankal aan die muur. Ons moet na onsself kyk, beskerm en ver vooruit beplan.

annie ·

Die prez moet regtig sy woorde begin tel want dit gaan hom kos veral omdat sy eerste woorde as kleuter duidelik ‘pledge’ was. Die ryk miljarders wat laasgenoemde joppie moet kom doen, verstaan ook Engels, besit meestal darem tv-stelle en staan net op een knie as hul Wagter se kop vryf.

Pieter ·

DIe is niks nuut tot S.A, Kyk ander lande soos USA ook. DIe mense is mal om kleur so te aanbid. Die duiwel werk, en hy werk hard. hy moet gelowiges laat wankel. (Dus sit ek altyd binne my as ek die tipe dinge hoor of sien en bid en dank God vir elke dag.)

OW ·

Soos iemand wat vir my net na 1994 gesê het,dit was maklik om apartheid afgestel te kry, maar om daarvan ontslae te raak gaan nie maklik gebeur nie.Die ANC ry hierdie perd nou al baie lank.Solank hiedie praatjies voortduur kan daar nie van “Fellow South Africans”gepraat word nie.Agterna beskou kan nou duidelik gesien word wat eintlik verkeerd geloop het tydens die onderhandelings by Kemptonpark.Baie vrae kan nog gevra word,maar dit daar gelaat.As die ANC nie sy NP apartheid en KP partisie praatjies staak nie gaan ons nog lank aan die kortste end trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.