Rassewette moet stop – die tyd is nóú

Anton van der Bijl, hoof van regsdienste by Solidariteit en Dirk Hermann, bestuurshoof van die organisasie, by die VN in Switserland. (Foto: Solidariteit)

Geagte pres. Ramaphosa

Ek sit hier op ʼn vlug op pad na die Verenigde Nasies (VN) in Genève. In my tas is ʼn lys met die name van tienduisende gewone mense wat saamvlieg. Ons moet van ons land buiteland toe vlieg om daar hulp te gaan kry, want in ons land behandel u regering en party ons soos tweedeklas burgers.

Op Maandag 27 en Dinsdag 28 November verskyn ons voor die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD). Ons gaan u regering se rassebeleid weer op ʼn internasionale forum uitdaag. U regering gaan ook daar wees om u verstikkende rasse-ideologie te verdedig.

Ek moet 8 000 km ver vlieg om u aan te kla, want in Suid-Afrika is ek ʼn tweedeklas wit-burger. U regering vlieg 8 000 km om u rasbeheptheid te verdedig. Ek sit hier en skryf in ekonomiese klas; u adjunkminister sit voor in die vliegtuig in besigheidsklas en drink sjampanje, wat met my belastinggeld betaal is, om diskriminasie teen my te gaan verdedig.

Ons voete staan stewig in Afrika. Afrika is in ons taal se naam, Afrikaans, en in ons gemeenskap se naam, Afrikaners. Ons gaan nêrens heen nie en nie u of u regering gaan bepaal waar ons in ons land mag woon en werk nie. U gaan nie ons toekoms bepaal op grond van hoe ons lyk nie, want ons sal self.

Daarom beveg ons u rasmalheid in werkplekke, howe en internasionale forums. Daarom bou ons vir ons kinders ʼn toekoms, ʼn tegniese kollege, skole, ʼn universiteit en meer. Ons gaan hier wees lank ná u party regeer het. Moenie verwag dat ons gaan besgee nie – dit is nie ons storie in Afrika nie.

Ons dink vir geen oomblik ons heil lê by die VN nie. Die VN is wel ʼn wapen in ons arsenaal. Dit is ook ʼn wêreldplatform om dít wat die ANC is, te ontbloot.

Agtien kundiges van agtien verskillende lande dien in die VN se CERD. Hulle sit in ʼn hoefyster met jou wat in die middel sit en dan kan jy jou klag aanbied. Daarna kruisondervra hulle jou. Die verrigtinge word in verskeie tale getolk en uitgesaai. Dit is dus ʼn wêreldplatform waar ons stem gehoor gaan word.

Ons gaan vir die wêreld wys dat u regering 116 rassewette sedert 1994 in Suid-Afrika aanvaar het. Ons gaan vir hulle vertel van die wet wat u onlangs onderteken het en wat drakoniese magte aan die minister van indiensneming en arbeid verleen. Ons gaan vir hulle die rasmal regulasies wys wat vir kommentaar gepubliseer is wat rassekwotas op elke sektor wil afdwing. Ons gaan vir hulle wys hoe bruin en Indiër-werkers uit die provinsies waar hulle woon sal moet trek omdat hul daar waar hulle hul bevind te veel in getal is. Ons gaan aan die komitee vertel hoe u ras in die Covid-19-tyd gebruik het om te bepaal watter besighede hulp kan ontvang en hoe u ras as maatstaf gebruik vir die toekenning van waterregte en om uitvoerpermitte te bekom.

U regering gaan weer op verhoor wees. Die vorige keer wat ons daar was, is ons van dislojaliteit beskuldig. Die woord verraad is selfs gebruik. Ek bevind my hier op die vliegtuig weens u regering se dislojaliteit teenoor my mense, burgers van u land. U beleid is verraad teenoor alle mense wat slagoffers is van die inploffing van die staat.

U tree op of u nog die morele hoë grond in die wêreld het. U dink u kan nog uit die morele fontein van Nelson Mandela put. Reeds in 2016 het CERD, ná Solidariteit se aanbieding, aanbevelings gemaak wat krities gestaan het teenoor u regering se beleid van rassediskriminasie. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het daarna ʼn verslag uitgebring en gesê Suid-Afrika voldoen nie aan internasionale konvensies nie.

Daarna het Solidariteit ʼn opvolgklag by die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) gelê. Die IAO het ons klag ontvanklik verklaar. Dit het gelei tot bemiddeling en die bereiking van ʼn ooreenkoms wat sekere beperkings op u rassebeleid geplaas het. Dié ooreenkoms is ʼn bevel van die hof gemaak.

