Rasseverhoudinge is goed, politieke verhoudinge swak

flip buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging Foto: Reint Dykema.

Dit was verlede Saterdag weer tyd om die dinge te doen wat mens maar moet doen as jy die vrede by die huis wil bewaar! Dit is nou dinge soos gasbottels hervul, by die hardewarewinkel ʼn draai maak, die nodige inkopies doen, en brandstof ingooi.

Maar in die loop van die verwagte vervelige oggend het iets interessants my weer opgeval waarvan ek lankal bewus is. Dit is die hartlike persoonlike rasseverhoudinge tussen gewone mense. Die hele dag deur was dit vir my opmerklik hoe goed die persoonlike verhoudinge tussen mense van verskillende rasse is. Swart en wit behandel mekaar nie net beleef nie, maar vriendelik – iets wat mens ook sien en hoor in die werkplek en waar mense ook al met mekaar skakel. Natuurlik is daar sekerlik uitsonderings, maar dis meestal te wyte aan gewone konflik soos misdadigheid of ʼn taxi wat voor iemand inswaai.

Maar toe tref dit my soos ʼn rooi verkeerslig: Hoekom is daar midde sulke goeie persoonlike verhoudinge, sulke slegte politieke verhoudinge? Dit gaan hier nie oor gewone politieke mededinging tussen lede van verskillende partye nie. Toe ek die aand TV-nuus kyk, begryp ek weer wat die probleem is. Politieke verhoudinge word versuur en vergiftig deur die daaglikse dosis van skandale, vrot regering en politici wat die rassetamboer slaan om rassenasionalisme te bevorder. Dan kry mens natuurlik die verregse aasvoëls wat hul eie rassisme versteek agter die onbevoegdheid van ons heersers, en dit gebruik om hul eie rassisme te bevorder.

Strukturele rassisme

Rassebetrekkinge is nie ʼn maklike saak nie; daarvan getuig al die konflik in die wêreld. Tony Leon het op ʼn keer gesê swart rassisme kry jy aan die bokant van die samelewing, en wit rassisme aan die onderkant. Sy stelling is dalk ʼn veralgemening maar dit laat ʼn mens dink. Dis nie gewone swartmense wat rasse-uitsprake maak nie, maar die swart elite. En wat witmense betref, lyk dit soms of daar ʼn direkte verband bestaan tussen die hoeveelheid spelfoute en die hoeveelheid rasse-uitsprake wat mense maak. Hiermee word nie bedoel dat die regerende swart elite altyd openlik rassisties is nie. Dis veel eerder strukturele rassisme, waar rassewette gemaak word om ʼn bepaalde rassistiese agenda te bevorder. Dit word egter in onberispelike polities korrekte terme geklee, soos demokrasie, regstelling, transformasie, voorheen benadeeldes en so aan en so voorts.

Nierassige rassisme

Hierdie soort “nierassige rassisme” is ten beste deur die bekende sosioloog, prof. Lawrence Schlemmer, verwoord. Hy beskryf die ANC se siening oor ras treffend soos volg:

“Die ANC het ’n partykode in reaksie op die rassekwessie vervolmaak. Sonder uitsondering vertrek hy vanuit nierassige standpunt, en kwalifiseer dit dan met ’n verbintenis daartoe om rassegapings te oorbrug en sodoende ’n wettige grondslag vir nierassigheid te lê. Daarvan  af stel die party ’n reeks rasgebaseerde “regstellende” aksies en bemagtigingsbeleidstellings voor om dit uit te voer. So kan hy dan sy Afrika- of swart ondersteuners verseker dat hy, hoewel ‘nierassig’, tog ‘aan hulle kant’ is.”

Dan moet ons ook onthou dat die ANC in sy beleidsdokumente steeds die doel van “transformasie” in rasseterme uitspel as die “bevryding van swartes in die algemeen en Afrikane in besonder”.

 “Demokratiese” rassisme

Die Amerikaanse politieke wetenskaplike, Pierre Vandenberghe, het die vermomming van rassisme as demokrasie soos volg beskryf: “As jou kiesers ’n demografiese meerderheid is, kan rassisme maklik as demokrasie vermom word.”

Die beste voorbeeld hiervan bly om in die naam van die staatsideologie van transformasie of “verteenwoordigendheid” weens die bevolkingsamestelling algehele beheer oor minderheidsgroepe te bewerkstellig. As die bevolkingsgetalle alles moet weerspieël, dan moet alles mos onder swart (ANC-) beheer wees. Dít het natuurlik meer met brute magspolitiek as met grondwetlike demokrasie te doen!

