Rassisme is nie ons grootste probleem nie

ernst-roets

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Verskaf.

Toespraak deur Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, tydens die gesprek oor rassisme op 26 Augustus 2016 in die Equitas Ouditorium by die Universiteit van die Vrystaat. Die gesprek is gefasiliteer deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.

(Hierdie toespraak is oorspronklik in Engels gelewer. Sien die oorspronklike weergawe hier.)

Die voorreg daarvan om laaste te praat

Die feit dat ek vandag die laaste spreker is, bied my in werklikheid ʼn “voorreg” in die sin dat dit my die geleentheid gee om die toespraak wat ek voorberei het, te herskryf om te reageer op ʼn paar van die stellings van die ander sprekers. Ek is veral besorg oor die opmerkings wat gemaak is deur die verteenwoordiger van SASCO, wat voor my aan die beurt was. Ons het vandag gehoor hoe syfers rondgeslinger word wat opgemaak is deur politici, maar wat ook reeds onjuis bewys is deur navorsers.

Een voorbeeld is die bewering dat wit mense op die een of ander manier 80% van die grond in Suid-Afrika besit. Dit is eenvoudig nie waar nie. Dit word nie deur enige navorsing gesteun nie. Dit is opgemaak deur politici in die kamp van die regerende party en dit is verkeerd bewys deur verskeie akademici. Daar is ook baie frustrasie oor die sogenaamde erge vlakke van wit heerskappy aan hierdie universiteit. Maar tog het ons hierdie gesprek op die kampus van ʼn universiteit met ʼn swart viserektor en ʼn swart rektor en ʼn swart kanselier, in ʼn munisipale wyk wat ʼn swart raadslid het, in ʼn stad met ʼn swart burgemeester in ʼn provinsie met ʼn swart premier, in ʼn land met ʼn swart adjunkpresident en ʼn swart president. Ten spyte hiervan praat ons om een of ander rede oor hoe wit mense alles beheer.

(Ontwrigting vanuit die gehoor)

Wat ons vandag gehoor het, is stellings wat wemel van politieke retoriek en wat nie gegrond is op enige bewyse nie. Dus gaan ek probeer om so min moontlik politieke retoriek te gebruik en om my argumente te baseer op soveel bewese feite en navorsing as moontlik.

Die grootste vyand van die geskiedenis en die waarheid

Die skrywer van The End of Racism, Dinesh D’Souza, het gesê die onderwerp van ras, meer as enige ander onderwerp, skep taboes en taboes is die vyand van die geskiedenis en die waarheid. Wanneer ons in Suid-Afrika praat oor ras, is daar ongelukkig ʼn klomp taboes: dinge wat jy eenvoudig nie kan sê nie, want as jy hierdie dinge sê, gaan dit dalk verkeerd vertolk word en jy kan as ʼn rassis geëtiketteer word. Daarom gaan ek sekere stellings maak met die wete dat dit dalk verkeerd vertolk kan word en ek gevolglik ook ʼn rassis genoem gaan word. Maar ek hoop as dit die geval is en as ek daarvan beskuldig word, sal ek die geleentheid kry om te reageer en die dinge wat ek nou gaan sê, te kontekstualiseer.

Kriminalisering van rassisme en haatspraak

Ek het ʼn artikel geskryf oor die kwessie van die kriminalisering van rassisme en haatspraak, getiteld “Vyftien redes waarom die ANC se rassisme-wetsontwerp ʼn baie slegte idee is”. Ek is nie van plan om al hierdie redes nou te herhaal nie, maar laat my toe om kortliks vyf redes by te voeg tot dié wat reeds in die inleidende opmerkings van hierdie bespreking genoem is:

