Rasseverhoudinge op ʼn Spur-‘steakmespunt’

spur-06

Skermskoot uit die video van die Spur-voorval. Argieffoto.

Deur Connie Mulder

Daar is min lande wat dit so suksesvol regkry om van ʼn molshoop ʼn berg te maak soos Suid-Afrika. Na aanleiding van ʼn voorval in ʼn Spur is die ganse land weer aan die gons oor rassisme. Op sosiale media het die situasie gou verval in ʼn rassemoeras van beskuldigings, skeldwoorde en haatspraak.

Helpers

Toe ek na die video kyk, was een van die eerste goed wat my opgeval het – die helpers. Tydens die plofbare situasie is daar twee mense, van verskillende rasse, wat mekaar in die hare vlieg. Tog is daar meer mense, van alle rasse, wat die konflik probeer stopsit; mense van alle rasse wat albei ouers probeer kalmeer en die situasie wil ontlont.

In Suid-Afrika lyk dit nou wel donker en bleek, tog kan ons ʼn ligpuntjie soek by die helpers.

Die mense by die toneel het dit nie as ʼn rassevoorval ervaar nie. Hulle het dit soos ʼn ongemaklike en onsmaaklike konfliksituasie tussen twee ouers probeer hanteer. Hulle het die geveg probeer stopsit, en gemoedere probeer sus. Mens moet altyd onthou, daar is baie meer vredemakers as vegters.

Tog keer dit nie die Suid-Afrikaanse media om op ʼn rassekruistog te gaan nie. Die storie is deur die normale verdagtes oombliklik verdoem as ʼn rassevoorval. Wit mans is oor die algemeen uitgekryt as boelies en aggressief. Pierre de Vos vra op Twitter of wit Afrikanermans so aggressief is omdat hulle rassistiese geloof in hulle eie meerderwaardigheid deur swart vroue bedreig word. Rubrieke en kommentare het gevloei, oor Spur, en dan word Zille en wit rassisme sommer bygetrek. Dit het gou die grootste storie van die week geword.

Dit in ʼn week waarin daar ingebreek is by die hoofregter se kantoor nadat hy sy bevinding téén ʼn minister gegee het. Die inbrekers het net rekenaars met regters se persoonlike inligting gesteel. Intimidasie van die regbank is heel moontlik die motivering. Sulke dade is kenmerkend in ʼn totalitêre bestel.

Joernaliste het eerder oor die Spur-voorval geskryf.

Rassevoorval

Die groot probleem hiermee is: Die media verander ʼn sosiale voorval in ʼn rassevoorval.

Objektief feitelik het ʼn ouer ʼn ander ouer gaan aanspreek oor haar kind se gedrag. Hy het beweer dat die betrokke ouer se kind sy kind geslaan het. Dit was ook die laaste oomblik dat die twee ouers soos volwassenes opgetree het, daarna het hulle presies getoon hoe om konflik nie te hanteer nie. Dit was twee individue wat met slegte maniere en ʼn basiese tekort aan respek vir mekaar opgetree het. Daar was dreigemente, skeldwoorde en algehele ongeskiktheid hierna. ʼn Man behoort nooit te dreig om enige vrou te slaan nie, maar die man het.

Ek keur geeneen van die twee ouers se gedrag goed nie; inteendeel, ek sidder vir die voorbeeld wat hulle aan hulle kinders gestel het. Tog is dit nie ʼn rassistiese voorval nie, maar eerder ʼn sosiale voorval.

Daar was geen aanduiding dat hy uitsprake teenoor alle swart mense gemaak het nie. Sy kind was veronreg volgens hom, en hy het haar probeer verdedig.

Sy het nie plofbaar gereageer omdat hy wit was nie. Sy het nie uitsprake oor alle wit mense gemaak nie. Haar kind was veronreg volgens haar, en sy het hom probeer verdedig.

Hierdie situasie is een wat hom afspeel elke naweek langs rugbyvelde, by braaivleisvure en in winkelsentrums. Dit is ʼn normale sosiale konfliksituasie. Al verskil hier is dat die ras van die ouers verskil het. Indien dit twee wit ouers was, sou dit as ʼn sosiale voorval beskou word en ʼn molshoop bly.

Gevaarlike presedente

Die presedent wat geskep word deur hierdie voorval as rassisme op te blaas is ongelooflik gevaarlik.