Die uitdaging in ʼn land soos Suid-Afrika is dat dit politici van die meerderheidsparty baat om op ʼn rassegrondslag te mobiliseer. Die politieke som is eenvoudig: Omdat daar meer swartmense as witmense in die land is, hoef hulle net die swart stem op ʼn rassegrondslag te mobiliseer om “vir ewig” te kan regeer.

Veralgemening

Die gevolge van swak politieke verhoudinge, geweldsmisdaad en swart elite-rassisme is ongelukkig dat baie witmense te maklik begin veralgemeen, en dan veral op sosiale media net so rassisties en platvloers word as diegene wat hulle daarvan beskuldig. Die gevaar waarteen alle verantwoordelike mense moet waak, is dat die swak politieke verhoudinge oor ʼn verloop van tyd sal uitloop op swak persoonlike rasseverhoudinge! Witmense moet daarteen waak dat hulle deur strukturele rassisme of politieke rassisme verlei word om persoonlike rassiste te word. As daar nou ooit ʼn doodloopstraat is, is dit vir ʼn maglose minderheid om hardvogtig rassisties teen gewone swartmense te wees.

Maar gelukkig was die doemprofete van ʼn rasseoorlog nog nooit reg nie. Daarvoor was persoonlike verhoudinge nog altyd te goed, selfs ten tye van groot konflik in die land. Iemand het eenkeer vir my gesê dat Afrikaners bedreig voel deur swartmense as ʼn groep, maar goeie verhoudinge het met individuele swartmense. Daarteenoor voel Engelssprekende mense positief teenoor swartes as ʼn groep, maar het swakker verhoudinge met individuele swartmense. Of hierdie veralgemenings reg is, weet ek nie, want daar is seker nie ʼn groter oorsaak van stereotipering as rasseverhoudinge nie.

In ʼn land soos Suid-Afrika is die belangrikheid van goeie rasseverhoudinge vanselfsprekend. Die belangrikste bedreiging hiervoor is nie die swak persoonlike verhoudinge nie, maar die swak politieke verhoudinge. Maar ons mag nie in hierdie politieke slaggat trap wat ekstremiste van weerskante vir ons stel nie. Daarom behoort alle verantwoordelike mense te doen wat hulle weet die regte ding is, naamlik om in hul daaglikse lewe goeie verhoudinge te bevorder met almal met wie jou pad kruis. In ‘n land soos ons s’n, is die belangrikheid van goeie rassebetrekkinge logies, maar die groot bedreiging hiervoor is nie rassisme nie, maar rassepolitiek

Dit ontstel baie witmense dat die meeste swartmense ʼn party steun wat hulle as korrup en onbevoeg ervaar, maar die oplossing is tog nie om politieke opponente in politieke vyande te verander nie. Dan dien ons die radikales se agenda, wat graag swak politieke verhoudinge wil laat oorgaan na swak persoonlike verhoudinge.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Karin Bloem ·

Dankie aan Flip Buys vir sy nugtere, verstaanbare kommentaar oor sake van belang, soos nou weer oor rasseverhoudinge. Ek het sy kommentaar met aandag gelees aangesien hy fyn oplet en in woorde kan weergee wat ons landsburgers self ervaar, maar nie die vermoe het om so goed te stel nie. Inderdaad wat ek ook in my eie omgang met mense van ander rasse ervaar, veral noudat ek ‘n ‘senior burger’ is en gewoonlik beleefd hanteer en aagespreek word.

Willie ·

‘n Baie raak beskrywing Flip. My ervaring is baie dieselfde. Jy is die eerste persoon wat dit so duidelik op skrif uitspel. Baie geluk!

Wicus ·

‘n Baie goeie waarneming, dankie Flip. In my sport (hardloop) neem ek waar dat die “middelklas” swartmense dieselfde frustrasies as ek beleef, dieselfde tipe drome het, en baie kere my skaam maak vir van my mense se optredes. Ek het al welwillendheid van hulle beleef wat wys ons kan middelgrond kry sonder om ons eie prys te gee!

Jan ·

Mooi raakgevat! Wanneer blankes galbraak en erg rassisties raak is die baie spelfoute en swak taalgebruik opmerklik. In die winkels, petrolstasies, Banke ens. is die swartmense uiters vriendelik en beleefd. Dis egter die uitsprake van die regeringsleiers wat n man warm om die kraag maak.