  1. Rassisme is ʼn sosiale kwessie. Wêreldwyd was dit nog altyd ʼn slegte idee vir regerings om betrokke te raak by wetgewing wat gemik is op die regulering van sosiale kwessies. Dit is ʼn simptoom van totalitarisme; of eerder ʼn teken dat ons op ʼn afwaartse koers is op pad na totalitarisme.
  1. Daar is reeds baie wetgewing in plek wat handel oor rassisme. Die Grondwet bepaal die reg tot vryheid van spraak sluit nie haatspraak in nie; en die regte op gelykheid en menswaardigheid is vervat in artikels 9 en 10. Die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (PEPUDA), handel oor haatspraak en diskriminasie en wys daarop dat die aanhitsing van ʼn misdaad reeds ʼn misdaad op sigself is. As ek daarom die pleeg van ʼn sekere misdaad, soos aanranding, verkragting of moord, op ʼn sekere ras aanhits, sou daar nie nuwe wetgewing nodig wees om dit te hanteer nie, want die aksie op sigself is reeds ʼn misdaad.
  1. Ons het gesien en dit weereens gehoor van die SASCO-verteenwoordiger wat voor my aan die woord was, dat die ANC ʼn aktiewe rolspeler is in die debat oor rassisme en ek kan byvoeg daar is niks fout daarmee as die ANC ʼn aktiewe rolspeler is nie. Maar in Suid-Afrika vind die regerende party dit bitter moeilik om te onderskei tussen party en staat. Ons het byvoorbeeld vergaderings gehad met die ANC, net om onsself in gesprek te vind met staatsamptenare; en ons het vergaderings met die regering gehad, net om onsself in gesprek te vind met ANC-lede wat nie werk vir die regering nie. As hierdie voorgestelde rassismewet dan geïmplementeer word, sal die ANC effektief gelyktydig aktiewe rolspeler en skeidsregter wees in die stryd teen rassisme.
  2. Baie individuele voorbeelde van wit rassisme is vandag rondgeslinger. Ek kan ook ʼn lys maak en julle vir lank besig hou met individuele voorbeelde van growwe vorme van rassisme teenoor wit mense, onder andere deur baie mense in die regerende party, insluitend parlementslede en kabinetsministers. Noem my dus skepties of pessimisties, maar ek twyfel dat indien ons rassisme kriminaliseer, soos voorgestel word, iemand soos Lulu Xingwana, minister vir vroue, kinders en mense met gestremdhede, vervolg sal word vir haar verklaring op internasionale televisie dat die probleem met wit mans is dat hulle ʼn godsdiens aanhang wat verkondig dat vroue hul eiendom is en dat hulle vroue kan vermoor na willekeur. Ek is redelik seker wetgewing soos hierdie sal nie konsekwent toegepas word nie.
  3. Apartheid is in 1973 verklaar as ʼn misdaad teen die mensdom. Een van die belangrikste argumente wat deur die ANC geopper is om apartheid te verklaar as ʼn misdaad teen die mensdom, was die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme van 1950, wat die bevordering van kommunisme verklaar het as ʼn strafbare oortreding. Die argument was dat ʼn wet wat lei tot die vervolging van mense omdat hul politieke oortuigings verskil van dié van die regerende elite, neerkom op ʼn misdaad teen die mensdom. Volgens die hoofsweep van die ANC in die parlement sal hierdie nuwe wetgewing lei tot die vervolging van mense wat apartheid verromantiseer of idealiseer. Ek stem saam apartheid moet nie verromantiseer word nie, om ooglopende redes, maar die oomblik wat ons begin argumenteer dat mense vervolg moet word vir hul politieke oortuigings, is ons op ʼn baie gevaarlike en glibberige afdraande. Ons kan nie gelyktydig argumenteer apartheid was ʼn misdaad teen die mensdom as gevolg van die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme en terselftertyd dat mense in die nuwe Suid-Afrika vervolg moet word vir die verromantisering van apartheid nie. Ons moet kies: Ons kan sê apartheid was ʼn misdaad teen die mensdom en hierdie wet is ʼn slegte idee; of ons kan sê apartheid was nie ʼn misdaad teen die mensdom nie en hierdie wet is in werklikheid ʼn goeie idee.

Demokrasie vs. meerderheidsregering

In vandag se gesprekke het ons baie gonswoorde gehoor en woorde wat verskillende interpretasies kan hê, soos demokrasie, rassisme en witheid. Dit is belangrik om aandag te skenk aan die verskillende definisies wat mense aan die woord demokrasie koppel. Dit word algemeen aanvaar die verskil tussen demokrasie en meerderheidsregering lê in die oppergesag van die reg en die beskerming van minderheidsregte. In ʼn demokrasie moet minderhede inderdaad nie die land regeer nie, maar hulle moet steeds ingesluit en gerespekteer word en hul regte moet ook beskerm word. As die beskerming van minderheidsregte jou ongemaklik maak, moet jy jouself ernstig afvra of jy regtig die idee van demokrasie steun.