Deur enige normale menslike konfliksituasie tussen rasse onmiddellik as rassisme af te skryf doen jy twee goed.

Eerstens – jy vergoedkoop werklike rassisme. As ʼn sosiale voorval by ʼn Spur rassisme is, dan is daar geen beweegruimte vir werklike rassisme nie. Dit impliseer dat Julius Malema se uitsprake maar soortgelyk is aan hierdie voorval. Dat plaasmoorde met al die rasgedrewe brutaliteit dieselfde oortreding as skreeu op mekaar in ʼn Spur is. Dit is tog verregaande.

Om alles rassisme te noem, is dieselfde as om niks rassisme te noem nie. Soos die seuntjie wat wolf-wolf geskreeu het, gaan jy uitvind dat niemand meer luister die dag as ʼn ware rassistiese wolf opdaag nie.

Tweedens, ons moet kan praat met mekaar in die land. Suid-Afrikaanse gemeenskappe het ʼn menigte komplekse probleme wat ons in die gesig staar. Hierdie probleme kan slegs opgelos word deur die uitruil van idees en debat tussen kultuurgemeenskappe, geloofsgemeenskappe en rassegroepe. Om enige konflik tussen mense van verskillende rasse onmiddellik as rassisme af te maak, smoor jy enige kans op konstruktiewe debat. Die implikasie is dat as ʼn wit mens ʼn ander mening as ʼn swart mens huldig, dit ʼn rassistiese voorval is.

Al wat so ʼn houding gaan regkry, is dat ons elkeen in ons eie kajuit verdrink terwyl die Suid-Afrikaanse skip sink.

  • Mulder is die afdelingshoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Bella ·

Wys net weer: as jy blank is word als uit proporsie geruk. Hierdie mense wat die videos op net sit sal die gevolge dra. Wat jy saai sal jy maai. Jy weet nie wat wag om die draai op jou nie!

Sarie ·

Stem saam met die skrywer. Die vrou het geskree .. Because I am black Sy was ook die een wat die video blykbaar op sosiale media geplaas het. So sy het dit ‘n raskleurtjie gegee en sy was toe as die onskuldige party op die ou end deur Spur geidentifiseer. Die morele vesel van ons samelewing is baie dun.

Nannie ·

Spur moes altwee ouers verban het uit hulle restaurante en nie net die man nie.

Andreas Meyer ·

Om teen ‘n hoeer standaard gehou te word is “White Male privilege” vir jou. Hulle wil nou die gans wat die goue eiers le (en in die verlede darem ‘n paar van die ouers kon hou) slag. Geen begrip vir die gevolge want “muh feelings”. En as niks meer werk nie dan speel hulle die “gender” of die “rassisme” kaart ook nog. Dit was alles voorspelbaar, indien jy die regte insig gehad het. Maar nou ja, die wat gewaarsku het is as “rassiste”, “ver regs” en “verkramp” uitgekryt deur diegene wat gedink het hulle weet beter.

Rynhardt ·

Man se dogtertjie was geklap.Ek kon blanke man se optrede verstaan.Ek maak my eie burgers en ondersteun nie Spur nie.

Jaco ·

Spur is nie meer wat dit was nie. as ons as blanke volk nie meer ons self of ons kinders mag verdeedig nie, het ons net een uitweg.

Gerrie Erasmus ·

Ek stem saam met die siening rondom rassisme maar die groot probleem gaan nie daaroor nie maar wel oor die onregverdige optrede na die voorval deur Spur.

Alweer ·

Die is nou al so vrek oud, ek gaan sommer na spur net om dit als te doen nou. Albei was verkeerd, spur moes dit spur moes dat ens ens, maak nie saak wat nie, as die perd my kind so gegryp het, het ek hom beslis aangekla.

Rooiman ·

Bravo! Nog iemand met gesonde verstand, net jammer die media gaan dit nie lees en luister nie. Hulle dryf rassisme aan soos n stormwind n klein veldbrandjie. So gaan ons nêrens kom nie. Die enigste rassisme in die voorval is Spur se reaksie.

alida ·

ja nee kyk ek stem saam sommer so ligtelike ietsie, nou die dag koop ek vir die kinders van hierdie bad handskoene ek kry toe ekstra en gee vir my sussie se kinders die ander, ek vra my seun om dit in ouma se woonstel te gaan bere so gaan steek hy dit in die kas weg wil nie he die kinders moet dit vat voor ouma dit gesien het nie, my jongste meisiekind het toe heel blatant vir hom gese dat hy n rassis is nou ja ek kon net lag. Die woord word hopeloos te maklik en te vinnag vir enige iets gebruik.