Dit was ʼn deurbraak in die rassestryd. Die stryd is egter nie verby nie. By hierdie sitting van CERD gaan ons dit verder voer. Ons vra dat alle rassewette moet stop – die tyd is nóú!

Ons vra dit, nie net uit lojaliteit teenoor minderhede wat deur u regering onderdruk word nie, maar uit lojaliteit teenoor alle Suid-Afrikaanse burgers (behalwe die kader-elite) wat die prys betaal vir u rasse-ideologie.

U rassebeleid het tot gevolg gehad dat tienduisende vaardige mense die staatsdiens moes verlaat, dat vaardighede en institusionele kennis op groot skaal verloor is, dat ras en kaders, in plaas van meriete, tot vandag toe aanstellings bepaal.

Ons gaan dus in Genève opstaan vir almal wie se krag afgesit word, vir die swanger vrou wat op ʼn staatshospitaal se vloer moet lê, vir die duisende burgers wat skade ly as gevolg van slaggate, vir die tragiese slagoffers van misdaad, vir die werkloses wat die prys betaal vir ekonomiese sabotasie, vir besighede wat moes sluit weens plundering van Transnet en ander. U rassebeleid het kaders verryk en miljoene burgers verarm.

Dít is wat die wêreld moet weet. Dit is wat ons vir die wêreld gaan vertel.

Ter wille van die land, stop u rasmalheid! Dit was lankal tyd daarvoor, maar dit is beslis nou!

Dirk Hermann

Bestuurshoof: Solidariteit

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris ·

Goeie poging/inisiatief. Daar is egter niemand so doof soos iemand wat nie wil hoor nie. Al wanneer daar reaksie sal wees is wanneer hulle sal voel. Daardie dag kom elke dag een dag op ‘n slag nader.

Frank ·

Dalk moes hulle nog ander hoek bysit. Die perspektief dat die ANC dink swartes is SO minderwaardig en nutteloos teenoor ander rasse dat drakoniese wette ingestel moet word om hulle te help want op die ANC dink hulle kiesers kan op hulle eie nerens kom nie

annie ·

Hermann raak verwaand en vervelig. Hy glo hy kan die Afrikaner se saak alleen hanteer en dra. Intussen is sy arrogante kwinkslae eerder skadelik. Apartheid gaan nie deur een man wat ‘n lekker pos en groot sakaris verdien en nou homself as Solidariteit se grootbaas sien, met ‘n verskyning in die buiteland uitgewis word nie. Hermann en die drie Mulders wil die Afrikaners beheer. Gooi hulle af.

Frances ·

Ten minste probeer hy, sodat ander mense en hulle kinders , ongeag velkleur die vrugte sal pluk eendag. Hy het gewerk vir sy “lekker” pos en salaris. Ek kan aan geen beter platform dink op hierdie stadium nie. Ek sien ook geen ander organisasies, behalwe hulle en Afri – Forum wat iets probeer nie. As jy verwaand wil sien kyk na die Regering van die dag wat geen skaamte meer oor het nie!!

Andriette ·

Wow. Nee Annie praat nie vir die res van ons nie. Baie dankie Dirk dat julle so hard vir ons baklei. Weet net ons staan 100% agter jou. Wat jy sê woord vir woord is so waar. Ek wil nie en sal nie erens anders gaan bly nie. Dis ons land. Ons Sal Self

Heinrich ·

Dankie Dirk, hierdie skynheiligheid wat deesdae so hoogheilig aan die wêreld voorgestel word, moet reggestel word sodat die ware toedrag van sake blootgestel kan word, baie sterkte vir julle, en dankie.
Annie, vir die bose om te seëvier is dit net nodig vir niemand om op te staan nie. Dirk lewer nie net kommentaar op artikels vanuit sy leunstoel nie, hy staan op om ook vir my en my gesin te verteenwoordig. Wat doen jy?

Treurwilger ·

Skitterende werk deur Solidariteit!
Voorspoed en sukses toegewens.

“annie” praat gewoonlik groot waarhede op ‘n deurmekaar-manier, maar híér word die pot lelik mis gesit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar is jaarliks hordes minderhede wat by die VN loop kla, sonder enige sukses. Hulle luister na jou, maar daar bly dit.

Ella ·

Welgedaan Dirk. Ek hoop die wêreld en sy maat sien raak wat julle vir SA probeer doen. Julle verdien almal ‘n Bell’s.

Windhond ·

Ag nee wat @Annie dis mense soos jy wat altyd wil dwars trek, wat dit moeilik maak, – wys my wie anders het al gedoen wat Dirk en sy mense vir die Afrikaanse Afrikaners in die land gedoen het, en as dit slaag is julle eerste om op en af te spring en luidkeels skree “ons het dit gedoen”!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.