Rassisme is nie ons grootste probleem nie

Ek weet dat dit wat ek nou gaan sê, gaan teenstrydig klink, maar ek gaan dit nogtans sê. Eerstens is rassisme inderdaad ʼn groot probleem. Maar rassisme is nie die grootste probleem in Suid-Afrika nie. Dit is nie eens een van die grootste probleme in Suid-Afrika nie. Inteendeel, dit is ʼn simptoom van die grootste probleme in Suid-Afrika. Dit is nie net my mening nie, maar die mening van die oorgrote meerderheid mense in Suid-Afrika. In ʼn onlangse studie, wat gedoen is in opdrag van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, is mense gevra wat hulle beskou as die grootste onopgeloste probleem in Suid-Afrika. Slegs 4,7% het gesê dit is rassisme en xenofobie. Ander probleme, soos werkloosheid en misdaad, is beskou as die grootste probleme in Suid-Afrika. En by AfriForum meen ons rassisme is ʼn simptoom van hierdie probleme. As ons derhalwe wil fokus op die probleem van rassisme, wat die onderwerp van vandag se gesprek is, sal ons die probleme van werkloosheid moet hanteer en by implikasie dan ook die onderwyskrisis, misdaad en politieke leierskap. Op hierdie wyse sou ons ook die probleem van rassisme in ʼn groot mate oplos.

Nog ʼn interessante bevinding van daardie spesifieke opname was dat meer wit as swart Suid-Afrikaners aangedui het hulle ervaar rassisme. Omtrent 24,7% van wit mense het aangedui hulle ervaar rassisme, in teenstelling met 20,6% van swart mense.

(Ontwrigting vanuit die gehoor)

Ek verwelkom dit dat julle ʼn ander mening huldig, maar as julle nie saamstem nie, wil ek graag hê julle moet die navorsing bring wat hierdie bevindinge weerlê en dan kan ons gesels oor wie die meeste rassisme ervaar.

Onderwys, ons grootste probleem

Suid-Afrika se grootste probleem is die onderwyskrisis. Ja, ons het gepraat oor werkloosheid, maar hoe kan ons dit oplos? Deur opvoeding. Suid-Afrika se probleem is nie soseer werkloosheid nie, maar eerder indiensneembaarheid. Hoekom sê ek so? 80% van skole in Suid-Afrika is wanfunksioneel. Ons het ʼn enorme onderwyskrisis. In die kampusonluste by universiteite regoor die land sedert die begin van hierdie jaar, het skade aan eiendom reeds meer as R460 miljoen beloop, maar nie ʼn enkele student is hiervoor vervolg nie, wat op ʼn baie dieperliggende probleem dui.

(Ontwrigting vanuit die gehoor)

Dankie, jou onverdraagsaamheid word aangeteken…

Op ʼn lys van 149 lande was Suid-Afrika tweedelaaste wat betref sy vermoë om jongmense op te voed in wiskunde. In ʼn onlangse opname deur die Solidariteit Helpende Hand, het sowat driekwart van die wiskunde-onderwysers by ʼn wiskunde-onderwyskonferensie ook gesê die ondersteuning wat hulle van die regering kry vir die onderrig van wiskunde, was onvoldoende.

As ons dus praat oor ekonomiese mag wat in die hande van wit mense is en ons werk nie om die onderwyskrisis op te los en te sorg dat jong swart Suid-Afrikaners beter opleiding kry, sodat hulle beter kan meeding nie, is ons kortsigtig en populisties en ons los niks op nie.

Met verwysing na die vorige spreker (van SASCO): as jy onder jou volgelinge sou verkondig die oplossing vir hulle sou wees om harder te studeer, sal jy waarskynlik minder steun hê, want jou standpunt sou meer realisties en minder populisties wees en in die huidige politieke landskap in Suid-Afrika het ons gesien jy moet populisties wees om ondersteuning te kry, ongeag of jy sin praat of nie. Ons kan voortgaan om die ander ras te blameer vir alles wat verkeerd is in die land, maar dit gaan ons nêrens bring nie. As ons nie die onderwysstelsel regruk nie, gaan ons nie die land regruk nie.