Se maar net ·

En toe word die man by sy werk geskiet. Maar dit het ongelukkig net die plaaslike koerant gehaal. So se maar ?

Janie Monsieur ·

Dagsê Se maar net, dankie vir jou kommentaar.

Die webtuiste waarop die ‘nuus’ dat die man geskiet is, gepubliseer is, is ʼn vals nuuswebwerf. Die gerugte is absoluut onwaar. Lees gerus Maroela Media vir betroubare nuus.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Johan ·

Almal kla oor die twee persone betrokke maar niemand se niks oor dat die vrou en kinders in die rook area sit nie

Well ·

Goeie oog! As ek nie verkeerd is nie, is daai n boete vir Spur en die ouer, ek dink R10 000+

Tandjies ·

As jy mooi kyk op altwee videos sal jy duidelik siwn dat die versters van die rookare agter hulle is. Hulle het nie in die rookare gesit nie.

Rok ·

Dankie Tandjies, ekt aangeneem toe die video ook wys “smoking” dis die rookarea.

Amine ·

Die tiepe voorvalle sal nie stop nie, maar eerder toeneem. Dis wat gebeur as daar gedwonge integrasie is. Verskillende rasse, nasies, volke is nie veronserstel om in een pot gegooi te word nie. Gin elkeen sy eie identiteit en sy eie gebied. DAN sal daar vrede wees.

Jordaan ·

Jou 2de laaste sin is reeds die status quo in die land. Dit is presies waarom wit mense niks meer mag kwytraak wat verskil van die narratief dat alles wit is sleg en alles swart is goed nie. Dit is ook waarom feitelike stellings soos deur Helen Zille, Chris Hart, Gareth Cliff, ens, die histeriese reaksie van politici en in die pers ontlok wat dit gedoen het.

Ons wag steeds (en gaan skynbaar lank wag) vir ewe brutale hantering en veroordeling van werklike rassisme deur swart mense wat dreig met gewapende geweld en vra vir wit mense om vermoor te word.

Penelope ·

Ek voel ook dat die man dit ouer tot ouer probeer uitsorteer het. En toe ruk die vrou dit uit verband en maak dit ‘n rasse geskil deur te skree: Is it because i am black?
Dis al wat mens hoor as daar iewers ‘n onderonsie is tussen 2 verskillende rasse.
Daar is geweldig baie druk op ons kinders in die skole oor hierdie selfde probleem. En dis die ouers wat die voorbeeld stel. Ons kinders van vandag het niks met die apartheidsjare te doene gehad nie. Laat hul in vrede en stel ‘n voorbeeld!

Ralph ·

Die media speel ñ groot rol om rassehaat aan te blaas. As jy net 702 aanskakel tuusen 9 en 12 en jy luister na die twak wat die Eusebius Mkaiser kwyt raak, dan het jy ñ sprekende voorbeeld hiervan.

Liesbet ·

Stem saam, die media is besig om met vuur te speel en oral rassehaat aan te blaas. Daar is daagliks voorbeelde hiervan, en beriggewing oor rassisme is so eensydig dat dit belaglik is. Politieke leiers se rassistiese uitsprake is niks in vergelyking met wat die media besig is om te doen nie. Ek vra myself af ….waarom?? Finansiele gewin?? Wat gaan hier aan?? Hoe kan daar enige integgriteit betrokke wees, om nie eers te praat van objektiewe beriggewing nie. Wat hulle saai gaan ons almal oes! Hoe kan ons enige iets glo waaroor hulle berig sonder om ongemaklik te wonder oor bymotiewe en verskuilde agendas…… miskien klink ek parranoies, maar hierdie tendens is besig om regtig hand uit te ruk. Wie gaan die media tot verantwoording roep? Boonop is daar deesdae hope vals nuus wat ook vir soetkoek deur massas mense opgeeet word. Ek is regtig baie bekommerd.

Andre ·

Kyk nou alles gesien maar wat het geword van jy lug nie jou hand v n vrou nie ek vrae maar net

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.