Frans Swanepoel ·

Flip, soos gewoonlik stem ek met jou saam. Hierdie keer egter nie heelhartig nie :) Rasseverhoudinge is op besigheidsvlak oor die algemeen goed maar, alhoewel streeksgebonde, soms skrikwekkend swak. Ek het onlangs op ‘n dorp in Limpopo waar ek 22 jaar gelede gewoon het, vir 11 maande gaan aflos en was geskok om te ervaar dat rasseverhoudinge oor die algemeen baie min verander het.
Sommige groeperings het ongelukkig die vermoë om rasseverhoudings polities te benader en dit kelder die aanvaarding van menswees totaal.

Henry ·

Agge nee wat Flip Buys.
Die DAAGLIKSE wreedhede en grenslose geweld wat tydens rooftogte, plaasmoorde, huisbrake en gepaardgaande marteling in hierdie land gepleeg word, weerspreek die inhoud van jou skryfsel.
Dit word deur die gewone siele gepleeg. Dieselfde siele wat ook deur politici en andere as die ‘have nots’ bekend staan. Siele wat deel van die oorgrote meerderheid van hierdie droewe land se bevolking is.
My Britse buurvrou is gister vermoor en haar man is vir dood agter gelaat deur drie persone wat deel van die ‘onderkant’ – soos jy dit stel – verteenwoordig.
Vir wat? Vir twee skootrekenaars en ‘n tv. Nie een van die twee Britte het die persone op enige stadium bedreig of be-wat ookal nie. Hulle is/was ook nooit deel van die sogenaamde ver-regse mense waarna jy en andere altoos verwys nie.
Gewone beskaafde mense soos die res van ons wat hulle nie met rassistiese snert en ongemotiveerde stellings besig hou nie.
Terloops. Wie is die mense wat Xenofobie tot nuwe laagtepunte en moordadige geweld dryf?

Kobus ·

politiek is n produk van satan homself, dis daarop gemik om skeiding onder mense te bring, christenskap bring mense bymekaar, kies vir wie jy stem?

Niel ·

Kobus ek stem 100% saam. Sodra ‘n volk sy afhanklikheid van die hemelse Vader verloor, is daar net een pad… Daar is NET een oplossing vir die probleme en Sy naam is die Heilige Gees.

Katy ·

Dis waar ons het elke dag tedoen met plaasmoorde, betogings, grondeise, krag onderbrekings, water te kort en Malema wat kamstig geskors was en Shaik wat nog steeds besig i om te sterf soos almal selfs die polisie loop deurte. Jahulle sal enige iets doen dat die vinger nie na hulle wys

Ludwig Myburgh ·

Omdat die swart op wit politieke verhouding swak is voel ek dat rasseverhouding tussen swart en wit op die stadium onherstelbaar is m.a.w politieke verhoudings en rasseverhoudings is direk eweredig aan mekaar!!

Natuurlik is die die swart op wit misdaad soos moorde, aanrandings en verkragtings ‘n groot bydraande faktor. Ek reken ek sal uitgemaak word deur my eie volksgenote as ‘n verregse aasvoël!!

Pieter Barendse Botha ·

Politici leef ‘n ilusie en is min kere teenwoordig in die weklikheid !!! Onrus pas politieke agenda’s veral i Afrika !!

Retha ·

Flip, ja, eks dosent en het nét swart studente. Wat ‘n wonderlike klomp jongmense! Ek dink nie aan hulle as swart nie en ek dink nie hulle dink aan my as wit nie. Sulke lekker verhoudinge en dan as ek nuus luister verander ek in iemand anders as wat ek wil wees.

Verregse aasvoël ·

Die term rasisme was geformuleer in 1930 deur die Russiese kommunist Leon Trotsky wat die stigter en 1ste leier van die Rooi Weermag was. Ons Westerse beskawing, kultuur en voortbestaan word plaaslik en internationaal vernietig deur kommunistiese idoelogie.

Ons almal weet hoedat blanke moorde en aanvalle deur swartes die afgelope tyd dramaties toegeneem het wat ‘n totale weerspreking is van jou opmerking; “maar gelukkig was die doemprofete van ‘n rasseoorlog nog nooit reg nie” is. Dit terwyl daar geen wit op swart moorde en aanvalle is nie. Oor die afgelope 21 jaar het blanke armoede ook ongekende afmetings bereik a.g.v die regering se AA, BEE en BBBEE beleide.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.