Rasgebaseerde beleid help nie

Swart Ekonomiese Bemagtiging en Regstellende Aksie is ook nie die oplossing nie. Die oorgrote meerderheid werklose mense in hierdie land is steeds swart. Dit is ʼn groot probleem, want daar is groeiende frustrasie onder jong swart Suid-Afrikaners wat verwag het die nuwe Suid-Afrika sou hulle help om op gelyke vlak te mee te ding. Hierdie beleid baat net diegene met politieke verbintenisse en nie die meerderheid mense in hierdie land nie.

Jou definisie van gelykheid

Uiteindelik kom alles neer op wat jou definisie van gelykheid is. Dit wil voorkom asof ons almal verskillende definisies het van wat gelykheid eintlik beteken. Praat ons byvoorbeeld van gelyke wegspringplekke, of praat ons van maatreëls om te verseker almal bereik die wenstreep terselfdertyd? Dit klink dalk eenvoudig, maar dit veroorsaak ʼn groot verskil in die manier waarop ons handel met ongelykheid in Suid-Afrika. As jou definisie is dat ons almal die wenstreep op dieselfde tyd moet bereik, is die vraag: Hoe kan ons dit regkry? Moet ons sê die persoon wat die wenstreep eerste bereik het, moet teruggehou word totdat die stadiger atleet hom kan inhaal en hom dan laat gaan sodat hulle die wenstreep gelyk kan oorsteek? Of moet ons sê die stadiger atlete moet ontwikkel word met behoorlike opleiding (onderwys) om seker te maak hulle kan op gelyke vlak meeding? Dit blyk dat die diskoers in Suid-Afrika daarop gemik is om mense die wenstreep gelyktydig te laat bereik, maar dan deur beperkings te plaas op die vinniger atlete en nie deur die verskaffing van behoorlike opleiding aan die ander atlete om hulle in staat stel om teen dieselfde tempo te hardloop nie, met dien verstande dat hulle ewe hard werk.

As dit is jou definisie is van gelykheid, kan ons net sowel vandag besluit ons is nie van plan om rassesamehorigheid na te streef in hierdie land nie. Dit is nie moontlik om rassesamehorigheid te bereik terwyl maatreëls in plek is wat sommige mense verhoed om die wenstreep voor die ander te bereik nie en om mense in permanente kategorieë te plaas op grond van die kleur van hul vel, om te verseker dat verskillende rasse verskillende behandeling ontvang nie. As ons dit doen, sal ons nooit in staat wees om rassesamehorigheid te bereik in hierdie land nie. Ons moet kies watter doel ons wil nastreef: rassekategorisering of rassesamehorigheid.

Van radikaal tot liberaal tot rassisties

Ek wil julle daaraan herinner dat 62% Suid-Afrikaners aangedui het en ek haal aan: “Al hierdie gepraat van rassisme en kolonialisme is ʼn poging deur politici om verskonings vir hul eie mislukkings te vind.”

Die edelagbare regter van die Vrystaatse hooggeregshof, wat voor my gepraat het, het die swart Amerikaanse ekonoom, Thomas Sowell, aangehaal. Ek wil julle graag aan ʼn ander aanhaling van Thomas Sowell herinner. Sowell het gesê:

“As jy nog altyd geglo het almal moet speel volgens dieselfde reëls en geoordeel word volgens dieselfde standaarde, sou jy 60 jaar gelede as ʼn radikalis gebrandmerk wees, 30 jaar gelede as ʼn liberalis en vandag as ʼn rassis.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Primaat ·

