Rasverwante onderhandelinge ʼn taai toffie

mynboubedryf-02

Foto: Wilhei/Pixabay.com

Weens ʼn verskeidenheid van swart bemagtigingsverwante wetgewing, -regulasies en -beleidsdokumente wat gereeld hersien word, is dit algemeen vir Solidariteit om deel te neem aan onderhandelingsprosesse waar die fokus basies op wit-swart-kwessies is. Met die onlangse onderhandelinge oor die mynbouhandves, het dit in wese gegaan oor swart onderhandelaars van die regering en ander vakbonde wat soveel as moontlik voordele vir swart Suid-Afrikaners wil beding, en Solidariteit aan die ander kant wat poog om die impak daarvan op wit werknemers te beperk.

Die realiteit van die mynbouhandves se doelwit is duidelik gemaak toe Solidariteit op ʼn aanbieding aan die parlementêre portefeuljekomitee vir minerale hulpbronne al die pilare (onderafdelings) van die handves deeglik bespreek het, maar in ʼn stadium deur ʼn IVP-lid onderbreek is. Die IVP-LP het aangevoer dat ons mekaar mooi moet verstaan, dat swart bemagtiging die bemagtiging van Afrikane in die algemeen, en swart (“African”) vroue in besonder beteken, en “ons nie mekaar se tyd moet mors met praatjies buite hierdie konteks nie”.

Eintlik was die politikus se eerlikheid in ʼn mate bevorderlik vir konstruktiewe debatvoering omrede daar toe op die werklike agenda gefokus kan word.

Die voorsitter wat die handvesonderhandelinge gelei het, het dit egter anders gestel en beklemtoon dat die handvesonderhandelinge geensins ʼn antiwitproses is nie. Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne het dit beaam, maar bygevoeg dat swart ekonomiese bemagtiging in die mynbousektor tog daaroor gaan om die beheer van myne uiteindelik in swart hande te plaas en gepaardgaande rykdom vir swart mense moet skep, met die voorbehoud dat swart begunstigdes vir hul deel moet werk, anders word dit nie gewaardeer nie.

Hierdie tipe onderhandelinge is ʼn delikate balanseertoertjie, naamlik om standpunt in te neem sonder dat vervreemding plaasvind; om met gesag te kan praat al is bedingingsmag ten opsigte van getalle min; om nie in die strik van stereotipering te verval nie; om nie debatvoering te oordonder nie, maar wel aktief deel te neem; om jou “opponent” se geldige argumente in te sien sonder om swakheid aan jou kant te toon; en om tussen al die ras- en ideologiese kwessies deur, ook die markekonomiebeginsels te beskerm.

Generiese onderhandelingsteorieë maak egter nie voorsiening vir die rassesensitiwiteite en rassevooroordeel – wat so ʼn integrale deel van dié tipe onderhandelinge is – nie, en daarom moet onderhandelinge met ʼn weldeurdagte plan benader word en daar moet deurlopend uit jou eie en uit ander se foute geleer word.

Met die handvesonderhandelinge was die “instruksie” aan Solidariteit se onderhandelaars om onder andere wit vroue se status as “voorheen benadeeldes” weer deel van die definisie te maak nadat dit uitgeskryf is; te sorg dat wit werknemers ook deel vorm van enige werknemeraandeelhoudingskema; en indiensnemingsteikens realisties moet wees en oor ʼn langer tydperk as die regering se voorgestelde sperdatum van een jaar ingefaseer moet word.

Die volgende 10-puntplan is opgestel om as riglyn vir die onderhandelinge te dien:

  1. Tel tot 10 as jy uitgelok word en moenie in die strik trap om op populistiese retoriek te reageer nie. Hou dus jou einddoel in gedagte en moenie jou fokus verskuif nie;
  2. Wees selfgeldend, maar in plaas daarvan om jou stem te verhef, verhoog eerder jou argument (afgelei uit ʼn Desmond Tutu-aanhaling). Staaf jou argumente met geloofwaardige navorsing en feitlike argumente en verstewig jou standpunte met voorbeelde soos dit in die praktyk daarna sal uitsien en beklemtoon voordele vir alle partye;
  3. Gebruik humor, maar vermy enige grappe of kwinkslae wat ʼn rassekonnotasie het – jou humorsin vind dalk nie inslag by iemand anders se humorsin nie;
  4. Verwys na leemtes en teenstrydighede in die teenpartye se argumente, sonder om neerhalend te wees of dit uit ʼn posisie van meerderwaardigheid te doen;
  5. Erken dat daar gebeurtenisse uit die verlede is wat tot benadeling gelei het, maar doen dit opreg. (ʼn Onnatuurlike simpatisering is amper net so skadelik soos ʼn rassistiese opmerking);
  6. Lewer ʼn konstruktiewe bydrae as kwessies buite jou fokusarea bespreek word om so beskuldigings van ʼn eng benadering teen te werk, maar ook om mede-onderhandelaars gewoond te maak om na jou argumente te luister;
  7. Moenie iemand van rassevooroordeel beskuldig as jy self rassevooroordele het nie.
  8. Verwag dat iemand of ʼn party terug op hul woord sal gaan en wees bedag daarop om nie te oorreageer nie. ʼn Heftige reaksie kan bloot daartoe lei dat ʼn standpunt verdiep word en kan ʼn verdere negatiewe impak op ander brandpunte hê;
  9. Om jou geloofwaardigheid as onderhandelaar te verhoog en politieke ruimte te skep, toon begrip vir sekere eise en behoeftes van die teenpartye en steun dit sover dit nie jou eie saak benadeel nie; en
  10. Bou verhoudinge buite die formele onderhandelinge soos om tydens ʼn teepouse en etenstye sosiaal met veral “radikale opponente” te verkeer. Gesels oor dinge soos geboorteplek of plek van herkoms. (Dié onderwerp was ʼn wenk van ʼn swart vakbondleier en werk baie goed.)

