Rasseharmonie in VSA tot breekpunt gedryf

(Foto: Colter Peterson/St. Louis Post-Dispatch via AP)

Beelde van polisievoertuie wat aan die brand gesteek word en winkels wat gevandaliseer word, het die afgelope week vanuit die hele VSA op ons televisieskerms afgespeel. Sedert verlede Maandag het die gewelddadige betogings wat in Minneapolis in die deelstaat Minnesota begin het, na stede oor die hele VSA versprei. Duisende mense het teen die naweek die strate ingevaar en aan toenemend gewelddadige betogings deelgeneem.

Die rede vir die afgelope week se opstande in die VSA spruit uit ʼn voorval verlede Maandag toe ’n wit polisieman in Minneapolis tydens ’n inhegtenisname sy knie op die keel van die verdagte, ’n swartman, George Floyd, gehou het, ten spyte daarvan dat die swartman herhaaldelik gesê het dat hy nie kan asemhaal nie. Die man is ’n paar uur later oorlede. Die verantwoordelike polisieman is kort ná die voorval afgedank en Vrydag is hy in hegtenis geneem en vir moord aangekla.

(Foto: AP Photo/Noah Berger)

Terwyl die burgemeester van Minneapolis, die goewerneur van die deelstaat Minnesota en pres. Donald Trump die voorval veroordeel en die dood van Floyd betreur het, kon uitermatig gewelddadige protesoptrede nie gekeer word nie.

Die voorval verlede Maandag moet nog deeglik ondersoek word en daar is berigte dat die man geweier het om in die polisievoertuig te klim. Verder het die nadoodse ondersoek ook getoon dat die man nie aan versmoring dood is nie, maar dat hy aan ’n ernstige hartkwaal gely het en moontlik ook onder die invloed van ’n verdowingsmiddel was.

Die videomateriaal van die voorval is egter skokkend genoeg om emosionele reaksie te begryp. Die omvang van die geweld wat op die voorval gevolg het, kan egter nooit geregverdig word nie en ernstige vrae moet gevra word oor wat in die VSA verkeerd is.

(Foto: Curtis Compton/Atlanta Journal-Constitution via AP)

Dinsdagaand is die polisie in Minneapolis deur duisende gewelddadige betogers, baie van buite die stad en selfs van ander deelstate, oorweldig. Meer as 130 sake-ondernemings in die stad is aangeval en baie is aan die brand gesteek. Die polisiestasie waar die polisieman, wat nou van moord aangekla word, gewerk het, is aangeval en die polisie moes die gebou inderhaas ontruim. ’n Woonstelgebou wat in aanbou was en wat 189 woonstelle aan lae inkomste-inwoners van Minneapolis sou beskikbaar stel, is aan die brand gesteek. Die gebou van ’n nieregeringsorganisasie wat hulp aan Indiane in Minnesota verleen, is ook aangeval en groot skade is aangerig.

(Foto: AP Photo/Matt Slocum)

Teen Woensdag het die geweld in Minneapolis toegeneem, en gewelddadige betogings het na tientalle ander groot stede in die VSA uitgebrei. Die grootste koerant in Minnesota, die Star Tribune, het Vrydag ernstige kritiek teen die leierskap van die stad en deelstaat uitgespreek. Die koerant se hoofartikel het die omvang van die chaos in die stad aan swak, ongekoördineerde leierskap toegeskryf.

Terwyl die protesoptrede deur swart Amerikaners, en meestal linkse groepe – wat oortuig daarvan is dat die polisie oor die algemeen onbillik teen swart Amerikaners optree – in omvang en gewelddadigheid eskaleer, ontstaan ernstige vrae oor die toekoms van ’n multikulturele Amerika. Die betogings oor die naweek het die delikate rasseharmonie in die VSA tot breekpunt gedryf.

(Foto: AP Photo/John Minchillo)

Die video van ’n smekende swartman wat nie kan asemhaal nie terwyl ’n wit polisieman hom in hegtenis neem, is eenvoudig skokkend. Die geweld, plundering, brandstigting, diefstal en selfs fisieke geweld wat oor die ganse Amerika nou reeds vir ’n week voortduur, is egter net so skokkend.

Vrees en woede is geen goeie bestanddele as jy versoening probeer bewerkstellig nie. Amerika verkeer in ’n enorme nasionale krisis. Slegs sterk leierskap sal orde kan herstel.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Human

“Slegs sterk leierskap”, ongelukkig ontbreek dit in die VSA, want hulle het ‘n president, wat ‘n narsis is en slegs sy eie ek agenda bedryf en nie ‘n duit omgee vir sy mense van alle rasse en gelowe en as hy voorgee hy is ‘n gelowige is dit slegs oog verblindery om sy juig kommando te beindruk.

Manie

Sjoe wat van ons eie president en ministers wat onskuldige vrouens hardhandig in ‘n vangwa laat boender sonder enige behoorlike menslikheid. ‘n Bang vrou word by die motorhawe op die grond rondgepluk en wat word daarvan? Politiese narre, almal van hulle wat leiers behoort te wees. Ons moet reg kies in die lewe?

Willem

Hier gaan dit netso betoog eers oor iets dan ontaard dit in n geplundery en brandstigting

Herpiet

‘n Sterk Leier neem nie net standpunt in nie. Woord word by daad gevoeg. Ek glo Trump “will save the day”

Dirk Mostert

Ek het gemengde gevoelens oor die aangeleentheid. Die skuldige polisieman is aangekeer en word aangekla. Daar is dus geen aanvaarbare rede vir die anargistiese optrede deur sekere demografiese groepe en hul jeugdige (“useful idiots”) meelopers nie. Trump het my morele steun om die anargiste (wat die steun van die Demokratiese Party geniet) tot orde te roep met zero toleransie. Aan die ander kant is daar min twyfel by my dat die VSA ‘n rol speel in die betogings in HongKong, waar ‘n eens welvarende stad se ekonomie en orde afgebreek is nie. Dis ‘n “regime change” aksie, – dieselfde modus… Lees meer »