Dankie Ernst.
Natuurlik ‘n gebalanseerde en gegronde voordrag, gerugsteun deur FEITE, welke op rekord is en tot ENIGIEMAND se beskikking, mits diesulkes sou belangstel om die stelling te veriefieer. Ongelukkig, en moontlik vanselfsprekend(?) sal bitter min, indien enige aanhoorder vanuit die gehoor, ja ook diesulkes wie telkemale die voordrag probeer ontwrig(!), hulle hierdie – vernederende (?) vir hulle- oefening doen.
Die probleem met voorleggings/voordragte soos hierdie, wat gebaseer is op feite, word BAIE selde aangehoor/van kennis geneem deur persone/instansies wie instaat is, -en gewillig(?)- om daarop te reageer en ‘n verskil te maak. Wie van die aanwesiges/toehoorders tydens hierdie byeenkoms waarna verwys word, stel belang/is instaat om enige verskil aan die situasie te maak?
Die verdere probleem is dat sou diesulkes van ons wie saamstem met die feite, probeer om gesamentlik op te tree en ‘n verskil te maak, die pogings van owerheidswe ongedaangemaak/geblokkeer sal word. Hoe kan ons slaag om ‘n verskil te maak sonder om diegene/instansies wat ons pogings blokkeer, omver te werp/te vervang met simpatieke/intelligente/toegewyde persone of instansies?
Dit is tog oorweldigend duidelik dat massas inwoners, (ongeag ras of kleur!), nie kan of wil verstaan dat samewerking tot VERBETERING, NIE VERWOESTING NIE!!, hiervoor noodsaaklik is?

Wicus ·

Dankie Ernst!

Stem so saam Primaat.

Suiwer menings soos die gee my hoop.

Sarie ·

Jy maar net droom. SASCO het onmiddelik vir Ernst as ‘n rassis klassifiseer en toe hulle ore toegedruk. Dis egter ‘n goed voorbereide stuk en deeglike navorsing is gedoen.

humor ·

Ek dink aan die kinderverhaal van hasie en skilpad wat resies gehardloop het. Hier sal hasie nie iewers langs die pad kan slaap en skilpad die kans kry om te wen nie. Hier sal hasie langs die pad moet dood neerslaan en miskieeeeeen? sal skilpad iewers in die toekoms by die wenstreep uitkom. Ook maar ernstig te betwyfel.

Jan ·

Uitstekend gestel Ernst, ons het intellektuele soos jy broodnodig in hierdie tyd.

Maria van Dieweeck ·

Ons moet begin massa byeenkomste hou. Samehorigheid en eendrag maak mag.

John ·

Ongelukkig mag die waarheid nooit in Suid-Afrika gepraat word nie. Dis ons grootste probleem.

Milan ·

Puik voorberei Ernst. Rassesamehorigheid sal nooit realiseer nie. Ons word deurgaans in die geskiedenis daaraan herhinner. In hierdie land word jy gepenaliseer indien jy presteer, op welke gebied ook al. Ek voorsien geen einde aan die herhaaldelike kriminalisering van die blanke nie. Die stadige atleet moet n innerlike wil toon om ook eerste oor die wenstreep te kom, en nie net n verwagting nie.

Fanie Kemp ·

Baie dankie Ernst. Ons is trots en baie dankbaar vir ons jong manne en vroue wat vreesloos in die bres staan vir ons. Die waarheid en feite wat op beskaafde, intellektuele wyse oorgedra word op alle moontlikke platvorms SAL uiteindelik vrugte oplewer.
Ons moet net almal help om Solidariteit, AfriForum, Helpende hand en al hul aksies ( veral Akademia en SolTek ) sterker en sterker te maak.

Sterkte julle. Ons Bid vir Die Here se seen.

Schalk ·

Puik artikel. Jammer dat ten spite van modern tegnologie sal diegene wat daarby baat kan vind naamlik die leiers van die land dit nie versprei en probeer om die basiese riglyne van respek en opvoeding aan te spreek nie. vandag se jeug more se leiers kort beide in meeste gevalle. Rasse konfrontasie kan vermy word as ons mekaar respekteer en ons opvoeding tuis reg begin.

Japie van Niekerk ·

Ons as volk is baie bevoorreg vandag om sulke spitsvondige en sterk leiers in ons midde te hê wat nie alleen vreesloos opstaan teen die ongeregtigheid van die regering nie maar ook ons mense bymekaar te bring en ‘n stem skep waarmee rekening gehou moet word! Ons kan net bid vir julle en ek doen hiermee beroep op almal om ons mense te vertel en byeen te bring as ‘n gedugte beweging in Solidariteit.

Jakkalas ·

I like!! So bek moet mos djam kry. In die land van die blindes is eenoog mos koning. Soms is dit nodig vir mense om te besef dat jou siening en antwoord van ‘n saak nie altyd die enigste een is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.