Met voorgenoemde en die Bybelse riglyn oor naasteliefde, is die mynveld betree. Die moeilikste deel was om nie “Hoor! Hoor!” te skree as ʼn geldige rassepunt gemaak word nie, soos toe die taakspanvoorsitter die opmerking gemaak het dat “As ons swart mense in hierdie vertrek na onsself begin luister, sal ons agterkom dat ons van transformasie ʼn wit probleem gemaak het”. Binne die konteks het dit beteken dat transformasie aangepak word as teenvoeter vir “witheid” en nie die bemagtiging van swart mense nie.

Dan was daar nog ʼn erger tongbytoefening toe die aktivistiese staatsadvokaat wat verantwoordelik is vir die skryf van die handves, die opmerking gemaak het dat nasionale demografie as bemagtigingsriglyn vir senior aanstellings moet dien. Die argument was onder meer, dat terwyl Indiërs slegs 1,9% van die land se bevolking uitmaak, hulle 4% van die topposte beklee en sodoende, wanneer Indiër-aanstellings 1,9% oorskry, alles bo die drempel nie as bemagtiging geag moet word nie. Daar is smalend bygevoeg dat “Indiërs bokant die drempel net so min bemagtigingswaarde as wit mans het”. Die eerste reaksie was om dadelik te reageer, maar “sit jy haar op haar plek”, wen jy dié ronde, maar verloor dalk die laaste ronde.

Solidariteit het eers gewag vir ʼn persoon wat polities beter geplaas was om te reageer. Dit was uiteindelik die voorsitter wat sy misnoeë te kenne gegee het vir dié onvanpaste opmerking. In reaksie het Solidariteit sy ongemak uitgespreek, maar dadelik die klem verskuif na ʼn kliniese gesprek oor die grondwetlike slaggate aangaande die toepassing van nasionale demografie en hoe dit bloot personeelwerwing en aanstellings gaan kompliseer as ʼn maatskappy ʼn goeie bruin- of Indiër-kandidaat wegwys op grond van ʼn rekenaarsom.

Verder, om politieke ruimte te skep en ondersteuning vir Solidariteit se fokusareas te kry, is die Mineraleraad van Suid-Afrika (voorheen die Kamer van Mynwese) ondersteun om die klousule wat bepaal dat mynhuise ʼn jaarlikse dividend van 1% van hul omset aan hul swart bemagtigingsvennote moet betaal, geskrap of versag te kry. Die argument ter ondersteuning was dat die addisionele koste bloot van werkers verhaal gaan word deur óf laer verhogings te gee óf afleggings wat kan volg. Tweedens, is die regering gesteun vir hul voorstel met betrekking tot ʼn verhoogde bydrae tot ʼn opleidingsfonds en opleidingsteikens wat aan werkgewers gestel moet word, en derdens is medevakbonde ondersteun vir hul standpunt oor die verbetering van huisvesting vir mynwerkers.

Die finale handves is pas gepubliseer en daar is aan al Solidariteit se eise voldoen, plus ʼn latere eis dat werkers, in pas met die Duitse model van medeseggenskap, verteenwoordiging op rade moet verkry.

Die tipe onderhandelinge is uitdagend en (tong in die kies) voel dit telkens asof ons ons skootrekenaars en selfone as “wapens” by die raadsaal se ingang moet los en binne die “kraal” onkant gevang word en vir oorlewing moet veg. Dit terwyl die krimpende mynbedryf vir oorlewing veg en afleggings aan die orde van die dag is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Alwyn Beetge ·

Indrukwekkende en professionele benadering, getuig van intellek.

Casper Labuschagne ·

Ek is nie meer ‘n Twitter of ‘n Facebook gebruiker nie omdat wat daar gesê word my briesend maak en al beteuel ek myself deur nie te sê wat ek wil sê nie, is ek vir dae daarna steeds ontstig. Ek het nou ‘n blog, waar ek beredeneerd argumente maak wat op navorsing en verwysings gegrond is. My advies is om weg te bly van sosiale media af as die inhoud wat jy daar sal aantref vir jou gaan ontstel.

Veritas ·

Casper jy slaan die spyker op die kop. Die gehalte van debat op dié twee sosiale webwerwe, laat veel te wense oor. Die gewildheid daarvan gaan my verstand te bowe. Toe ek ‘n tiener was gedurende die sestiger jare, was my ouers erg gekant teen die lees van fotoverhaal boeke weens die swak taalgebruik daarin. Vandag, deur na Twitter en Facebook te kyk, sien ek hoekom.

Hans ·

Ek kon nog nooit verstaan hoekom daar soveel voordele ens aan sekere mense en groepe verniet gegee moet word nie.

Jerry ·

Uitstekend om te kan onderskei tussen gematig en radikaal en om dan te kan pelle raak, nog beter!solidariteit, julle begin in die regte rigting beweeg. Hou maar nog steeds in die agterkop die radikales se beskouing van die Afrikaner/Afrikaanses/witmense/mense wat nie swart is nie/diegene wat deur apartheid bevoordeel is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.