Rasseklassifikasie – in watter ry staan jy?

mixedIn Suid-Afrika word ras, net soos jou verlede, óf as ‘n wapen óf ‘n paspoort gebruik. Die realiteit is dat wittes in Suid-Afrika se verlede as ’n wapen gebruik word om hul toekoms te belemmer terwyl daar vir die res paspoorte uitgereik word vir geleenthede. As jongmens word jou toekoms grootliks bepaal deur in watter ry jy staan. Die vangplek is net dat die ANC jou plek in die ry vir jou aanwys.

Die polities korrekte jargon waarmee “positiewe diskriminasie” verdedig word, is die immergroen “diversifisering”. Natuurlik is diversiteit belangrik, so ook al die ander politieke modebegrippe soos “demokrasie”, “gelykheid” en “bemagtiging”. Maar ras het die meganisme geword waardeur die ANC elke instelling probeer nasionaliseer, en Afrikaniseer, en terselfdertyd minderhede marginaliseer. Ingevolge die ANC se toepassing van diversifisering sal “diversiteit” altyd beteken dat die land se demografie in elke sfeer van die samelewing weerspieël moet word. Dit beteken dat die teikens voortdurend aangepas sal moet word en die sogenaamde diversifiseringsproses geen einde kan bereik nie.

Of hierdie uitkoms nou bewustelik of toevallig is, dit verander nie die werklikheid dat rasseklassifikasie, veral op universiteitsvlak, nie werklik diversifisering of bemagtiging meebring nie, maar onomkeerbare verdeeldheid saai.

Vergelyk byvoorbeeld die volgende vier scenario’s:

1. By die Universiteit van Stellenbosch (US) bepaal jou ras, taal en wie jou ouers was waar jy mag woon. Die US se nuwe koshuisplasingsbeleid diskrimineer openlik teen Afrikaanse studente en diegene wie se ouers by Maties gestudeer het.

2. As jy by die Universiteit van Pretoria (UP) inskryf om Veeartsenykunde te studeer, bepaal jou ras jou kanse op toelating. Wit studente word weggewys terwyl die UP na studente van kleur gaan soek om vir die kursus in te skryf.

3. By die Universiteit van die Vrystaat (UV) bepaal die kleur van jou vel hoeveel tyd jy kry om jou graad met beursgeld te verwerf. Die Nasionale Navorsingstigting stel beurse aan studente beskikbaar, maar skryf uitdruklik voor dat wit studente hulle studie binne die voorgeskrewe minimumtydperk moet afhandel, terwyl bruin, Indiër en swart studente ekstra tyd gegun word om hulle grade te behaal.

4. Die Universiteit van Kaapstad (UCT) se toelatingsvereistes verskil vir verskillende rasgroepe. Voornemende swart studente wat medies wil studeer, moet 70% gemiddeld in matriek behaal. Bruin studente moet 75% hê, Chinese moet 80% hê en wittes moet ʼn gemiddeld van 83% in matriek hê.

Studente wil nie meer volgens hulle ras geklassifiseer word nie. In ʼn onlangse referendum op die kampus van die UP het AfriForum Jeug Tukkies bevind dat 97% van 2033 studente JA gestem het vir die afskaffing van rasseklassifikasie. Die verrassendste van die uitslag was dat beide wit en swart studente nie hul ras wil invul in die gewraakte blokkie op die inskrywingsvorm nie. Wit studente is moeg vir diskriminasie en viktimisasie wat onder die dekmantel van regstelling plaasvind, en swart studente wil nie meer behandel word asof hulle nie werklik ʼn plek aan ʼn universiteit verdien nie, maar dit net verkry het met ʼn vrypas wat die regering aan hulle toegeken het.

Die waarheid is dat begrippe soos regstellende aksie, transformasie en diversifisering fopspene geword het waarmee die regering die massas probeer paai terwyl dit toenemend duidelik raak dat die ANC nie agterstande in onderwys uitgewis kry nie, ongeag die astronomiese bedrae geld wat daarin gepomp word. Dit is makliker om deur middel van meganiese ingenieurswese getalle te manipuleer as om die werklike probleme in Suid-Afrika se skole reg te stel.

Die ironie is dat niemand, nie jou skool, jou universiteit of die regering, kan bepaal van watter ras jy is nie. Hoe gaan hulle bewys by watter groep jy eintlik hoort? Volgende keer as jy jou ras moet aandui, teken ’n ekstra blokkie by en skryf daarby “Suid-Afrikaner”. Dan kan die ANC nie vir jou ’n plek in die ry aanwys nie, want jy het sommer jou eie ry begin.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Charl Oberholzer

Charl is die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.